South Africa: North West High Court, Mafikeng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North West High Court, Mafikeng >> 2012 >> [2012] ZANWHC 25

| Noteup | LawCite

Danville Gemeente van die AGS van Suid-Afrika en Anders v ags can Suid-Afrika en Anders (990/2011) [2012] ZANWHC 25 (14 June 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE NOORDWES HOOGGEREGSHOF

(MAFIKENG)



SAAKNOMMER: 990/2011

In die aansoek tussen:



DIE DANVILLE GEMEENTE VAN

DIE AGS VAN SUID-AFRIKA …..............................................EERSTE APPLIKANT

VERNON XAVIER KRUGER …..............................................TWEEDE APPLIKANT

GARETH JACOBS …..............................................................DERDE APPLIKANT

DOUGLAS BOSCH NO …......................................................VIERDE APPLIKANT

MIRRIM VISAGIE NO …........................................................VYFDE APPLIKANT

ANDRE BOCK NO …..............................................................SESDE APPLIKANT

GERARLD BABA …...........................................................SEWENDE APPLIKANT

EVILINE THEYS …................................................................AGTSTE APPLIKANT



en



DIE AGS VAN SUID AFRIKA …..........................................EERSTE RESPONDENT

DIE AGS VAN SUID-AFRIKA:

NOORDWES FORUM …..................................................TWEEDE RESPONDENT

DR BEN VORSTER NO …...................................................DERDE RESPONDENT

UITSPRAAK



LANDMAN R:



Inleiding



[1] Die Danville Gemeente van die Apostoliese Geloof Sending kortweg die AGS, (eerste applikant of “die Danville Gemeente”), Pastoor Vernon X Kruger (tweede applikant), Pastoor Douglas Jacobs (derde applikant) en ʼn aantal lidmate van die Danville Gemeente nader hierdie Hof vir die hersiening en tersydestelling van sekere besluite van die onderskeie respondente. Die eerste respondent is die AGS Kerk van Suid-Afrika. Die tweede respondent is die AGS van Suid-Afrika: Noordwes Forum, volgens die AGS Grondwet is die respondent ‘n Streeksleierskapforum (“die SLF”). Die derde respondent, is die leier van die tweede respondent.



[2] Die aansoek is oorspronklik op ‘n semi-dringende basis geloods maar dringendheid is nie meer ter sake nie.



[3] Die applikante in hierdie aansoek verlang ‘n bevel in die volgende terme:



1.1 ....



1.2 Dat die besluit van die tweede respondent om die tweede applikant se kontraktuele diensverhouding met die eerste applikant gemeente te beëindig, hersien en tersyde gestel word;

1.3 Dat die besluit van die eerste respondent om die tweede applikant van sy status as pastoor van die AGS Kerk te ontneem, hersien en tersyde gestel word;

1.4 Dat die besluit van die eerste respondent om die tweede applikant se status as pastoor van die AGS Kerk op te skort, hersien en tersyde gestel word;

1.5 Dat die besluit van die tweede respondent dat die tweede applikant die huis, wat hy as werknemer van die eerste applikant bewoon, moet ontruim, hersien en tersyde gestel word;

1.6 Dat die besluit van die tweede respondent om die kerkraad van die eerste applikant gemeente se bevoegdhede as kerkraad oor te neem, hersien en tersyde gestel word;

1.7 Dat dit gelas word dat die volle salarisse en emolumente van die tweede, derde, sewende en agtste applikante vir die tydperk 1 September 2010 tot datum van hierdie bevel deur die eerste en tweede respondente gesamentlik en afsonderlik betaal word met rente daarop teen 15.5% per jaar vanaf 1 September 2010 tot datum van betaling;

1.8 Dat alle boeke, registers en ander dokumente van die eerste applikant gemeente, wat in besit is van enige van die respondente, binne sewe (7) dae deur sodanige respondente aan die eerste applikant gemeente teruggelewer word;

1.9 Dat die respondente gelas word om gesamentlik en afsonderlik, die een betaal die ander vrygestel te word, die koste van hierdie aansoek te betaal.



Geskilpunte



[4] Die volgende geskilpunte moet beslis word:



(a) Die locus standi van die Danville Gemeente.

(b) Lis pendens.

(c) Is Wet 3 van 2000 (“PAJA”) van toepassing?

