South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2010 >>
[2010] ZANCHC 34
| Noteup
| LawCite
Cornelissen v Siyancuma Munisipaliteit (CA&R 45/2009) [2010] ZANCHC 34 (20 August 2010)
Download original files |
-
Rapporteerbaar: Ja / Nee
Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë Hof, Kimberley)
Saak No: CA&R 45/2009
Saak Aangehoor: 16/08/2010
Datum gelewer: 20/08/2010
In die saak tussen:
D Cornelissen ......................................................................Appellant
en
Siyancuma Munisipaliteit ................................................Respondent
Coram: Majiedt Wn RP et Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die appellant, mnr Dickie Cornelissen, het in die Landdroshof te Griekwastad ʼn aksie ingestel waarin hy van die respondent, die Siyancuma Munisipaliteit, skadevergoeding gevorder het. Nadat die meriete van die quantum geskei is en getuienis aangebied is, het die landdros op 30 Junie 2008 die appellant se eis met koste afgewys, op die basis dat die appellant nie bewys het dat die respondent nalatig was nie. Dit is teen hierdie beslissing wat die onderhawige appèl gemik is.
Die appellant het egter ook op 18 Junie 2009 ʼn aansoek geloods om kondonasie van verskeie aspekte, die belangrikste waarvan ongetwyfeld die feit dat die appèl verval het weens die feit dat dit nie tydig voortgesit is nie.
Die kennisgewing van appèl is op 8 Julie 2008 afgelewer. Dit blyk gemenesaak te wees dat die appèl toe nie voortgesit is binne die periode van 60 dae wat daarvoor toegelaat word nie, en dat die appèl dus teen ongeveer 7 September 2008 verval het1.
Dit is baie moeilik om tussen al die vae en hoorsê bewerings in die verklarings ter fundering van die aansoek om kondonasie te ontrafel presies wat die verduideliking is vir hierdie versuim.
Enersyds word daar verwys na “geringe” vertragings wat blykbaar toegeskryf moet word aan die “besige praktyke” van die regsverteenwoordigers van die appellant. Daar word glad nie verduidelik watter vertragings hieraan toegeskryf moet word nie, en veral nie watter rol (indien enige) dit sou gespeel het in die feit dat die appèl nie binne die voorgeskrewe periodes van 40 dae en ʼn verdere 20 dae2 voortgesit is nie. Nòg mnr van der Merwe van Van der Wall en Vennote nòg adv Heymans, wat die appellant deurentyd verteenwoordig het, wat dan oënskynlik vir die vertraging verwyt word, het op hierdie bewering kommentaar gelewer.
Andersyds is die versuim om die appèl tydig voort te sit oënskynlik toegeskryf aan die feit dat probleme ondervind is om die oorkonde te bekom.
By die aanhoor van die aansoek om kondonasie het mnr Heymans egter in argument aangedui dat die verduideliking vir hierdie versuim uitsluitlik berus op die feit dat die oorkonde nie binne die voorgeskrewe tydperk/e bekom kon word nie.
Dit blyk gemenesaak te wees dat die oorkonde eers teen Mei 2009 beskikbaar was en dat die appellant en sy regsverteenwoordigers nie werklik vir dié vertraging verantwoordelik gehou kan word nie.
Die aansoek om kondonasie is, soos reeds gemeld, toe op 18 Junie 2009 aanhangig gemaak; eweneens nie ʼn onredelike vertraging nie.
Na my oordeel kan die onbeskikbaarheid van die oorkonde egter nie dien as ʼn verduideliking of verskoning vir die versuim om die appèl tydig voort te sit nie3.
ʼn Appèl word voortgesit deur doodeenvoudig aansoek te doen by die griffier om ʼn verhoordatum vir die appèl. Eenvormige Hofreël 50 (4)(a) stel as vereiste vir so ʼn aansoek om ʼn verhoordatum:
dat dit skriftelik moet wees;
dat kennis daarvan aan alle partye gegee moet word; en
dat die griffier “terselfdertyd” skriftelik voorsien moet word van bepaalde adresse.
Eenvormige Hofreël 50 (4)(c) bepaal dat ʼn appèl geag sal word behoorlik voortgesit te wees by ontvangs van “so ʼn aansoek”, met ander woorde ʼn aansoek soos bedoel in subreël 4 (a), en dus een wat bloot aan die voormelde vereistes voldoen.
Daar word nêrens bepaal dat die beskikbaarheid van die oorkonde ʼn geldigheidsvereiste sal wees vir ʼn aansoek om ʼn verhoordatum nie.
