South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2010 >>
[2010] ZANCHC 6
| Noteup
| LawCite
Nelson v S (CA&R 92/09) [2010] ZANCHC 6 (12 February 2010)
Download original files |
-
Verslagwaardig:
Sirkuleer Aan Regters:
Sirkuleer aan Streeklandroste
Sirkuleer Aan Landdroste:
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
IN DIE HOË HOF NOORD-KAAP, KIMBERLEY
Saakno: / Case number: CA & R 92 / 09
Datum verhoor: / Date heard: 08 / 02 / 2010
Datum gelewer: / Date delivered: 12 / 02 / 2010
In die appèl van:
DAANTJIE NELSON Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: Lacock, R et Mjali, WnR
UITSPRAAK OP APPÈL
Lacock, R
Die appellant is op 26 September 2007 in die Streekhof, Hopetown, skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, en is daarna op 13 Desember 2007 gevonnis tot 5 (vyf) jaar gevangenisstraf. Met verlof van die verhoorhof appelleer die appellant nou teen die vonnis hom opgelê.
Die appellant het skuldig gepleit op die aanklag hom ten laste gelê, en lees die verklaring aan die hof voorgehou ingevolge Artikel 112(2) van die Strafproseswet as volg:
“Ek is 19 jaar oud en Beskuldigde in hierdie saak. Ek pleit skuldig aan die klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Ek erken dat ek op 23 September 2006 en te Vergenoeg, Hopetown, streekafdeling Noordkaap vir Ivan Present, 25 jaar oud, aangerand het deur hom verskeie houe te steek met ‘n mes op sy bolyf. Ek was daardie aand by die tavern. Ek en ‘n ander persoon het baklei en toe kom Ivan na my toe. Ivan het my geskel en omgestoot. Aangesien ek geweet het dat Ivan ‘n vriend is van die ander persoon was ek bang dat Ivan my gaan seer maak en het ek toe gesteek met die mes. Ek weet egter nie hoeveel houe ek vir Ivan gesteek het nie aangesien ek redelik dronk en baie kwaad was. Ek erken dat ek nie in noodweer opgetree het nie aangesien Ivan nie gewapen was nie. Ek erken dat hoewel dit nie my bedoeling was om vir Ivan ernstig te beseer nie, ek geweet het dat as ek hom met ‘n mes steek, hy ernstig kan seer kry en het ek my versoen met die gevolge wat kan intree en het ek hom met die mes gesteek. Ek weet en het ook tydens die voorval geweet dat dit verkeerd is om iemand aan te rand, dat ek gearresteer en gestraf kan word en het nogtans met my handeling voort gegaan. Ek erken dat ek tydens die voorval onder die invloed van drank was maar was nie so dronk dat ek nie geweet het wat ek doen nie. Ek erken voorts dat hoewel ek kwaad was tydens die voorval, ek nie so kwaad was dat ek nie geweet het wat ek doen nie. Ek is baie jammer dat ek vir Ivan aangerand het en beseer het. Ivan het my sowat ‘n maand gelede by ‘n ander taverne gekry en gesê dat ek ‘n fout maak as ek gedink het dat hy my nie gaan kry nie. Hy het my toe met ‘n bierbottel oor die kop geslaan en my toe met die gebreekte bottel oor my rug en hand gesteek. Ek het drie wonde op my kop gehad, een op my linker blad en twee wonde op my hand.”
Die volgende feitelike omstandighede tersaaklik tot vonnis was gemeensaak tussen die Staat en die verdediging:-
Die beserings wat die appellant die klaer toegedien het tydens die aanranding, word as volg in die oorkonde beskryf uit ‘n verslag van die geneesheer wat die klaer na die voorval ondersoek het:-
“Veelvuldige diep laserasies op die rug soos op sketse aangebring. (1) Een diep 4,5 senteimeter lange laserasie op die linker voorkop en ‘n (2) diep laserasie op die regterduim kussinkie. The sketch indicate a stabwound on the right or on the right hand thumb. (3) Deep laceration. Indicating also a stab wound over the left eye, 4,5 centimetres in length. Then a (4) 1 centimetre wound on the side of the neck. (5) There is a 2,5 centimetre wound on the left upper arm and then (6) there is, it seems like 7 smaller wounds over the back area of the Complainant from the middle of the back up to the shoulder area.”