(d) Is die aansoek om hersiening te laat geloods?

(e) Uitputting van interne remedies.

(f) Applikante se skrapingsaansoek.

(g) Respondente se skrapingsaansoek.

(h) Die meriete.

(i) Koste.



Kronologiese opsomming van gebeure



[5] Die kronologiese verloop van gebeure asook die besluite wat deur die respondente geneem is, is deur Adv I Ellis, wat namens die respondente verskyn het, opgestel. Ek maak ruimskoots daarvan gebruik.



(a) Op 26 Mei 2010 ontvang die derde respondent twee klagtedokumente vanaf lede van die kerkraad van die eerste applikant rakende die optrede van die tweede applikant.

(b) Uit hoofde van die derde respondent se versoek dat die klagtedokumente vergesel moet gaan van ‘n lys van handtekeninge van gegriefde lidmate, word dieselfde dokumente op 22 Junie 2010 aan die derde respondent terugbesorg tesame met agt-en-sestig (68) handtekeninge daarby.

(c) Op 9 Julie 2010 het die derde respondent in sy hoedanigheid as Streekleier van die tweede respondent die klagtedokumente onder dekking van ‘n skrywe aan die Hoof Sekretaris van die eerste respondent deurgegee ingevolge die bepalings van regulasie 11.10 van Bylae 11 tot die Grondwet van die AGS Kerk.

(d) Op 17 Augustus 2010 word die ondersoekspan ingevolge die bepalings van regulasie 11.15.1 van die AGS Grondwet aangestel.

(e) Op 29 Augustus 2010 geskied ‘n voorval tydens ‘n gemeentediens van die eerste applicant.

(f) Op 30 Augustus 2010 ontvang die aanklaer in die dissiplinêre verhoor ‘n voorlopige verslag van die ondersoekbeampte.

(g) Uit hoofde van die inhoud van die voorlopige verslag, asook die bevoegdhede ontleen in terme van regulasie 11.17 van die AGS Grondwet, skort die aanklaer die tweede applikant se dienste as pastoor tydelik op deur middel van ‘n skrywe gedateer 31 Augustus 2010.

(h) Op dieselfde dag, 31 Augustus 2010, word die kerkraad van die eerste applikant se bevoegdhede met onmiddellike effek opgeskort in terme van die bepalings van artikel 3.1.1 van die AGS Grondwet. Die kerkraad van die eerste applikant word dienooreenkomstig ingelig dat die tweede respondent voortaan in beheer van die gemeente sal wees en ook dat die tweede respondent die gemeente sal bestuur tot verdere kennisgewing.

(i) Op 15 Oktober 2010 ontvang die aanklaer in die dissiplinêre verrigtinge teen die tweede applikant die finale ondersoekverslag van die ondersoekbeampte.

(j) Daarna en op 1 November 2010 word die formele klagstaat deur die aanklaer in die dissiplinêre proses aan die tweede applikant gestuur by wyse van geregistreerde pos.

(k) Op 18 Februarie 2011 word die dissiplinêre verrigtinge te Lichtenburg teen die tweede applikant onbepaald uitgestel.

(l) Op dieselfde dag, 18 Februarie 2011, word ‘n dringende kennisgewing aan alle lidmate van die AGS Danville (eerste applikant) gegee van ‘n spesiale vergadering van die gemeente wat gehou sal word op Maandag, 21 Februarie 2011 om 07h00 ingevolge die bepalings van regulasie 1.4 van Bylae 1 van die AGS Grondwet.

(m) Verder en op 18 Februarie 2011 geskied ‘n voorval waartydens die slotte van die eerste applikant se geboue oopgebreek word.

(n) Daarna en op 21 Februarie 2011, gedurende die spesiale vergadering, soos saamgeroep deur die derde respondent, geskied ‘n voorval waarvan die verrigtinge op videoband opgeneem is en waarvan die applikante ‘n transkripsie saamgestel het.

(o) Op 24 Februarie 2011 word die tweede applikant in kennis gestel dat sy pastorale status beëindig sou word. Die tweede applikant word sewe (7) dae gegun om bevredigende redes te verskaf waarom sy status nie aldus beëindig behoort te word nie.

(p) Op dieselfde dag, 24 Februarie 2011, rig die tweede applikant ‘n skrywe aan die Nasionale Ampsdraers van die AGS Kerk van Suid-Afrika in antwoord op die inhoud van die voormelde skrywe.

