South Africa: North West High Court, Mafikeng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North West High Court, Mafikeng >>
2006 >>
[2006] ZANWHC 34
| Noteup
| LawCite
Lichtenburg Graan Trustrees (Edms) Bpk v PJ & ILM Boerdery (75/04) [2006] ZANWHC 34 (25 May 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(BOPHUTHATSWANA PROVINSIALE AFDELING)
SAAK NO.: 75/04
In die saak tussen:
LICHTENBURG GRAAN TRUSTEES (EDMS) BPK
en
PJ EN ILM BOERDERY (EDMS) BPK
REDES VIR BEVEL
LANDMAN R:
[1] Op 21 April 2006 het ek die volgende bevel gemaak:
“1. DAT die Respondent gelas word om die bates in paragraaf 1.1-1.5 hieronder na verwys, beskikbaar te stel vir ondersoek na die toestand daarvan:
1.1 die staande sonneblom en mielie oeste van die Respondent op die plase Goedgedacht, Hakboslaagte en Kareebosch.
1.2 die goedere uiteengesit op die lys van die balju, Mev A.L. Venter ʼn afskrif waarvan hierby aangeheg word gemerk “A”.
1.3 die 468 beeste, 116 kalwers en 8 bulle na verwys in paragraaf 13.1.4 van Respondent se opponerende eedsverklaring in die aansoek van likwidasie.
1.4 die ander lewende hawe na verwys as “other livestock to the value of approximately R50, 000-00” in paragraaf 13.1.4 van Respondent se opponerende eedsverklaring in die aansoek van likwidasie.
1.5 die voorraad bestaande uit onder andere kunsmis na verwys in paragraaf 13.1.5 van die Respondent se opponerende eedsverklaring in die aansoek om likwidasie.
2. DAT die Respondent gelas word om voor of op Vrydag 28 April 2006 die Applikant skriftelik in kennis te stel van:
2.1 watter lande op die gemelde plase die staande oeste van die Respondent het soos na verwys in paragraaf 1.1 hierbo, ten einde Applikant in staat te stel om daardie lande met staande oeste voldoende te kan indentifiseer vir doeleindes van die ondersoek.
2.2 elke adres waar die roerende goedere na verwys in paragraaf 1.2 tot 1.5 hierbo, gevind sal word met ʼn beskrywing van die roerende goed wat by elke adres gevind sal word ten einde die Applikant in staat te stel om die roerende goed voldoende te identifiseer vir doeleindes van die ondersoek.
3. DAT die Respondent gelas word om op Maandag tot Vrydag teen 08:00 op 19 Mei goedere soos na verwys in paragraaf 1 gelees met paragraaf 2 hierbo beskikbaar te hou vir ondersoek deur die Applikant se verteenwoordigers en die se deskundiges ten einde die toestand van gemelde goedere te bepaal. Die Respondent is geregtig en word aangemoedig om sy eie deskundiges saam die ondersoek te laat doen.
4. DAT die Applikant gelas word dat sy deskundiges wat die vermelde goedere se toestand ondersoek binne 10 dae na sodanige ondersoek ʼn volledige verslag van sy/hulle bevindinge en gevolgtrekkinge oor tersaaklike aangeleenthede oor die ondersoek skryf en ʼn afskrif daarvan aan die Respondent verskaf.
5. DAT by die uitoefening van ʼn inspeksie soos hierbo gelas die goedere nie aan enige stropertaksasies onderwerp of beskadig mag word nie en dat ondersoek van mielies beperk moet word tot handtaksasies en die beeste nie op hok gejaag word nie.
6. DAT die Applikant gelas word om die koste van die ondersoek te dra uitsluitende die uitgawes daaraan verbonde en insluitende die redelike uitgawes verbonde aan die bywoning van die ondersoek deur ʼn prokureur namens die Respondent.
7. DAT die koste van hierdie aansoek reserveer word vir argumentering aan die einde van die aansoek om likwidasie.
[2] Hier volg die redes vir die bevel.
[3] Lichtenburg Graan Trustees (Edms) Bpk (LGT) het ʼn skriftelike ooreenkoms met PJ en ILM Boerdery (Edms) Bpk (die Maaatskappy) aangegaan. Uit hoofde van die ooreenkoms beweer LTG dat die Maatskappy hom R5,9 miljoen skuld. Die Maatskappy weier om die geld te betaal. LTG het aansoek om die likwidasie van die Maatskappy gedoen.
[4] Die aansoek het voor Mokgoatlheng WR gedien. Hy het die aansoek na mondelingse getuienis verwys ten opsigte van enkele geskilpunte. Die aansoek het voor my gedien en getuienis is reeds gedeeltelik gelewer. Op ʼn staduim is ʼn aansoek gebring om die geskilpunte, wat na getuienis verwys is, uit te brei. Ek het die aansoek toegestaan en die geskilpunte sluit nou ook in die huidige vermoë van die Maatskappy om sy skulde te betaal.
