South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2012 >>
[2012] ZANCHC 46
| Noteup
| LawCite
Geldenhuys en Ander v Kommissaris van die Hof van Klein Eise en Anders (1750/2010) [2012] ZANCHC 46 (7 September 2012)
Download original files |
-
Rapporteerbaar: Ja / Nee
Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë Hof, Kimberley)
Saak No: 1750/2010
Saak Aangehoor: 24/08/2012
Datum gelewer: 07/09/2012
In die saak tussen:
W J W Geldenhuys ............................................................................1ste Applikant
H E Geldenhuys ..................................................................................2de Applikant
en
Kommissaris van die Hof van Klein Eise ........................................1ste Respondent
W Viljoen .......................................................................................2de Respondent
P J Cilliers .......................................................................................3de Respondent
Landdros vir die distrik van Richmond ...........................................4de Respondent
Coram: Kgomo RP et Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die applikante, mnr W J W en me H E Geldenhuys, was in die Hof vir Klein Eise die verweerders in ʼn aksie waarin vonnis teen hulle en ten gunste van die derde respondent, mnr P J Cilliers, toegestaan is in ʼn bedrag van R3 800.00.
Die applikante vra nou op hersiening dat die vonnis tersydegestel word. Die betrokke kommissaris, mnr W Viljoen, is in sy amptelike en persoonlike hoedanighede gesiteer as, onderskeidelik, die eerste en tweede respondent. Ek sal egter gerieflikheidshalwe hierin meestal na hom verwys as “die kommissaris”. Die landdros vir die distrik van Richmond, Noord-kaap, is in haar amptelike hoedanigheid, en uit hoofde van haar aanstelling van die kommissaris in hierdie hoedanigheid1, gesiteer.
In hulle kennisgewing van mosie het die applikante versoek dat die tweede respondent gelas word om die koste van die aansoek te betaal op die skaal van prokureur en eie kliënt, alternatiewelik dat die eerste en tweede respondente gelas word om die koste gesamentlik en afsonderlik te betaal2. In die verdere alternatief is versoek dat, sou die derde en vierde respondente die aansoek opponeer, hulle gelas moes word om die koste van die aansoek dan gesamentlik en afsonderlik met die eerste en tweede respondente te betaal.
Dit is gemenesaak dat die kommissaris voorheen in sy hoedanigheid as prokureur van die applikante met hulle gekonsulteer het oor presies dieselfde aangeleentheid wat later die onderwerp van die betrokke aksie in die Hof vir Klein Eise was, en dat hy selfs ook destyds namens hulle ʼn skrywe gerig het in reaksie op ʼn aanmaningskrywe. In sy skrywe het die kommissaris toe, in sy hoedanigheid as die applikante se prokureur, gehandel met wat hulle weergawe sou gewees het.
Die onderhawige aansoek is gebring op die basis dat die kommissaris uit hoofde van sy vroeëre verhouding met die applikante ʼn belang by die geding gehad het en/of bevooroordeeld was3 en dat sy deelname aan die verrigtinge ʼn growwe onreëlmatigheid daargestel het4, soos bedoel in subartikels (b) en (c) van artikel 46 van die Wet.
Alhoewel daar aanvanklik namens al vier die respondente kennis gegee is van opponering, is dit later namens die derde en vierde respondente teruggetrek. Daar is nie namens hulle enige stukke of betoogshoofde geliasseer nie en hulle het geensins verder deelgeneem aan die proses van hierdie aansoek nie. By die aanhoor van die aansoek is daar ook nie namens enige van die applikante of die kommissaris geargumenteer dat die derde en vierde respondente vir koste verantwoordelik gehou moet word nie en ek meen dus dat van die grondslag uitgegaan behoort te word dat hulle in effek nie hierdie aansoek teengestaan het nie.
Die kommissaris het ʼn antwoordende verklaring afgelewer waarin hy, breedweg, aangevoer het dat die applikante toegestem het daartoe dat hy as kommissaris optree, dat hulle daardeur verkies het om afstand te doen van enige reg wat hulle mag gehad het op sy rekusering en dat die aansoek om die tersydestelling van die vonnis derhalwe afgewys moes word met koste, eweneens op die skaal soos tussen prokureur en eie kliënt.
