South Africa: North West High Court, Mafikeng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North West High Court, Mafikeng >> 2007 >> [2007] ZANWHC 30

| Noteup | LawCite

Schoobee and Another v Firstrand Bank (Pty) Ltd (389/07) [2007] ZANWHC 30 (12 July 2007)

Download original files

PDF format

RTF format







IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

BOPHUTHATSWANA PROVINSIALE AFDELING


SAAKNOMMER: 389/07


In die saak tussen:



JAN JOHANNES SCHOONBEE 1STE APPLIKANT

ROSALINO JOHANNA CATHARINE SCHOONBEE 2DE APPLIKANT

en

FIRSTRAND BANK (PTY) LTD RESPONDENT



UITSPRAAK




LANDMAN J:



[1] Eerste Nasionale Bank (“FNB”) het ʼn aansoek (“die hoofaansoek”) teen J J en R J C Schoonbee (“die Schoonbees”) vir betaling van R1 289 996.34 op grond van ʼn skulderkenning en R205 870.00 op grond van ʼn lening tesame met rente geloods. FNB doen ook aansoek vir ʼn bevel dat sekere onroerende eiendom uitvoerbaar verklaar word, verbandhoudende regshulp en koste op ʼn prokureur/klient skaal.


[2] Die Schoonbees het die aansoek teengestaan. Enkele dae voordat hulle ʼn opponerende eedsverklairng moes liasseer, het hulle ʼn kennisgewing kragtens Reël 35(14) op FNB bestel. Die Schoonbees verlang dat FNB die volgende dokumente vir inspeksie beskikbaar moet maak, naamlik:


(a) Die ATM-ooreenkoms tussen die applikant en eerste en tweede respondent h/a JS Beleggings, verbandhoudend tot rekeningnommer 62052261056.

(b) Die volledige transaksielys (wat insluit alle kontantontrekkingstrokies, maar nie beperk is nie daartoe), van alle debietinskrywings, verbandhoudend tot die bedryf van die ATM fasiliteit deur die respondente namens die applikant te Madibogo, alternatiewelik Delareyville.

(c) Alle kontantontrekkingsstrokies, alternatiewelik grootboekjoernaal van kliënte van die applikant wat ingevolge die ATM-ooreenkoms kontantgelde of andersins getrek het by die respondente in die bedryf van die ATM namens die applikant te Madibogo, alternatiewelik Delareyville.

(d) Die volledige transaksielys (wat insluit alle kontantonttrekkings, maar nie beperk is nie daartoe), van alle kredietinskrywings, verbandhoudend tot die bedryf van die ATM fasiliteit deur die Respondente namens die applikant te Madibogo, alterntiewelik Delareyville.

(e) Die lys van krediete, alternatiewelik die grootboekjoernaal wat alle betalings van die respondente reflekteer, gemaak ingevolge die ATM-ooreenkoms tussen die applikant en respondente.

(f) Die joernaalinskrywings met betrekking tot alle kommissies verdien deur respondente in navolging van die ATM-ooreenkoms, asook alle kostes en diverse debiete gehef teen die rekening van die respondente, verbandhoudend tot die ATM-ooreenkoms.

(g) Die fasiliteitsbrief wat betrekking het op rekeningnommer 62052261056.

(h) Die uittreksel uit die oortrokke fasiliteit van die respondente, aangeheg tot aanghangsel “B” en na verwys in paragraaf 10.1 van die applikant se funderende beëdigde verklaring.


[3] FNB het op die kennisgewing gereageer. FNB neem die houding in dat:


‘The applicant refuses to make available the documents requested for the following reasons:

1.1 the applicant’s cause of action is based on an agreement, Annexure “B” to the founding affidavit which is an acknowledgment of debt and consent to judgment and accordingly the documents requested are irrelevant;

1.2 Rule 35(14) does not apply to applications;

1.3 the request for these documents constitutes no more than a vague and unsubstantiated fishing expedition;

1.4 such documents cannot be relevant to an anticipated dispute between the parties in the application; and

1.5 there was never any such “ATM-ooreenkoms”.


[4] Die Schoonbees het toe ʼn interlokutêre aansoek kragtens Reël 35(7) om FNB te verplig om die dokumente vir inspeksie beskikbaar te maak, geloods.


