South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2015 >>
[2015] ZANCHC 46
| Noteup
| LawCite
Reichert v Koopman (129/14) [2015] ZANCHC 46 (18 May 2015)
Download original files |
Sekere persoonlike/private besonderhede van partye of getuies in die dokument is geredigeer in ooreenstemming met die wet en SAFLII se beleid. |
IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë Hof, Kimberley)
Rapporteerbaar: Nee
Sirkuleer onder Regters: Ja
Sirkuleer onder Landdroste: Nee
Sirkuleer onder Streeklanddroste: Nee
Saak No: CA&R 129/14
Saak Aangehoor: 18 / 05 / 2015
Datum gelewer: 18 / 05 / 2015
In die saak tussen:
JOHAN JOHANNES REICHERT Appellant
en
MAGGIE KOOPMAN Respondent
Coram: Olivier R et Erasmus WnR
UITSPRAAK
Olivier R:
[1]. In hierdie aangeleentheid het die respondent ‘n aksie ingestel in die Landdroshof teen die appellant vir skadevergoeding. Dit was gebaseer op beweringe dat die appellant haar op 29 Januarie 2009 op die plaas Rooifontein aangerand en beledig het.
[2]. Die eerste eis was vir ‘n bedrag van R10 000.00 vir die pyn en lyding wat gely is weens die beweerde aanranding, en ook vir ‘n verdere bedrag van R15 000.00 vir die aantasting, deur die aanranding, van haar eer en waardigheid.
[3]. Die tweede eis was vir die toekenning van ‘n bedrag van R25 000.00 vir die aantasting wat die belediging meegebring het vir die eiseres se eer en waardigheid.
[4]. Beide eise is in die gemelde bedrae toegestaan.
[5]. Die appellant het ‘n teeneis gehad vir die aantasting van sy eer en waardigheid, welke teeneis afgewys is. Ek sal later handel daarmee.
[6]. Die kennisgewing van appél maak nie duidelik of daar ook teen die afwysing van die teeneis geappelleer word nie, maar ek sal aanvaar dat dit die posisie is, want daar word ook in die betoogshoofde namens die appellant hieroor submissies gemaak.
[7]. Alhoewel dit nooit by wyse van ‘n spesiale pleit gedoen is nie, en ook nie werklik in enige erns ooit tydens die verhoor of voor ons geargumenteer is nie, is daar tog die punt gemaak namens die appellant deur sy advokaat, Mnr Schreuder, dat die Landdroshof te Kimberley nie die jurisdiksie sou gehad het om oor die aangeleentheid te beslis nie. Die rede wat daarvoor aangevoer is, was dat die beweerde delik in die Landdrosdistrik van Boshoff plaasgevind het. Die feit is egter dat dit vasstaan dat die appellant gedomisilieerd was binne die regsgebied van die Landdroshof te Kimberley, en dit sou beslis daardie Landdroshof bekleë het met die nodige jurisdiksie.
[8]. Die saak vir die respondent was, baie breedweg, dat sy op 29 Januarie 2009 na die plaas Rooifontein is na afloop van onderhandelinge om die betrokke plaas te verkoop aan die appellant. Sy was vergesel van haar [...], Me V., en ‘n plaasarbeider, Mnr Phillip Madito.
[9]. Die appellant het daar opgedaag. Hy was woedend en het haar aangerand. Hy het haar aan die nek gegryp en haar kop herhaaldelik teen die voertuig gestamp waarmee hulle na die plaas gery het. Die appellant het haar op die grond neergegooi en teen haar heup geskop. Hy het haar ‘n “kaffer bitch” genoem en gedreig om haar vrek te skiet as sy weer daar sou kom.
[10]. Die respondent het verder getuig oor die pyn en lyding wat sy onmiddellik gely het as gevolg van die aanranding, en ook daarna en steeds ten tye van haar getuienis, en ook oor hoe sy daarna in en uit hospitale was, volgens haar weens die aanranding. Sy het getuig dat haar heup en haar rug steeds gepla het, ongeveer 4 (vier) jaar ná die insident, dat sy nie meer reg kon dink en onthou nie en dat sy voortdurend pynpille moes gebruik.