(q) Die daaropvolgende dag, 25 Februarie 2011, word die tweede applikant deur die derde respondent skriftelik in kennis gestel dat sy diens as presiderende pastoor van die eerste applikant summier beëindig word.

(r) Op 10 Maart 2011 word die tweede applikant by wyse van ‘n skrywe vanaf die prokureurs van rekord namens die eerste respondent ingelig dat sy status as pastoor van die AGS Kerk beëindig word.

(s) Op 23 Junie 2011 word die huidige aansoek deur die applikante geloods.



Locus standi



[6] Die respondente voer aan dat die Danville Gemeente se locus standi om aansoek te doen nie bewys is nie. Adv Ellis doen aan die hand dat die Danville Gemeente moet aantoon dat dit die draer van die regte is, of dat dit bevoeg is om namens so ‘n entiteit op te tree, of dat dit sodanige entiteit se regte verkry het. Die onus rus op die party wat die verrigtinge instel om te beweer en te bewys dat hy of sy die nodige verskyningsbevoegdheid het. Die onus rus op daardie party te alle tye gedurende die duur van die verrigtinge. ‘n Bewering van ‘n agent dat die agent die bevoegdheid het om namens ‘n regspersoon te litigeer, is spesifiek aangespreek in die Presbyterian Church of Africa, Umtata v Residents of Umtata District and Others [2001] JOL 7540 (Tk) waar die hof hom soos volg uitlaat:



An allegation of an agent’s authority to litigate on behalf of a principal is essential, unless it appears from the affidavits filed in the application that the principal is aware of and ratifies the proceedings. This is not the case of a member of a church having locus standi to bring proceedings to protect his rights without joining other members of such church as applicants. It was pointed out in Mall (Cape) (Pty) Ltd v Marino Ko-öperasie Bpk 1957 (2) SA 347 (C) at 351E-G:

Unlike an individual, an artificial person can only function through its agents, and can only take decisions by the passing of resolutions in the manner prescribed by its Constitution.’



Less reason exists to assume from the mere fact that proceedings have been brought in its name, that those proceedings have in fact been authorised by the artificial person concerned.”



[7] Adv Pistor SC, wat namens die applikante optree, doen aan die hand dat die locus standi punt van die respondente daarop neerkom dat die applikante se volmag om namens die gemeente op te tree, betwis word. Hy voer aan dat die punt moet ingevolge Reël 7 van die Eenvormige Reëls ge-opper word. Sien Unlawful Occupiers, School Site v City of Johannesburg 2005 (4) SA 199 (SCA) para 16. Dit is nie gedoen nie en gevolglik kan die punt nie slaag nie.



[8] Ek meen dat die locus standi van die applikante kan slegs deur ‘n beroep op Reël 7 betwis word. Daarbenewens is daar voldoende getuienis dat die meerderheid van die kerkraad die loods van die aansoek goedkeur.



Lis alibi pendens



[9] Die respondente doen aan die hand dat lis alibi pendens is van toepassing omdat daar litigasie is tussen dieselfde partye en ten opsigte van dieselfde skuldoorsaak wat hangende is. Die vereistes vir ‘n beswaar van lis alibi pendens is dat daar hangende litigasie tussen dieselfde partye of hulle opvolgers moet wees gebaseer op dieselfde skuldoorsaak. Sien Williams v Shub 1976 (4) SA 567 (C). Adv Ellis het aan die hand gedoen dat waar ‘n party ‘n tweede verrigting in stel, moet die party die Hof oortuig dat daardie verrigtinge nie kwaadwillig is nie, en dat die balans van die ewewig van gelykheid en gerief die voortsetting van die tweede verrigting begunstig.



[10] Die respondente het aansoek in die Landdroshof gedoen vir die uitsetting van die tweede applikant. Die tweede applikant het dit teengestaan. Die aansoek is egter uitgestel hangende die uitslag van hierdie aansoek. Ek is van mening dat die oorwig van gerief dui aan dat hierdie Hof die aangeleentheid moet besleg; veral omdat die aangeleentheid redelik gekompliseerd is en diè Hof die voordeel van ‘n oorhoofse uitsig ten opsigte van die gebeure het. Ek is oortuig dat diè aansoek nie kwaadwillig is nie.