Dit is so dat subreël (7)(a) van Eenvormige Hofreël 50 lui dat die party wat aansoek doen om ʼn verhoordatum “tegelyk met die indien van die aansoek om ʼn datum van aanhoring” afskrifte van die oorkonde moet indien. Hierdie bepaling skep wel ʼn verpligting, maar daar is geen suggestie dat die nakoming van die verpligting ʼn voorvereiste sal wees vir die geldigheid van so ʼn aansoek om ʼn verhoordatum nie.
Inteendeel, die bepalings van Eenvormige Hofreël 50 (5)(a) maak dit na my oordeel baie duidelik dat die sanksie vir die versuim om afskrifte van die oorkonde in te dien, nie die ongeldigheid van die aansoek (om ʼn verhoordatum) sal wees nie. Die tersaaklike gedeelte daarvan lui soos volg:
“By ontvangs van so ʼn aansoek moet die griffier onverwyld ʼn datum van aanhoring toeken, ... : met dien verstande dat die griffier nie ʼn datum van aanhoring toeken alvorens die bepalings van subreël (7)(a) ... behoorlik nagekom is nie.” (Eie beklemtoning)
Na my oordeel verwys die frase “so ʼn aansoek” eenvoudig na ʼn aansoek soos bedoel in die voorafgaande subreël (4), wat nie die beskikbaarheid of indiening van afskrifte van die oorkonde stel as vereiste/s vir die geldige doen van ʼn aansoek om ʼn verhoordatum nie.
Verder maak die bepalings van subreël (5)(a) dit duidelik dat die sanksie vir die versuim om afskrifte van die oorkonde gelyktydig met die skriftelike aansoek om ʼn verhoordatum in te dien, sal wees dat die griffier eenvoudig nie ʼn verhoordatum sal toeken nie, totdat sodanige afskrifte ingedien word.
Daar is geen suggestie daarvan dat dit tegnies onmoontlik sou wees om aansoek te doen om ʼn verhoordatum sonder om gelyktydig daarmee afskrifte van die oorkonde in te dien nie. Die teendeel is waar. Indien dit regtens onmoontlik sou wees om geldiglik aansoek te doen om ʼn verhoordatum sonder om tegelykertyd afskrifte van die oorkonde in te dien, sou daar geen noodsaak gewees het vir die sanksie dat die griffier by ontvangs van so ʼn aansoek sonder die gepaardgaande afskrifte van die oorkonde nie ʼn verhoordatum sal toeken nie.
Die eindresultaat is dus dat die appellant in effek geen verduideliking verskaf het vir die versuim om die appèl betyds voort te sit nie. Dit opsigself behoort die einde te wees van die appellant se aansoek om verlof om die appèl nou weer in te stel4.
Dit sou dan ook onnodig wees om die ander aspekte waarvoor kondonasie verlang word te oorweeg as die appèl in elk geval nie heringestel kan word nie.
So is kondonasie versoek vir die feit dat die landdros nie binne die periode van 15 dae na aflewering van die kennisgewing van appèl ʼn skriftelike verklaring ingedien het soos bedoel in Landdroshofreël 51 (8)(a) nie. Waarom die appellant nodig sou hê om kondonasie te versoek van ʼn versuim van die landdros, is duister. In elk geval sou dit die landdros vrygestaan het om te besluit dat, in ag genome die skriftelike uitspraak en redes wat toe reeds op 30 Junie 2008 gelewer is, geen so ʼn verdere skriftelike verklaring nodig was nie5.
Daar is ook nooit aangevoer dat die afwesigheid van so ʼn verdere “skriftelike verklaring” die voortsetting van die appel verhinder het nie. Die appellant was duidelik in staat om sy kennisgewing van appèl daarsonder te liasseer, en toe hy so gedoen het, het die voorgeskrewe tyd vir die voortsetting van die appèl begin loop.
Dieselfde geld vir die beweerde laat- en oningebinde liassering van die landdros se “verdere redes”, wat ook nou nie eers deel van die oorkonde uitmaak nie.
Alhoewel daar natuurlik geen so ‘n saak uitgemaak is deur of namens die applikant/appellant nie, mag egter moontlik geargumenteer word dat sy regsverteenwoordiger/s dan verkeerdelik onder die indruk verkeer het dat die appèl nie voortgesit kon word sonder die oorkonde nie. Ek is nie so seker dat dit ‘n aanvaarbare verduideliking sou wees nie, maar sal nietemin voortgaan om die meriete, en die vooruitsigte op sukses met ‘n appèl, te oorweeg.