[5] LGT het toe ʼn verdere tussentydse aansoek gebring. Die aansoek is kragtens Reël 36(6) geloods. Die Maatskappy het dit geopponeer en ook aansoek gedoen om die skrapping van groot gedeeltes van die Maatskappy se repliseerende eedsverklarings. Die bedes is taamlik breed geformuleer maar toe die aansoek geroep is, het mnr B Roux SC (met hom mnr J H F Pistor SC) ʼn konsepbevel voorgelê wat die verlangde regshulp ingekort het. LGT het ook, sonder om te erken dat hulle verkeerd was, hulle teenstand teen die aansoek om skrapping teruggetrek en koste aangebied.
[6] Wat is die huidige finansiële toestand van die Maatskappy? Die vraag kan nie maklik beantwoord nie. Volgens die boekhouer is geen finansiële state sedert 2002 opgestel. Die Maatskappy sit sy bates uiteen, in verskillende beëdige verklarings, in hierdie saak asook in die saak wat deur LGT teen Thaba Pephu Trust en ABSA teen die Maatskappy geloods is. Dit is dienstig om die lys van bates kortliks op te som.
(a) Die Maatskappy beweer dat sy staande oes van mielies en sonneblom wat gedurende Mei 2006 geoes gaan word, onder andere, na verwagting 4606,214 ton sal op lewer. Dit sal aan toon dat die Maatskappy solvent is. Geen waarde is op die oes geplaas nie. Mnr Van Aswegen wat, na bewering saad, aan die Maatskappy, in 2002/2003 gelewer het, het tydens sy getuienis gesê dat die oes wat op Goedgedacht staan, lyk nie na ʼn belowende oes nie. Hy het ook twee van sy kliente in die Maatskappy se lande sien, staan. Dit het toe aan die lig gekom (en is dit onder kruisverhoor gestel) dat ʼn gedeelte van Goedgedacht aan menere Thiaart en Bredenkamp uitverhuur is.
Die vasstelling van die waarde van die oeste, al kan dit slegs op ʼn voorlopige basis geskat word, sal bydrae tot die bepaling van die finansiële vermoë van die Maatskappy.
(b) Op 20 Desember 2003 het die Balju, vir die distrik van Coligny, beslag gelê op ʼn groot aantal plaas- implemente wat aan die Maatskappy behoort. Die Balju het die mening uitgespreek dat die goedere op ʼn gedwonge verkoping R5,2 miljoen sou haal. Ene Mnr Muller het op 14 Januarie 2004, namens ABSA, wesenlik dieselfde goedere item vir item gewaardeer. Hy het tot die slotsom gekom dat die goedere R2 224,415.00 werd is. Die Maatskappy self waardeer die goedere op R8 miljoen.
Die plaasimplemente word waarskynlik gebruik en sluitasie sal hulle waarde laat afneem. Bowendien is die waardasies uiteenlopend. LGT het nog nie kans gehad om sy eie waardasie van die items te maak nie.
(c) Die Balju het op 20 Desember 2003 op 68 beeste van die Maatskappy beslag gelê. Mnr Muller het op 14 Januarie 2004 beslag gelê op 53 beeste wat aan die Maatskappy behoort het. Hy het die beeste toe op R68 000 waardeer. Op 10 Februarie 2004 beweer die Maatskappy dat dit die eienaar is van 468 vee teen R2 101 016.00. Die Maatskappy steun op die waardasie van ene mnr Steinman.
Die huidige waarde van die 468 beeste is onbekend. Uiteraard is dit belangrik om te bepaal wat die huidige waarde van die beeste is.
(d) Die Maatskappy beweer ook dat dit die eienaar is van bokke en skape ter waarde van R50 000.00.
[7] Reël 36 (6) lees soos volg:
“As dit lyk of die toestand van enige goed hoegenaamd, hetsy roerend of onroerend, ter sake kan wees by die beslissing van ʼn geskilpunt in ʼn aksie, kan enige party in enige stadium kennis gee aan die party wat op die toestand van die goed steun of wat dit in sy besit of onder sy beheer het, dat hy dit beskikbaar moet stel vir ondersoek ingevolge hierdie subreël, en hy kan in die kennisgewing verlang dat die goed of ʼn billike eksemplaar daarvan vir hoogtens tien dae vanaf ontvangs van die kennisgewing vir ondersoek beskikbaar bly.”
