South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2017 >>
[2017] ZANCHC 12
| Noteup
| LawCite
Magawu en Andere (CA&R139/2016) [2017] ZANCHC 12 (9 January 2017)
Download original files |
IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling, Kimberley)
Saak No: CA&R 139/2016
Saak Aangehoor: 06/01/2017
Uitspraak: 09/01/2017
In die saak tussen:
ZONISELO RICHARD MAGAWU Eerste Appellant
THOMPSON MPHANDAMISA Tweede Appellant
MATHEWS LEGUDU Derde Appellant
RICHARD HASANE Vierde Appellant
FRANK BAXANA Vyfde Appellant
PAULUS MVULENI MGCERA Sesde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: Erasmus WnR
UITSPRAAK OP APPèL
Erasmus WnR:
INLEIDING
[1] Die appellante sal in die Hoë Hof te Kimberley teregstaan op twee aanklagte van moord gelees met die bepalings artikel 51 van Wet 51 van 1997. Dit word beweer dat hulle op of omtrent 17 Augustus 2016 te of naby Postmasburg, in die distrik van Postmasburg wederregtelik en opsetlik vir Johannes Baadjies en Shuping Jeffrey Nouse gedood het.
AGTERGROND
[2] Die eerste tot vierde appellante het aanvanklik op 22 September 2016 in die Landdroshof aansoek gedoen om op borgtog vrygelaat te word. Hulle het nie mondelinge getuienis afgelê nie en bloot net gesteun op eedsverklarings wat in die rekord ingelees en ingehandig is as bewysstukke. Die respondent het getuienis by monde van die ondersoekbeampte, Kolonel RJ Lourens, aangebied.
[3] Voordat die kruisondervraging van Kolonel Lourens ʼn aanvang geneem het, is die aansoek verdaag tot 17 Oktober 2016. Op hierdie datum het dit geblyk dat die vyfde en sesde appellante intussen gearresteer is en dat, by ooreenkoms tussen die partye, hulle toegetree het tot die borgaansoek. Ook ten opsigte van die vyfde en sesde appellante is eedsverklarings in die rekord ingelees en ingehandig ter ondersteuning van hul aansoeke.
[4] Die getuienis in hoof van Kaptein Lourens is hierna voortgesit, waarna die kruisondervraging namens al die appellante gevolg het. Borgtog ten opsigte van al die appellante is geweier op 25 Oktober 2016.
[5] Op 12 Desember 2016 het ʼn verdere borgaansoek, gebaseer op nuwe feite, in die Landdroshof gevolg. By ooreenkoms tussen die appellante en die respondent is twee eedsverklarings van onderskeidelik ARAUNA ROSSOUW (‘die transkribeerder’) en TIRO MCANTIRE LEKGOTLA (‘die artikel 204-getuie’) ingehandig as Bewysstuk ‘Q’ en ‘R’. Hierdie verklarings vorm die basis vir die nuwe feite waarop die appellante gesteun het. Geen verdere mondelinge getuienis is aangebied deur enige van die partye nie en na aanhoor van betoë is borgtog op dieselfde dag weereens geweier. Die appellante kom nou in hoër beroep teen die weiering van borgtog.
DIE BENADERING OP APPèL
[6] Die appellante en die respondent is dit eens dat die feite wat tydens die twee borgaansoeke voor die hof geplaas is gesamentlik oorweeg behoort te word in die beregting van die appèl. Hierdie benadering is in ooreenstemming met die regspraak.[1]
[7] In terme van artikel 65(4) van die Strafproseswet mag ʼn hof wat ʼn borgappèl aanhoor nie die beslissing van die Landdros tersyde stel, tensy dit oortuig is dat sodanige beslissing verkeerd is nie. In S v Barber [2] het Hefer R beslis:
“It is well known that the powers of this Court are largely limited where the matter comes before it on appeal and not as a substantive application for bail. This Court has to be persuaded that the magistrate exercised the discretion which he has wrongly. Accordingly, although this Court may have a different view, it should not substitute its own view for that of the magistrate because that would be an unfair interference with the magistrate's exercise of his discretion. I think it should be stressed that, no matter what this Court's own views are, the real question is whether it can be said that the magistrate who had the discretion to grant bail exercised that discretion wrongly.
[8] Die benadering, soos hierbo uiteengesit, is in verskeie sake daarna goedgekeur en bevestig. In die afwesigheid van ʼn wesenlike mistasting ten aansien van die reg of feite, is hierdie Hof dus nie by magte om in te meng op appèl nie.[3]
DIE BEWYSLAS
[9] Dit is die grondwetlike reg van ʼn beskuldigde, soos vervat in Artikel 35 (1)(f) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika[4] om “behoudens redelike voorwaardes uit aanhouding vrygelaat te word indien die belang van geregtigheid dit toelaat”. Die reg om op borgtog vrygelaat te word is onderworpe daaraan dat die belange van geregtigheid nie daardeur benadeel sal word nie. Artikel 60 van die Strafproseswet, No. 51 van 1977, kwalifiseer en beperk hierdie reg van ʼn gearresteerde persoon. [5]
[10] Dit is gemene saak dat die misdrywe wat die appellante ten laste gelê word binne Bylae 6 tot die Strafproseswet val en dat die appellante dus in terme van die bepalings van artikel 60(11)(a) op ʼn oorwig van waarskynlikhede moes aantoon dat buitengewone omstandighede bestaan wat hulle vrylating regverdig en dat sodanige buitengewone omstandighede die vrylating in die belang van geregtigheid veroorloof.
