South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2016 >> [2016] ZANCHC 77

| Noteup | LawCite

White en Kheis Munisipaliteit (1828/2016) [2016] ZANCHC 77 (9 February 2016)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA

 (NOORD-KAAPSE AFDELING, KIMBERLEY)

Rapporteerbaar: Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja

Sirkuleer onder Landdroste: Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste:  Nee

Saaknommer:

1828/2016

Saak Aangehoor:

02/12/2016

Datum Gelewer:

09/12/2016

In die saak tussen:

BRANDON ANDREW WHITE                                                                                               Applikant

en

KHEIS MUNISIPALITEIT                                                                                                   Respondent



Coram:  Olivier R

UITSPRAAK

Olivier  R:

[1]. Die applikant, Mnr Brandon Andrew White, het ‘n aksie ingestel teen die respondent, die Kheis Munisipaliteit, as die eerste verweerder, en teen Mnr Jan Mouton as die tweede verweerder.

[2]. Die skuldoorsaak waarop daarin gesteun word, is dat die applikant skade gely het weens beserings wat hy opgedoen het in ‘n botsing wat volgens hom veroorsaak is deur die teenwoordigheid van die tweede verweerder se perd in ‘n pad.  Die eerste respondent word aanspreeklik gehou op grond van die nie-nakoming van ‘n beweerde regsplig om die heining langs die betrokke pad in stand te hou.

[3]. Weens die bepalings van die Wet op die Instel van Regsgedinge teen Staatsorgane[1](“die Wet”) was die applikant in die omstandighede verplig om binne 6 maande ná die betrokke ongeluk aan die respondent kennis te gee van die voorgenome eis. Die ongeluk het na bewering op 4 April 2010 plaasgevind, maar die statutêre kennisgewing, in die vorm van ‘n skrywe deur die applikant se prokureur, is eers versend op 15 Februarie 2011, meer as 10 maande na die datum van die ongeluk.

[4]. In die besonderhede van vordering het die applikant die bewering gemaak dat die betrokke statutêre vereiste nagekom is.  In reaksie hierop het die respondent slegs gepleit dat kennis geneem word van die betrokke bewering.  Dit is dus nie ontken nie.  Die versuim om dit te ontken sou argumenteerbaar ingevolge Eenvormige Hofreël 22(3) geag moes word ‘n erkenning te wees van die betrokke bewering in die besonderhede van vordering.  Ek vermoed egter dat die rede waarom die applikant nooit gepoog het om die respondent aan die geagte erkenning gebonde te hou nie, is omdat daar ooglopend, minstens wat betref die periode wat verstryk het voordat kennis gegee is, nie voldoen is aan die voorgeskrewe periode waarbinne sodanige kennis gegee moes gewees het nie.

[5]. Op 2 Maart 2016 het daar ‘n Reël 37 konferensie plaasgevind, waar die applikant verteenwoordig is deur sy prokureur, Mnr Van Niekerk van Elliott Maris Wilmans & Hay, Kimberley, en die respondent deur Mnr Groenewaldt van Towell & Groenewaldt Prokureurs, Kimberley.  By daardie geleentheid, en op ‘n vraag van Mnr Van Niekerk, het Mnr Groenewaldt aangedui dat die respondent nie op daardie stadium bereid was om voldoening aan die betrokke bepalings van die Wet te erken nie.  Die twee prokureurs het toe ooreengekom, onder andere, dat Mnr Van Niekerk ‘n afskrif van die betrokke kennisgewing, en ook redes waarom dit nie binne 6 maande gegee is nie, aan Mnr Groenewaldt sou voorsien, wat dan op sy beurt sou aandui watter nadeel die respondent daardeur gely het of sou ly. 

[6]. Op 23 Maart 2016 het Mnr Van Niekerk dan ook in hierdie verband ‘n skrywe gerig aan Mnr Groenewaldt.  In breë trekke is in die betrokke skrywe die volgende voorgehou as redes vir die feit dat die statutêre kennisgewing laat was:

6.1        Daar is gemeld dat die applikant vir ‘n periode van 76 dae na die ongeluk in die hospitaal was, tot ongeveer die middel van Julie 2010.