By die aanhoor van die aansoek is ons egter meegedeel dat die meriete geskik is op die basis dat die vonnis tersydegestel word weens die kommissaris se destydse betrokkenheid en rol, en dat slegs die aspek van koste bereg moes word.
In die lig hiervan, en in die lig van mnr Khokho se toegewing namens die kommissaris dat sy deelname aan die verrigtinge ʼn grond sou wees vir die tersydestelling van die vonnis, is dit onnodig om in besonderhede te handel met die feit dat die kommissaris voortgegaan het en die verhoor van die aksie hanteer het. Ek sal my dus beperk tot ʼn paar bondige opmerkings in hierdie verband.
Die kommissaris het in sy antwoordende verklaring aangevoer dat hy nie destyds ʼn intensiewe konsultasie met die applikante gevoer het nie en dat sy kennis van die meriete van die aangeleentheid dus oppervlakkig was en beperk was tot die inhoud van sy skrywe.
Dit is egter na my voordeel juis die inhoud van die betrokke skrywe van die kommissaris wat dit duidelik maak dat die kommissaris nie net in naam of teoreties gesproke as prokureur van die applikante opgetree het nie, maar dat hy daadwerklik by die meriete van hulle saak betrokke was in sy hoedanigheid as hulle prokureur.
In die voorafgaande aanmaningskrywe is dit geëis dat die applikante meubelstukke wat by hulle gestoor sou gewees het, moes oorhandig, by gebreke waaraan hulle vir die waarde van die betrokke goed aanspreeklik gehou sou word. Die items wat na bewering by hulle gestoor sou gewees het, is in die betrokke skrywe uiteengesit.
Dit stem ooreen met die inhoud van die latere formele aanmaningsbrief waarmee die aksie begin is. Daarin is betaling gevorder van die bedrag van R4 450,00, “synde die vervanging van goedere by u gestoor en nie terugontvang nie”.
Die kommissaris se antwoord op die aanvanklike aanmaningskrywe van die derde respondent se prokureur was soos volg:
“Ek tree op namens me Geldenhuys wie aan my u brief van 23 Julie 2009 oorhandig het.
My kliënt dra geen kennis van enige meubelstukke van u kliënt wat op haar eiendom gestoor is nie, behalwe in soverre die items in u brief gelys wat deur u kliënt in ontvang geneem is, deur hom as sy eiendom geëien is. Geen reeling (sic) is met haar in die verband getref nie aangesien sy vir ongeveer ʼn dekade nie in Richmond woonagtig was nie en weet sy nie eens of die items wat u kliënt geneem het sy eiendom is nie. Trouens, sy is seker dat die toonbank deel van die winkel was en derhalwe haar eiendom is.
My kliënt ontken derhalwe dat sy vir die teruggawe van die items, of die betaling van die waarde daarvan, aanspreeklik is.
Enige aksie wat deur u kliënt geneem mag word, sal verdedig word.”
Nieteenstaande die verwysing in die enkelvoud na die tweede applikant as die kliënt, blyk dit duidelik uit die kopstuk van die skrywe dat beide die applikante die kommissaris se kliënte was, en was dit inderdaad ook voor ons gemenesaak dat dit die geval was.
Dit is na my oordeel duidelik dat die kommissaris se destydse betrokkenheid van so ʼn aard was dat dit hom in effek absoluut en totaal gediskwalifiseer het daarvan om die aksie te verhoor5. Sy kennis was volgens my van so ʼn aard dat dit ʼn moontlikheid van bevooroordeeldheid geskep het6, waarbo hy hom nie verhewe kon geag het nie. Sodanige bevooroordeeldheid sou ook nie noodwendig net die applikante tot nadeel kon gestrek het nie. Die kommissaris kon byvoorbeeld, by vergelyking van wat hulle hom voorheen meegedeel het met dit wat hulle weergawe voor hom in die verhoor was, ʼn negatiewe afleiding gemaak het oor hulle geloofwaardigheid.