Is die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (“PAJA”) van toepassing?



[11] Die vraag of die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 van toepassing het by my ontstaan as gevolg van die uitspraak in Louisvale Pirates v South African Football Association (40614/2011) [2012] ZAGPJHC 78 (4 May 2012). Ek is van oordeel dat dat dit gesê kan word dat die respondente geen openbare magte mag uitoefen en daarom is Wet 3 van 2000 nie van toepassing nie. Sien Hare v President of National Court of Appeal no 140 and Another (09/2058) [ 2009] ZAGPJHC 60 (4 November 2009) (ZAGPJHC 2009). Die partye het egter voorsiening in die (Grondwet van die AGS) gemaak vir die toepassing van die reëls van natuurlike geregtigheid. Sien Klein v Dainfern College and Another 2006 (3) SA 73 (T). Die feit is voldoende vir die applikante om hulle op die Hof se hersieningsmagte te beroep.



Is die aansoek te laat geloods?



[12] Die aansoek om hersienings sou laat gewees het indien Wet 3 van 2000 van toepassing was. Die wet is egter nie van toepassing nie. Die aansoek om hersiening moet binne ‘n redelike tydperk geloods word. Ek is van mening dat die aansoek wel binne ‘n redelike tydperk geloods is.



Uitputting van interne remedies



[13] In die lig van my bevinding wat hierop volg is dit onnodig, in hierdie geval, dat die interne remedies uitgeput moet word. Ek is ook van mening, om redes wat later uitgespel sal word, dat die dissiplinêre proses teen die tweede applikant tot ‘n einde gekom het. As gevolg hiervan kan die betoog dat die aansoek prematuur is, nie gehandhaaf word nie.



Applikante se skrapingsaansoek



[14] Die applikante vra dat sekere paragrawe in die opponerende eedsverklaring van die respondente geskrap moet word. Die aansoek is gegrond:

(a) op die bewering dat die paragrawe nuwe redes openbaar wat nie aan die applikante geopenbaar is toe die respondente versoek is om hulle redes te verskaf nie; en

(b) op die feit dat sommige van die bewerings in die paragrawe op hoorsê getuienis berus wat nie toelaatbaar is nie.



[15] In die lig van die standpunt wat ek ten opsigte van die meriete neem, is dit onnodig om enige paragrawe te skrap. Die respondent is egter geregtig om verdere redes uiteen te sit waarom hulle besluite geldig is. Die aansoek om skraping word afgewys en geen bevel ten opsigte van koste word gemaak nie.



Die respondente se skrapingsaansoek



[16] Aanvanklik het die respondente te kenne gegee dat hulle aansoek sou doen vir die deurhaling van die applikante se repliserende eedsverklarings. Die standpunt is toe effens versag. In Associated Institutions Pension Fund v Van Zyl 2005 (2) SA 302 (SCA) bevind die Hoogste Hof van Appèl dat beweringe in repliek wat ‘n nuwe saak daarstel, nie in ag geneem mag word nie. Sien ook Director of Hospital Services v Mistry 1979 (1) SA 626 (A).



[17] Ek is nie van plan om enige paragrawe te skrap nie. Heelwat bewering in die repliseerende eedsverklarings moes eerder in die funderende eedsverklaring of die eedsverklaring gemeld in Reël 53, gemaak gewees het. Die applikante het geweet dat die beweerde gedrag van die tweede applikant ter sprake sou wees en hulle moes dit in die funderende eedsverklaring of die Reël 53 eedsverklaring aangespreek het. Ek is van voorneme om die applikante met ‘n toepaslike kostebevel te bestraf.





Die meriete



Oorname van die gemeentelike bestuur



[18] Lede van die AGS wat ‘n groep vorm en aan sekere vereistes voldoen, kan ingevolge die AGS Grondwet as ‘n gemeente (local assembly) geregistreer word. Sien art 2.4.1. ‘n Pastoor staan gewoonlik aan die hoof van ‘n gemeente wat hy bedien. Die gemeente is ‘n regspersona in sy eie reg. Die gemeente funksioneer deur middel van ‘n kerkraad (governing body). Artikel 2.5 van die AGS Grondwet stel dit so:



Every registered local assembly is a legal persona with perpetual legal succession and the governing body, as constituted in accordance with this Constitution, is its agent.