6.2        Verder is dit gestel dat die applikant “nog nie van so ‘n aard gewees (het) om enigsins aandag te gee en/of om instruksies aan ‘n Prokureur te gee nie” omdat hy:

6.2.1         ‘n breinbesering opgedoen het “en nog nie normaal was nie”;

6.2.2         nie kon loop nie;

6.2.3         vanaf 16 Julie 2010 tuis fisioterapie moes kry vir ongeveer 3 maande; en

6.2.4         onbewus was van die betrokke statutêre vereiste.

6.3        Dit is gestel dat die applikant “so vroeg as wat hy moontlik daartoe in staat kon gewees het om ‘n Prokureur te sien en die nodige afspraak hierin gelewer het”; wat dit ook al mag beteken het.

[7]. Mnr Groenewaldt is versoek om op grond van hierdie inligting die laat kennisgewing te aanvaar, soos wat die Wet dan ook voor voorsiening maak, in welke geval die applikant nie sou nodig gehad het om die Hof te nader om die laat kennisgewing te kondoneer nie.

[8]. Die gemelde skrywe is op 8 April 2016 opgevolg deur ‘n verdere skrywe waarin die respondent se prokureur op terme geplaas is om teen nie later nie as 13 April 2016 aan te dui of die respondent bereid sou wees om die laat statutêre kennisgewing te aanvaar.  Die betrokke skrywe het verder gelui dat, indien die respondent nie bereid sou wees om in te stem tot die aanvaarding van die laat kennisgewing nie, die Hof genader sou word om kondonasie, en ook om ‘n bestraffende kostebevel teen die respondent.

[9]. In ‘n skrywe gedateer 13 April 2016 het Mnr Groenewaldt toe uitgelig dat Mnr Van Niekerk in die skrywe van 23 Maart 2016 nie gemeld het wanneer die applikant dan toe wel ‘n prokureur gaan spreek het nie. Verder is uitgewys dat daar ook geen bewyse verskaf is vir die bewering dat die applikant, eerstens, ‘n breinbesering gehad het en, tweedens, as gevolg daarvan nie ‘n prokureur van instruksies kon voorsien nie. Dit is ook gemeld dat die skrywe van 23 Maart 2016 nie die vertraging tussen middel Julie 2010 en Februarie  2011 verduidelik het nie.  Mnr Groenewaldt het die applikant se prokureur ook uitgenooi om teen 26 April 2016 rekords van die tyd wat hy by die werk afwesig was met siekverlof, ter stawing van die verduideliking beskikbaar te stel.

[10]. Mnr Van Niekerk se reaksie hierop was ‘n skrywe gedateer 14 April 2016, wat eers op 26 April 2016 per hand afgelewer is by Mnr Groenewaldt se kantoor.  Daarin het hy eenvoudig betwis dat die periode tussen Julie 2010 en Februarie 2011 nie in sy skrywe van 23 Maart 2016 verduidelik is nie.  Mnr Van Niekerk het in die betrokke skrywe gehandel met die onbeskikbaarheid  van hospitaalrekords, maar geen melding gemaak van die bestaan, aldan nie, van rekords van siekverlof by die applikant se werkgewer nie.  Hy het origens bloot maar weer verwys na die verduidelikings vervat in die skrywe van 23 Maart 2016, en nie gepoog om enige verdere besonderhede as dit te verstrek nie.

[11]. Eers ongeveer 4 maande later, op 18 Augustus 2016, het die applikant die funderende eedsverklaring in hierdie aansoek onderteken, en is die betrokke aansoek uitgereik op 24 Augustus 2016.  Daar is geen duidelike rede in die stukke vir hierdie vertraging nie.  Die stelling is deur die applikant gemaak dat sy prokureur probeer het om die hofaansoek te vermy.  Of hierdie stelling ook sou geslaan het op hierdie periode en vertraging, is nie heeltemal duidelik nie, maar selfs al sou dit, sou daar eweneens geen detail gewees het van daardie pogings nie.