[5] Die Reël 35(14) kennisgewing en die Reël 35(7) aansoek is onreëlmatig. Die Schoonbees moes eers ʼn aansoek kragtens Reël 35(13) geloods het vir ʼn bevel dat Reël 35 (wat op aksies van toepassing is) met die nodige veranderinge ten opsigte van ʼn mosie aansoek van toepassing gemaak word. Ek is bereid, onderhewig aan ʼn toepaslike bevel ten opsigte van koste (indien enige), hierdie aansoek as ʼn aansoek kragtens Reël 35(13) te beskou.


[6] Die omvang van Reël 35(13) is redelik onlangs deur Plasket WR (soos hy toe was) in Premier Freight (Pty) Ltd v Breathetex Corporation (Pty) Ltd 2003 (6) SA 190 (SECLD) bespreek. Die kopnote som die beslissing soos volg op:


“ Held, further, that it was only in exceptional circumstances that the Rules of discovery should be made to apply to application proceedings. (Paragraph [7] at 193G.)

Held, further, that the notion of exceptional circumstances did not exist in a vacuum: it was to be gauged within the broader context of the foundational values upon which the Rules themselves were based, namely ideas of fairness and equity – and the constitutional values of openness and transparency. (Paragraph [13] at 196 A–B.)

Held, further, that, based on the consideration of a number of factors taken together, the present case was an exceptional one in which it was warranted to direct that the Rules of discovery applied. (Paragraphs [14] and [23] at 196 B–B/C and 197H.)

Held, further, that the factors taken into account by the Court in exercising its discretion were: (1) It was a claim for a substantial amount of money. (2) The respondent had raised a defence that did not appear frivolous and it claimed that it did not have all the documentation necessary to succeed in its defence because the applicant had refused to provide it despite request. (3) The documents sought were relevant to its defence and the central issue in the litigation. (4) The application for a direction was well directed and not a fishing expedition. (5) The application was foreshadowed in correspondence between the parties’ attorneys and was not brought too late. (6) The applicant chose to proceed by way of application, thus robbing the respondent of the automatic resort to discovery, leaving the respondent at something of a disadvantage. (7) The documents sought would probably resolve the matter. (8) There appeared to be a reasonable apprehension that not everything was before the Court for the just and fair resolution of the dispute. (Paragraphs [15]–[22] at 196C, 196 D/E–E, 196F/G–G, 196H – 197A, 197B, 197C/D, 197D/E, 197E/F–F and 197F/G–G.) Application granted.

In die loop van sy uitspraak het die geleerde Regter hom soos volg uitgespreek:


“On the other hand, certain important constitutional values must also be borne in mind. The founding constitutional value of the rule of law, enshrined in s 1(c) of the Constitution of the Republic of South Africa Act 108 of 1996, and the right of access to court, entrenched in s 34 of the Constitution, encapsulate a commitment by the State to make available to the public for the resolution of disputes courts that function according to fair procedures. Secondly, while South Africa could once be described as a closed and secretive society, but that too has been changed by a constitutional commitment to openness, not only in government but also in the private sphere: s 32 of the Constitution provides for access to information held by the State, or by private bodies if it is required for the exercise or protection of a right. Section 39(2) of the Constitution requires me to interpret rule 35(13) in such a way that the spirit, purport and objects of the Bill of Rights is promoted.”


Die uitgangspunt is dat slegs in uitsonderlike omstandighede sal ʼn hof Reël 35(13) op mosie verrigtinge van toepassing maak. Sien Saunders Valve Co Ltd v Insamcor (Pty) Ltd 1985 (1) SA 146 (T) op 149.


[7] Dit is nodig, om die rede, die versoek in konteks te plaas. Dit beteken, onder andere, dat ek die doel van die aansoek moet vasgestel word. Ten einde dit te doen, moet ek die relevansie van die vereiste dokumente in verband met die verweer te bring.


[8] Mnr Botha het namens die Schoonbees verskyn. Die hoofde is egter deur mnr Boots opgestel. Mnr Boots het aangevoer dat:


“Die Applikante se verweer tot hierdie aansoek is tweeledig. Die eerste been van die verweer is dat die Respondent ʼn opsetlike, alternatiewelik nalatige wanvoorstelling gepleeg het wat tesame met ernstige ekonomiese druk uitgeoefen deur die Respondent, die Applikante beweeg het om die skulderkenning te onderteken. Die Tweede verweer berus op opsetlike, alternatiewelik nalatige voorstelling gemaak deur die behoorlike gevolgmagtige amptenaar van die Respondent, aangande die verskuldigheid van die Applikante jeens die Respondente waar die verskuldigheid op die oortrokke fasiliteit gebasseer is op ongeregmatige oortredings en oorverhalings ingevolge die Woekerwet, 73 van 1998.”


