South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2012 >> [2012] ZANCHC 56

| Noteup | LawCite

Anthonissen en Anders v Minister van Minerale Hulp-Bronne en Anders (1759/2010) [2012] ZANCHC 56 (12 October 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig:

Sirkuleer Aan Regters:

Sirkuleer aan Streeklandroste

Sirkuleer Aan Landdroste:

JA / NEE

JA / NEE

JA / NEE

JA / NEE


IN DIE NOORD-KAAP HOË HOF, KIMBERLEY


Saakno: / Case number: 1759 / 2010

Datum verhoor: / Date heard: 29 / 08 / 2012

Datum gelewer: / Date delivered: 12 / 10 / 2012



In die aansoek tussen:


EBENHAESER ZIKMANN ANTHONISSEN ........Eerste Applikant

ANNA SOPHIA ANTHONISSEN ....................Tweede Applikant

FMC MINERALS BK ........................................Derde Applikant


en


MINISTER VAN MINERALE HULP-

BRONNE ...................................................Eerste Respondent

DIE STREEKBESTUURDER, NK PROVINSIE:

DEPARTEMENT VAN MINERALE HULP-

BRONNE .................................................Tweede Respondent

ASSMANG BEPERK .....................................Derde Respondent

SEBILO RESOURCES (EDMS) BPK ..............Vierde Respondent


Coram: Lacock, R




UITSPRAAK



Lacock, R


  1. In hierdie aangeleentheid doen die applikante aansoek vir die volgende regshulp:


1. Dat verklaar word dat die eerste en tweede applikante die eienaars geword het en steeds is van alle ontginde mangaandraende erts wat tans op die plaas Perth Nr 276, geleë in die distrik van Kuruman, is.


2. Dat verklaar word dat geen persoon of instansie anders dan die applikante of persone wat namens hul daarmee handel, enige reg of aanspraak het op die voormelde ontginde mangaandraende erts nie.


3. Dat verklaar word dat die applikante geregtig is om vry van die beperkings vervat in Artikel 20 van Wet 28 van 2002, te handel met voormelde erts, wat insluit die reg om die erts van die betrokke plaas te verwyder”,


en koste.


    1. In wese beweer die applikante dat ‘n entiteit genaamd “The Associated Manganese Mines of South Africa Limited” (AMMOSAL) kragtens ‘n geldige mynreg, mangaan gemyn het op die tersaaklike eiendom, maar, nadat mynbedrywighede deur AMMASOL gestaak is, laasgenoemde hul eiendomsreg op die uitskot ontginde erts geabandoneer het; en dat hulle (die applikante) ten tye van die registrasie van eiendomsreg van die tersaaklike eiendom in die naam van die derde applikant, eienaars van daardie uitskot erts geword het.


    1. Voorts word beweer dat die vierde respondent en andere deur die vierde respondent tans besig is met mynbedrywighede op die tersaaklike eiendom en dat sodanige betreding van die eiendom sowel as die mynbedrywighede daarop tans onregmatig geskied.


    1. Die vierde respondent daarenteen beweer dat die tweede respondent ‘n geldige prospekteer permit aan hom uitgereik het en waarkragtens hy geregtig is om aldaar te myn.


  1. Die primêre geskil tussen die partye setel om die vraag naamlik of AMMASOL sy eiendomsreg in die uitskot erts abandoneer het, en of AMMASOL steeds die eienaar is van sodanige uitskot erts. In hierdie verband steun die applikante aan die een kant op dokumentasie waarkragtens ‘n direkteur van AMMASOL te kenne gegee het dat die maatskappy sy eiendomsreg in die uitskot erts abandoneer het; terwyl die vierde respondent aan die ander kant eweneens steun op ‘n skrywe van ‘n direkteur van AMMASOL en waarin hierdie persoon aandui dat AMMASOL nie sy eiendomsreg in die uitskot erts abandoneer het nie, en dat die vierde respondent vervolgens geregtig daarop was om aansoek te doen vir ‘n magtiging vir die ontginning van daardie erts.