DIE GRONDE VIR APPèL
[11] In die appellante se Kennisgewing van Appèl is aangevoer dat die hof a quo fouteer het deur te bevind dat die appellante hulle nie van die bewyslas gekwyt het nie en nie bevind het dat die vrylating van die appellante in belang van geregtigheid is nie in die lig van die toegewings gemaak deur Kolonel Lourens ten aansien van, onder andere, die persoonlike omstandighede van die appellante. Dit is ook aangevoer dat die Landdros fouteer het deur te bevind dat daar ʼn sterk prima facie saak teen die appellante is.
[12] Meneer Vorster, namens die appellante en advokaat Cloete, namens die respondent, is dit eens dat die sterkte van die Staat se saak deurslaggewend is by die bepaling of buitengewone omstandighede aangetoon is. Ek stem hiermee saam. Dit is gevolglik nodig om die getuienis wat tydens die borgaansoek voor die hof geplaas is te oorweeg.
DIE GETUIENIS
[13] Die persoonlike omstandighede van die appellante blyk grootliks gemene saak tussen die partye te wees.
[14] Die getuienis wat aangebied is tydens die borgaansoeke is volledig deur die Landdros opgesom[6] en die korrektheid van die opsomming word nie aangeveg deur die appellante nie. Ek is tevrede dat die Landdros die getuienis korrek weergegee het in sy opsomming. Ek sal gevolglik net handel met die gedeeltes wat relevant is vir die oorweging van die borgappèl en waarna spesifiek verwys is deur die appellante en die respondent in die betoogshoofde en argumente voor my.
[15] Wat die meriete van die saak betref het al die appellante, met die uitsondering van die vierde appellant, bloot hulle betrokkenheid by die moorde ontken.
15.1 Die eerste appellant het ʼn alibi geopper as verweer. Hy het enige kennis van die moorde ontken. Sy vriendin bevestig dat hy wel die nag van 17 Augustus 2016 by die huis geslaap het, maar nie die nag van 18 Augustus 2016 nie.
15.2 Die vierde appellant se weergawe is dat die artikel 204-getuie hom op 17 Augustus 2016 geskakel het met ʼn versoek om ʼn voertuig by hom te leen. Hy het toegestem om die artikel 204-getuie te vergesel om die getuie se vriende in Daniëlskuil op te laai. Hulle het twee mans in Daniëlskuil opgelaai en gery na Postmasburg. Op ʼn stadium het die mans en die artikel 204-getuie uitgeklim, waarna die vierde applikant na ʼn taverne geloop het. Die artikel 204-getuie het verby hom gery en gesê hy gaan die twee mans aflaai. Die artikel 204-getuie het ongeveer 20-30 minute later teruggekeer, waarna die vierde appellant verder bestuur het en via die Daniëlskuilpad terug gery het na Kuruman.
[16] Die wese van die saak wat die Staat voornemens is om te bewys tydens die verhoor blyk uit die getuienis van die ondersoekbeampte, Kolonel Lourens.
[17] In kort is dit die saak van die Staat dat die eerste, tweede, derde, vyfde en sesde appellante saamgesweer het om gemelde meneer Baadjies te vermoor. Die motief blyk polities gemotiveerd te wees om ʼn tussenverkiesing in Daniëlskuil af te dwing, nadat die ANC daar nie ʼn volstrekte meerderheid in die munisipale verkiesing van Augustus 2016 kon behaal nie. Die eerste appellant was die ANC se kandidaat in Wyk 1, maar is nie verkies tot raadslid nie. Die sesde appellant is ʼn raadslid wat die hoop gekoester het om burgemeester te word. Meneer Baadjies is tydens die verkiesing as raadslid van ʼn ander wyk verkies as dié van die eerste appellant en sou op 18 Augustus 2016 ingesweer word.
[18] Volgens Kolonel Lourens is die liggaam van mnr Baadjies vroeg die oggend van 18 Augustus 2016 langs die hoofpad tussen Postmasburg en Daniëlskuil naby Groenwater, ongeveer 23 km vanaf Postmasburg aangetref. Hy het skietwonde aan sy hoof en een aan sy liggaam gehad, asook veelvuldige ander beserings. Sy voertuig is dieselfde oggend in ʼn oop stuk veld te Postmasburg, oorkant ʼn skool, aangetref. Meneer Nouse, wat op daardie stadium nog gelewe het, is in hierdie voertuig van Baadjies aangetref. Hy is op 23 Augustus 2016 oorlede. Roof is deur die polisie uitgesluit as motief vir die moorde.
[19] Selfoonrekords wat van diensverskaffers bekom is bevat inligting oor selfoonkommunikasies tussen sekere selfoonnommers en selfoonhandstukke wat die onderskeie appellante verbind met die misdrywe wat hulle ten laste gelê word.
19.1 Meneer Baadjies het op 17 Augustus 2016 ʼn oproep ontvang in verband met ʼn vergadering wat om 18:00 in Postmasburg sou plaasvind. Nadere ondersoek van Baadjies se selfoon het getoon dat hy die middag ʼn sms ontvang het van die selfoonhandstuk van die eerste appellant. Die selfoonnommer waarvandaan die sms gestuur is (‘die 062-nommer’) is tydens die ondersoek verbind aan ʼn simkaart wat dieselfde oggend verkry is deur die eerste appellant. Die sms het die afspraak met Baadjies bevestig. Die verkryging van die simkaart blyk uit ʼn video-opname wat in die winkel gemaak.
19.2 Die selfoonrekords het ook getoon dat daar kontak was tussen die 062-nommer en die selfoonnommer van die artikel 204-getuie. Hierdie ondersoek het daartoe gelei dat toestemming verkry is om hom aan te wend as getuie in terme van die bepalings van artikel 204 van die Strafproseswet. Selfoonrekords toon, soos wat die artikel 204-getuie in sy verklaring beweer, dat daar telefoniese kontak tussen hom en die eerste appellant was op 17 Augustus 2016 om 17:01 en later om 17:51, nadat die artikel 204-getuie en die vierde appellant in Daniëlskuil aangekom het.