[12]. In hierdie aansoek word kondonasie van die nie-nakoming van die betrokke statutêre bepalings versoek, met gepaardgaande regshulp, en dan ook dat die respondent gelas moet word om die koste van die aansoek te betaal op die skaal van prokureur en kliënt.

[13]. Op 20 September 2016, en ooglopend nadat die aansoek beteken is, het Mnr Groenewaldt skriftelik aangedui dat die regshulp met betrekking tot kondonasie nie geopponeer sou word nie, maar dat die respondent nie bereid was om die koste van die aansoek te betaal nie.  Daar is in die betrokke skrywe verwys na die algemene beginsel dat ‘n party wat ‘n vergunning verlang, die koste daaraan verbonde behoort te betaal.  Die aanbod is egter gemaak, nietemin en op daardie stadium, dat elke party sy eie koste betaal.  Daardie aanbod is nie aanvaar nie en dit is nie meer op hierdie stadium op die tafel nie.

[14]. Op 22 September 2016 het Mnr Van Niekerk in ‘n skrywe gereageer.  Die aanbod is nie aanvaar nie.  Mnr Van Niekerk het verder in die skrywe aan Mnr Groenewaldt gesag voorgehou dat, anders as in ander gevalle waar ‘n party kondonasie verlang, die howe in gevalle soos hierdie al kostebevele toegestaan het teen instansies wat onredelik geweier het om laat of gebrekkige kennisgewing te aanvaar, en so op ‘n onredelike wyse aansoeke om kondonasie genoodsaak het.  Daar is weereens versoek dat die respondent instem om die applikant se koste te betaal, by gebreke waaraan die applikant, so is berig, die inhoud van die betrokke skrywe aan die hof sou openbaar.

[15]. Wat die meriete van die aansoek om kondonasie betref, het die applikant in sy funderende eedsverklaring nou ver meer inligting verstrek oor die versuim as wat Mnr Van Niekerk voorheen in korrespondensie bereid was om te doen.  Ek sal hierna terugkeer.

[16]. Dit blyk nou dat ‘n baie groot deel van die vertraging, en spesifiek ook dan tot ‘n groot mate in die periode vanaf middel Julie 2010 tot Februarie 2011, veroorsaak is deur die versuim van die applikant se aanvanklike korrespondent-prokureur, wat oor daardie periode verstandelik geaffekteer is deur ‘n siekte wat intussen sy lewe geëis het.

[17]. Omdat dieselfde prokureur toe ook uiteindelik die statutêre kennisgewing opgestel en versend het, sou dit waarskynlik ook daardie siektetoestand gewees het wat gelei het tot die totale gebrek aan besonderhede in daardie kennisgewing.  Dit het nie eers besonderhede vervat oor waar en wanneer die ongeluk na bewering gebeur het nie.

[18]. Die respondent het hom egter nog nooit beroep op daardie gebrek aan besonderhede nie, en het ook nooit die houding ingeneem dat die respondent daardeur benadeel is nie. 

[19]. Die respondent het nie ‘n antwoordende eedsverklaring afgelewer nie en het inteendeel sedertdien by monde van Mnr Groenewaldt en by wyse van submissies in sy hoofde van betoog, uitdruklik toegegee, weereens, dat kondonasie verleen behoort te word.  Hierdie, na my oordeel, is ‘n billike en verantwoordelike toegewing.

[20]. Ek meen dus dat die regshulp in paragrawe 1 en 2 van die kennisgewing van mosie toegestaan behoort te word.

[21]. Die opponering deur die respondent van hierdie aansoek gaan egter nou uitsluitlik oor koste, en dit het die applikant al teen 20 September 2016 geweet.  Die applikant het verkies om nie die aanbod te aanvaar dat elke party sy eie koste dra nie en het verkies om hierdie aansoek voort te sit op die basis dat die respondent onredelik was om nie in te stem tot die aanvaarding van die laat kennisgewing nie.  Dit is op hierdie basis wat die applikant verlang dat die respondent die koste van die aansoek moet betaal, ook nou tot op datum en geopponeerd, en verder steeds dat daardie koste op ‘n bestraffende skaal toegestaan moet word.

