South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2012 >>
[2012] ZANCHC 62
| Noteup
| LawCite
Wiid and Others v Wiid and Others (1571 / 2006) [2012] ZANCHC 62 (13 January 2012)
Download original files |
Rapporteerbaar: Ja / Nee
Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hooggeregshof, Kimberley)
Saaknommer: 1571 / 2006
Datums aangehoor : 21 - 22/04/2010; 15 – 16/08; 12 – 15/12/2011
Datum gelewer : 13/01/2012
In die saak tussen:
HERMANUS HENDRIK WIID Eerste Eiser
JOHANNA SOPHIA FISCHER Tweede Eiseres
SUSANNA ELIZABETH RABIE Derde Eiseres
en
ELIZABETH HENDRIKA WIID Eerste Verweerderes
WILHELMINA BARENDINA VAN
LOGGENBERG Tweede Verweerderes
JACOBUS PHILIPUS WIID Derde Verweerder
EBEN JEAN DU TOIT Vierde Verweerder
ELIZABETH HENDRIKA FERREIRA Vyfde Verweerderes
ANNA SOPHIA DE WET Sesde Verweerderes
DIE MEESTER VAN DIE
HOOGGEREGSHOF Sewende Verweerder
DAWID SMITH PRINSLOO Agste Respondent
Coram: Lacock, R
UITSPRAAK
Lacock, R
[1] In ‘n onverkwiklike famielietwis vorder die eisers in hul hoedanigheid as trustbegunstigdes van die Elwida Trust omvattende regshulp van die eerste vier verweerders. Geen regshulp word teen die ander verweerders gevorder nie. Ten einde die aard en die omvang van die regshulp wat gevorder word beter te begryp, is dit nodig om die verhouding tussen die partye asook die aanleidende agtergrond en tersaaklike gebeure (wat gemeensaak is tussen die partye) wat gelei het tot die instel van hierdie aksie, van nader toe te lig.
[2] In lewe was wyle mnr Francois Johannes Gerhardus Wiid (die oorledene) getroud met die eerste verweerderes, Mev Elizabeth Hendrika Wiid (die weduwee). Uit hierdie huwelik is gebore die drie eisers, en die tweede, derde, vyfde en sesde verweerders. Voor sy dood was die oorledene ‘n vermoënde boer en het op verskeie plase in onder andere die Hopetown distrik geboer met skape en wild.
2.1 In Februarie 1992 het die oorledene die Elwida Trust (die Trust) opgerig en is terselfdertyd as trustees van die Trust aangestel die oorledene, die weduwee, die tweede verweerderes (Loggenberg) en ene mnr Erasmus, ‘n boekhouer van beroep. Die gemelde trustees is op 10 Desember 1996 deur die Meester van die Hooggeregshof, Kimberley, gemagtig om aldus as trustees op te tree.
2.2 Te alle tersaaklike tye vir doeleindes van hierdie aksie was die Trust die eienaar van die plase Karls Waaiveld, Thee Kop en Wina (die plase) geleë in die distrikte Hopetown en Herbert (Wina is ‘n gedeelte van die plaas Dover), asook van sekere skape en wild waarmee op die plase geboer is.
2.3 Die inkomste- en kapitaalbegunstigdes van die Trust was die oorledene, die weduwee en al die kinders en hul wettige afstammelinge van die oorledene en die weduwee. Klousule 5 van die trustakte lees as volg:-
“INKOMSTE
Die Trustees moet die inkomste invorder wat uit die belegging van die Trustkapitaal voortvloei en, nadat voorsiening gemaak is vir betaling van alle onkoste, rente verskuldig, belasting en Trusteekommissie, moet die netto inkomste by die Trustkapitaal gevoeg word en as deel daarvan belê word, aangesien dit die bedoeling met die stigting van die Trust is om die Trustkapitaal ten bate van die Kapitaalbegunstigdes te vermeerder.
Met dien verstande dat die Trustees in hulle uitsluitlike diskresie ‘n deel van of die hele netto inkomste aan enigeen of meer van die meerderjarige Inkomstebegunstigdes kan betaal en/of dit kan aanwend vir die onderhoud, opvoeding en algemene voordeel van enigeen of meer van die minderjarige Inkomstebegunstigdes (of die Trustees kan in hul diskresie namens enige sodanige minderjarige aan sy ouer of voog ‘n betaling doen) op so ‘n wyse en op die voorwaardes en in die verhoudings en op die tye as wat die Trustees in hulle uitsluitlik diskresie mag besluit.
Met dien verstande verder dat die Trustees in hulle uitsluitlike diskresie al die of enige van die Inkomstebegunstigdes ingevolge hierdie Trust, vrye gebruik en genot mag toelaat van enige bates waarvan die Trust eienaar is, en mag besluit of die Trust of die betrokke Inkomstebegunstigdes vir die instandhouding van die bates asook die betaling van enige belastings, versekeringspremies en ander soortgelyke koste verantwoordelik moet wees.”
[3] Die fundamentele skuldoorsake in hierdie geding vind hul oorsprong in die handelinge van die trustees van die Trust soos verstalt in die notule van ‘n trustee vergadering gehou op 20 Augustus 2001 en die daaropvolgende huurkontrakte gesluit tussen die Trust en die derde verweerder. Die inhoud van hierdie notule lees as volg:-
“NOTULE VAN TRUSTEE VERGADERING GEHOU OP 20 AUGUSTUS 2001
TEENWOORDIG:
Mnr. F.J.G. Wiid
Mev E.H. Wiid
Mev W.B. Loggenberg
Mnr E.J. du Toit
A WESIG
Mnr J.P. Wiid
Daar is ‘n kworum en die vergadering word as behoorlik gekonstitueerd verklaar.
BESLUITE
Die vergadering neem kennis van die verswakkende gesonheids toestand van die bestuurder van die boerdery van Elwida Trust, mnr F.J.G. Wiid. Op aanbeveling van mnr F.J.G. Wiid is daar eenparig deur die teenwoordiger trustees besluit om die boerdery bates van die trust naamlik plase, 1000 dorper ooie en wild te verhuur aan mnr J.P. Wiid vir R10 per hektaar per jaar en R 12 per ooi per jaar met ‘n eskalasie klousule van 5 % per jaar op die huurkontrak van die plase. Die wild kan die huurder vir sy eie gebruik aanwend sonder enige verdere huurgeld op voorwaarde dat hy die wild trop getalle in stand hou soos wat dit is wanneer hy begin huur het. Daar behoort redelike teeltroppe gehou word van elke wildsoort wat teen woordig is.