Die persoonlike omstandighede van die appellant is as volg aan die hof voorgehou:-
“...wat mnr Daantjie Nelson aanbetref Edelagbare, is hy 19 jaar oud. Hy is ongetroud. Hy het geen kinders nie. Edelagbare, mnr Nelson is dan ‘n weeskind. Beide sy ouers is oorlede. Mnr Nelson het slegs tot standerd 4 skool gegaan. Hy werk dan ook die afgelope vier jaar op Poortjie plaas by mnr Jooste as ‘n algemene arbeider waar hy R250.00 per twee weke verdien. Edelagbare, mnr Nelson staan nie as ‘n eerste oortreder voor hierdie Hof nie. Hy het reeds vier vorige veroordelings van huisbraak wat in ‘n mate verwanthoudend is aangesien daar ‘n mate van geweld by huisbraak betrokke is. Mnr Nelson is egter nog nie voorheen by ‘n aanranding gewees nie.”
Nadat beide die regsverteenwoordiger van die appellant en die aanklaer die hof op vonnis toegespreek het, het die voorsittende landdros dit goed geag om die klaer, mnr. Ivan Present, as getuie te roep. Hierdie getuie is volledig deur die landdros uitgevra na die aard van die gebeure waartydens hy aangerand was, en het hy getuig dat hy nie deur die appellant met ‘n mes gesteek was nie, maar wel deur die mede-beskuldigde, ene Jimmy, en dat die appellant hom slegs met ‘n klip gegooi het. Wat egter onmiddellik opval uit hierdie ondervraging is die volgende soos blyk uit die oorkonde op bladsye 28 en 29 daarvan:-
“I want number 4 to please approach the Witness. I want you sir to show the Witness your left arm please. Do you see the tattoo on this man’s arm? --- Ja, ek sien die tattoo op sy arm.
Does this mean anything as far as you know? === Ek sien net die tattoo wat daar, ek kan nie sê dat hy iets beteken nie. Soos wat, ek sien net dit is ‘n mannetjie wat daar geteken is. ‘n Kop.
I want you to show this Witness your chest please. Can you see that there are tattoos there on this man’s chest and stomach? === Ja.
Do you know if those things mean anything? === Nee, ek weet nie wat bedoel hulle nie.
Yes. I see there is an inscription on the man’s stomach, across the stomach from the left to the right. What do those words say? === Ek kan nou nie uitmaak nie.
You cannot see. Can you approach me sir. Yes thank you. You may go back. For the record on the stomach of Accused number 4 who features in this proceedings as Accused number 2, it is written the words “fuck life”. Yes thank you. You may stand down.”
Verdermeer, op bladsy 30 van die oorkonde vind die landdros dit nodig om die volgende te notuleer aangaande tattoeërmerke op die liggaam van die appellant:
“... and the Court observed that there were certain inscriptions on the body of number 4. The inscriptions I have just referred to. I also observed that there is a cross that is tattooed onto the left side chest of the Accused and also there is what appears to be a cross or a dagger been tattooed on the left arm of the Accused.”
Die indruk wat hierdie tattoeëring op die liggaam van die appellant op die landdros gelaat het, blyk ook uit die volgende opmerking van die landdros gemaak tydens ‘n bespreking tussen die landdros en die regsverteenwoordiger van die appellant aangaande ‘n versoek dat die appellant op sy eie verantwoordelikheid vrygelaat word tot die datum waarop die saak vir vonnis uitgestel sou word:-
“MRS GERRITS Your Worship, the fact that the case was remanded for such a long time and the other thing is they have been on warning since the beginning of this trial, they have not been in custody. And Mr Nelson has been added to the case at a very late stage in this matter. I would therefore ask the Court to let them be on their own until the case is finalised.