Die volgende blyk gemenesaak te wees, of minstens dan nie vir doeleindes van hierdie appèl werklik in geskil nie:
Die appellant se voertuig is beskadig in ʼn botsing met ʼn perd terwyl hy op ʼn pad buite Griekwastad gery het.
Die grond aan weerskante van die pad het aan die respondent behoort, en staan bekend as kampe 9B en 9C. Dit vorm klaarblyklik deel van ʼn groter grondgebied van die respondent wat as meentgrond gebruik is.
Die perd het behoort aan mnr J Phothle, en was een van drie perde wat hy aangehou het in kamp 6, ʼn ander gedeelte van die respondent se meentgrond.
Die perd was op die dag van die botsing ook een van drie perde wat tussen die draadheinings aan weerskante van die pad was. Die betrokke perd het van die linkerkant (of noordelike kant, en dus die kant van die pad waaraan kamp 9B gegrens het) van die pad voor die appellant se voertuig inbeweeg. Die ander twee perde was aan die teenoorgestelde kant van die pad, en dus tussen die pad en die grensheining van kamp 9C.
Die laasgemelde twee perde het ná die botsing deur een van twee gate in laasgenoemde grensheining inbeweeg by kamp 9C.
Kamp 9C grens nie alleen aan die sogenaamde dorpsgebied van Griekwastad nie, maar spesifiek ook aan die woonbuurt Matlhomla.
Die saak wat in die besonderhede van vordering uitgemaak is teen die respondent was:
dat die perd behoort het aan “’n persoon wie die gebruiksreg van Munisipale meentgrond gehad het”; en
dat die respondent “nagelaat het om sy plig uit te oefen as eienaar van die heining langs ʼn openbare pad deur te sorg dat die heining doeltreffend is in soverre dit rederlikerwys gedoen kan word”.
Dit is duidelik dat mnr Phothle die gebruiksreg van die munisipale meentgrond gehad het, en wel van kamp 6.
Die getuienis was dat hy daardie gebruiksreg gehad het uit hoofde van ʼn ooreenkoms tussen hom en ene mnr Beukes, ingevolge waarvan mnr Beukes dit aan hom onderverhuur het en hy (Phothle) veronderstel was om toe te sien dat die grensheinings wat kamp 6 van die ander munisipale meentgrond kampe geskei het, in stand gehou word.
Die getuienis was verder dat die huurkontrak tussen Beukes en die respondent, ingevolge waarvan Beukes kamp 6 by die respondent gehuur het, ʼn soortgelyke verpligting op Beukes geplaas het.
Hierdie getuienis is nie in kruisverhoor ontsenu nie en daar is geen basis waarop die landdros se aanvaarding daarvan omvergewerp kan word nie6.
Dit is ook nie deurslaggewend vir doeleindes van die appellant se saak nie. Sy saak het nooit berus op die gebrekkige instandhouding van kamp 6 se grensheining nie. Die appellant se saak was te alle tye gegrond op die gebrekkige instandhouding van die grensheining tussen kamp 9C en die pad7.
Dit was nie werklik in geskil dat die respondent, wat wel die eienaar was van kamp 9C en van die draadheining wat dit van die padgebied geskei het, nie daardie heining instandgehou het nie en dat ʼn dier soos ʼn perd wel op die dag van die botsing deur die opening daarin sou kon beweeg het.
Die vraag is dus bloot of die respondent, soos beweer, ʼn regsplig gehad het om die betrokke heining in stand te hou.
Dit blyk dat die appellant se saak gegrond is op die blote feit dat die heining aan die respondent behoort het. Namens die appellant is in hierdie verband gesteun op die beslissings van Coreejes v Carnarvon Munisipaliteit en ʼn Ander8, Jamneck v Wagener9, Jordaan v Krone Broers en Andere10 en Enslin v Nhlapo11. Ek keer later na hierdie beslissings terug.
Die respondent se getuienis, by monde van beide die munisipale bestuurder mnr A M Mongale en mnr Phothle, was dat kamp 9C nie uitverhuur of beskikbaar gestel is vir beweiding nie. Inteendeel, dit is uitdruklik verbied. Die rede daarvoor was dat die grensheinings van kamp 9C voortdurend verdwyn het, iets wat oënskynlik toegeskryf is aan die feit dat dit aan die voormelde woonbuurt van Mathlomola gegrens het. Hierdie getuienis is hoegenaamd nie in kruisverhoor ontsenu nie.