Die periode van die huur kontrak sal wees 9 jaar en 11 maande vanaf 1 September 2001 met ‘n opsie aan die huurder om die termyn te verleng met ‘n verdere 9 jaar en 11 maande.
Die huur sal ‘n aanvang neem aan die begin van die maand wat volg op die dag wat mnr F.J.G. Wiid te sterwe kom of wanneer hy sou besluit om sy bestuurs verpligtinge by Elwida Trust te staak.
Mnr Thinus Schutte prokureur van Hopetown moet die kontrak namens Elwida Trust opstel.
Die vergadering het besluit dat die ooreenkoms namens die trust deur mnre FJG & JP Wiid, mev EH Wiid en mev WB Loggenberg onderteken moet word.”
3.1 Dit is gemene saak tussen die partye dat die gemelde plase van die Trust asook die 1000 dorperooie aan die derde verweerder verhuur is kragtens skriftelike huurkontrakte gesluit op 30 Augustus 2001. Dit is verder gemeensaak dat geen huurgeld betaalbaar was vir die wild op die plase nie, en dat die oorspronklike huurkontrak ten aansien van die Thee Kop plaas skriftelik gewysig is op 30 Januarie 2003 ten einde voorsiening te maak vir die instandhouding van die wildgetalle op hierdie plaas.
3.2 Die datum waarop die derde verweerder die plase en die 1000 dorperooie begin huur het, was 1 Maart 2002.
3.3 Namens die Trust beweer die eisers nou dat die trustees destyds die plase en die dorperooie verhuur het aan die derde verweerder teen onder markverwante huurgelde, en dat, as gevolg daarvan asook die kostelose gebruik van die wild, die Trust skade gely het; en vorder vervolgens skadevergoeding van die eerste vier verweerders. Die verweerders erken dat die plase en die dorperooie aan die derde verweerder verhuur is teen onder markverwante huurgelde, en dat die wild kosteloos aan die derde verweerder beskikbaar gestel is, maar ontken dat die Trust as gevolg daarvan skade gely het of dat hulle aanspreeklik is teenoor die Trust vir enige skade wat gely mag gewees het.
[4] Benewens skadevergoeding, vorder die eisers ook onder andere ‘n bevel vir die nietigverklaring van die voormelde huurkontrakte en dat die trustees van hul poste as sulks onthef word. Ek handel hieronder meer breedvoerig met die regshulp soos gevorder.
[5] Na die aanvang van die verhoor het die partye ‘n ooreenkoms bereik (bewysstuk ‘G’) wat tot gevolg gehad het dat van die geskille óf geskik is óf akademies geword het.
5.1 Eerstens het die derde verweerder onderneem om op 30 April 2010 die plase te ontruim en dit tesame met die dorperooie en die wild aan die Trust te restitueer, en het terselfdertyd afstand gedoen van enige regte waaroor hy kragtens die huurkontrakte mag beskik het.
5.2 Tweedens het die partye ooreengekom op die verskil tussen die waardes (huurgeld) waarteen die plase aan die derde verweerder verhuur is en ‘n markverwante huurwaarde waarteen die Trust die plase sou kon verhuur het vir die periode 1 Maart 2002 tot en met 28 Februarie 2010. Hierdie bedrag beloop R973,923.20.
5.3 Derdens het die partye ooreengekom op die verskil tussen die huurgeld waarteen die derde verweerder die 1000 dorperooie gehuur het en die markverwante huur waarteen die Trust die ooie sou kon verhuur het vir die periode 1 Maart 2002 tot 28 Februarie 2010. Hierdie bedrag beloop R404,525.00.
5.4 Geen ooreenkoms kon bereik word aangaande die verlies wat die Trust gely het as gevolg van die gratis benutting van die wild deur die derde verweerder nie.
[6] Die partye is dit eens dat, indien bevind word dat enige van die verweerders aanspreeklik is teenoor die Trust vir die betaling van skadevergoeding, die voormelde bedrae van R973,923.20 en R404,525.00 tesame met die gebruikswaarde van die wild die omvang van sodanige skade verteenwoordig.
6.1 Wat betref die gebruikswaarde van die wild het Dr Phillipus C Cloete, ‘n landbou-ekonoom met uitgebreide praktiese en akademiese kennis van wildboerdery in Suid-Afrika namens die eisers getuig dat, konserwatief bereken, die netto inkomste wat die Trust kon verdien het uit die wild op die plase vir die periode 1 Maart 2002 tot 28 Februarie 2010 minstens R100,000.00 per jaar (dit wil sê R800,000.00 vir die volle periode) beloop. Die werklike berekeninge gedoen deur hierdie getuie beloop aansienlik meer, maar het Adv van der Walt, namens die eisers, aangedui dat die eisers die konserwatiewe berekening van R100,000.00 per jaar aanvaar.
Dr Cloete het my as getuie en ‘n deskundige op sy gebied beïndruk, en het ek geen rede om sy berekeninge en die korrektheid daarvan in twyfel te trek nie. Die verweerders het geen getuienis ter weerlegging van die getuienis van Dr Cloete aangebied nie, en het die derde verweerder self ook nie enige getuienis ter weerlegging van die berekeninge van Dr Cloete voor my geplaas nie. Vervolgens aanvaar ek die berekeninge van Dr Cloete en is ek tevrede dat die eisers op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys het dat die netto inkomste wat die Trust uit die wild kon verdien het vir die periode 1 Maart 2002 tot 28 Februarie 2010 indien die wild nie gratis aan die derde verweerder beskikbaar gestel was nie, minstens R800,000.00 beloop.
6.2 Die totale verlies gely deur die Trust vir die tersaaklike ooreengekome periode beloop dus R2,178,448.20.
[7] In die lig daarvan dat die derde verweerder alle regte en aansprake waaroor hy mag beskik het kragtens die huurkontrakte en die wysigingsooreenkoms abandoneer het, en reeds die plase, dorperooie en wild aan die Trust gerestitueer het, vind ek dit nie nodig om te handel met die vraag naamlik of die kontrakte nietig is aldan nie. Daardie vraagstuk is nou bloot van akademiese belang.
[8] Wat eerstens beslis moet word is of die eerste tot vierde verweerders aanspreeklik is vir die betaling van die skade gely deur die Trust as gevolg van die huurkontrakte gesluit met die derde verweerder.