Sien ook 2.5.2 wat bepaal dat:



The governing body has the competency to execute any legal transaction or any other action which might be necessary to fulfil the calling of the church in general and to conduct the business and affairs, and to exercise the powers, and to control the operations of its local assembly on behalf of such local assembly.



Die pastoor is die leier van die kerkraad. Sien artikel 2.4.2.



[19] Omdat die die tweede respondent, die Streeksleierskapforum (“SLF”), betrokke is, moet aandag aan die aard van ‘n SLF se funksies, gewy word. Artikel 3.1. van die AGS Grondwet handel daarmee. Die artikel lees soos volg:



3.1 FUNCTIONS

The Regional Leadership Forum shall, subject to the powers vested in it as contained in the church laws, perform the following functions:



3.1.1 facilitate the caring for the temporal and spiritual welfare of all ministries and statutory bodies within its jurisdiction, and to take any action that is deemed to be in the interest of the local assembly and/or the broader church and to make recommendations to the National Leadership Forum on regional matters;”

[20] Net soos in die geval van ‘n gemeente tree ‘n SLF deur middel van ‘n agent, wat bekend staan as die Streekskomitee, op. Sien art 3.6 van die AGS Grondwet.



Die feite t.o.v die kerkraad



[21] Dit is gemeensaak dat die SLF, deur middel van die Streekskomitee, op 31 Augustus 2010 die werksaamhede van die kerkraad van die Danville Gemeente opgeskort het en die magte, bevoegdhede en verpligtinge van daardie kerkraad oorgeneem het. Die Streekskomitee se skrywe van 31 Augustus 2010 lees soos volg:



Subject to the powers vested in us as North-West Committee in terms of the Constitution of the AFM Church Section 3.1.1, you are hereby informed that the Governing Body of A.F.M. Danville Assembly is suspended with immediate effect and that the Regional Committee will be in control and manage the Assembly until further notice.



All ministry activities will be determined by the Regional Committee. Any disruptive behaviour by any member of the Assembly will be dealt with the strictest of terms according to the Constitution of the Church.”



[22] Adv Pistor SC het betoog dat die Streekskomitee van die SLF nie geregtig was om die kerkraad “oor te neem” nie en dat daardie besluit dus op hierdie grondslag ter syde gestel moet word. Dit kom neer op die uitoefening van ʼn administratiewe handeling sonder die nodige bevoegdheid. Adv Pistor SC het die betoog uitgebrei maar ek ag dit nie nodig om my daaroor uit te laat nie. Na my mening kan die geskilpunt op grond van twee prosedure aspekte besleg word.



(a) Magtiging



[23] Die brief waarin die kerkraad van die “oorname” in kennis gestel is, is slegs deur die voorsitter van die komitee (die derde respondent) onderteken. Die “oorkonde” vervat geen dokumente wat aandui dat:



(a) die komitee inderdaad die aangeleentheid oorweeg het nie;

(b) die komitee inderdaad ʼn besluit geneem het nie; en of

(c) die besluit eenparig of met ʼn meerderheid geneem is nie.



[24] Adv Pistor SC doen tereg aan die hand dat die skrywe waarop die respondente steun en wat slegs deur een lid van die komitee onderteken is, nie as ʼn geldige besluit beskou kan word nie.



(b) Natuurlike geregtigheid



[25] Die AGS Grondwet bepaal dat die reëls van natuurlike geregtigheid eerbiedig moet word. Sien artikel 11.1 wat lees:





11.1 DISCIPLINE: BASIS AND PURPOSE



The basis and purpose of all discipline is:



11.1.1 to maintain the honour of God;



11.1.2 to promote the wellbeing of the church;



11.1.3 to remove sin from the ranks of the church;



11.1.4 to assist transgressors by means of disciplinary action to regain a biblical relationship with God and His Church.



11.2 NATURAL JUSTICE: MAINTAINING PRINCIPLES OF



During any proceedings care shall be exercised that there is no deviation from the principles of natural justice.