Reël 36(6) is nie van toepassing op ʼn aansoek wat na mondelingse getuienis verwys is nie. Sien Moulded Components and Rotomoulding South Africa (Pty) Ltd v Coucourakis and Another 1979 (2) SA 457 (W) 462C. Die reël kan van toepassing gemaak word deur die hof wat ʼn aansoek na mondelingse getuienis verwys en, na my mening, deur die hof wat die mondelingse getuienis aanhoor.
Alternatief kan die hof staat maak op die hof se inherente jurisdiksie, soos verduidelik in die Moulded saak op 462D-463B, en ʼn inspeksie gelas.
[8] Mnr Roux het tereg uitgewys dat ek die volgende moet in ag neem by ʼn besluit om die hof se inherente jurisdiksie in die geval uit te oefen:
(a) ʼn Hofreël moet nie van toepassing is nie;
(b) Die hof se inherente jurisdiksie moet spaarsaam uitgeoefen word;
(c) Die diskresie moet in belang van geregtigheid uitgeoefen word;
(d) Billikheid en geregtigheid (“fairness en justice”) moet vereis dat die partye in ʼn gelyke posisie wat die litigasie betref, gestel word.
[9] Die Maatskappy staan die aansoek teen. Mnr Van der Merwe, wat namens die Maatskappy verskyn, het die volgende submissies gemaak:
(a) Die bates van die Maatskappy is voldoende om die Maatskappy se beweerde aanspreeklikheid te kan betaal. Hy doen aan die hand dat LGT geen eis het nie. Indien LGT wel ʼn eis het is dit indringend minder as wat hulle beweer. Bowendien moet die beweerde skuld deur middel van ʼn versekeraar vereffen word of behoort te word.
Op hierdie stadium is ek nie in staat om die presiesie omvang van LGT se eis te kan bepaal nie omdat LGT nog getuienis moet aanbied. Die getuienis wat die Maatskappy wil aanbied moet ook nog aangehoor word. Ek kan ook nie uitsluitsel gee oor die meriete van versekeringeis nie.
(b) Die tussentydse aansoek is prematuur omdat die hof nog nie bepaal het dat LGT ʼn skuldeiser is soos bedoel in Mackenzie v Furman and Pratt 1918 WLD 62 nie.
Dit is inderdaad so dat LGT se eis nog nie vasgestel is nie maar die oorwig van gerief leen hom nie tot ʼn tweeledige vasstelling nie. LGT kry slegs een kans om sy saak te stel en derhalwe moet die inspeksie van die toestand van die Maatskappy se bates plaasvind voordat LGT sy saak sluit. In Mackenzie v Furman and Pratt het Mnr H H Morris, ʼn soortgelyke argument as mnr Van der Merwe voorgehou. Die hof het toe te kenne gegee dat indien die oorwig van gerief die bepaling van aanspreeklikheid sou aandui, sou die hof die beswaar gehandhaaf het. Maar dit was nie aangewese nie en die hof het dus ʼn bevel tot inspeksie van die betrokke masjinerie toegelaat.
(c) Die werkers ontstig sal word indien die inspeksie gehou word. Dit kan tot ʼn staking kan lei en die verlies van opgeleide personeel. Die betoog gaan nie op nie. Die werkers in diens van die Maatskappy is bewus van die likwidasie ondersoek of behoort daarvan bewus te wees. Hulle is inderdaad geregtig om daarvan te weet omdat die stukke kragtens artikel 9 (4A) van die Insolvensie Wet 24 van 1936 op hulle bestel is.
(d) Die Maatskappy is bekommerd dat die beeste heeldag op hok moet staan ter wille van die beoogde inspeksie. Dit kan tot hulle nadeel wees en abortering kan plaasvind.
Hierdie is ʼn legitimiene kwellinge maar ek meen dat die inspeksie op so ʼn wyse kan plaasvind dat die moontlike gevolge vermy kan word. So ook kan ʼn bevel geformuleer word om te keer dat skade aan enige ander eiendom gedoen word.
[10] Daar is geen goeie rede waarom ek nie die inherente jurisdiksie van hierdie hof behoort uit te oefen nie. Indien die Maatskappy ook die geleentheid gebruik om die goedere opnuut te waardeer kan dit die afhandeling van die saak bespoedig.
[11] Om hierdie voormelde redes is die bevel toegestaan.
_____________
A A LANDMAN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
VERSKYNINGS:
Vir die Applikant: Adv B Roux SC met hom Adv J H F Pistor SC
Vir die Respondent: Adv Van Der Merwe
PROKUREURS:
Vir die Applikant: Van Rooyen Tlhapi & Wessels
Vir die Respondent: Smit Stanton Inc
Datum van Bevel : 21 April 2006
Datum van Redes : 25 Mei 2006