Vir doeleindes van die beslissing van hierdie vraag sal ek, soos betoog deur mnr Coetzee, namens die verweerders, aanvaar, sonder om te beslis, dat die derde en vierde verweerders behoorlik as trustees van die Trust aangestel is nadat mnr Erasmus (intussen oorlede) kennis van sy bedanking as trustee aan die ander trustees gegee het. Hierdie bedanking is gegee op ‘n trustee vergadering van 15 Desember 1999, en is die vierde verweerder op dieselfde vergadering in die plek van Erasmus “as administratiewe trustee en rekenmeester” aangestel en sou sy aanstelling in werking tree “met ontvangs van sy skriftelike aanvaarding”. Twee dae later, op 17 Desember 1999, het die vierde verweerder sy aanstelling as sulks aanvaar.
Hoewel dit nie duidelik uit die notules van die Trust blyk wanneer die derde verweerder as ‘n trustee aangestel is nie, kan aanvaar word dat hy ook op 15 Desember 1999 as trustee aangestel is, aangesien hy sy aanstelling ook skriftelik op 17 Desember 1999 aanvaar het, en die ander trustees sy “aanvaarding van trusteeskap” op 27 Oktober 2000 goedgekeur het.
[9] Soos blyk uit die notule van die trustee vergadering van die Trust gedateer 20 Augustus 2001, was die oorledene, die weduwee (eerste verweerderes), Loggenberg (die tweede verweerderes) en die vierde verweerder (Du Toit) die teenwoordige trustees wat besluit het om die tersaaklike huurkontrakte met die derde verweerder te sluit. Die derde verweerder was nie teenwoordig toe hierdie besluit genotuleer is nie. Niks draai egter hierom nie, aangesien dit gemeensaak is dat, toe die kontrakte gesluit en onderteken is, hy hom met daardie besluite vereenselwig het.
9.1 Uit die getuienis van Mev Loggenberg (die tweede verweerderes) blyk dit dat, ten tye van die neem van die voormelde besluite, al die trustees hulle laat lei en intimideer het deur die wilsbesluite van die oorledene. Die oorledene was duidelik die persoon wat besluit het teen welke huurgeld die plase en die skape aan die derde verweerder verhuur moet word, en dat hy die wild gratis kon benut, en die ander trustees het eenvoudig sy wil gevolg en aanvaar sonder om onafhanklik oorweging te gee en ‘n eie diskresie uit te oefen aangaande die vraag naamlik of die tersaaklike besluite in die belang of tot voordeel van die Trust en/of die trustbegunstigdes sou wees.
9.2 Trouens, dit is ondermeer duidelik uit die getuienis van beide Loggenberg en Du Toit dat al die trustees ten tye van die neem van hierdie besluite en die sluit van die kontrakte besef het dat die plase en die skape ver benede markverwante huurgelde aan die derde verweerder verhuur word. Ten spyte hiervan, het al die trustees, sonder om die ander trustbegunstigdes te ken in die proses, voortgegaan om uitvoering aan die besluite te gee; en was selfs bereid om hierdie benadelende (teenoor die ander trust-begunstigdes) situasie te laat voortduur vir ‘n periode van byna 20 jaar. (Die huurtermyne was 9 jaar en 11 maande, met ‘n opsie om te verleng vir ‘n verdere periode van 9 jaar en 11 maande).
[10] Dit spreek vanself dat die voormelde handelinge van die trustees uiters benadelend vir die Trust en gevolglik vir die trustbegunstigdes, behalwe die derde verweerder, was en steeds sou wees indien die ooreenkoms waarna hierbo verwys is, nie tussen die partye tydens die verhoor bereik was nie. Trouens, dit blyk dat oor die periode Maart 2002 tot Februarie 2010 die plase verhuur is teen ‘n huurgeld wat ongeveer 60 % minder beloop het as ‘n markverwante huurgeld, terwyl die skape verhuur is teen ‘n huurgeld wat ongeveer 80 % minder beloop het as ‘n markverwante huurgeld. Daarbenewens is die wild sonder enige vergoeding aan die derde verweerder beskikbaar gestel vir die volle duur van die huurtermyn. Die teenkant van hierdie munt is natuurlik dat die derde verweerder as ‘n trustbegunstigde ten koste van die ander trustbegunstigdes bevoordeel is.
[11] Die locus standi van die eisers om namens die Trust skadevergoeding van die eerste vier verweerders te vorder, is nie in geskil nie. Sien in hierdie verband Gross & Others v Pentz, [1996] ZASCA 78; 1996 (4) SA 617 (AD) te 621 C en verder.
[12] Die bevoegdhede en verpligtinge van ‘n trustee word ontleen aan die voorskrifte van die trustakte en dié van die Wet op die Beheer van Trustgoed, Nr 57 van 1988 (die Wet). Artikel 9 van die Wet, en wat in wese ‘n samevatting van die gemenereg is, lees as volg:-
“Sorgsaamheid, ywer en kundigheid van trustee vereis. – (1) ‘n Trustee moet by die nakoming van sy pligte en die uitoefening van sy bevoegdhede met die sorgsaamheid, ywer en kundigheid optree wat redelikerwys verwag kan word van ‘n persoon wat die sake van ‘n ander hanteer.
(2) ‘n Bepaling van ‘n trustdokument wat die uitwerking sou hê dat ‘n trustee vrygestel word van of gevrywaar word teen aanspreeklikheid vir troubreuk indien hy versuim om die mate van sorg, kundigheid en vlyt aan die dag te lê soos in subartikel (1) vereis, is nietig.”
So ver terug soos in 1925 het die Appèlhof die volgende gesê aangaande die aard van die verpligtinge van ‘n trustee wat die goed van andere administreer, naamlik
“The effect of this authority is that a tutor must invest the property of his ward with diligence and safety. It is also said that a tutor must observe greater care in dealing with his ward’s money than he does with his own, for, while a man may act as he pleases with his own property, he is not at liberty to do so with that of his ward. The standard of care to be observed is accordingly not that which an ordinary man generally observes in the management of his own affairs, but that of the prudent and careful man;”
(Sackville West v Nourse and Another, 1925 AD 516 te 534).
Olivier et al stel dit as volg in hul “Trustreg en Praktyk” (tweede uitgawe) te 3–26:
“Al die trustee se pligte soos hulle gefragmenteer is en wat later onder verskeie hoofde bespreek sal word, kan teruggevoer word na die oorheersende vereiste om deurgaans in belang van die begunstigdes op te tree.”