En

“Die Applikante benodig nou die dokumente soos versoek om ten minste die een been van die van die verweer, naamlik die oortredings en oorverhalings in terme van die Woekerwet, te openbaar en voor hierdie Agbare Hof te plaas.”



[9] Mnr Boots het ook aan die hand gedoen dat die eerste been van die verweer aansluit by die tweede been van die verweer aangesien die Schoonbees nie die erkenning van skuld sou onderteken het nie indien hulle bewus was van die feit dat daar massiewe foute op die rekening gemaak is.


[10] In die Premier saak is die applikant vir tussentydse regshulp met mosie verrigtinge gekonfronteer en is daardeur van die voordele van ʼn verhoor ontneem. In dié geval het die Schoonbees hulself in die pekel geplaas deur die skulderkenning, na sowat twee maande van oorweging daarvan, te teken.


[11] Die Schoonbees het ʼn hele aantal bank dokumente, weliswaar nie al die ATM dokumente, nie maar voldoende dokumente om een of meer voorbeelde van onregmatige oortredings en oorverhalings ingevolge die Woekerwet 73 van 1968 op te spoor en uit te wys. Die Schoonbees se deskundige bied nie een voorbeeld aan nie. Waar ʼn party bewus is dat ʼn hof slegs in uitsonderlike gevalle, inspeksie by mosie verrigtinge sal toelaat en dat ʼn visvang ekspedisie ontmoedig word, sou ʼn mens verwag dat die applikante ten minste die vereistes sou addresseer. Die versuim om dit te doen wek die indruk dat die blootlegging van die verlangde dokumente ʼn soektog na ʼn verweer is. Dit is ontoelaatbaar.


[12] Die Schoonbees kla dat die state ten opsigte van die oortrokke fasiliteite dui nie aan debiete wat deur die sogenaamde ATM ooreenkoms gegenereer is nie. Mnr Leathern, wat namens FNB verskyn het, gee dit toe. Die rede vir die afwesigheid van debiete is ooglopend. Klousule 8 van die ooreenkoms maak voorsiening vir huurgeld van elke mini-ATM masjien wat aan die Schoonbees uitverhuur word. Maar aanhangsel “A” tot die ooreenkoms bepaal dat in sekere omstandighede FNB afstand van die huurgeld sal doen. Indien huurgelde gehef moet word sal dit die Schoonbees se skuld effens groter maak.


[13] Die Schoonbees sê nie welke dokumente in hulle besit is nie. Hulle sê ook nie wat van die ander tersaaklike dokumente geword het nie. Geen geskil is voor die loods van die hoofaansoek verklaar nie. So ook is geen dokumente voor sodanige aansoek versoek nie. Geen bewering is gemaak dat FNB in gebreke was met enige verpligting om inligting aan die Schoonbees te verskaf nie. Die indruk word geskep dat die Schoonbees op soek is na ʼn verweer teen betaling van die gelde wat geis word. Reël 35(14) is nie hiervoor bedoel nie.


[14] Ek is bewus daarvan dat FNB sekuriteit hou vir die Schoonbees se skulde. Dit is ʼn faktor wat die balans in die guns van ʼn applikant sou kon swaai, maar nie in die omstandighede van hierdie saak nie.


[15] Dit volg dus dat die aansoek misluk. ʼn Spesiale bevel ten opsigte van koste word aangedui. Die Schoonbees het die verkeerde prosedure gebruik. Dit is voldoende rede om te gelas dat hulle koste op ʼn spesiale skaal moet betaal. Daarbenewens is die aansoek klaarblyklik om tyd te wen gemik.


[16] In die omstandighede word die volgende bevel gemaak:


1. Die aansoek word van die hand gewys met koste op ʼn prokureur en klient skaal.

2. Die hoofaansoek word sine die uitgestel.

3. Die applikante moet hulle beantwoordende eedsverklaring in die hoofaansoek binne 10 dae na die afhandiging van hierdie bevel lewer.

4. Die applikante moet die verkwiste koste van die hoofaanoek betaal.

5. Die kostebevel mag onmiddellik getakseer en verhaal word.






____________________

A A LANDMAN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF






VERSKYNINGS:

VIR DIE APPLIKANTE : ADV BOTHA

VIR DIE RESPONDENT : ADV LEATHERN





PROKUREURS:


VIR DIE APPLIKANTE : HERMAN SCHOLTZ

VIR DIE RESPONDENT : NIENABER & WISSING


DATUM VAN VERSKYNING : 14 JUNIE 2007

DATUM VAN UITSPRAAK : 12 JULIE 2007