  1. Uit die voorgaande is dit dus duidelik dat die wese van hierdie geskil daarin geleë is of AMMASOL sy eiendomsreg in en tot die uitskot erts abandoneer het, aldan nie. Die advokate vir die onderskeie partye is dit eens dat, indien AMMASOL inderdaad sy eiendomsreg in die uitskot abandoneer het, die applikante geregtig sal wees op die regshulp soos versoek. Die vraag of AMMASOL sy eiendomsreg in die uitskot erts abandoneer het, sal eweneens deurslaggewend wees vir die verdere vraag naamlik of die tweede respondent regmatiglik ‘n mynpermit aan die vierde respondent kon uitreik.


  1. In die lig van die teenstrydige mededelinge van verskillende direkteure van AMMASOL, is dit ooglopend dat hier ‘n feite dispuut ontstaan het wat nie op die stukke beslis kan word nie. Geeneen van die partye het ook ‘n eedsverklaring van enige verteenwoordiger van AMMASOL geliasseer ter ondersteuning van die een of die ander standpunt van daardie maatskappy nie.


  1. Uit hoofde van die voorgaande het ek, nadat argument in hierdie aangeleentheid aangehoor is, ‘n geleentheid aan die regsverteenwoordigers van die partye gebied om aan my addisionele betoogshoofde voor te lê (indien hulle so verkies) waarom hierdie geskilpunt nie na getuienis verwys behoort te word nie. Geeneen van die partye het egter van hierdie geleentheid gebruik gemaak nie.


  1. Na my mening kan nie gesê word dat die applikante hierdie feite-dispuut moes voorsien het nie. Duidelik het die brief, teenstrydig met dié waarop die applikante gesteun het, vir die eerste keer onder hul aandag gekom tydens die liasseer van die opponerende stukke. Aangesien die antwoord op al die vraagstukke hierin ter sake sentreer rondom die vraag naamlik wie tans die eienaar van die uitskot erts is; dit wil sê of AMMASOL sy eiendomsreg daarin abandoneer het, aldan nie, is ek daarvan oortuig dat dit in belang van geregtigheid is dat hierdie aangeleentheid na getuienis verwys word vir die ontrafeling van hierdie enkele geskilpunt.


  1. Uit hoofde van die voorgaande word die volgende bevel hierin verleen:


  1. DIE AANSOEK WORD SINE DIE UITGESTEL.


  1. DIE VOLGENDE GESKILPUNT WORD NA GETUIENIS VERWYS:


HET “THE ASSOCIATED MANGANESE MINES OF SOUTH AFRICA LIMITED” SY EIENDOMSREG IN DIE UITSKOT MANGAANERTS OP DIE EIENDOM BEKEND AS DIE PLAAS “PERTH NOMMER 276, GELEë IN DIE AFDELING KURUMAN, PROVINSIE NOORD-KAAP, GROOT 1991.5297 HEKTAAR, ABANDONEER, OF IS DIE VOORMELDE MAATSKAPPY STEEDS DIE EIENAAR VAN SODANIGE UITSKOT MANGAANERTS?


  1. VERLOF WORD AAN DIE PARTYE VERLEEN OM HIERDIE HOF TE NADER, INDIEN HULLE SO VERKIES, VIR ENIGE REëLING TEN AANSIEN VAN PROSEDURELE AANGELEENTHEDE WAT NODIG MAG WEES VIR DIE BEREGTING VAN DIE VOORMELDE FEITE GESKIL.


  1. GEEN BEVEL TEN AANSIEN VAN KOSTE WORD GEMAAK NIE, EN SAL OORSTAAN VIR LATERE BEREGTING.





____________________


Lacock, R

REGTER


Namens Applikante: Adv. W.J. Coetzee i.o.v. De Jager Prokureurs

Namens 1ste Respondent: Adv. Wesley i.o.v. Van de Wall en Vennote