In Ex parte Knight and Others, 1946 KPA (800) te 814 is die volgende gesê aangaande die verpligting van ‘n administrateur van boedelbates, naamlik
“The normal powers of administrators include the right to maintain the investments (using the latter word in a wide sense) of the deceased person whose estate they administer. If these investments are risky and speculative it would be negligent for them to maintain them, and to secure themselves against claims of interested persons for damages resulting from such risky and speculative investments they should timeously realise the so invested assets and invest them with adequate security – see e.g. remarks of Kotze, J.A., in Sackville West v. Nourse and Anothers (1925, A.D. at pp. 534, 535) – put in other words, administrators have such power, but they must be very careful in exercising: they can do so, but at their own risk cf. Ex parte Executor Estate Storm (1943, N.P.D. 279). It is their duty to keep the assets of the estate properly invested in the best interests of the beneficiaries, due regard being had to the production of fruits and the security of the corpus.”
Dieselfde beginsels is myns insiens toepaslik op trustees van ‘n trust.
[13] Die tersaaklike gedeelte (paragraaf 5) van die trustakte is reeds hierbo aangehaal. (Sien paragraaf 2.3). Daar is geen aanduiding in die trustakte dat die oprigter (die oorledene) beoog het om die derde verweerder bo die ander trustbegunstigdes te bevoordeel nie.
[14] Mnr Coetzee het, tereg so, toegegee dat die Trust benadeel is en skade gely het as gevolg van die nie-markverwante huurgeld waarteen die plase en skape aan die derde verweerder verhuur is, en die gratis gebruik van die wild; en dat die ander trustbegunstigdes gevolglik benadeel is. Hy voer egter aan dat die trustees uit hoofde van die tweede voorbehoudsbepaling van paragraaf 5 van die trustakte (hierbo aangehaal) en meer bepaald die woorde “...in hulle uitsluitlike diskresie al die of enige van die inkomstebegunstigdes ingevolge hierdie Trust, vrye gebruik en genot mag toelaat van enige bates waarvan die Trust eienaar is...”, bevoeg en gemagtig was om die plase en skape aan die derde verweerder te verhuur teen die lae huurgeld soos gedoen en aan hom die vrye gebruik van die wild te laat toekom. Na my mening is daar geen meriete in hierdie argument nie.
14.1 In die eerste plek moet hierdie voorbehouds-bepaling gelees word in die samehang van die trustakte as geheel en meer bepaald die primêre oogmerk wat die oprigter in die vooruitsig gestel het. Die inleidende paragraaf A van die akte lees, “Die oprigter, as gevolg van die toegeneentheid wat hy teenoor sy kinders koester, verlang...” Dit, saamgelees met die omskrywing van “Inkomstebegunstigdes” en “Kapitaal-begunstigdes” asook die eerste gedeelte van paragraaf 5 van die akte is aanduidend daarvan dat die Oprigter al sy kinders op ‘n gelyke voet wou bevoordeel. So gesien, blyk dit dat die voorbehoude vervat in paragraaf 5 bedoel is om voorsiening te maak vir die geval waar ‘n trustbegunstigde op verdienstelike gronde ‘n behoefte aan voorkeurbehandeling het.
In ‘n sogenaamde “brief van wense” gedateer 25 Februarie 1992 en gerig aan die trustees van die Trust, druk die oorledene homself as volg uit:
“Die ondergetekende, FRANCOIS JOHANNES GERHARDUS WIID, het die bogemelde Trust mondeling geskep te Bloemfontein op 9 Desember 1991 en die Trust was skriftelik uitgevoer by wyse van ‘n Trustakte op 9/12/1991. Die Trust was opgerig ten einde my in staat te stel om my persoonlike sake gedurende my leeftyd en na my dood so te reël dat voorsiening gemaak word vir die deurlopendheid van my sake en om te voorsien vir die onderhoud, opvoeding en algemene welsyn van my gade en kinders. Ingevolge die Trustakte het die Trustees van die Trust sekere diskresies. Dit is my wens, vir die doel van sekerheid en vir die beter administrasie van die Trust, om my wense skriftelik op rekord te plaas, naamlik –
1. Enige inkomste wat voortvloei uit die Trust van tyd tot tyd moet aan my betaal word soos en wanneer ek dit mag verlang. Na my dood moet die inkomste aangewend word en die kapitaal, indien nodig, ingevolge u diskresie tot voordeel van my gade sodat sy haar lewensstandaard kan handhaaf waaraan sy gewoond was, slegs met inagneming van my kinders se opvoedkundige onkostes.
2. Die Trust moet beëindig word by die afsterwe van die langslewende van my gade en myself, of die jaar 2007, welke datum ookal laaste aanbreek, onderhewig aan die voorwaarde dat u gemagtig is, in u algehele diskresie, om die trust-beëindiging uit te stel, in sy geheel of gedeeltelik vir sodanige verdere tydperk of tydperke as wat u mag besluit, indien omstandighede dit regverdig.
3. By die beëindiging van die Trust, na die dood van die langslewende van my gade en myself, moet die kapitaal soos dit dan daar uitsien gelykop verdeel word tussen my kinders, of by gebrek aan enige kinders, tussen hulel onderskeidelike wettige afstammelinge by plaasvervulling.
4. Ek stel voor dat u hierdie Brief van Wense liasseer saam met die oorspronklike afskrif van die Trustakte.
5. Alle versekeringspremies op die Sanlam polisse deur my uitgeneem op die lewens van my onderskeie kinders moet uit die inkomste van die Trust betaal word tot die vervaldatum van die laaste polis (2007).
6. Ek behou die reg voor om te enige tyd enige gedeelte van hierdie Brief van Wense te wysig by wyse van geskrewe kennisgewing.”
Sou hierdie voorbehoud tot paragraaf 5 van die trustakte vertolk word as die verlening van ‘n onbelemmerde arbitrêre diskresie aan die trustees, sou dit myns insiens die oorkoepelende oogmerk van die Oprigter ongedaan maak, en die weg open vir wanpraktyke. Vergelyk Liebenberg N.O. v MGK Bedryfsmaatskappy (Pty) Ltd, 2003 (2) SA 224 (HHA) te 233C – F.
14.2 Selfs al sou gesê kan word dat die voorbehoudsbepaling aan die trustees ‘n diskresie bied om na willekeur met die bates te handel, het nóg Loggenberg nóg Du Toit getuig dat, ten tye van die neem van die tersaaklike besluit in Augustus 2001, die trustees hoegenaamd behoorlik die aangeleentheid oorweeg het en daarna ‘n deurdagte besluit geneem het. Inteendeel is dit duidelik dat die besluit primêr deur die oorledene geneem is, en dat die ander trustees soos marionette bloot daarmee saamgestem en ingeval het sonder om ‘n onafhanklike diskresie uit te oefen. Geen uitoefening van ‘n diskresie het dus hoegenaamd geskied deur enigeen van die eerste, tweede en vierde verweerders nie. Die tweede en derde verweerders het verkies om nie te getuig nie. Uit hul aanvaarding van die besluit en die afwesigheid van enige getuienis tot die teendeel kan aanvaar word dat ook hulle bloot berus het in die besluit van die oorledene. Waarom sou die derde verweerder nie in die besluit berus het nie: hy is immers enorm daardeur bevoordeel.