[26] Die beginsel geld ook waar ‘n SLF ten opsigte van ‘n gemeente, soos in hierdie geval, optree. Die Ooskaapse Hooggeregshof het in The Regional Leadership Forum for the Eastern Cape of the Apostolic Faith Mission of South Africa v Apostolic Faith Mission of South Africa New Life Christian Centre and Others (Saaknommer 890/05 (ECC)), bevind dat die bepalings van artikel 3.1.1 van die AGS Grondwet ‘n SLF magtig om sodanige oorname te bewerkstellig mits daar aan die vereistes van natuurlike geregtigheid voldoen word.



[27] Dus, al sou die komitee gemagtig gewees het om ingevolge Art. 3.1.1 op te tree, is die beginsels van natuurlike geregtigheid nogtans op hulle beoogde handelinge van toepassing.



[28] Adv Ellis het aan die hand gedoen dat die respondente hieraan voldoen het omdat twee lede van die kerkraad klagtes ingedien het. Die klagtes mag wel die bal aan die rol geplaas het maar dit vervang geensins die verpligtinge om die kerkraad asook die gemeente te raadpleeg nie.



[29] Die steunpilaar van natuurlike geregtigheid, die audi alteram beginsel, is geensins deur die komitee nagekom nie. Die komitee het nie enige lid van die kerkraad of die gemeente ‘n geleentheid gergun om voorstelle te maak of vertoë te rig waarom die kerkraad nie oorgeneem moet word nie. Elke lid van die kerkraad asook die gemeente was geregtig op sodanige geleentheid.



[30] Gevolglik moet die besluit van die SLF om die kerkraad van die Danville Gemeente se bevoegdhede oor te neem, hersien en tersyde gestel te word.



[31] Dit volg dat die handeling wat die SLF namens die kerkraad of “as die kerkraad” gedoen het, nie kan bly staan nie. Die besluite moet derhalwe tersyde gestel word. Die handelinge sluit die besluit van die SLF in om die tweede applikant se diensverhouding met die gemeente te beëindig; asook die besluit van die SLF dat die tweede applikant die huis, wat hy as werknemer van die Danville Gemeente bewoon, moet ontruim.



[32] Daarbenewens moet alle boeke, registers en ander dokumente van die Danville Gemeente wat in besit van enige van die respondente is, aan die gemeente terug besorg word.



Beëindiging van die tweede applikant se pastorale status



[33] Terwyl die tweede applikant geskors is hangende die uitslag van dissiplinêre stappe teen hom, is ‘n skrywe gedateer 24 Februarie 2011 (Bylae “H”) van die uitvoerende gesag (die Nasionale Ampsdraers) van die AGS ontvang. Die skrywe lees soos volg:



“TERMINATION OF PASTORAL STATUS OF PASTOR V.X. KRUGER



The National Office Bearers have taken note of the developments at the AFM Danville Assembly on 19 February 2011 where the church door locks and chains were cut in order to gain access into the church which was an action in defiance of all rulings made by the Regional Committee. The NOB also took note of how you disrupted the Assembly meeting which was attended by the Regional Committee and shouted at the members of the Regional Committee and other members present on Monday, 21 February 2011. At the meeting you declared no other person would preach from the pulpit other than yourself or your appointee, and that you have been reinstated because you were found not guilty. We have also noted that your incitement to violence led to the Regional Committe fleeing the scene.



We want to bring it to you that your involvement in the above actions amounts to the violation of the suspension of your pastoral status in terms of Regulation 11.17 of Appendix 11 to the constitution of the Apostolic Faith Mission of South Africa.



Your action as stated herein above left no other option for the National Office Bearers other than to terminate your pastoral status as a result of your involvement in the above stated incidents.



You are given seven days from the date of this letter to write and give acceptable reasons as to why your status should not be terminated on the basis of the above reasons. If no acceptable reasons are received from you within seven days from the date of this letter your pastoral status in the Apostolic Faith Mission of South Africa will be terminated forthwith.”



[34] Die ontneming van pastorale status is die grootste oneer wat ‘n pastoor kan tref. Die gevolge, wat hom betref is dat hy, onder andere, ontneem word van die voorreg om die Woord te verkondig en om lede van die AGS Kerk te bedien. Die beëindiging van die pastorale status is so ernstig dat slegs die hoogste gesagsliggaam in die AGS Kerk ‘n pastoor van sy status kan ontneem. Dit is duidelik uit die AGS Grondwet dat die ontneming van pastorale status as ʼn ernstige ingryping in die regte van ʼn pastoor beskou word. Die hoogste gesagsliggaam van die Kerk, die Nasionale Leierskap Forum (NLF), oefen gesag uit ten opsigte van pastore. Art 4.2.1 bepaal dat pastore:



shall fall directly under the discipline of the National Leadership Forum as far as their pastoral status is concerned.



