South Africa: North West High Court, Mafikeng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North West High Court, Mafikeng >> 2011 >> [2011] ZANWHC 72

| Noteup | LawCite

Pretorius v Pretorius (1468/11) [2011] ZANWHC 72 (8 December 2011)

Download original files

PDF format

RTF format


IN THE NORTH WEST HIGH COURT

(MAFIKENG)


CASE NO.: 1468/11


In die saak tussen:


MARIA MAGRIETHA PRETORIUS …...........................................APPLIKANT


en


GERHARDUS JACOBUS PRETORIUS …..................................RESPONDENT


DATUM VAN VERHOOR : 01 DESEMBER 2011

DATUM VAN UITSPRAAK : 08 DESEMBER 2011


VIR DIE APPLIKANT : ADV G MAREE

VIR DIE RESPONDENT : ADV ACKERMAN



UITSPRAAK



LANDMAN R:


[1] Maria Magrietha Pretorius (applikante) en Gerhardus Jacobus Pretorius (respondent) is op 5 April 1986 met mekaar buite gemeenskap van goedere getroud.


[2] Die partye het gemaklik gelewe. Die respondent is ‘n vermoënde boer.


[3] Die partye is vroeër vanjaar uit mekaar. Die applikante het ‘n huis in Mafikeng gehuur. Hulle seuns – een wat ‘n student is en een wat minderjarige is - kuier soms naweke en vakansies by haar.


[4] Die applikante het nie gedurende die huwelik gewerk nie. Sy besit eiendom en beweer dat sy slegs R2000.00 per maand huur inkomste ontvang. Die bedrag word betwis. Die respondent beweer dat sy huur vir twee ander wonings ontvang. Die applikante beweer dat haar maandelikse uitgawes R25 514.00 beloop. Die applikante kan die uitgawes sny. Tog is die huur betaalbaar redelik in die heersende omstandighede.


[5] Die respondent het onderhoud van R8000.00 per maand getender. So ook is die respondent bereid om ‘n addisionele bedrag van R2000.00 per maand aan haar vir die minderjarige seun te betaal “wanneer hy by haar is”. Die respondent bied ‘n bydrae tot koste in die bedrag van R5000.00 aan.


[6] Die applikante vra onderhoud vir haarself in die bedrag van R23 514.00. Na my mening sal R15 000.00 per maand pendente lite voldoende wees.


[7] Die partye het alreeds in twee tussentydse gedinge betrokke geraak. Hierdie aansoek, in gevolge Reël 43, is die derde geding. Koste gaan vinnig toeneem. Dus sal R10 000.00, so ver dit hierdie partye aangaan, ‘n billike bydrae tot haar koste wees.


[8] Ingeval die respondent se agterdog te opsigte van die huukinkomste grondig is, word koste vir beslissing deur die verhoorhoof voorbehou.


[9] Gevolglik verleen ek die volgende bevel:


1. Dat pendente lite beide partye hul volle verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die minderjarige kind, soos bepaal in Artikel 18(2)(a) van die Kinderwet 38 van 2005, behou;


2. Dat pendente lite die primêre versorging en residensie van die minderjarige kind aan die respondent toegeken word;


3. Dat pendente lite spesifieke ouerlike verantwoordelikhede en regte met betrekking tot die applikant se kontak met die minderjarige kind, soos beoog in Artikel 18(2)(b) van die Kinderwet 38 van 2005, aan die applikant toegeken word;


4. Dat pendente lite die respondent R15 000.00 per maand onderhoud aan die applikant moet betaal;


5. Dat pendente lite die respondent R2 000.00 per maand vir die minderjarige se kind se onderhoud betaal;


6. Dat pendente lite die respondent die minderjarige kind geregistreer hou op sy hospitaal plan en alle ander redelike medies onkoste van die minderjarige kind betaal, alternatiewelik dat die respondent alle redelike mediese uitgawes van die minderjarige kind betaal;


7. Dat pendente lite die respondent alle skoolgelde, insluitend naskoolsorg gelde, buitemuurse aktiwiteite en skoolkar gelde, van die minderjarige kind betaal;


8. Dat pendente lite die respondent die applikante geregistreer hou op sy hospitaal plan en alle ander redelike medies onkoste van die applikant betaal;


9. Dat pendente lite die respondent die Ford Ranger motorvoertuig tot die applikant se beskikking stel en onderhou, asook die voertuig behoorlik te verseker en die versekering premies van die voertuig te betaal;


10. Dat die respondent ‘n bydrae tot die applikant se regskostes maak in die bedrag van R10 000.00; en


11. Dat kostes van die aansoek vir beslissing deur die verhoorhof voorbehou word.



A A LANDMAN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF




PROKUREURS:


VIR DIE APPLIKANT : GERHARD MAREE PROKUREURS

VIR DIE RESPONDENT : VAN ROOYEN TLHAPI EN WESSELS





5