14.3 Nóg uit die notule nóg die huurkontrakte blyk dit dat die trustees ten tye van die neem van die besluite of die sluiting van die kontrakte beoog het om te handel ingevolge die voorskrifte van paragraaf 5 van die trustakte. Die beroep op hierdie klousule kom my ‘n nagedagte voor.
14.4 In iedere geval is die plase en die skape nie in “vrye gebruik en genot” aan die derde verweerder beskikbaar gestel nie. Daar is besluit om dié bates te verhuur.
[15] Dat die eerste tot vierde verweerders uiters nalatig en skadeberokkend vir die Trust en die trustbegunstigdes gehandel het met die sluiting van die huurkontrakte tussen die Trust en die derde verweerder, spreek vanself.
15.1 Duidelik het hierdie trustees nie ‘n onbevange en onafhanklike diskresie uitgeoefen toe besluit is om die kontrakte te sluit nie.
15.2 Geeneen van die hierdie trustees het gepoog om te verhoed dat die kontrakte gesluit word op die terme waarop dit gesluit is, en dit terwyl hulle bewus was daarvan dat die huurgeld soos daarin vervat ver benede ‘n markverwante huur was.
15.3 Al hierdie trustees was bewus daarvan dat, as gevolg van die nie-markverwante huurgeld, die Trust benadeel is. Ten spyte hiervan het hulle uitvoering gegee aan die besluit om voort te gaan om die bates teen die huurgeld soos vervat in die kontrakte te verhuur.
15.4 Deur die bates teen ‘n nie-markverwante huur te verhuur, en die wild gratis tot die beskikking van die derde verweerder te stel, het hierdie trustees die Trust ontneem van die geleentheid om sy kapitaal op ‘n redelike wyse aan te vul, en sodoende die trustbegunstigdes van daardie voordeel ontsê.
15.5 Uit hoofde van die voorgaande het die gemelde verweerders versuim om hul pligte as trustees kragtens die voorskrifte van artikel 9 van die Wet uit te voer, deurdat hulle versuim het om die bates van die Trust tot voordeel van die trustbegunstigdes te bestuur.
[16] Die vierde verweerder se getuienis naamlik dat hy nie deelgeneem het aan die besluitnemingsproses om die plase en diere aan die derde verweerder te verhuur en die uitvoering van daardie besluite nie, vind ek nie alleen onwaarskynlik nie, maar ook leuenagtig. Hoewel hy aanvanklik getuig het dat hy ten tye van die neem van die besluit in Augustus 2001 nie ‘n trustee was nie omdat hy nog nie kragtens artikel 6 van die Wet deur die Meester gemagtig was nie, moes hy later erken dat hy toe reeds as ‘n trustee aangestel was, en dat hy sy aanstelling aanvaar het. Geeneen van die notules van die Trust, en wat deur die vierde verweerder self gehou was, toon aan dat hierdie verweerder nie as trustee aan die besprekings en besluite deelgeneem het nie. Trouens, presies die teendeel blyk uit die notules. Hierdie verweerder het duidelik te alle tersaaklike tye as ‘n trustee van die Trust gehandel en hom met die besluite daarvan vereenselwig.
“The fact that a trustee has not received the requisite authorisation from the master would not relieve him or her from liability for a wrongful act in conducting the affairs of a trust.”
(WA Joubert et al, “The Law of South Africa, Vol 31 (2de Uitgawe) te 370).
[17] Uit hoofde hiervan is die eerste tot vierde verweerders aanspreeklik teenoor die Trust vir die skade aldus gely in die bedrag van R2,178,448.20.
Vergelyk Boyce N.O. v Bloem & Others, 1960 (3) SA 855 (TPA).
[18] Dit bring my by die volgende geskilpunt naamlik of die voormelde nalatige en/of opsetlike gedraginge van die eerste tot vierde verweerders hul ontheffing as trustees van die Trust regverdig soos versoek deur die eisers. Die antwoord hierop is na my mening bevestigend.
18.1 Afgesien van die nalatige handelinge van die trustees waarna hierbo verwys is, is daar die een oorheersende onverskoonbare gedraging wat hulle onbevoeg maak om as trustees van die Trust te funksioneer, en dit is dat hulle hulself deur die oorledene aan die neus laat lei het en geïntimideer is. Deur dit toe te laat, het die trustees hul statutêre verpligting soos verstalt in artikel 9 van die Wet gruwelik verontagsaam en het die Trust en die trustbegunstigdes as ‘n groep enorme skade gely. In hierdie verband is ek dit eens met wat Kirk-Cohen, R gesê het in Tijmstra N.O. v Blunt-Mackenzie N.O. & Others, 2002 (1) SA 459 (TPA) te 471J tot 472A – B en 474 E – F, naamlik:
“The applicant annexes to her papers a copy of an e-mail from the third respondent addressed to the first respondent indicating that she and her two sisters, the fourth and fifth respondents, approved of the sale of the farm. The applicant alleges, in my view correctly, that the third, fourth and fifth respondents simply endorse their father’s actions without question. They certainly have not attempted to do otherwise after receipt of a copy of the application served upon the first respondent, who acts for them by virtue of the powers of attorney. Counsel for the applicant has submitted that they are puppets of their father and simply endorse without question whatever he has done and is doing. That submission is correct.
...
On this ground alone the first respondent and his daughters are no longer fit to be trustees. I include the daughters because they express no independent view, rely entirely upon their father and approve of his conduct. In doing so it is obvious that they are not fit to remain on as trustees.”