[22]. Die eenvoudige vraag is dus of die respondent en sy prokureur Mnr Groenewaldt wel so onredelik was deur nie in reaksie op die inligting wat Mnr Van Niekerk aan hom voorgehou het namens die applikant, toe te stem tot die aanvaarding van die laat kennisgewing nie.

[23]. Soos wat sal blyk, was Mnr Groenewaldt hoegenaamd nie onredelik in sy reaksie nie.  Selfs al sou hy moontlik ook die algemene benadering tot koste in aansoeke om kondonasie verkeerdelik beskou het as ongekwalifiseerd toepaslik op gevalle ingevolge die Wet, het die brief van 23 Maart 2016 in elk geval geensins voldoende besonderhede verstrek nie, onder omstandighede waar ‘n mens op die oog af sou verwag het sulke besonderhede beskikbaar sou gewees het, indien dan nie aan Mnr Van Niekerk nie, wel aan die prokureur wat op daardie stadium sy korrespondent was.  Andersins kon Mnr Van Niekerk minstens in daardie skrywe verduidelik het waarom verdere besonderhede rakende die aard van die abnormaliteit en die stadium waarop wel instruksies ontvang is om stappe te neem teen die respondent, nie beskikbaar was op daardie stadium nie.  Selfs op die stadium toe Mnr Groenewaldt duidelik verdere besonderhede versoek het, is geen so ‘n verduideliking deur Mnr Van Niekerk voorgehou nie.

[24]. Wat het die stelling, wat eintlik ook maar meer ‘n konklusie was as ‘n feitestelling, dat die applikant ná sy ontslag uit die hospitaal nie “normaal” was nie, beteken?  Die applikant verduidelik nou inderdaad in sy funderende eedsverklaring dat hy geheueverlies gehad het.  Wat het Mnr Van Niekerk verhoed om minstens dit dan as ‘n verduideliking aan te bied, indien nie in sy skrywe van 23 Maart 2016 nie, dan minstens in sy skrywe gedateer 14 April 2016?

[25]. Waarom het Mnr Van Niekerk nie, toe Mnr Groenewaldt hom so versoek het, gereageer deur bewyse te verskaf van die applikant se afwesigheid by sy werk in die tersaaklike periode nie, of minstens dan darem verduidelik dat ook dit nie moontlik was nie?  Dit blyk nou duidelik, uit die applikant se funderende eedsverklaring, dat hy wel lank by sy werk afwesig moes gewees het.

[26]. Hoe sou die feit dat die applikant op ‘n stadium nie kon loop nie, hom verhoed het om tydig kennis te gee van sy eis?

[27]. Watter verduideliking is op daardie stadium vir Mnr Groenewaldt gegee vir die periode tussen middel Julie 2010 en Februarie 2011?  Hoe sou die feit dat die applikant in daardie tyd ongeveer 3 keer tuis fisioterapie moes ondergaan het, in sy weg gestaan het om tydig kennis te gee?

[28]. n Ander baie relevante faktor, wat ook nou eers in die applikant se aansoek na vore gekom het, is die rol wat die ongesteldheid van die applikant se destydse prokureur gespeel het.  Waarom kon Mnr Van Niekerk nie al teen 23 Maart 2016 hieroor behoorlike instruksies gehad het van sy korrespondent nie, want dan sou hy al toe die siekte van die applikant se destydse prokureur in sy skrywe aan Mnr Groenewaldt kon gemeld het.

[29]. Hoekom het Mnr Van Niekerk nie in die betrokke skrywe vir Mnr Groenewaldt vertel wanneer daar dan die eerste keer met ‘n prokureur gepraat is nie.  Daar is ook nie gemeld wanneer die applikant dan weer “normaal” genoeg was om te kon instruksies gee aan ‘n prokureur nie.  Dit sou mos ooglopend gehelp het om te oordeel of daar by die eerste redelike geleentheid kennis ingewin is van die statutêre vereiste, en toe daaraan voldoen is.