COURT And if he wants to live a dark life?
MRS GERRITS Sorry Your Worship?
COURT If he wants to live a dark life, is the community not entitled to be protected against him?
MRS GERRITS Your Worship, I did, no Mr Nelson has not been in trouble since that case. Since he was put or added to this case. He had not had any trouble since then. He was attacked but he did not attack anyone since then.
COURT Am I not entitled to assume that the inscriptions on his body are his statement of intent? Mission statement so to speak?” (My nadruk)
Ten spyte van die versoek, het die landdros egter gelas dat die appellant in hegtenis aangehou word op grond van die volgende oorwegings:-
“Yes Gentlemen, I have heard evidence relating to how this offence, these offences were committed. More perturbing was the ...(inaudible) nature of these attacks on these people. Even more shocking was the inscription on the body of Accused number 4, Mr Nelson. Indeed it shows exactly what he did on the day in question. That he wants to lead a dark life. Given the nature of the offence and how it was committed and the apparent declaration of a mission by number 4, it would be irresponsible of me to allow you gentlemen out on bail.” (My nadruk).
In sy uitspraak het die landdros ‘n aantal mistastings begaan:-
Op bladsy 43 (tydens uitspraak op vonnis) verwys die landdros na die aard van die aanval deur die appellant op die klaer, en sê dan,
“The Accused could not give a proper reason for this onslaught on this person.”
Hierdie opmerking is nie korrek nie, daar die appellant in sy pleitverduideliking aangevoer het dat hy die klaer aangeval het omdat
“...ek geweet het dat Ivan ‘n vriend is van die ander persoon was ek bang dat Ivan my gaan seer maak en het ek hom toe gesteek met die mes.”
Die voormelde subjektiewe indrukke wat die tattoeërmerke op die liggaam van die appellant op die landdros gelaat het, het ook neerslag in sy uitspraak op vonnis gevind. Op bladsy 44 van die oorkonde laat hy homself as volg hieraangaande uit:-
“In respect of the one Accused when he testified he had occasioned to lift up his shirt and he had inscribed on his body and the words that appeared on the body appeared to suggest that he was leaving a gangster life.”
Daar was geen getuienis voor die Hof dat die appellant ‘n sogenaamde “ganster life” gelei het nie, of selfs dat hy ‘n lid van ‘n bende was nie. Om bloot van die tattoeërmerke op sy liggaam sonder enige getuienis aangaande óf die betekenis óf die motivering daarvoor, die afleiding te maak dat die appellant ‘n “gangster life” lei, is totaal ongeregverdig.
Ook op bladsy 44 van die oorkonde sê die landdros die volgende:-
“I have taken account of their tender ages. They being 21 years and 19 years respectively. However their youthfulness is replaced by the inner wickedness that one finds which was manifested by the deeds that they did on the day in question.”
Weereens is daar geen getuienis dat die appellant die klaer aangeval het weens sogenaamde “inner wickedness” (inherente boosheid) nie. Hoewel die landdros na die aanhoor van betoë op vonnis versoek het dat ‘n voor vonnis maatskaplike verslag ten aansien van die appellant bekom moes word, blyk dit dat hy voortgegaan het om die appellant te vonnis sonder sodanige verslag. ‘n Enkele voorval van geweld teenoor die persoon van ‘n ander regverdig myns insiens nie die afleiding dat die appellant inherent boos is nie. Hy was slegs 18 jaar oud ten tye van die voorval, en was dit die eerste keer dat hy hom skuldig gemaak het aan geweld teenoor die persoon van ‘n ander. Dit blyk ook dat hy tydens die voorval kwaad en onder die invloed van drank was. Sien S v Cotton, 1992 SASV 531 (A) te 535 en verder.