[11]. Verder het die respondent getuig dat sy baie hartseer was oor die belediging wat die appellant haar toegesnou het en dat dit haar in haar eer en waardigheid aangetas het.
[12]. Die appellant het ontken dat so ‘n voorval ooit plaasgevind het, hetsy op 29 Januarie 2009 of op enige ander datum. Sy saak was dat daar vroeër op die dag van 29 Januarie 2009 nie bloot onderhandelinge was nie, maar dat die koopkontrak vir die verkoop van die betrokke plaas aan hom inderdaad geteken is. Volgens hom is hy egter daarna vanaf die kantore van die betrokke prokureurs vir die res van die dag huis toe, hier in Kimberley, en nie na die plaas toe, soos wat die respondent beweer het, nie.
[13]. Die appellant het verder getuig dat daar in die dae daarna ander voorvalle plaasgevind het op die betrokke plaas. Die een keer was toe hy moes ingryp toe die verkeerde samestelling van vee gelaai is om van die plaas te verwyder. Die ander keer was toe hy ‘n klagte gelê het dat daar onwettig gejag word op die plaas en dit toe gelei het tot die inhegtenisneming van iemand en tot die betaling van ‘n boete deur die betrokke persoon.
[14]. Tydens geeneen van daardie voorvalle het daar egter volgens die appellant ‘n aanranding plaasgevind, of ‘n voorval soos beskryf deur die respondent, nie.
[15]. Dit was die appellant se saak dat dit die voorvalle was waarna hy verwys het, en ook finansiële probleme, wat gemaak het dat die respondent die vals eise teen hom ingestel het.
[16]. Hy het aangevoer dat die instel van die valse eise sy reputasie skade aangedoen het, en hy het breedvoerig getuig oor sy posisie in die gemeenskap, die boerderybedryf en in die sakewêreld.
[17]. Wat betref die Landdros se bevinding dat die voorval beskryf deur die respondent wel plaasgevind het, is in die kennisgewing van appél aangevoer dat die Landdros die weersprekings tussen die respondent, Me V.en Mnr Madito nie behoorlik in ag geneem het nie, dat die Landdros verkeerdelik bevind het dat die appellant eintlik geen verweer geopper het nie, dat die Landdros die kwessie van die bewyslas verkeerdelik benader het, dat die Landdros verkeerdelik bevind het die appellant se weergawe nie gestel is in kruisverhoor nie, dat die Landdros nie behoorlike oorweging verleen het aan die vraag waarom geen kriminele klagte gelê is teen die appellant nie en dat die Landdros misgetas het deur bevindinge te maak oor die appellant se karakter, nog voordat die Landdros die getuienis klaar oorweeg het.
[18]. Dit is geykte reg dat ‘n Hof van appél nie ligtelik sal inmeng met die feite- en geloofwaardigheidsbevindinge van ‘n verhoorhof nie. Dit sal slegs gedoen word waar daar duidelik gefouteer is.
[19]. Mnr Schreuder het aangevoer dat die respondent, Me V. en Mnr Madito verskil het oor die datum van die voorval en oor op watter dag van die week dit sou gebeur het, die tyd van die voorval, hoe die voorval plaasgevind het en waar presies met betrekking tot die posisie van hulle voertuig, waar hulle heen is ná die voorval en watter beserings die respondent sou opgedoen het.
[20]. Hier hou ek eerstens in gedagte dat die getuies hulle getuienis ongeveer 4 (vier) jaar na die beweerde voorval afgelê het.
[21]. Ek hou verder voor oë dat die respondent as getuie op die Landdros ‘n goeie indruk gemaak het en dat die Landdros se geleentheid om onder andere die respondent waar te neem in die getuiebank ‘n voordeel is wat hierdie Hof natuurlik nie het nie.