Mnr Khokho se toegewing namens die kommissaris maak dit ook onnodig om tot ʼn bevinding te kom oor of die applikante tydens die verhoor, en soos aangevoer deur die kommissaris inderdaad toegestem het daartoe dat hy voortgaan as kommissaris. Ek volstaan dus in hierdie verband met die volgende:
Die rekord toon dat, toe die verhoor op die betrokke datum uitgestel is, die eerste applikant ʼn “alternatiewe voorsitter” versoek het en gesê het dat hy selfs vir die doel bereid sou wees om na ʼn ander plek te reis. Dit lyk nie eintlik na die houding van iemand wat bereid sou wees om voort te gaan met die betrokke kommissaris as voorsittende beampte nie. Die rekord bevat verder ʼn aantekening dat “Mnr Cilliers7 is tevrede dat ek aangaan”, en bevat geen soortgelyke aantekening ten aansien van die applikante nie.
Daar is ook nie genotuleer dat ʼn ooreenkoms bereik is dat die verhoor maar op die volgende datum voor die kommissaris kon voortgaan indien ʼn ander kommissaris nie gevind word nie. Daar is bloot genotuleer dat “As ʼn alternatiewe voorsitter nie gevind word nie, sal ek die saak afhandel”. Dit lyk meer na ʼn eensydige besluit as na ʼn ooreenkoms. Insiggewend is daar dan ook op die latere datum genotuleer dat ʼn ander kommissaris nie gevind kon word nie en dat “ooreenkomstig die besluit op 02/02/2010 sal ek dan voortgaan om die saak aan te hoor”8.
Die feit dat die applikante dan ook later in die verhoor aansoek gedoen om rekusering, juis op hierdie grond, is ook moeilik te versoen daarmee dat hulle vroeër so sou toegestem met.
Die applikante was in elk geval weens die aard van daardie verrigtinge nie regsverteenwoordig nie en die vraag kan gevra word of hulle werklik oor die risiko van benadeling ʼn sinvolle en ingeligte besluit kon geneem het.
“It seems to me it is almost humanly impossible for a man who has been employed to represent one of the parties in a case, and has actually carried out some of the instructions which he has received in respect of the proceedings in which he has to act in a representative capacity, can afterwards be heard to say that there was not any real likelihood of prejudice in his mind against the persons in the case which he afterwards has to try.”9
Ek verwys in hierdie verband ook na die volgende passasie wat in die Head & Fortuin v Woolaston, N.O. & DeVilliers, N.O. beslissing10 op 560 met goedkeuring aangehaal is uit ʼn vertaling van Domat se Civil Law:
“The most perfect integrity that can be in Judges is no hindrance why the parties who have Causes depending before them, may not challenge them, or except to them, and why they ought not of their own accord to abstain from hearing Causes in which they may have some Interest or where there may be some just ground for suspecting them: … for although a Judge may be above the Weakness of suffering himself to be biassed or corrupted, and may have resolution enough to render Justice against his own Relations, and in the other cases where it may be lawful for the Parties to except against the Judge, yet they ought to mistrust themselves, and not draw upon themselves the just reproach of a Rash Proceeding, which would in effect be a real Misdemeanor”.
Die belangrikheid daarvan dat ‘n voorsitende beampte nie alleen inderdaad onpartydig en vry van vooroordeel en beïnvloeding sal wees nie maar ook van buite, en deur die publiek, so beskou sal word, is al meermale beklemtoon11.
Van besondere belang vir doeleindes van die beregting van die aspek van koste is die volgende:
Minder as ʼn maand nadat die vonnis toegestaan is, het die applikante se huidige prokureur12 ʼn skrywe gerig aan die derde respondent waarin laasgemelde versoek is om, weens die feit dat die kommissaris se deelname aan die verrigtinge ʼn growwe onreëlmatigheid daargestel het, afstand te doen van die vonnis wat in sy guns toegestaan is.
Agt dae later het die derde respondent in ʼn skrywe aan die betrokke prokureur soos volg geantwoord:
“U laaste skrywe aan my het betrekking.
Op grond van u bewering dat die voorsittende beampte in die saak tussen my en Mnr en Mev Geldenhuis (sic) ʼn botsing van belang gehad het, trek ek die saak teen hulle terug”.