19.3 Die selfoonrekords het ook bevestig dat daar telefoniese kommunikasie tussen die artikel 204-getuie en die tweede appellant was. Volgens die artikel 204-getuie se weergawe ken hy en die tweede appellant mekaar sedert 2012. Hy is op 16 Augustus 2016 geskakel deur die tweede appellant en versoek om vervoer te verskaf omdat hulle ʼn ‘deal’ in Postmasburg gehad het op 17 Augustus 2016 en dat hulle afgelaai moes word en, soos wat die getuie dit verstaan het, ʼn ‘getaway car’ benodig het. Die getuie het toe vir vervoer gereël met die vierde appellant en hom meegedeel waaroor dit gaan. Hierdie getuienis strook ook met die weergawe van die vierde appellant vir sover dit die reël van die vervoer betref. Die tweede appellant het onderneem dat die artikel 204-getuie R20 000 betaal sou word. Toe hy wou weet hoekom soveel, het die tweede appellant aan die getuie gemeld dat die ‘deal’ vir ʼn DA-raadslid was en dat die eerste appellant veronderstel was om ʼn raadslid te wees en dat dit ʼn invloed op die tenders sou hê. Daar was toe ook ʼn gesprek waartydens die eerste appellant die getuie meegedeel het dat hy (eerste appellant) en die tweede appellant die werk sou doen.
19.4 Volgens die artikel 204-getuie het hy en die vierde appellant, in opdrag van die eerste appellant, na die winkel oorkant die tweede appellant se huis gegaan. ʼn Avanza voertuig en dubbel-kajuit Ford Ranger bakkie van die derde appellant was geparkeer by die tweede appellant se huis. Die eerste appellant en ʼn ander persoon het met die Avanza na die winkel gekom waar die eerste appellant hulle meegedeel dat hy nie saamgaan nie, maar slegs die tweede appellant en die ander persoon saamgaan om die taak te verrig. Die tweede appellant het later by hulle aangesluit met die derde appellant se bakkie en het ʼn pistool aan hierdie ander persoon oorhandig. Uit ander getuienis blyk dit dat hierdie persoon in alle waarskynlikheid die vyfde appellant is. Volgens die artikel 204-getuie het hy gesien dat die tweede appellant ʼn Nokia N70 selfoon van die eerste appellant ontvang.
19.5 Volgens die weergawe van die artikel 204-getuie het hy, die tweede en die vierde appellant, asook die ander persoon na Postmasburg gereis. Die selfoonrekords toon dat meneer Baadjies na die Nokia N70 selfoon van die eerste appellant geskakel het, op ʼn stadium nadat meneer Baadjies se voertuig opgemerk is in Postmasburg. Daar is vir Baadjies verduidelik hoe hy tot by hulle moes ry, waarna hy en nog ʼn manspersoon opgedaag het. Uit verdere getuienis het dit geblyk dat hierdie manspersoon meneer Nouse was. Daar is ʼn skoot afgevuur wat vir Nouse getref het. Die tweede appellant en ander persoon het vir meneer Baadjies in die voertuig se kattebak gelaai. In opdrag van die tweede appellant het die vierde appellant in die rigting van Kimberley gery. Baadjies het op ʼn stadium die kattebak oopgekry en is daarna deur die tweede appellant geskiet. Hy het uit die kattebak geval. Die tweede appellant en ander persoon het hom uit die pad gesleep, teen ʼn bult af. Die artikel 204-getuie en vierde appellant het weggery.
19.6 Die tweede appellant het die volgende oggend, 18 Augustus 2016, die artikel 204-getuie geskakel en meegedeel dat hulle vir die derde appellant gebel het en hy vir hom en die ander persoon gaan haal het op die toneel. Selfoonrekords toon dat die selfoonnommer van die derde appellant ʼn oproep ontvang het op 17 Augustus 2016 om 19:58 vanaf die vyfde appellant se nommer. Twee minute later was daar weer kommunikasie tussen hierdie twee fone. Die selfoonrekords toon ook dat die derde appellant se selfoon hierdie aand in Daniëlskuil was om 19:58, toe naby Groenwater om 20:26 en toe weer terug in Daniëlskuil was om 21:23. Groenwater is die plek waar die liggaam van die oorledene Baadjies die volgende oggend gekry is.
19.7 In aansluiting hierby toon die selfoonrekords van die vyfde appellant dat sy selfoon om 18:45 te Daniëlskuil en om 18:49 ʼn oproep na die selfoon van die tweede appellant gemaak het. Om 19:30 was die vyfde appellant se selfoon in Postmasburg, tussen 19:56 en 20:56 was dit te Groenwater en om 21:14 terug in Daniëlskuil. Die simkaart van die eerste appellant se 082-nommer is op 18 Augustus 2016 gebruik in die handstuk van die vyfde appellant.
19.8 Volgens selfoonrekords was die simkaart met die 062-nommer gebruik om kontak te maak met die oorledene Baadjies en ook ʼn persoon by die ANC-kantoor in Daniëlskuil, die artikel 204-getuie, die tweede en die derde appellant. Die simkaart en ook die N70 Nokia foon was op 17 Augustus 2016 in Postmasburg om 19:22. Hierdie nommer was op Baadjies se foon gestoor as ‘Work by a man’.