18.2 Hoewel ek ‘n mate van begrip het dat die eerste verweerderes graag sou wou toesien dat die wense van haar afgestorwe eggenoot uitgevoer word, moet hierdie simpatie ongelukkig wyk voor die realiteite van trusteeskap. Die amp van trustee verg veel meer as sentiment. In Administrators, Est. Richards v Nichol & Another, [1998] ZASCA 82; 1999 (1) SA 551 (SCA) het die Hof gehandel met beleggings gemaak deur trustees in onder andere aandele, maar meen ek dat die volgende algemene opmerking ook hierin toepaslik is:
“Generally speaking, however, a trustee will as far as is practicable seek to spread the investments of the trust over various forms of undertaking in order to obtain a balance of stability and growth in the capital value of the trust and the income it produces. (te 558I)
18.3 Met die derde verweerder het ek egter geen simpatie nie. Duidelik het hy van sy posisie as trustee misbruik gemaak om homself te bevoordeel. Selfs nadat daar druk op hom geplaas was deur die prokureurs van die eisers om die huurkontrakte te kanselleer, het hy volhard daarmee om die Trust gebonde daaraan te hou. Met hierdie houding het hy – sowel as die ander trustees – volhard totdat die verhoor ‘n aanvang geneem het. Eers nadat die verhoor begin het, het die derde verweerder afstand gedoen van sy regte kragtens die huurkontrakte en die plase en diere aan die Trust restitueer. Dit het hy klaarblyklik gedoen omdat hy besef het dat die wind vir hom Wes waai. Die belangebotsing tussen homself, die Trust en die ander trustbegunstigdes verg die verwydering van die derde verweerder as trustee van die Trust, daar hierdie belangebotsing die trustbegunstigdes as ‘n groep ernstig benadeel het. Vergelyk Sackville West (supra), en Die Meester v Meyer en Andere, 1975 (2) SA 1 (TPA) te 18 D – E:
“Dit moet beklemtoon word dat daar geen getuienis is van misbruik van bates of geld in die gewone sin nie. Die eenvoudige posisie is dat dit bewys is dat daar ‘n botsing van belange is en dat die belange van die boedel en van die begunstigdes nie in alle opsigte beskerm is nie. Dit is moontlik dat geen verliese opgedoen is nie, maar op hierdie stadium is dit nie nodig om op daardie aspek in te gaan nie – Grobbelaar se saak, supra te bl. 724H.
In hierdie omstandighede het ek tot die gevolgtrekking geraak dat dit in die belang van die boedel en die begunstigdes sal wees om die eerste respondent van sy amp as eksekuteur te onthef.”
Sien ook Land and Agricultural Bank of South Africa v Parker & Others, 2005 (2) SA 77 (HHA) te 86E en verder.
18.4 Die vierde verweerder het reeds voor die aanvang van die verhoor as trustee van die Trust bedank, en is sy ontheffing as trustee ingevolge artikel 20(1) van die Wet nie verder tersaaklik nie. Nietemin sou sy en die derde verweerder se ontheffing verdermeer geregverdig gewees het deurdat hulle, bewus daarvan dat hulle nog nie deur die Meester kragtens artikel 6 van die Wet gemagtig was om namens die Trust te handel nie (aldus die vierde verweerder), deelgeneem het aan die besluit en die uitvoering daarvan om die huurkontrakte met die derde verweerder te sluit. Soos hierbo gestel, is die ontkenning deur die vierde verweerder dat hy as trustee gehandel het, onwaarskynlik.
18.5 Ten slotte meen ek dat die voortgesette trusteeskap van die eerste tot derde verweerders nie in belang van die trustbegunstigdes as ‘n groep is nie vanweë die ooglopende en, mag ek byvoeg, jammerlike, vyandskap en gebrek aan vertroue wat bestaan tussen minstens die eisers aan die een kant en die eerste drie verweerders aan die ander kant. Hierdie wantroue en vyandigheid blyk duidelik uit die getuienis van mevv Fischer en Loggenberg, asook van die dokumentasie ingehandig, en behoef geen verdere toeligting nie. Hierdie aspek verg deeglike oorweging by die aanstelling van trustees nadat hierdie uitspraak gelewer is. Vergelyk Land and Agricultural Bank (supra) te 90B.
18.6 Oneerlike of mala fide optrede is geen voorvereiste vir die ontheffing van ‘n trustee van sy of haar amp as sulks nie. (Tijmstra (supra) te 473F).
[19] Dit sal gemerk word dat ek nie gehandel het met die vraag of wyle Erasmus behoorlik bedank het as trustee van die Trust, of die derde en vierde verweerders behoorlik as trustees aangestel is, en of die magtiging van die Meester waarkragtens laasgenoemdes as trustees gemagtig is kragtens artikel 6 van die Wet om namens die Trust te handel, ter syde gestel moet word nie. Die rede hiervoor is daarin geleë dat hierdie geskilpunte primêr betrekking het op die geldigheid van die huurkontrakte. Aangesien, en soos hierbo opgemerk, die huurkontrakte by ooreenkoms gekanselleer is en restitusie reeds plaasgevind het, het daardie geskilpunt alleen van akademiese belang geword.
Voorts ag ek dit onnodig om uitsluitsel te gee oor die vraag of die derde en vierde verweerders behoorlik as trustees aangestel is omdat dit geen verskil sou maak aan hul aanspreeklikheid vir die betaling van skadevergoeding nie. Hulle het te alle tye gehandel as trustees van die Trust en hulle vereenselwig met die besluite en die uitvoering daarvan.
Vervolgens het ek die vraag naamlik of die derde verweerder as trustee verwyder behoort te word, benader op die veronderstelling dat hy wel behoorlik as ‘n trustee aangestel en gemagtig was, maar sonder om hierdie geskilpunt te beslis. Die slotsom waartoe ek gekom het naamlik dat die eerste tot derde verweerders van hul amp as trustees onthef behoort te word, maak dit onnodig om uitsluitsel te gee oor die nietigheid aldan nie van die aanstelling van hierdie verweerders as trustees van die Trust. Die derde verweerder sou, indien sy aanstelling nietig was, steeds van sy amp as trustee onthef moes word.
[20] Ten slotte handel ek met die onderskeie koste aspekte wat ter sprake is.
[21] Dit is gemeensaak dat die Trust die kostes vir die voer van hierdie geding van die eerste tot vierde verweerders gefinansier het. Die eisers vorder hieraangaande dat die gemelde verweerders gelas word om sodanige gelde aan die Trust terug te betaal, dat ‘n rekening gelewer word met besonderhede van alle betalings aldus namens hierdie verweerders gedoen, en debattering van sodanige rekening.
Die eerste vier verweerders steun op die voorskrifte van klousule 8.3 van die trustakte, naamlik
“Die Trustees word uit die Trustkapitaal skadeloos gestel teen alle eise en vorderings van watter aard ookal wat teen hulle ingestel mag word na aanleiding van die bona fide uitoefening van enige van die magte wat deur hierdie Trustakte aan hulle verleen word.”,
vir hulle verweer dat hulle geregtig is op vrywaring van hul regskostes deur die Trust. Na aanleiding van die gronde van nalatigheid en die redes vir die ontheffing van die verweerders as trustees waarmee hierbo gehandel is, meen ek dat die verweerders nie op hierdie vrywaring geregtig is nie.