Dit was in argument voor ons gemenesaak dat, nieteenstaande die verwysing na ʼn terugtrekking van die saak, die inhoud van die derde respondent se skrywe in effek ʼn afstanddoening van die vonnis daargestel het; ooreenkomstig die versoek aan hom gerig.
Minder as twee maande later het die applikante se prokureur egter ʼn skrywe gerig aan die prokureursfirma waaraan die kommissaris verbonde is, dit gestel dat die vonnis gebaseer was op ʼn growwe nalatigheid en versoek dat “die Respondente”13 stappe neem om die vonnis tersyde te stel.
Soos reeds gemeld, het die derde respondent se voormelde skrywe ʼn duidelike afstanddoening daargestel. Mnr Rautenbach, die advokaat vir die applikante, het tereg toegegee dat die applikante geregtig sou gewees het om, bloot op hierdie basis al en ongeag die vraag of die kommissaris se deelname inderdaad ʼn grond van tersydestelling sou wees, die vonnis te laat tersydestel. Die applikante het niks meer nodig nie as dat die vonnis van hulle name afkom en die derde respondent het van sy kant duidelik ook geen verdere belang in die saak nie.
Die applikante kon doodeenvoudig in ʼn kort aansoek, moontlik selfs sommer op die Kamerhofprosedure, ʼn aansoek gebring het vir die tersydestelling van die vonnis op die basis van die abandonering, en in effek toestemming tot die tersydestelling van die vonnis op daardie basis, deur die derde respondent14. Dit sou dit onnodig gemaak het om enige van die ander respondente te betrek op die basis wat dit nou hier gedoen is, en dit sou dit ook onnodig gemaak het om deur ʼn hersieningsproses die hele rekord te laat voorberei en om ʼn saak daarvoor uit te maak dat die vonnis tersydegestel behoort te word op grond van die kommissaris se onreëlmatige optrede.
Die kommissaris het dan ook, nog voordat namens die applikante die houding teenoor hom ingeneem is dat “die Respondente” stappe moes neem om die vonnis tersyde te stel, in ʼn skrywe die mening uitgespreek dat die onderhawige aansoek “oorbodig” was.
Ek kon weliswaar nêrens in die Wet of die Reëls daartoe ʼn statutêre prosedure van abandonering vind nie15, maar dit beteken nie dat die derde respondent nie effektiewelik van die vonnis sou kon afstand gedoen het nie.
“After all, a judgment records a civil right; it really constitutes a civil right of a particular character. That right may be waived ....”16.
Die derde respondent sou steeds op ʼn gemeenregtelike grondslag geldiglik sy vonnis en siviele reg kon abandoneer het17.
Deur die derde respondent uit te nooi om so te doen, het die applikante in elk geval in effek toegestem tot ʼn abandonering18.
Die applikante het, in plaas daarvan om langs hierdie eenvoudige en relatief goedkoop weg die vonnis van hulle name af te kry, verkies om voort te gaan met ʼn volwaardige hersieningsaansoek. Hulle het ook deur die tipe kostebevele wat hulle teen die kommissaris versoek het, dit na my oordeel in effek onmoontlik gemaak vir die kommissaris om nie die hersieningsaansoek te opponeer nie. Die kommissaris het dit dan ook in sy laasgemelde skrywe aan die applikante se prokureurs duidelik gemaak dat, indien die applikante op daardie basis sou voortgaan, hy die “koste aspek” sou opponeer.
Die houding wat in reaksie daarop namens die applikante ingeneem is, is dat die hersieningsaansoek teruggetrek sou word indien “die Respondente” stappe sou neem om die vonnis te laat tersydestel, en nogal ook die applikante se koste tot datum sou tender.
Die kommissaris was nie ʼn party tot die afstanddoening nie en sou nie op grond daarvan stappe kon geneem het vir die tersydestelling van die vonnis nie.
Die verwysing na “die Respondente” kon maar net na die kommissaris (as eerste en tweede respondente) verwys het. Dit sou geen sin gemaak het om sulke stappe en kostes van die derde respondent te verwag nie, want daar is juis aan hom voorgehou dat hy dit kon vermy deur die vonnis te abandoneer. Dit sou nog minder sin gemaak het om dit van die vierde respondent te verwag.