19.9 Tydens dieselfde telefoniese gesprek tussen die tweede appellant en die artikel 204-getuie op 18 Augustus 2016, waarna hierbo verwys is, het die tweede appellant ook die getuie meegedeel dat hy nie toe betaal kon word nie. ʼn Paar dae later is die getuie R1000 betaal vir petrol. Onafhanklike rekords toon dat die derde appellant deur middel van ʼn ‘e-wallet’-transaksie R1 000 aan die artikel 204-getuie betaal het op 23 Augustus 2016.
19.10 Daar was ook selfoonkommunikasie tussen die 062-nommer van die eerste appellant en die sesde appellant die middag van 17 Augustus 2016, kort nadat die sms na die oorledene Baadjies gestuur is vanaf die 062-nommer. Die sesde appellant het ook selfoonkommunikasie gehad met die derde appellant en verskeie kere met die 082 selfoonnommer van die eerste appellant. Op 18 Augustus 2016 was daar selfoonkommunikasie tussen die sesde en vyfde appellant se selfoonnommers.
[20] Volgens Kolonel Lourens is magtiging verkry vir optrede in terme van artikel 252A van die Strafproseswet en het daar ontmoetings tussen eers die tweede en toe die derde appellante met die artikel 204-getuie plaasgevind. Die inhoud van die gesprekke is vervat in ʼn aanvullende verklaring van die getuie.
[21] Tydens die gesprek tussen die artikel 204-getuie en die derde appellant het hy die beplanning en motief vir die moord op meneer Baadjies uiteengesit en gemeld dat dit sy vuurwapen is wat gebruik is. Hy het die getuie versoek om te wag tot na 7 September 2016 vir betaling van die R20 000. Die getuie moes hom skakel op 8 September 2016 en verwys na ʼn transaksie aangaande die verkoop van beeste. Daar was ook tydens hierdie gesprek verwysings na die huisbraaksaak waarop die eerste en tweede appellante gearresteer is gedurende April 2016. Die derde appellant het ook ten aansien van ʼn verbyganger teenoor die getuie opgemerk dat hy daardie persoon, na wie hy verwys het as ʼn polisiebeampte, in die kop wil skiet met die R1-geweer. Volgens Kolonel Lourens se ondersoek het dit geblyk dat die betrokke polisiebeampte inligting verskaf het in verband met ʼn ander huisbraaksaak waartydens die kluis met vuurwapens gesteel is. Ek handel later met die huisbraaksake. Die derde appellant het ook verwys na ʼn vorige voorval waartydens die tweede appellant ʼn persoon geskiet het.
[22] Tydens ondervraging van die vierde appellant, ná sy arrestasie, het hy vir Kolonel Lourens meegedeel dat hy bewus was van ʼn persoon in die kattebak van die Jetta wat hy en die artikel 204-getuie gebruik het om die tweede appellant en ander persoon te vervoer. Hy het ook die plek waar die Jetta gewas is uitgewys. Die Jetta is ondersoek en bloed is in die kattebak gevind. Volgens die artikel 204-getuie sou die vierde appellant hom ook meegedeel het dat hy tydens die skoonmaak van die voertuig ʼn doppie en holster in die voertuig gevind het, waarvan hy ontslae geraak het. Die vierde appellant het dit nie genoem aan Kolonel Lourens tydens ondervraging nie.
[23] Alhoewel meneer Baadjies in ʼn ander woonbuurt as die eerste en derde appellant gebly het, is daar verklarings van ander getuies dat die derde appellant met sy Ford Ranger bakkie en eerste appellant met derde appellant se Avanza verby Baadjies se huis gery het kort nadat hy na Postmasburg vertrek het op 17 Augustus 2016.
[24] Dit blyk uit die getuienis van Kolonel Lourens dat die eerste, tweede, derde en vyfde respondente mekaar goed ken. Die appellante, met die uitsondering van die vierde appellant, het al in die verlede met mekaar geassosieer.
24.1 Volgens mededelings wat die eerste appellant aan Lourens gemaak het, het hy en nog ʼn persoon op die 17 Augustus 2016 met die Avanza-voertuig van die derde appellant gery en dat die derde appellant vir sy hotelverblyf in die Daniëlskuil hotel betaal het die nag van 18 Augustus 2016. Die bewering dat hy in die hotel geslaap het is opgevolg en het geblyk vals te wees.
24.2 Eerste appellant is gearresteer op 25 April 2016 en is hy en die tweede appellant medebeskuldigdes in ʼn hangende saak van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Op hierdie saak was beide van hulle op borgtog van R10 000 toe die huidige misdade gepleeg is. Na hierdie arrestasie het die vyfde appellant met die eerste appellant se motor by die polisiestasie gearriveer. Die derde appellant het die borg van die eerste en tweede appellante betaal.
24.3 Die eerste en derde appellante was medebeskuldigdes in ʼn ander saak, aanranding gewoon (beide) en rig van vuurwapen, ʼn 9mm pistool (slegs eerste appellant) wat aanvanklik teruggetrek is. By nagaan van die dossier is daar besluit om hulle weer daarop te vervolg. Die dagvaarding daarin is uitgereik op 10 Augustus 2016, voor die pleging van hierdie misdrywe.
24.4 Daar is ook ʼn verdere saak van huisbraak, na bewering gepleeg op 15 Oktober 2015, waarop die eerste appellant nog aangekla moet word. Hiertydens is ʼn kluis gesteel wat ongeveer vyf jaggewere bevat het. Die kluis is later gevind in Lime Acres, maar die vuurwapens is vermis. Die tweede appellant en ʼn ander persoon is gesien waar hulle toetsskote met gewere afgevuur het. Die derde appellant dra ook kennis van die huisbraak en diefstal van die gewere aangesien hy die artikel 204-getuie, tydens die gesprek wat opgeneem is, meegedeel het dat hulle gedink het daar is geld in die kluis wat gesteel is, maar dat dit toe gewere was.