[22]. Die Landdros het bevind dat die verskille tussen die getuienis van die respondent en dié van haar getuies nie wesenlik was nie. Die vraag is egter of dit so eenvoudig is.
[23]. Op die oog af sou seker geargumenteer kon word dat dit nie belangrik is op watter dag van die week, op watter datum of presies hoelaat so ‘n voorval plaasgevind het nie. Volgens die respondent het dit plaasgevind op dieselfde dag as waarop hulle by die prokureur was in verband met die verkoop van die plaas. Dit was gemenesaak dat daardie besoek aan die prokureur op 29 Januarie 2009 plaasgevind het.
[24]. Die appellant daarenteen het getuig dat hy daardie dag vanaf die prokureur se kantoor huis toe is, en nooit na die plaas nie.
[25]. Die respondent was ‘n enkelgetuie vir soverre dit die getuienis betref dat die voorval plaasgevind het op dieselfde dag as wat die besoek aan die prokureur plaasgevind het. Me V. en Mnr Madito was nie by met die besoek aan die prokureur nie.
[26]. Dit kom uiters onwaarskynlik voor dat die appellant, waar hulle volgens die respondent een oomblik nog midde in onderhandelinge was oor ‘n stuk grond wat hy graag wou koop en toe vreedsaam uitmekaar is, volgens haar met die verkoop van die eiendom aan die appellant nog in die vooruitsig, totaal sonder rede, ongeprovokeerd en woedend sou opdaag en die respondent so ernstig sou aanrand.
[27]. Die Landdros het bevind het dat die appellant angstig was oor vee wat hy wou aflaai, maar dan is daar nie getuienis dat daar geweier is dat hy sy vee aflaai nie. Dit was ook net die respondent wat getuig het oor die vee wat die appellant daar sou gehad het op die betrokke dag en waarvoor hy sou plek gesoek het. Haar twee getuies het geen melding gemaak van so iets nie.
[28]. Van nog meer belang egter as hierdie oënskynlike onwaarskynlikheid is die feit dat die appellant, saam met sy ontkenning dat hy op 29 Januarie 2009 op die plaas was, sê dat hy op ander datums daar was en dat daar op daardie datums voorvalle van konfrontasie was oor die verdeling van vee en die aard van die los goedere wat verwyder kon word deur die respondent en haar eggenoot, en later oor familie van die respondent sonder sy toestemming op die plaas gejag het. Volgens die appellant was daardie voorvalle relatief kort ná 29 Januarie 2009.
[29]. Die voorval van die jag is deur die respondent erken. Sy het erken dat daar ‘n arrestasie of arrestasies plaasgevind het en dat ‘n boete of boetes betaal is. Dit sou aansluit by die appellant se saak dat die plaas op 29 Januarie 2009 reeds aan hom verkoop is, want hy sou op geen ander basis tog iemand kon aangekla het daarvan dat hy onwettig op die betrokke grond gejag het nie.
[30]. Terwyl die respondent en haar [...] getuig het dat hulle die dag van die beweerde voorval van aanranding na die plaas is om vee te gaan voer, het Mnr Madito getuig dat hulle daardie dag na die plaas is om los goedere te gaan oplaai. Sy weergawe bots dus met dié van die respondent en haar [...], en dit sluit aan by die weergawe van die appellant tot dié mate minstens dat hy dan bevestig dat daar los goed opgelaai is deur die respondent. Sy het ontken dat sy ooit weer na die plaas is ná die gewraakte dag, wat beteken dat die laai van die goedere ook volgens haar nie op ‘n ander datum kon gebeur het nie.
[31]. Dat hulle, soos Mnr Madito getuig het, goed gaan oplaai het, sou ook weereens inpas by die appellant se saak dat, wanneer dit ookal was wat hulle die goed gaan laai het, dit moes gewees het nadat die plaas reeds aan hom verkoop is.
[32]. Ek kan in die lig van die voorgaande nie met die Landdros saamstem dat die appellant die persoon as getuie moes geroep het wat saam met hom was die dag toe daar gepraat is oor die verwydering van goedere nie. Die appellant het in elk geval nie, minstens wat die hoofeis betref, die bewyslas gedra nie.