[35] Die bogemelde skrywe van die NLF verwys egter nie na enige artikel, bepaling of regulasie ingevolge waarvan die NLF die besluit om die pastorale status van die tweede applikant beëindig, geneem het nie.



[36] Ek aanvaar, vir doeleindes van hierdie uitspraak, dat die NLF oor die nodige bevoegheid beskik om ‘n pastoor om verskeie redes te ontslaan; selfs indien dissiplinêre prosedures nog nie afgehandel is nie of nie ter sprake is nie.



[37] Die ontslag van ‘n pastoor of beëindiging van ‘n pastoor se status mag slegs, volgens die AGS Grondwet, plaasvind nadat daar aan die reëls van natuurlike geregtigheid voldoen is.



[38] Regulasie 7.1.6.2 (waarop die respondente ook steun) bepaal dat:



Should the National Leadership Forum subject to existing procedures and negotiations with the Assembly, Region or Department concerned, come to the conclusion that an ordained pastor’s ministry is not acceptable within the church .........his/her status will be terminated subject to Reg. 7.1.7.” (My beklemtoning.)



[39] Die onderstreepte gedeelte vereis dat die besluit om pastorale status te beëindig, mag slegs ooreenkomstig die bestaande prosedures en na onderhandeling met die betrokke gemeente geneem word. Dit is gemeensaak dat die NLF geensins met die Danville Gemeente onderhandel het nie.



[40] Behoudens die verpligting wat regulasie 7.1.6.2. skep, bepaal regulasie 7.1.7. waarna in die voorafgaande regulasie verwys word, dat:



Before the National Leadership Forum takes any resolution in terms of Regulation 7.1.6.2 the pastor affected by such resolution shall be granted opportunity to appear before the National Leadership Forum to give reasons why the resolution should not be passed.” (My beklemtoning.)

[41] Dit is gemeensaak dat die tweede applikant nie ʼn geleentheid, soos in die laasgenoemde regulasie vereis, gegun is nie.



[42] Die respondente beweer dat hulle die audi-beginsel nagekom het deur in die skrywe (Bylae “H”) die tweede applikant die geleentheid te gun om binne 7 dae redes aan te voer waarom sy pastorale status hom nie ontneem moet word nie. Die betoog gaan nie op nie. Die partye het deur middel van die AGS Grondwet ooreengekom op die prosedure wat gevolg moet word. Die respondente mag nie eensydelik die voorskrifte ongedaan maak nie. Sien Denel (Pty) Ltd v Vorster (2004) 25 ILJ 659 (SCA) op para 16.



[43] Gevolglik moet die besluit van die eerste respondent om die tweede applikant van sy status as pastoor van die AGS Kerk te beëindig, hersien en tersyde gestel word.



Besluit van aanklaer om pastoorstatus op te skort



[44] Die applikante vra dat ‘n bevel toegestaan word dat die besluit van die tweede respondent om die tweede applikant se status as pastoor van die AGS Kerk op te skort, hersien en tersyde gestel word. So ‘n bevel sal slegs nodig wees indien die dissiplinêre ondersoek nog nie afgehandel is nie.



[45] Adv Ellis het aan die hand gedoen dat die besluit van die eerste respondent wat op 10 Maart 2011 geneem is, waardeur die tweede applikant se status as pastoor beëindig is, nie die dissiplinêre verrigtinge opgeskort of gestaak het nie. Dit blyk uit die bepalings van regulasie 11.6 gelees met regulasie 7.5 van die onderskeie Bylaes van die AGS Grondwet en word dit deur die respondente in die opponerende eedsverklaring bevestig.



[46] Ek is egter van mening dat die dissiplinêre proses teen die tweede applikant tot ‘n einde gekom het, want die hoogste straf of sanksie wat die komitee kon oplê of aanbeveel reeds uitgevoer is toe die NLF die tweede applikant se pastoorstatus beëindig het.



[47] Adv Ellis betoog dat art 7.1.6.3. van toepassig is en dat slegs die tweede applikant se sertifikaat ingetrek is. Die sub-artikel lees soos volg:



7.1.6.3 The National Leadership Forum shall have the authority to recall the certificate of any pastor who is under discipline.