24.5 By voortsetting van die borgaansoek, en ná arrestasie en toetrede van die vyfde en sesde appellante, het Kolonel Lourens verdere getuienis afgelê dat daar ʼn klag van intimidasie teen die eerste en derde appellante gelê is op 8 September 2016.
[25] Wat die sesde appellant betref het Kolonel Lourens getuig dat, benewens die selfoonrekords wat die sesde appellant verbind, hy in besit is van ʼn eedsverklaring van ʼn getuie wie se identiteit nie geopenbaar kan word nie (‘die onbekende getuie’) en wat moontlik in die getuiebeskermingsplan opgeneem kan word. Hierdie getuie is ʼn vriend van die sesde appellant.
25.1 Volgens dié getuie het die sesde appellant hom genooi na sy woning die aand van 14 Augustus 2016. Die getuie wou nie gaan nie, maar is telefonies meegedeel deur die sesde appellant dat die eerste, tweede, derde, vyfde appellante, twee vroue en ANC vrywilligers by sy woning was en gewag het vir persone van Upington om hulle te kom toespreek oor die tussenverkiesing. Daar was op daardie stadium nog geen sprake van ʼn tussenverkiesing nie. Die sesde appellant het hom meegedeel dat hulle eintlik twee ander persone wil ‘laat loop’. Hulle het Tswana gepraat en, in die konteks wat die sesde appellant dit gebruik het, ‘laat loop’ vermoor beteken het. Een van hierdie persone en die eerste appellant het teen mekaar gestaan in Wyk 1 en, indien dié persoon doodgemaak sou word, hulle sou weet dat dit die toedoen van die eerste appellant was. Die sesde appellant het daarop gesê dat die ‘dirty job’ in Wyk 2 of 3 gedoen moes word. Meneer Baadjies was die opposisie se suksesvolle kandidaat in Wyk 2.
25.2 Die getuie sou op 16 Augustus 2016 gesien het dat die eerste appellant ʼn magasyn van ʼn 9mm pistool uit sy broeksak haal en in die broeksak van die sesde appellant gesit het, op ʼn plek waar die derde appellant se Avanza geparkeer was. Die sesde appellant het die magasyn op die sitplek van die motor gegooi en weggestap en gesê dat hy nie sulke lelike goed wil sien nie.
[26] Daar is nie betoog en dit blyk ook nie uit die rekord dat Kolonel Lourens se getuienis ten aansien van die getuienis waaroor die Staat beskik enigsins afgebreek is in kruisondervraging nie. Wat die meriete van die Staat se saak betref, was die kruisondervraging grootliks ʼn herhaling van die getuienis in hoof. Die appellante, met die uitsondering van die vierde appellant se verduideliking in sy eedsverklaring, het geen poging aangewend om die getuienis teen hulle te verduidelik of te ontsenu nie.
[27] Dit blyk uit die kruisondervraging dat Kolonel Lourens nie die persoonlike omstandighede van die appellante betwis nie. Toe hy gevra is wat sy gesindheid oor borg is, het hy aangedui dat hy bloot die getuienis waaroor hy beskik voor die hof plaas en dat sy houding irrelevant is. Volgens hom sal daar nie ʼn verskil in die verhoor wees sou die appellante hulle binne of buite die gevangenis bevind nie. Hy het aangedui dat hy nie beswaar het teen borg vir die vierde appellant nie, maar wel teen die ander appellante en weereens beklemtoon dat dit nie sy besluit is nie.
[28] Kolonel Lourens is pertinent gevra of hy ondersoek ingestel het na die bewerings van die artikel 204-getuie om sy betroubaarheid te bevestig. Hy het dit inderdaad gedoen en kon geen aanduiding kry dat hy onbetroubaar is nie.
[29] Tydens die verdere borgaansoek was afskrifte van die inhoud van die saakdossier reeds aan die appellante se regsverteenwoordiger beskikbaar gestel. Uit die twee verdere verklarings, Bewysstuk ‘Q’ en ‘R’ blyk die volgende:
29.1 Uit Bewysstuk ‘Q’ blyk dit dat ʼn voormalige lid van die ondersoekspan die transkribeerder genader het met die skywe waarop die opname van die gesprek tussen die artikel 204-getuie en derde appellant was. Hy het haar versoek om in haar eedsverklaring te vermeld dat dit verseël was in ʼn forensiese sak, terwyl dit nie die geval was nie. Sy het ongemaklik gevoel oor die aangeleentheid en dit is onder die aandag gebring van meneer Cloete, die advokaat van die respondent. Die betrokke polisiebeampte is onmiddellik van die ondersoekspan verwyder.
29.2 Uit paragraaf 2 van Bewysstuk ‘R’, wat afgelê is op 2 September 2016, blyk dit dat die artikel 204-getuie aanvanklik ʼn verdagte was. Hy is deur Kolonel Lourens ondervra in die teenwoordigheid van sy prokureur. Hy is gevra of hy die eerste appellant ken, waarop hy eers ontkennend geantwoord het. Lourens het toe verwys na die selfoonrekords waaruit dit geblyk het dat die getuie met ʼn selfoon en selfoonnommer wat met die eerste appellant verbind is kontak gehad het. Die getuie se prokureur het daarna, ná konsultasie met die getuie, aangedui dat sy kliënt oop kaarte wou speel. Nadat Lourens toestemming verkry het van die Direkteur van Openbare Vervolgings om hom as getuie te gebruik, is die bepalings van artikel 204 van die Strafproseswet aan hom verduidelik en het hy die verklaring afgelê.