[33]. Dat dit nie in kruisverhoor aan die respondent of haar [...] gestel is dat los goed verwyder is nie, neem dus ook nie die saak verder nie. Dit het op die getuienis van die respondent se eie getuie, Mnr Madito, geblyk.
[34]. Wat betref die besonderhede van die beweerde aanranding, stem ek nie saam met die Landdros dat geeneen van die verskille wesenlik was nie, en kumulatief beskou was die verskille allermins immaterieel. Op die appellant se weergawe was die respondent se beweringe bloot ‘n fiksie en die appellant was dus geregtig om die respondent en haar getuies te toets op die detail van daardie beweringe.
[35]. Dit is kommerwekkend dat nie een van Me V. of Mnr Madito weet daarvan dat die appellant die respondent op die grond gegooi en geskop het nie. Dit moes ten aanskoue van hulle geskied het. Hulle verskil ook van mekaar, en van die respondent, oor presies hoe die appellant andersins die respondent sou aangerand het, soos bv. oor hoeveel keer hy haar teen die voertuig sou gestamp het en oor waar aan haar liggaam hy haar daartydens vasgehou het.
[36]. In die besonderhede van vordering is beweer dat die appellant ook die respondent met die oop hand geklap het, iets waaroor nie een van die respondent of haar getuies getuig het nie.
[37]. Die respondent en haar [...] se weergawes was dat die respondent so ernstig aangerand was dat sy in die voertuig ingehelp moes word deur die [...] en Mnr Madito. Mnr Madito het ontken dat hy ooit uit die voertuig geklim het.
[38]. Wat betref die beserings wat die respondent sou opgedoen het, is daar ook verskille. Op haar weergawe het niks met haar voet gebeur nie. Volgens Me V. het die respondent egter dadelik gekla dat haar voet seer was weens ‘n skop. Op die respondent se weergawe is sy egter op haar heup geskop.
[39]. Dit maak dit vreemd dat geen mediese getuienis aangebied is wat kon staaf dat die respondent aangerand is nie. Volgens haar is sy reeds die volgende dag na ‘n dokter en is sy vandaar, en daarna basies pal, in en uit hospitale as gevolg van die aanranding.
[40]. Die respondent het die betrokke dokter geïdentifiseer en beskryf as haar dokter. Daar is geen suggestie dat hy nie beskikbaar is was om te getuig nie. As hy nie was nie, sou iemand by die hospitaal of hospitale sekerlik behulpsaam kon gewees het.
[41]. Die afwesigheid van sulke getuienis maak dit van belang dat Mnr Madito nie, soos Me V., die beweerde besering aan die respondent se nek sou gesien het nie.
[42]. Dan is daar ook nog die getuienis oor wat ná die beweerde voorval gebeur het. Ek stem nie saam met die Landdros dat dit nie belangrik is wat ná ‘n beweerde voorval gebeur het nie. Dit is geykte reg dat uit sulke getuienis afleidings gemaak kan word oor die voorafgaande gebeure.
[43]. Die respondent sê sy, haar [...] en Mnr Madito is direk vanaf die plaas na die Boshof polisiestasie om die voorval te rapporteer. Haar getuienis was dat hulle vandaar gestuur is na die Kimberley polisiestasie, omdat vir hulle gesê is dat die voorval binne die regsgebied van daardie polisiestasie plaasgevind het. Haar getuienis was verder dat, met hulle aankoms by die polisiestasie te Kimberley, haar [...] en Mnr Madito in die voertuig bly sit het terwyl sy in was. Volgens die respondent was die polisie daar se houding egter weer dat die voorval nie in hulle gebied plaasgevind het nie.
[44]. Me V. en Mnr Madito staaf nie die respondent hieroor nie. Volgens hulle is hulle direk vanaf die plaas na die respondent se huis.