[30]. Daar is ook nie eers in die betrokke skrywe melding daarvan gemaak dat dit eintlik die applikant se vader was wat die betrokke prokureur aanvanklik genader het nie.  Dit blyk nou eers uit die funderende verklaring.

[31]. Dit blyk, van selfs meer belang, ook nou uit ‘n skrywe[2] dat die applikant se korrespondent-prokureurs al so lank terug as op 13 Augustus 2010 aan Mnr Van Niekerk berig het dat die applikant se vader reeds aan hulle instruksies gegee het.  Dat die applikant se vader prokureurs genader het, kon al opsigself ‘n baie sterk aanduiding daarvan gewees het dat die applikant self nie op daardie stadium in staat was om so te doen nie.  Nou moes die respondent en sy prokureur egter eers in die funderende eedsverklaring sien hoe en wanneer die applikant se vader gaan regsadvies inwin het.  Mnr Van Niekerk sou uit die skrywe van 13 Augustus 2010 mos geweet het wanneer en deur wie instruksies gegee is.

[32]. Dat die applikant se vader wel al op 4 Augustus 2010 sy korrespondent-prokureurs gaan raadpleeg het, laat die vraag ontstaan hoe die applikant se beweerde tydelike onvermoë om instruksies te voorsien ‘n verduideliking sou kon gewees het vir die feit daar vanaf Augustus 2010 tot Februarie 2011 nie kennis gegee kon word aan die respondent nie.  Hoekom sou die vereiste kennisgewing nie op die vader se instruksies gegee kon gewees het nie?  Daar is eenvoudig geen verduideliking hiervoor nie.

[33]. Dit gaan egter selfs nog verder as dit.  Die applikant se vader het die korrespondent-prokureur in Olifantshoek ongeveer 4 maande na die ongeluk gaan sien, en dus nog ruim voor die verstryking van die voorgeskrewe 6 maande periode. Dit blyk nou, eweneens uit korrespondensie waarvan afskrifte aangeheg is by die applikant se eie funderende verklaring, dat die Olifantshoek prokureur toe na aanleiding daarvan in die skrywe van 13 Augustus 2010 vir Mnr Van Niekerk versoek het om te adviseer oor die wenslikheid van stappe teen die respondent.  Mnr Van Niekerk het eers op 14 Oktober 2010, byna 2 weke na die verstryking van die 6 maande periode, gereageer in ‘n skrywe waarin hy geadviseer het dat stappe regtens moontlik was en, van meer belang, dat die 6 maande periode reeds verstryk het en dat hulle “mettertyd (indien hulle later die punt opper) aansoek (kon) doen vir Kondonasie”.

[34]. Die 6 maande periode het dus verstryk nadat die aangeleentheid byna 2 maande al in die hande was van Mnr Van Niekerk, en daar is selfs tot op hierdie stadium geen verduideliking hiervoor nie.

[35]. Wat ook hieruit duidelik is, is dat die beweerde onkunde van die applikant geensins ‘n verduideliking sou kon gebied het onder die omstandighede van hierdie geval nie.

[36]. Die feit dat die Wet dit vir instansies soos die respondent moontlik maak om laat kennisgewing te aanvaar, beteken darem ook nie dat ‘n litigant soos die applikant nie minstens redelike inligting aan so ‘n instansie moet verstrek om te verduidelik waarom die kennisgewing laat was nie.

[37]. Na my oordeel kan Mnr Groenewaldt se weiering, wat gekwalifiseer was tot die mate dat hy wel oop was vir die voorlegging van verdere inligting, hoegenaamd nie aangemerk word as onredelik nie.  Inteendeel, na my oordeel sou dit selfs as roekeloos aangemerk kon word indien hy bereid sou gewees het om toe te stem tot laat aanvaarding van die kennisgewing, namens sy kliënt, op die basis van die tipe inligting wat Mnr Van Niekerk aan hom voorgehou het in die brief van 23 Maart 2016.