Wat betref die kommissaris, sou dit naïef gewees het om te verwag dat hy die vonnis sou laat tersydestel op grond van sy deelname aan die verhoor, waar hy juis voorheen ʼn aansoek om sy rekusering geweier het.
Aan die ander kant het die kommissaris toe ook egter nie die hersieningsaansoek slegs op die koste teengestaan, nie. Die tersydestelling van die vonnis is ook teengestaan, op ʼn basis wat mnr Khokho geredelik en tereg toegegee het nie die kommissaris se deelname aan die verrigtinge kon regverdig nie. Met daardie houding het die kommissaris volhard tot op die datum van die aanhoor van die aansoek, toe die voormelde toegewings eers gemaak is.
ʼn Mens het tot ʼn mate simpatie met die kommissaris, wat sonder vergoeding ʼn taak verrig waarmee sy kollegas in daardie distrik hom skynbaar nie behulpsaam wil wees nie. Daar was geen kwaadwilligheid by die kommissaris nie en dit staan onbetwis dat hy in effek bloot die saak afgehandel wou kry en dat hy wel gepoog het om te bewerkstellig dat ʼn ander kommissaris die aksie verhoor. Ek sou dus in elk geval nie bereid gewees het om ʼn bestraffende kostebevel te maak teen die kommissaris, in enige van sy hoedanighede, nie.
In die onderhawige geval, en in die lig van die voorgaande, meen ek egter dat die billike resultaat een sou wees waar die partye elk hulle eie koste dra. Dit het mnr Khokho dan ook geredelik toegegee. Ek is dus van oordeel dat geen kostebevel gemaak behoort te word nie.
Bygevolg sou ek die volgende bevel hierin maak:
Die vonnis teen die applikante in die Hof vir Klein Eise: Richmond onder saaknommer Sc 2/2009 word tersydegestel.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek stem saam en dit word so gelas.
______________________
F D KGOMO
REGTER-PRESIDENT
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms Applikante: Adv S Rautenbach
In opdrag van: Duncan & Rothman, KIMBERLEY
Nms Respondente: Adv N D Khokho
Namens: Die Staatsprokureur, KIMBERLEY
1Artikel 9 (1) A van die Wet op Howe vir Klein Eise, 61 van 1984 (“die Wet”)
2Ek versonderstel steeds op sodanige bestraffende skaal
3Aansoekstukke: bl 9
4Aansoekstukke: bl 48
5Vergelyk Levy and Levy v Additional Magistrate of Rustenbrug and Attorney-General 1925 TPD 316 op 323; Head & Fortuin v Woolaston, N.O. & DeVilliers, N.O. 1926 TPD 549 op 555
6Ibid, op 556 en 558
7Die derde respondent
8My beklemtoning
9Levy and Levy v Additional Magistrate of Rustenbrug and Attorney-General, supra, op 323
10Supra, voetnota 5
11Van Rooyen and Others v The State and Others 2002 (5) SA 246 (CC) op 272C-E; S v Basson 2007 (3) SA 582 (CC) paras [24] en [25].
12‘n Ander een as die kommissaris
13Op daardie stadium was die hersieningsaansoek egter alreeds geloods.
14Vergelyk Kensington Steam Bakery v Dogan 1916 TPD 17
15Vergelyk byvoorbeeld Uniforme Hofreël 41 en artikel 86 van die Wet op Landdroshowe, 32 van 1944
16Kensington Steam Bakery v Dogan, supra, voetnota 14, op 19
17Sien Jones & Buckle, The Civil Practice of the Magistrates’ Courts in South Africa, 10de uitgawe, vol I, Van Loggerenberg, bl 612 (en die gesag daar na verwys); Vergelyk Nationwide Car Rental (Pty) Ltd v Commissioner of the Small Claims Court: Germiston & Another 1998 (3) SA 568 (W)
18Vergelyk Van Rensburg v Reid 1958 (2) SA 249 (E) op 251f