Daar was dus na my oordeel geen getuienis dat die respondent rederlikerwys bewus moes gewees het daarvan dat diere vanaf kamp 9C na die pad sou kon beweeg het as die betrokke heining nie instandgehou is nie.
Alhoewel kamp 6 in elk geval nie aan kamp 9C gegrens het nie12, het die respondent in elk geval by wyse van ʼn skriftelike huurkontrak stappe geneem om te verseker dat daardie gebruiker, mnr Beukes, sou toesien dat diere wat in kamp 6 aangehou is, nie daaruit sou kon beweeg nie. Dit was nooit die appellant se saak dat hierdie ʼn onvoldoende stap aan die kant van die respondent was nie.
Inteendeel, en soos reeds gemeld, die appellant se saak was nooit enigsins gebaseer op die gebrekkige instandhouding van enige ander heining as dié tussen kamp 9C en die pad nie.
Onder hierdie omstandighede kon daar na my oordeel op die dag van die botsing geen sprake gewees het van ʼn regsplig om die heining tussen kamp 9C en die pad in stand te hou nie, en kon die respondent gevolglik nie regtens en deliktueel nalatig gewees het deur dit nie te doen nie.
Die voormelde beslissings waarop in hierdie verband namens die appellant gesteun is, is duidelik onderskeidbaar. In al daardie gevalle is daar inderdaad diere aangehou op die grond wat deur middel van die heining van die pad geskei is, en wel tot die kennis van die party wat in beheer was van die betrokke heining.
Dit sou dus noodwendig vir daardie party voorsienbaar moes gewees het dat, sou die heining nie instandgehou word nie, diere op die pad kon beland.
Dit is duidelik onderskeibaar van die onderhawige geval, waar die respondent geen beheer oor die perd uitgeoefen of rederlikerwys kon uitgeoefen het nie, en nie rederlikerwys kon voorsien het dat die betrokke perd, of enige ander perd of dier, vanaf kamp 9C op die pad kon beland nie.
Mnr Heymans het aan die hand gedoen dat die “kern” van die Coreejes beslissing is “dat waar daar een maal ʼn draadheining langs ʼn openbare pad opgerig is, die eienaar van daardie heining die plig het om te sorg dat die heining doeltreffend is ...”.
Dié submissie is na my oordeel ʼn oorvereenvoudiging van wat in daardie saak beslis is. Dit verloor uit die oog, eerstens, dat die verweerder-munisipaliteit in daardie geval wel in beheer van die betrokke dier was.
Dit verloor verder uit die oog dat die voorsienbaarheid van skade, ʼn geykte voorvereiste vir deliktuele aanspreeklikheid, daar uitdruklik gebaseer was daarop dat die betrokke verweerder moes geweet het dat die doel van daardie draad was “om die diere wat in die kamp is in te kamp”13, en nie bloot op die feit dat daar in elk geval tog ʼn heining was nie.
Dat hierdie ʼn korrekte vertolking van die Coreejes beslissing is, blyk ook duidelik uit die Jamneck saak. Daar is, juis met verwysing na die Coreejes saak en die feit dat daarin beslis is dat ʼn bestaande heining by padgebruikers die indruk sou skep dat diere daardeur veilig ingehok is, beslis dat die voorsienbaarheid van skade, en die regsplig om op te tree om dit te voorkom, alleen sou ontstaan “As die beheerder van die draad weet dat daar diere agter die draad is wat in die pad kan beland” en “As hy toelaat dat vreemde diere agter sy draad loop ...”14.
In die Jordaan saak is dit ook duidelik gestel dat daar eers sprake kan wees van ʼn regsplig om te waak teen skade, veroorsaak deur diere wat deur ʼn heining op ʼn pad beland, wanneer die heining inderdaad veronderstel is om diere in te kamp15.
By die aanhoor van die appèl het mnr Heymans aangevoer dat die beslissing van Loubser en ‘n Andere v Die Kgalagadi Distriksmunisipaliteit en Andere16 steun bied vir sy argument dat daar, soos wat hy dit gestel het, ‘n “absolute plig” rus op die eienaar van ‘n heining aangrensend tot ‘n pad om daardie heining in stand te hou.
Dit is eweneens ‘n oorvereenvoudiging van wat daar beslis is. Lacock R het weliswaar bevind dat daar “’n gemeenskaplike verpligting (rus) op ‘n grondeienaar om ‘n heining waaroor hy beheer het, in stand te hou”, maar wel met verwysing na die Jamneck saak, en ook die bevinding daarin dat daardie plig sou rus om iemand wat sou toelaat dat diere agter daardie draad loop.