[45]. Hierdie slaan op die vraag of die respondent hierdie oënskynlik ernstige voorval gerapporteer het, wat ‘n mens op die waarskynlikhede sou verwag, en terwyl ek met die Landdros saamstem dat dit op die oog af onwaarskynlik lyk dat die respondent die getuienis uit haar duim sou gesuig het oor wat die polisie te Boshof en Kimberley sou gesê het, kan die weersprekende getuienis van die ander twee nie bloot geïgnoreer word nie.
[46]. Dit moet onthou word dat op die appellant se weergawe die waarskynlikheid juis sou wees dat die respondent geen so ‘n voorval sou gaan rapporteer het nie.
[47]. Selfs later, toe die respondent reeds regsbystand gehad het, is daar oënskynlik nie so ‘n klagte gelê nie.
[48]. ‘n Scenario dat die respondent glad nie daardie dag gepoog het om ‘n strafregtelike klagte te lê nie, sou aansluit by haar erkenning dat sy ook nie eers daardie aand vir haar eie man, toe hy tuis gekom het, vertel het dat sy aangerand is nie. Volgens die respondent was die rede hiervoor dat sy te ongelukkig was om hom te vertel, glo omdat haar hart seer was “om my lewe so te verloor, al die jare vir my straf met pap en melk om daardie plaas te behou en hy is net so afgeroof”.
[49]. Dit is in die eerste plek uiters onwaarskynlik dat die respondent nie haar eie man sou vertel het van haar pyn en lyding en haar vernedering, en van so ‘n ernstige voorval, nie.
[50]. Tweedens is dit net so onwaarskynlik dat sy, nieteenstaande daardie hele voorval, dan daarna tog sou saamgewerk het om die betrokke plaas aan die appellant te verkoop; want dit was nooit in geskil nie dat, minstens ten tye van die verhoor, die plaas aan die appellant behoort het.
[51]. Derdens maak die rede vir haar versuim om so te doen, soos deur haar voorgehou, geen sin nie. Hoekom sou die verlies van die plaas veroorsaak het dat sy nie vir haar man wou vertel het van die aanranding en belediging nie?
[52]. Vierdens sluit hierdie getuienis van die respondent oor haar hartseer egter weer mooi aan by die appellant se weergawe dat die plaas daardie dag van 29 Januarie 2009 reeds aan hom verkoop is. Slegs dan sou die respondent daardie aand ‘n rede gehad het om hartseer te voel om die plaas te verloor.
[53]. Wat verder pla, wanneer dit kom by die benadering dat ‘n Landdros gewoonlik in ‘n beter posisie is om te oordeel oor getuies se voorkoms en gedrag, is die duidelik vyandige houding jeens die appellant wat reeds tydens die Landdros se evaluasie van die getuienis as ‘n geheel uit die uitspraak straal.
[54]. Die Landdros het bevind dat die appellant die hele jag-voorval uit proporsie opgeblaas het, dat die appellant helikopters ontbied het en dat dit aanduidend sou wees van “the type of character the Defendant is”.
[55]. Daar was geen getuienis dat die appellant helikopters ontbied het nie. Dit was sy onbetwiste getuienis dat hy bloot die Polisie en vir Natuurbewaring in kennis gestel het dat iemand jag op die grond, en dat hy nie toe eers geweet het wie dit was nie.
[56]. Die Landdros het die appellant in haar uitspraak ook beskryf as ‘n “strong cruel male” en ‘n “bully who looks down upon those who happen to be different from him be it through the colour of their skin or their gender”.
[57]. Hierdie tipe taal is ongelukkig na my oordeel nie aanduidend van ‘n onbevange en objektiewe benadering tot die getuienis as ‘n geheel nie.
[58]. Ek is dus van oordeel dat die Landdros fouteer het deur te bevind dat die respondent die voorval, in die besonderhede wat sy beweer het, op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys het.
[59]. Wat die teeneis betref, was die bewering in paragraaf 2 daarvan soos volg:
“Die Eiseres het Verweerder al op verskeie geleenthede en deur middel van meer as een prokureur beskuldig van aanranding en naamskending welke sake telkens van die hand gewys of gestaak is.”