[30] Daar is aan die hand gedoen dat die Landdros versuim het om daarop ag te slaan dat die suksesvolle vervolging van die appellante grotendeels afhanklik sal wees van ʼn ‘vlekkelose vertoning’ van die artikel 204-getuie in die getuiebank tydens die verhoor en dat die ‘kanse veel beter is’ dat die getuie nie die vereiste toetse sal deurstaan wat van ʼn artikel 204-getuie vereis sal word nie. Die submissies is daarop gebaseer dat die artikel 204-getuie ʼn medepligtige is en grotendeels ʼn enkelgetuie sal wees.
[31] In S v Panayiotou[7] het Goosen R homself soos volg uitgelaat oor die benadering wat gevolg moet word by beoordeling van getuienis van ʼn artikel 204-getuie tydens ʼn borgaansoek:
“That issue, of course, is a matter that no doubt will be canvassed fully at the criminal trial. It is after all, at that point that critical questions of the admissibility and reliability of evidence will be tested. What the court is called upon to consider, in a bail application, is the nature of the evidence that is available to the prosecution and, absent a challenge in the bail proceedings to the admissibility or reliability of that evidence, the court will accept the evidence. It is upon this acceptance that the court decides whether the case is strong or weak.”
[32] Die toelaatbaarheid van die getuienis wat Kolonel Lourens aangebied het oor die artikel 204-getuie se weergawe was nie in geskil tydens die borgaansoek nie. Die geloofwaardigheid en betroubaarheid van hierdie getuie se getuienis sal tydens die verhoor deurtrap word. Vir doeleindes van bepaling van die sterkte van die saak was die Landdros wat die borgaansoek hanteer het korrek om dít wat vervat is in die artikel 204-getuie se verklaring te oorweeg en dan, in samehang daarmee, die ander getuienis wat dui op sy betroubaarheid in aanmerking te neem by evaluering van die prima facie sterkte van die Staat se saak.
[33] Meneer Vorster se kritiek teen die artikel 204-getuie dat hy aanvanklik eers aandadigheid ontken het, maar later toe hy gekonfronteer is met selfoonstate sy weergawe verander het, is sonder meriete. Artikel 204 van die Strafproseswet maak spesifiek voorsiening vir vrywaring van vervolging van ʼn getuie wat getuienis lewer wat homself kan inkrimineer, soos wat die geval met ʼn medepligtige is. Die getuienis van die artikel 204-getuie sal toelaatbaar wees tydens die verhoor en sy geloofwaardigheid sal daartydens deurtrap word. Op hierdie stadium van die verrigtinge staan dit onweerspreek deur enige van die appellante.
[34] Meneer Vorster het betoog dat die inhoud van die selfoonstate verkeerdelik gebruik is as ʼn betroubaarheids-waarborg en stawing vir die artikel 204-getuie se weergawe aangesien dit beskikbaar was ten tye van die aflegging van die getuie se verklaring en gebruik is in die opstel van sy verklaring. Daar is volgens my ook nie meriete in hierdie argument nie. Dit blyk uit die getuienis van Kolonel Lourens dat hy juis die artikel 204-getuie se weergawe, soos wat dit aan hom oorgedra is, vergelyk het met die inhoud van die selfoonstate om die betroubaarheid van die getuie vas te stel. Ek stem saam met die betoog van meneer Cloete dat dit presies is wat van ʼn verantwoordelike ondersoekbeampte verwag word, naamlik om hom te vergewis van die betroubaarheid van so ʼn getuie se weergawe. Die verklaring van die getuie gaan veel verder as bloot net verwysings na telefoniese gesprekke en kon gevolglik nie net op grond van die selfoonrekords opgestel gewees het nie.
[35] Meneer Vorster het ook betoog dat daar verkeerdelik gesteun is op die opname van die gesprek tussen die artikel 204-getuie en die derde appellant as stawing vir die artikel 204-getuie, aangesien gemelde transkripsie onderworpe sal wees aan die streng vereistes neergelê in artikel 252A van die Strafproseswet en dat, gegewe die oneerlikheid van ʼn polisiebeampte, die toelaatbaarheid daarvan deur middel van ʼn verhoor binne ʼn verhoor beslis sal word. Die toelaatbaarheid van Kolonel Lourens die getuienis oor die bandopnames was nie tydens die borgaansoek in geskil nie. Die Landdros het in die uitspraak van die borgaansoek wat op die nuwe feite gebaseer is korrek bevind dat die outentisiteit van die opname bewys sal word deur die getuienis van die artikel 204-gtuie. Die toelaatbaarheid van hierdie getuienis sal gedurende die verhoor aangespreek word. Daar is geen getuienis aangebied deur die derde appellant dat hierdie gesprek nie plaasgevind het nie of dat dit wat verklaar is deur die artikel 294-getuie nie korrek is nie. Daar is geen gronde om te bevind dat die Landdros se gevolgtrekking in hierdie verband verkeerd was nie.
[36] Meneer Vorster het ten aansien van die sesde appellant betoog dat die Landdros misgetas het deur die omstandigheidsgetuienis te interpreteer as sou dit as enigste redelike afleiding regverdig dat die oorledenes gedood moes word. Ek stem nie saam nie.
36.1 Die betoog was dat die woorde ‘laat loop’ wat die sesde appellant sou gebruik ook anders geïnterpreteer kon word. Kolonel Lourens se getuienis in hierdie verband is nie aangeveg nie. Ek sou verwag dat, as daar ʼn ander betekenis aan hierdie woorde geheg kon word, Lourens ten minste daarmee gekonfronteer sou word in kruisondervraging.
