South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2015 >>
[2015] ZANCHC 34
| Noteup
| LawCite
Riet v Die Staat (12/2015) [2015] ZANCHC 34 (17 April 2015)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling, Kimberley)
Saakno: / Case number: CA & R 12/2015
Datum verhoor: / Date heard: 13 / 04 / 2015
Datum gelewer: / Date delivered: 17 / 04 / 2015
In die appèl van:
GOPOLANG RIET Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: Williams R et Erasmus WnR
UITSPRAAK OP APPÈL
Erasmus, WnR
[1] Hierdie is ʼn appèl teen die vonnis van 18 jaar gevangenisstraf wat die appellant opgelê is in die Streekhof te Kimberley op ‘n aanklag van oortreding van artikel 3, gelees met die bepalings van artikels 1, 56(1), 57, 58, 59, 60 en 61 van Wet 32 van 2007 en verder gelees met die bepalings van artikels 256 en 261 van Wet 51 van 1977 en artikel 51 en Skedule 2 van Wet 105 van 1997.
[2] Die appellant het tydens die verhoor skuldig gepleit en erken dat hy wederregtelik en opsetlik ‘n daad van seksuele penetrasie gepleeg het met ‘n 9-jarige seun deurdat hy hom op 3 Februarie 2013 anaal gepenetreer het met sy penis.
[3] Dit is gemene saak dat die appellant en die seun op die dag van die voorval saam geloop het na die begraafplaas in Kimberley, waar hy die seun verkrag het. Die appellant was goed bekend aan die seun. Die appellant was bewus van die seun se ouderdom. ‘n Kondoom is gebruik tydens die voorval. Daar is van die appellant se DNA op die onderbroekie van die seun gevind. Die seun het ‘n skeur in sy anus opgedoen.
[4] Tydens die vonnis-verrigtinge is daar, by ooreenkoms, ‘n verslag van ‘n maatskaplike werker ingehandig. Uit hierdie verslag blyk dit dat die verkragting ‘n ernstige impak op die seun gehad het. Hy het ná die misdaad begin om aggressiewe gedrag te openbaar en sekere fiktiewe karakters se gedrag te projekteer in sy optrede. Hy het homself geïsoleer van ander leerders in die skool. Die prente wat hy geteken het, het aggressie gereflekteer. Die maatskaplike werker moes tydens die onderhoud oor die voorval van ‘n ander persoon gebruik maak om kommunikasie oor dié voorval te bewerkstellig. Dit het geblyk dat die seun aan slapeloosheid gely het na die voorval. Hy was vreesbevange en paniekerig toe dit aan hom oorgedra is dat hy moontlik met die appellant gekonfronteer sou word tydens die hofverrigtinge. Die maatskaplike werker het tot die gevolgtrekking gekom dat die seun nie in ‘n ope hof oor die voorval sou kon getuig nie. Tot voordeel van die appellant het die maatskaplike werker vermeld dat geen sekondêre viktimisasie voorgekom het nie en dat die seun se skolastiese vordering nie nadelig beïnvloed is deur die voorval nie.
[5] Wat die persoonlike omstandighede van die appellant betref, is dit gemene saak dat hy 19 jaar oud was ten tye van die voorval. Hy is ‘n eerste oortreder. Hy het graad 9 op skool geslaag en al voorheen, vir ongeveer ‘n jaar, ‘n vaste werk gehad. Hy was ten tye van die voorval in ‘n saamleefverhouding met ‘n vrou en daar is ‘n kind gebore uit hierdie verhouding Die kind was ten tye van vonnisoplegging ongeveer 14 maande oud en die moeder ontvang ‘n kindertoelaag ten behoewe van die kind.
[6] Die verhoorhof het bevind dat die kumulatiewe effek van die persoonlike omstandighede van die appellant, die feit dat geen wapen gebruik is om die seun tot onderwerping te dwing nie en die feit dat hy skuldig gepleit het dwingende en wesenlike omstandighede daarstel wat ‘n ligter vonnis as die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf regverdig.[1] Ek stem hiermee saam.
[7] Die verhoorhof het verder bevind dat die erns van die misdaad en die belange van die gemeenskap egter vereis dat die appellant ‘n swaar straf opgelê moet word, maar dat die vonnis getemper moet word deur aan die appellant genade te betoon.
[8] Daar is namens die appellant aangevoer dat die verhoorhof die persoonlike omstandighede van die appellant onderbeklemtoon het en dat die vonnis van 18 jaar gevangenisstraf skokkend onvanpas is.
[9] Namens die respondent is aangevoer dat die verhoorhof geen mistastings begaan het nie en dat die vonnis nie skokkend onvanpas is nie. Gevolglik bestaan daar geen gronde vir die hof van appèl om met die opgelegde vonnis in te meng nie.
[10] ʼn Hof van appèl mag nie met ʼn vonnis inmeng bloot omdat ʼn vonnis swaar is of as dit gesit het as ʼn hof van eerste instansie, dit ʼn ander vonnis sou opgelê het nie.[2]
[11] Die verhoorhof het geen mistastings begaan wat inmenging regverdig nie. Die misdaad waaraan die appellant skuldig bevind is, is ‘n baie ernstige misdryf en hierdie tipe misdrywe teenoor jong kinders kom gereeld voor, nie net elders in ons land nie, maar spesifiek ook in hierdie afdeling.[3] Daar word dan ook van ons howe verwag om, met die oorweging van ‘n gepaste vonnis, uiting te gee aan die misnoë van die gemeenskap in dié verband.
[12] Die vonnis wat die appellant opgelê is nie skokkend onvanpas nie en daar bestaan geen gronde vir inmenging nie.
GEVOLGLIK WORD DIE APPÈL VAN DIE HAND GEWYS.
_____________________
SL ERASMUS, WnR
Ek stem saam.
_____________________
CC WILLIAMS, R
Vir die Appellant: Adv. P.J. Cloete (iov Regshulpraad)
Vir die Respondent: Adv. Ilanga (iov DOV)
[1] S v Malgas 2001 (1) SACR 469 (SCA)
[2] S v Malgas 2001 (1) SACR 469 (SCA) op 478D-H par [12] ; S v Salzwedel and Others 1999(2) SACR 586 (SCA)]op 591 par [10]
[3] DPP v Thabete 2011(2) SACR 567 (SCA) op 577 par [22]