21.1 Hoewel die algemene reël is dat ‘n Hof nie ligtelik sal gelas dat trustees wat namens ‘n trust handel, die gedingskoste de bonis propriis sal betaal nie, het ons hier te make met ‘n geval waar die trustees grof nalatiglik versuim het om hul verpligtinge as sulks tot die beste belang van die Trust en die trustbegunstigdes uit te voer. Trouens, ek het bevind dat hul gedraginge waarmee hierbo gehandel is, hul ontheffing as trustees regverdig. In sodanige geval is daar geen rede waarom die Trust, synde die entiteit wat in die eerste instansie deur daardie gedraginge van die trustees benadeel is, nog verder benadeel behoort te word deur die betaling van die regskoste van die trustees (eerste tot vierde verweerders) nie. Sien Sackville West (supra) te 528 tot 532; Boyce, N.O. v Bloem (supra) te 875 A – B, en die volgende dicta in Stander & Others v Schwulst & Others, 2008 (1) SA 81 (KPA)
“Since this is the position where a trustee is sued in his representative capacity, a trustee sued in his personal capacity for breach of trust can hardly be in a better position. If he is removed for misconduct or other improper or unreasonable behaviour, his opposition to the application for his removal would inevitably be found to have been unreasonable, and he could not only be ordered to pay the other side’s costs personally, but would also have no entitlement to an indemnity from the trust in respect of his own costs.” (te 95D),
en
“This shows a misapprehension as to the circumstances in which a trustee is and is not entitled to an indemnity out of the trust estate. The indemnity is lost not only where there has been criminal conduct. If opposition to removal is not proper in all the circumstances, there will be no indemnity. The grounds for removal might include unreasonable conduct, negligence or breach of trust. Opposition to removal on those grounds, if such grounds are established, would be improper.” (te 97B – C).
21.2 Op grond van die voorgaande is die eisers geregtig op die regshulp soos hieraangaande versoek.
21.3 Dit is gemeensaak dat, nadat die vierde verweerder as trustee bedank het, die agste verweerder (mnr Prinsloo) in sy plek as trustee van die Trust aangestel is. Ek meen dat dit in belang van die Trust is dat hy inspraak sal hê in die debattering van die rekening soos versoek.
[22] Wat betref die koste van die geding, versoek die eisers dat die eerste tot vierde verweerders gelas sal word om die kostes van die eisers te betaal de bonis propriis op ‘n skaal soos tussen prokureur en eie kliënt. Vir doeleindes hiervan steun mnr Van der Walt op die volgende submissies en soos vervat in sy skriftelike betoogshoofde:
“76. Dit word betoog dat die hierna gemelde omstandighede die verlening van sodanige kostebevel regverdig omdat:
76.1 Die feite ter sake tot die beregting van die geskilpunte op die pleitstukke (paragrawe 9 tot 9.35 hierbo) grotendeels op ‘n onredelike wyse deur die eerste tot vierde verweerders ontken was, alhoewel baie van hierdie feite binne hulle kennis was en op sigwaarde onteenseglik geblyk het uit dokumente wat in hulle besit was, sommige waarvan voorberei en opgestel was deur die vierde verweerder.
76.2 Die eerste tot vierde verweerders op ‘n onredelike wyse versuim het om erkennings wat ingevolge die bepalinge van Reël 37 versoek was, te maak met betrekking tot die volgende feite:
76.2.1 die bedanking van Erasmus ingevolge die bepalinge van klousule 4.6 van die trustakte;
76.2.2 dat die vierde verweerder op die datum toe die huurkontrakte en wysigingsooreenkoms gesluit was, nie ingevolge die bepalinge van artikel 6(1) van die Wet deur die sewende verweerder gemagtig was om as ‘n trustee van die Trust op te tree nie;
76.2.3 dat die derde verweerder op die datum toe die huurkontrakte en wysigingsooreenkoms gesluit was nie ingevolge die bepalinge van artikel 6(1) van die Wet gemagtig was om as trustee van die Trust op te tree nie;
76.2.4 dat die trustakte van die Trust nie voorsiening daarvoor maak dat die trustees van die Trust anders as gesamentlik mag optree nie;
76.2.5 dat die tersaaklike onroerende eiendom benede markwaarde aan die derde verweerder verhuur was;
76.2.6 dat die 1 000 Dorper ooie benede markwaarde aan die derde verweerder verhuur was; en
76.2.7 dat die samestelling van die wild wat tot die gebruik en benutting van die derde verweerder beskikbaar gemaak was.
76.3 Die eerste toe vierde verweerders eers gedurende die loop van die verhoor tersaaklike erkennings ten opsigte van relevante feite, wat binne hulle kennis was en wat geblyk het uit die dokumente wat onder hulle beheer was, gemaak het welke erkennings ooglopend reeds op die pleitstukke of in antwoord op die versoek ingevolge Reël 37 gemaak behoort te gewees het.
76.4 Die eerste tot vierde verweerders op 23 April 2010 deur middel van die ooreenkoms ter inperking van geskilpunte erken het dat die plase sowel as die Dorper ooie teen bedrae wat vêr benede markwaarde was, aan die derde verweerder verhuur was.
76.5 Dit geskied het nadat:
76.5.1 die eisers verplig was om die kostes op te loop ten einde in staat te wees om deur middel van die deskundige Beukes te bewys dat die plase nie teen markverwante huurwaardes verhuur was nie;
76.5.2 die eisers verplig was om die landbou ekonome, dr Laubscher, dr Taljaard en toe nog mnr Cloete as deskundiges te verkry en koste daaromtrent op te loop om te bewys dat die Dorper ooie nie teen markprys verhuur was nie.
76.6 Die eerste tot vierde verweerders op 23 April 2010 effektiewelik die uitvoering van die huurkontrakte beëindig het, alhoewel hulle steeds ontken het dat sodanige huurkontrakte nietig was, en sodoende die vordering van toekomstige verlies uitgeskakel het op ‘n stadium nadat die eisers weereens verplig was om die deskundige aktuaris, Van der Linde, as ‘n deskundige getuie te verkry om die verlies oor die restant van die twintig jaar huurtermyn te bewys.
76.7 Die eerste tot vierde verweerders, totdat die vierde verweerder op die laaste dag van die verhoor getuig het, volhard het dat die huurkontrakte nie nietig en onafdwingbaar was nie.
76.8 Die tweede en vierde verweerders in hulle getuienis baie van die feite wat ter sake is tot die gronde waarop die eisers aanvoer die trustees onredelik opgetree het en onthef behoort te word, toegegee en erken het, soos wat hulle reeds op die pleitstukke kon gedoen het.