36.2 Wat die afleiding uit die getuienis oor die sesde appellant se betrokkenheid by die vuurwapen betref en die afleiding dat hy hom gedistansieer het van die gebruik daarvan, moet ook in ag geneem word dat die Staat se saak teen die sesde appellant nie net op hierdie getuienis berus nie. Hierdie getuienis kon dus nie in isolasie beoordeel word en op grond daarvan bevind word dat die Staat nie prima facie ʼn sterk saak teen die sesde appellant het nie.
36.3 Meneer Vorster het betoog dat die Landdros nie in ag geneem het dat ʼn tussenverkiesing kon ontstaan as gevolg van ʼn geslaagde klagte by die verkiesingskommissie nie. Daar is doodeenvoudig geen getuienis van die sesde appellant of enige appellant tot daardie effek nie. As daar enige ander rede vir die hou van ʼn tussenverkiesing was, moes die appellante getuienis tot die effek voor die hof geplaas het. Kolonel Lourens se getuienis is nie betwis nie en daar is nie eens ʼn stelling in hierdie verband aan hom gemaak nie.
[37] Meneer Cloete het betoog dat die appellante se appèl in effek berus op ʼn moontlikheid dat die getuienis van die artikel 204-getuie se getuienis nie aanvaar sal word nie en dat dit dan buitengewone omstandighede daar sou stel. Hy het met verwysing na die sake van S v Viljoen[8] en S v Botha[9] betoog dat die appellante sterk onafhanklike getuienis moes aangetoon het wat op hulle onskuld dui. Hulle moes aangetoon het dat hulle waarskynlik onskuldig bevind sal word en dat dit nie voldoende is om na vae moontlikhede in hierdie verband te verwys nie.
[38] Meneer Cloete is korrek in sy betoog. ʼn Swak saak teen ʼn beskuldigde kan as buitengewone omstandighede dien, maar dan slegs as ʼn beskuldigde op ʼn oorwig van waarskynlikhede kan bewys dat hy onskuldig bevind sal word in die verhoor. Soos blyk uit S v Mohammed[10], word vereis dat ʼn beskuldigde sterk onafhanklike getuienis, aanduidend van sy onskuld, voor die hof moet plaas. Daar moet verder in gedagte gehou word dat daar geen bewyslas op die Staat rus om aan te toon dat dit ʼn sterk saak teen ʼn beskuldigde het nie. Ook hoef die Staat nie te bewys dat daar nie buitengewone omstandighede bestaan nie. [11]
[39] By oorweging van die vraag of die appellante daarin geslaag het om op ʼn oorwig van waarskynlikhede buitengewone omstandighede te bewys, moes die Landdros die getuienis in geheel beoordeel. Die sterkte van die Staat se saak moes oorweeg word aan die hand van Kolonel Lourens se getuienis. Dit blyk hieruit dat die Staat se saak nie uitsluitlik berus op die getuienis van die artikel 204-getuie, of die onbekende getuie, of die selfoonstate, of die transkripsie van die opname nie, maar wel die kumulatiewe effek van hierdie en ander getuies en getuienis. By oorweging van al die getuienis kom dit voor asof die getuienis van die artikel 204-getuie en ander getuienis aansluiting by mekaar vind en dui dit daarop dat daar prima facie ʼn sterk saak teen die appellante is. Ek is tevrede dat die landdros korrek was toe hy so bevind het.
[40] Dit is betoog deur meneer Vorster dat die Landdros nie voldoende gewig geheg het aan die toegewings wat gemaak is deur Kolonel Lourens dat die appellante nie ʼn vlugrisiko is nie, dat hul waarskynlik nie sou inmeng met die ondersoek of getuies nie, dat hy van oordeel was dat dit nie ʼn verskil sou maak aan die verhoor of die appellante in hegtenis is al dan nie nie, en dat hy nie beswaar teen die vrylating van die vierde appellant op borg het nie. Daar is aan die hand gedoen dat die Landdros in die lig van die toegewings moes bevind het dat die belang van geregtigheid die vrylating van die appellante op borgtog veroorloof.
[41] In S v Viljoen is bevind dat buitengewone omstandighede beteken dat “die gewone oorwegings vir die verlening van borgtog wat in art 60(4) - (9) uiteengesit word, waar die aangehoudene se reg op vrylating opgeweeg word teen die faktore wat sy vrylating in die belang van geregtigheid sou verhinder, nie voldoende is om sy vrylating te verkry nie. 'n Blote ontkenning van die waarskynlikheid van die gebeure in art 60(4)(a) - (e) sou dus nie voldoende wees nie”. Dit sal gewoonlik “omstandighede wees wat daarop gemik is om die onwaarskynlikheid van die gebeure genome in art 60(4)(a) – (e) te bewys”. [12]
[42] Uit die konteks waarbinne die toegewings gemaak is deur Kolonel Lourens, blyk dit dat hy die toegewings gekwalifiseer het deurdat hy getuig het dat hy nie oor getuienis tot die teendeel beskik nie. Dit dui op sy objektiwiteit en stel, soos wat meneer Cloete betoog het, nie buitengewone omstandighede daar nie.[13]
[43] Ongeag die toegewings van Kolonel Lourens en selfs al sou die Staat nie die toestaan van borg geopponeer het nie, het die landdros in terme van artikel 60(10) van die Strafproseswet die plig gehad om die persoonlike omstandighede van die appellante op te weeg teen die belange van geregtigheid. Dit is wat die Landdros gedoen het.