[60]. Daar was geen getuienis hoegenaamd van verskeie geleenthede waar die appellant al beskuldig was van aanranding en naamskending en waar daardie sake telkens van die hand gewys of gestaak is nie.
[61]. Die teeneis was ook nie voorwaardelik, en onderworpe aan die afwysing van hierdie hoofeise nie, sodat moontlik gesê sou kon word dat daar verwys is na hierdie bepaalde hoofeise nie.
[62]. Daar is ook nie enige gesag aan ons voorgehou vir die proposisie dat die afwysing van ‘n aksie ‘n litigant sondermeer sal blootstel aan ‘n eis vir naamskending nie.
[63]. Dit is beslis ook nie hierdie Hof se bevinding dat die respondent se aksie kwaadwilliglik ingestel is nie, of met die opset om die appellant in sy eer en reputasie te krenk nie.
[64]. Dit is ook nie eers hierdie Hof se beslissing dat die betrokke voorval nie plaasgevind het nie; bloot dat dit nie op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys is nie.
[65]. Daarom meen ek dat die bevele wat die Landdros moes gemaak het ten aansien van die hoofeise bevele moes gewees het van absolusie van die instansie.
[66]. Na my oordeel was die Landdros dus korrek in die afwysing van die teeneis.
[67]. Wat betref die koste van die appèl sal sulke bevele beteken dat die appellant tot ‘n mate suksesvol was betref die appèl teen die toestaan van die hoofeise, ten aansien waarvan eintlik aangevoer is dat hulle afgewys moes gewees het, en onsuksesvol ten aansien van die appèl teen die afwysing van die teeneis.
[68]. Ek meen dat die billike en praktiese benadering in die omstandighede dan sou wees dat elke party sy eie koste in die appèl dra.
[69]. Wat betref die verhoorkoste het die Landdros eenvoudig gelas dat die appellant die koste moes betaal, wat sou insluit die advokaatsgelde.
[70]. ‘n Bevel van absolusie van die instansie sou egter die tegnies korrekte bevel gemaak het dat die Respondent die koste van haar eise moes betaal, en dat die appellant dan die koste van sy onsuksesvolle teeneis moes dra.
[71]. Omdat alles uiteindelik egter maar net, en nieteenstaande wat gepleit is in die teeneis, gedraai het om een beweerde voorval en die gevolge daarvan en van die instel van die aksie op grond daarvan, meen ek dat die billike benadering ook daar sou gewees het om elke party sy eie koste te laat betaal.
[72]. Die volgende bevele word dus hierin verleen:
1. DIE APPéL TEEN DIE TOESTAAN VAN DIE RESPONDENT SE HOOFEISE SLAAG EN DIE BETROKKE BEVELE VAN DIE LANDDROS WORD TERSYDE GESTEL EN VERVANG MET DIE VOLGENDE BEVEL:
“IN RESPECT OF BOTH CLAIMS OF THE PLAINTIFF ABSOLUTION FROM THE INSTANCE IS ORDERED.”
2. DIE APPéL TEEN DIE AFWYSING VAN DIE TEENEIS MISLUK EN DIE AFWYSING DAARVAN WORD BEKRAGTIG.
3. DIE LANDDROS SE KOSTEBEVEL WORD TERSYDE GESTEL EN VERVANG MET DIE VOLGENDE:
“THE PLAINTIFF AND THE DEFENDANT SHALL EACH BEAR THEIR OWN COSTS OF THE ACTION.”
4. ELK VAN DIE PARTYE SAL SY EIE KOSTE VAN DIE APPÈL DRA.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek stem saam.
______________________
S ERASMUS
WAARNEMENDE REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms Appellant: Adv. J.J. Shreuder (iov CM DE BRUIN & VENNOTE)
(ELLIOT MARIS WILMANS & HAY – Nms Eiseres)
Nms Respondent: Mnr. C.J. De Jager (iov DE JAGER PROKUREURS)