In S v Machasa en Ander, 1991 (2) SASV 308 (A) is die volgende gesê:-
“Die Verhoorregter het veral twee oorwegings in ag geneem by die bepaling van die duur van die vierde en vyfde appellante se gevangenisstraf, naamlik die gruwelikheid van hul dade en die afleiding dat hulle uit inherente boosheid opgetree het. Dat die twee appellante hul aan weersinwekkende gedrag skuldig gemaak het, val nie te betwyfel nie. Dit was immers hulle wat in Matsiestraat die swaargewonde oorledene se skedel vergruis het deur groot klippe daarop te gooi. Vooraf het die vierde appellant die oorledene ook met ‘n mes gesteek. Dan het hulle ook gehelp om papierstukke oor die oorledene te strooi wetende van die voorneme om hom aan die brand te steek. Soos in die geval van die tweede en derde appellante het hulle egter nie aan die aanvanklike aanvalle op die oorledene deelgeneem nie. Hulle het eers op die toneel verskyn na die eerste appellant se opruiende aanranding van die oorledene.
Ek is nie oortuig dat dit enige nut het om by beoordeling van die blaamwaardigheid van ‘n beskuldigde onder die ouderdom van 18 jaar die begrip ‘innerlike boosheid’ by te haal nie. ‘n Persoon onder bedoelde ouderdom is uiteraard onvolwasse. In die reël het hy ‘n gebrek aan oordeelsvermoë en selfbeheersing en is hy maklik vatbaar vir beïnvloeding – al is dit net deur gedrag van andere wat as voorbeeld vir hom dien. Wat dus in die geval van ‘n volwassene of selfs ‘n persoon in sy laat tienderjare as innerlike boosheid beskou kan word, kan by die onder agtienjarige aan bogenoemde eienskappe en omstandighede te wyte wees.” (te 318 e tot h)
Gesien die omstandighede van die appellant soos aan die hof voorgehou en hierbo na verwys, is hierdie dicta myns insiens ewe toepaslik op die appellant as ‘n agtienjarige ten tye van die voorval. Sien S v Lehnberg en ‘n Ander 1975 (4) SA 553 (A) te 561 A tot B, en verder oor die algemeen S v D, 1999 (1) SASV 122 (NKA).
Laastens blyk dit dat die landdros geen aandag bestee het aan die verdere persoonlike omstandighede van die appellant nie, en waaronder sy diensrekord en die feit dat hy homself nuttig in die arbeidsmark aanwend.
Afgesien van die voorgaande mistastings begaan deur die landdros, blyk die vonnis in iedere geval skokkend swaar en onvanpas te wees. Indien die persoonlike omstandighede van die appellant, sy ouderdom en sy vorige veroordelings gebalanseerd opgeweeg word teen die erns van die misdryf en die openbare belang, dan kom ek tot die gevolgtrekking dat die vonnis wat die landdros die appellant opgelê het so drasties verskil van die vonnis wat ek sou opgelê het, dat dit inmenging deur hierdie Hof regverdig. Adv. Olivier namens die Staat gee dan ook – na my mening tereg so – toe dat met die vonnis ingemeng behoort te word.
Myns insiens sou ‘n gepaste vonnis een wees van nie meer as 2 (twee) jaar gevangenisstraf nie. Die appellant het reeds ‘n tydperk van meer as twee jaar in die gevangenis deurgebring, en is hy vervolgens geregtig op ‘n vonnis wat sy onmiddellike vrylating sal verseker.
BYGEVOLG WORD DIE VOLGENDE BEVELE HIERIN VERLEEN:
1. DIE SKULDIGBEVINDING VAN DIE APPELLANT WORD BEKRAGTIG.
2. DIE VONNIS DIE APPELLANT OPGELÊ WORD TER SYDE GESTEL EN VERVANG MET DIE VOLGENDE:-
“GEVANGENISSTRAF VIR ‘N PERIODE VAN TWEE JAAR EN TWEE MAANDE.”
3. DIE VONNIS WORD TERUG DATEER NA 13 DESEMBER 2007.
_______________
Lacock, R
REGTER
Ek stem saam.
_______________
Mjali, WnR
WAARNEMENDE REGTER
Namens appellant: Adv. P.J. Cloete in opdrag van die Regshulpsentrum
Namens respondent: Adv D.P. Olivier i.o.v. DOV