[44] Artikel 60(4) sit die faktore uiteen wat bepaal wanneer dit nie in belang van geregtigheid is om ʼn beskuldigde vry te laat uit aanhouding nie. Die appellante het die bewyslas gedra om omstandighede aan te toon dat dit onwaarskynlik is dat enige van hierdie faktore sal intree indien hulle vrygelaat word. In terme van artikel 60(4)(a) sal die belang van geregtigheid nie die vrylating op borgtog veroorloof as die waarskynlikheid bestaan dat vrylating tot gevolg sal hê dat die veiligheid van die publiek of ʼn bepaalde persoon in gevaar gestel sal word of dat die beskuldigde ʼn Bylae 1 misdryf sal pleeg nie. By oorweging van die vraag of die appellante aangetoon het dat dit nie sal gebeur nie, was die Landdros geregtig om die faktore gelys in artikel 60(5) te oorweeg en in ag te neem. Hierdie faktore is:
“(a) die mate van geweld teenoor ander wat implisiet is by die aanklag teen die beskuldigde;
(b) enige dreigement van geweld wat die beskuldigde teenoor enige persoon mag geuiter het;
(c) enige wrok wat die beskuldigde na bewering teenoor enige persoon koester;
(d) enige geneigdheid tot geweld deur die beskuldigde, soos blyk uit sy of haar vorige gedrag;
(e) enige geneigdheid van die beskuldigde tot die pleeg van misdrywe in Bylae 1 bedoel, soos blyk uit sy of haar vorige gedrag;
(f) die algemeenheid van ‘n besondere tipe misdryf;
(g) enige getuienis dat die beskuldigde voorheen terwyl hy of sy op borgtog was, 'n misdryf in Bylae 1 bedoel, gepleeg het; of
(h) enige ander faktor wat na die oordeel van die hof in ag geneem behoort te word.”
[45] Dit is ernstige misdrywe wat die appellante ten laste gelê word en waarop hulle sal teregstaan en, soos wat Kolonel Lourens getuig het, sou hulle behoort te weet dat as hulle skuldig bevind word, hulle lewenslange gevangenisstraf in die gesig staar. Die mate van geweld wat teenoor die slagoffers gebruik is blyk uit die getuienis en is ook implisiet by die aanklag van moord.
[46] Die eerste appellant het ʼn lang misdaadgeskiedenis wat oor ʼn tydperk van etlike jare strek. Dit is ook gemene saak dat die eerste en tweede appellante uit was op borgtog op ʼn Bylae 1 misdryf toe die huidige misdrywe na bewering deur hulle gepleeg is. Die getuienis dui ook daarop dat die derde en vyfde appellant by misdade betrokke is of was. Daar is ook getuienis dat die derde appellant ʼn dreigement van geweld geopper het of ʼn wrok sou koester teen ʼn polisiebeampte en dat hy, volgens die getuienis van die onbekende getuie, hom in die kop wou skiet met ʼn geweer. Daar is ook getuienis dat die onbekende getuie bekend is aan die sesde appellant en dat hierdie getuie moontlik onder getuiebeskerming geplaas sal moet word. Hierdie getuienis staan onweerspreek deur die appellante.
[47] Indien die faktore vermeld in artikel 60(9) in ag geneem word, blyk daar ook nie buitengewone omstandighede deur die appellante aangetoon te gewees het wat hul vrylating veroorloof nie. Ten spyte van die omvang van die saak, blyk die ondersoek feitlik afgehandel te wees en is die saakdossier reeds tot beskikking van die appellante gestel. Die voorval het plaasgevind in Augustus 2016 en die verhoor in die Hoë Hof sal reeds in Maart 2017 plaasvind. Geen ander van die faktore wat deur die appellante geopper is stel buitengewone omstandighede daar wat in die belang van geregtigheid hulle vrylating veroorloof nie.
[48] Ek stem saam met meneer Cloete dat die appellante hulle nie van die bewyslas wat op hulle gerus het gekwyt het nie. Die Landdros het nie enige mistastings begaan ten aansien van die reg of die feite nie. Ek is nie oortuig dat hy verkeerd was in die uitoefening van sy diskresie om borgtog te weier nie en gevolglik kan ek nie inmeng met sy bevinding nie.
Ek maak die volgende bevel:
DIE APPÈL VAN AL SES DIE APPELLANTE WORD VAN DIE HAND GEWYS
____________________
SL ERASMUS
WAARNEMENDE REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Namens Appellant: Meneer JvH Vorster
In opdrag van: Lofty-Eaton Prokureurs, POSTMASBURG
Namens Respondent: Advokaat JJ Cloete
Namens: Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY
[1] S v Vermaas 1996(1) SASV 528 (T) op 531e-f en S v Mohammed 1999(2) SASV 507 (K) op 511
[2] 1979(4) SA 218 (D) op 220E-H
[3] S v Porthen and others 2004(2) SASV 242 (C) par [11]; S v Ali 2011 (1) SACR 34 (E) par [14]; Panayiotou v S (CA&R 06 /2015) [2015] ZAECGHC 73
[4] Wet 108 van 1996
[5] S v Branco 2002(1) SASV 531 (W) op 532i-533b; S v Viljoen supra par [17] en die sake daarin aangehaal
[7] Supra par [53] en [54]
[8] 2002(2) SASV 550 (HHA) para [11] tot [15]
[9] 2002(1) SASV 222 (HHA) par [21]
[10] 1999(2) SASV 507 (K) op 517 i-j
[11] S v Mpulampula 2007 (2) SACR 133 (E) op 135h; Panayiotou v S (CA&R 06 /2015) [2015] ZAECGHC 73; S v Mathebula 2010(1) SASV 55 (HHA)
[12] Viljoen supra para [18] tot [19]
[13] S v Rudolf 2010(1) SASV 262 (HHA) par [9]