Die betoog gaan nie op nie. Artikel 7.1.6.3. handel met die bewys van pastoorstatus en nie pastoorstatus as sodanig nie. Die NLF het nie die tweede applikant se sertifikaat ingetrek nie. Die NLF het hom van sy amp as pastoor onthef. Dit kan dus nie aanvaar word dat die NLF slegs die tweede applikant se pastoorstatus hangende die beslissing van die dissiplinêre komitee beëindig het nie.



[48] Ek moet dit egter duidelik stel dat die bevel wat ek maak geensins die respondente belet om ‘n dissiplinêre ondersoek teen die tweede applikant weens enige van die bestaande bewerings in te stel nie. So ook word die respondente nie belet om enige ander handeling te verrig nie mits daar aan die bepalings van die AGS Grondwet voldoen word.



Salarisse en emolumente



[49] Die applikante vra vir ‘n bevel dat die volle salarisse en emolumente van die tweede, derde, sewende en agtste applikante vir die tydperk 1 September 2010 tot datum van hierdie bevel deur die eerste en tweede respondente gesamentlik en afsonderlik betaal word met rente tot datum van betaling. Hierdie regshulp kan nie toegestaan word nie. Die AGS Grondwet stel dit duidelik dat elke instelling ‘n afsonderlike regspersoon is. Die gemelde applikante staan in diens van die Danville Gemeente. Die Gemeente is hul werkgewer. Hulle mag slegs betaling, van hulle onderskeie salarisse en emolumente, van hulle werkgewer eis. Daar bestaan geen dienskontrake tussen die gemelde applikante en die respondente nie. Derhalwe word hierdie smeekbede van die hand gewys.



Koste



[52] Wat koste betref sal dit gepas wees indien die koste aan die suksesvolle party toegeken word. Die koste van die opstel van die repliserende eedsverklaring sal beperk word tot een derde van die aantal bladsye.



Dank verskuldig



[53] Ek moet my dank betuig teenoor Adv Pistor SC en Adv Ellis vir die bekwame wyse waarop hulle die sensitiewe aansoek benader en geargumenteer het. Ek het besonder baat gevind by hulle volledige hoofde van argument.



Bevel



[54] Die volgende bevel word gemaak:





1. Dat die besluit van die tweede respondent om die tweede applikant se kontraktuele diensverhouding met die eerste applikant gemeente te beëindig, hersien en tersyde gestel word;

2. Dat die besluit van die eerste respondent om die tweede applikant van sy status as pastoor van die AGS Kerk te ontneem, hersien en tersyde gestel word;

3. Dat die besluit van die tweede respondent dat die tweede applikant die huis, wat hy as werknemer van die eerste applikant bewoon, moet ontruim, hersien en tersyde gestel word;

4. Dat die besluit van die tweede respondent om die kerkraad van die eerste applikant gemeente se bevoegdhede as kerkraad oor te neem, te hersien en tersyde gestel word;

5. Dat alle boeke, registers en ander dokumente van die eerste applikant gemeente wat in besit van enige van die respondente is, binne sewe (7) dae deur sodanige respondente aan die eerste applikant gemeente teruggelewer word;

6. Dat bede 1.7, wat met betaling van salarisse en emolumente handel, van die hand gewys geword.

7.1. Dat die applikante se skrapingsaansoek word van die hand gewys en dat die koste van die skrapingsaansoek word nie toegelaat nie.

7.2 Dat die respondente gelas word om gesamentlik en afsonderlik, die een betaal die ander vrygestel word, die koste van hierdie aansoek te betaal.

7.3 Die koste van die opstel van die repliserende eedsverklaring sal beperk word tot een derde van die aantal bladsye.









A A LANDMAN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF







VERSKYNINGS:



DATUM VAN VERHOOR : 30 MEI 2012

DATUM VAN UITSPRAAK : 14 JUNIE 2012





VIR DIE APPLIKANTE : ADV J H F PISTOR SC

VIR DIE RESPONDENTE : ADV I ELLIS





PROKUREUR VIR DIE APPLIKANTE : VAN ROOYEN TLHAPI & WESSELS

PROKUREUR VIR DIE RESPONDENTE : SMIT & STANTON INK.