76.9 Die opponering van die aansoek om ontheffing van die trustees in die omstandighede onredelik was.”
22.1 Dat daar meriete in hierdie argumente is, kan nie betwyfel word nie. Trouens, ek het elkeen hiervan deeglik oorweeg en tot die slotsom gekom dat hierdie een van daardie gevalle is wat die skaal deur ‘n miggie na die een of die ander kant geswaai kan word.
22.2 Wat my egter oorreed het dat dit onbillik sal wees om die verweerders met ‘n bestraffende kostebevel te belas, is die feit dat die tersaaklike besluite van die verweerders nie deur hulle alleen geneem is nie, maar ook deur die oorledene. Verdermeer het die verweerders per slot van rekening – weliswaar verkeerdelik so – gepoog om die wil van die oorledene te eerbiedig. Daar is tog – soos hierbo vermeld – ‘n mate van begrip daarvoor dat veral die eerste en tweede verweerderesse deur hul eggenoot en vader voorgeskryf is en hom nie teengegaan het nie.
22.3 In gedagte moet ook gehou word dat hier nie sprake van oneerlike of mala fide optrede aan die kant van die trustees is nie. Daarmee sê ek nie dat oneerlikheid of mala fide optrede ‘n voorvereiste vir ‘n bestraffende kostebevel is nie. Hierdie is bloot ‘n faktor wat ek in ag neem by die uitoefening van my diskresie.
22.4 Vir dieselde redes hierbo vermeld in paragraaf 21, is daar geen regverdiging daarvoor dat die Trust en nie die eerste vier verweerders gelas behoort te word om die gedingskoste van die eisers te betaal nie.
Bygevolg Word Die Volgende Bevel Hierin Verleen:
1. DIE EERSTE TOT DERDE VERWEERDERS WORD ONTHEF AS TRUSTEES VAN DIE ELWIDA TRUST, T287/92.
2. DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM, GESAMENTLIK EN AFSONDERLIK, DIE EEN BETAAL DIE ANDER VRYGESTEL TE WORD, SKADEVERGOEDING IN DIE BEDRAG VAN R2,178,448.20 AAN DIE ELWIDA TRUST TE BETAAL TESAME MET RENTE DAAROP A TEMPORE MORAE BEREKEN VANAF DIE DATUM VAN LEWERING VAN HIERDIE UITSPRAAK TOT DATUM VAN BETALING.
3. DIT WORD VERKLAAR DAT DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS NIE GEREGTIG DAAROP IS DAT HUL GEDINGSKOSTE DEUR DIE ELWIDA TRUST BETAAL WORD NIE, OF OP VRYWARING VAN SODANIGE KOSTE DEUR DIE ELWIDA TRUST NIE.
4. DIT WORD VERKLAAR DAT DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS AANSPREEKLIK IS OM ALLE GEDINGSKOSTE TOT HIERDIE AKSIE DEUR DIE ELWIDA TRUST TEN BEHOEWE VAN DIE VERWEERDERS BETAAL, AAN DIE GEMELDE TRUST TERUG TE BETAAL.
5. DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM BINNE 21 (EEN EN TWINTIG) DAE VANAF DIE DATUM VAN LEWERING VAN HIERDIE UITSPRAAK ‘N VOLLEDIGE REKENING, GERUGSTEUN MET STAWENDE DOKUMENTASIE WAAR TOEPASLIK, AAN DIE PROKUREURS VAN DIE ELWIDA TRUST TE LEWER TEN AANSIEN VAN ALLE GELDE WAT DEUR DIE GEMELDE TRUST VIR REGSKOSTES EN/OF UITGAWES VAN HIERDIE GEDING TEN BEHOEWE VAN DIE VERWEERDERS BETAAL IS, MET VERMELDING VAN DIE DATUM EN DIE BEDRAG VAN ELKE SODANIGE BETALING.
6. DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM DIE REKENING VERMELD IN PARAGRAAF 5 VAN HIERDIE BEVEL MET DIE EISERS EN DIE AGSTE VERWEERDER TE DEBATTEER BINNE 21 (EEN EN TWINTIG) DAE NA LEWERING DAARVAN OP ‘N PLEK EN DATUM SOOS BEPAAL DEUR DIE AGSTE VERWEERDER.
7. DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM, GESAMENTLIK EN AFSONDERLIK, DIE EEN BETAAL DIE ANDER VRYGESTEL TE WORD, NÁ DEBATTERING OF AANVAARDING VAN DIE REKENING VERMELD IN PARAGRAAF 5 VAN HIERDIE BEVEL DEUR DIE EISERS EN DIE AGSTE VERWEERDER, SODANIGE BEDRAG AAN REGSKOSTES ALDUS DEUR DIE ELWIDA TRUST TEN BEHOEWE VAN DIE VERWEERDERS BETAAL, AAN DIE GEMELDE TRUST TERUG TE BETAAL TESAME MET RENTE DAAROP A TEMPORE MORAE BEREKEN VANAF DIE DATUM WAAROP DIE REKENING AANVAAR IS TOT DATUM VAN BETALING.
8. VERLOF WORD AAN DIE EISERS VERLEEN OM, INDIEN DIE PARTYE TOT DIE DEBATTERING VAN DIE REKENING VERMELD IN PARAGRAAF 5 VAN HIERDIE BEVEL NIE DAARIN SLAAG OM KONSENSUS TE BEREIK OP DIE BEDRAG ALDUS BETAAL NIE, HIERDIE HOF TE NADER VIR DIE NODIGE REGSHULP TER FINALISERING DAARVAN.
9. DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM, GESAMENTLIK EN AFSONDERLIK, DIE EEN BETAAL DIE ANDER VRYGESTEL TE WORD, DIE KOSTE VAN DIE EISERS TE BETAAL; SODANIGE KOSTE DIE KWALIFISERENDE KOSTES VAN DIE VOLGENDE DESKUNDIGE GETUIES IN TE SLUIT: VAN DER LINDE, BEUKES, TALJAARD, CLOETE EN LAUBSCHER.
INDIEN DIE KOSTES NIE VAN DIE GEMELDE VERWEERDERS VERHAAL KAN WORD NIE, SAL DIE EISERS GEREGTIG WEES OM HUL KOSTES VAN DIE ELWIDA TRUST TE VERHAAL.
HJ LACOCK
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms Eisers: Adv. D.J. van der walt (i.o.v Duncan & Rothman)
Nms Verweerders: Adv. W.J. Coetzee (i.o.v De Jager Prokureurs)