[38]. Indien daardie tipe verduideliking  al was wat in hierdie aansoek en in die funderende eedsverklaring aan die Hof voorgehou is vir doeleindes van ‘n aansoek om kondonasie, sou die aansoek heel waarskynlik onsuksesvol gewees het.  Net hoe gebrekkig daardie inligting in die omstandighede was, blyk duidelik uit die besonderhede wat nou na vore gekom het in die funderende verklaring.

[39]. Na my oordeel was die respondent volkome geregtig om, in die omstandighede en op die inligting wat Mnr Van Niekerk bereid was om te verskaf, daarop aan te dring dat die applikant by wyse van ‘n beëdigde verklaring, en in ‘n aansoek, die Hof nader om die betrokke kondonasie te versoek.

[40]. Die applikant het toe die aansoek gebring en, soos wat ek reeds aangedui het, in die eedsverklaring baie meer besonderhede verstrek van waarom die statutêre kennisgewing laat gegee is.  Dit was op sterkte van daardie inligting wat Mnr Groenewaldt toe wel namens sy kliënt aangedui het dat die toestaan van kondonasie nie geopponeer sou word nie, maar die applikant het verkies om desnieteenstaande die aansoek voort te sit net ten aansien van koste.

[41]. Daar is na my oordeel geen rede hoegenaamd waarom die respondent enige koste van die aansoek moet dra in die omstandighede van hierdie geval nie, laat staan nog bestraffende koste.  Dit is destemeer nou nog die geval waar die respondent nou genoodsaak was om verdere koste aan te gaan in die opponering van hierdie aansoek, wat in wese toe net gegaan het daaroor dat die respondent gelas moet word om bestraffende koste te betaal.

[42]. Die billike posisie ten aansien van koste, na my oordeel, sal inteendeel wees dat die applikant gelas word om die koste van die aansoek te betaal, insluitende dié van die respondent, soos wat ook nou in die betoogshoofde en by die aanhoor van argument namens die respondent versoek is.

[43]. Mnr Botha, die advokaat vir die applikant, het die respondent daarvoor verkwalik dat omgedraai is, vanaf ‘n aanbod dat elke party sy eie koste betaal, na die standpunt dat die applikant die koste van die aansoek moet betaal.  Na my oordeel kan die respondent glad nie daaroor verwyt word nie.  Toe die applikant die aanbod geweier het dat elke party sy eie kostes betaal, het die posisie gebly dat die applikant oppad Hof toe was vir ‘n bevel dat die respondent ook die applikant se koste moes betaal, en wel op ‘n bestraffende skaal.  Die respondent kon in die omstandighede niks anders doen nie as om die aansoek te opponeer.  Gelukkig vir die applikant het die respondent besluit om so te doen op die applikant se eie stukke, anders was daar ook nog die koste verbonde aan antwoordende stukke.

[44]. Bygevolg word die volgende bevele hierin gemaak:

1.           DIE APPLIKANT SE NIE-NAKOMING VAN DIE BEPALINGS VAN ARTIKEL 3(1)(a) VAN DIE WET OP DIE INSTEL VAN REGSGEDINGE TEEN SEKERE STAATSORGANE, 40 VAN 2002, WORD GEKONDONEER.

2.           VERLOF WORD AAN DIE APPLIKANT VERLEEN OM SY EIS TEEN DIE RESPONDENT VOORT TE SIT OP DIE PLEITSTUKKE SOOS BETEKEN EN GELIASSEER ONDER SAAKNOMMER 429/2013.

3.           DIE APPLIKANT WORD GELAS OM DIE KOSTE VAN DIE AANSOEK TE BETAAL.

_____________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING

 

 

Nms Applikant:                    ADV. C H BOTHA

                                            (Elliott Maris Wilmans & Hay Prokureurs)

                                               

Nms Respondent:               MNR S J GROENEWALDT

                                           (Towell & Groenewaldt Prokureurs)

                               



[1] 40 van 2002

[2] Aangeheg by die applikant se funderende eedsverklaring.