Dit was dan ook inderdaad in die Loubser saak gemenesaak dat die betrokke verweerder (tweede verweerder) deeglik bewus was daarvan dat diere daar aangehou word deur bewoners van die tweede verweerder se grond en, wat meer is, dit toegelaat het. Die betrokke verweerder was ook bewus daarvan dat daar al voorheen juis van daardie diere op die pad beland het.
Ook op die feite is die Loubser saak dus duidelik onderskeidbaar van die onderhawige geval.
Mnr Heymans se kritiek op die landdros se beslissing tot dié effek hou dus nie water nie.
Die submissie in mnr Heymans se hoofde dat die gat in die draad van kamp 9C die “enigste rede” was waarom die perd op die pad beland het, is ook ooglopend verkeerd. Op die onbetwiste getuienis is dit duidelik dat, selfs al sou aanvaar word dat die perd uiteindelik deur die opening in die heining tussen kamp 9C en die pad in die gebied van die pad beland het, dit voorafgegaan is deur ʼn ander rede, en inderdaad die sine qua non, naamlik die feit dat die perd deur ʼn gat in die draad van kamp 6 daaruit weggekom het.
Mnr Heymans kritiseer ook die landdros se bevinding dat die perd nie noodwendig deur die opening in die heining van kamp 9C in die gebied van die pad beland het nie, maar wel langs meerdere roetes vanaf kamp 6 daarheen kon beweeg het. Mnr Heymans maak dit af as spekulasie.
In die lig van die feit dat ek van oordeel is dat daar in elk geval nie op die feite van die onderhawige geval op die respondent ʼn regsplig gerus het om kamp 9C se heining in stand te hou nie, hoef daar nie veel tyd aan hierdie kritiek afgestaan te word nie. Die vraag of die perd deur daardie heining (van kamp 9C) na die pad beweeg het, is dan ontersaaklik.
Kortliks kan egter die volgende opgemerk word in hierdie verband:
Op die getuienis was dit inderdaad moontlik dat die perd na die pad kon beweeg het langs meerdere ander roetes as deur daardie heining, nie een van welke roetes op die getuienis as onwaarskynlik aangemerk sou kon word nie.
Groot gewag is gemaak daarvan dat die ander twee perde wat ten tye van die botsing ook langs die pad was, daarna deur ʼn opening in kamp 9C se heining by daardie kamp inbeweeg het.
Daar is geen getuienis dat perde die geneigheid sou hê om ‘n gebied te verlaat op dieselfde manier as waarop hulle dit binnegegaan het nie.
Selfs al sou egter ook aanvaar word dat die ander twee perde deur die opening terug is in kamp 9C in omdat hulle vroeër deur daardie opening vanaf kamp 9C na die pad beweeg het, is daar steeds geen getuienis dat die perd wat in die botsing betrokke was, saam met hulle na die pad beweeg het nie. Dit kon totaal onafhanklik daar beland het, en dit was immers apart en eenkant van die ander twee perde, en aan die teenoorgestelde kant van die pad, onmiddellik voor die botsing.
Mnr Phothle het getuig dat hy laatmiddag van die dag voor die voorval ontdek het dat dié een perd (wat later in die botsing was) weg was en dat sy ander twee perde steeds in kamp 6 was op daardie stadium. Hy het toe die volgende dag die gat gekry waar die draad geknip was en dit herstel. Op mnr Phothle se getuienis kon die ander twee perde wat in die gebied van die pad was ten tye van die botsing, dus nie syne gewees het nie.
Mnr Heymans het dié getuienis as vals afgemaak, waarskynlik as deel van die poging om te argumenteer dat die feit dat twee van die perde ná die botsing deur kamp 9C by daardie kamp in is, op ʼn oorwig van waarskynlikhede sou beteken dat die derde perd saam met hulle vroeër deur daardie heining en opening na die pad beweeg het.
Hierdie getuienis van mnr Phothle is egter nooit in kruisverhoor aangeval nie en daar is nie op die getuienis tans voor ons enige basis waarop bevind sou kon word dat die landdros hierdie getuienis van mnr Phothle moes verwerp het nie.
Selfs al sou dit egter ook wees dat die respondent redelikerwys moes voorsien het dat ‘n dier deur die grensheining van kamp 9C op die pad sou kon beland, meen ek dat die respondent redelike stappe geneem het om dit te voorkom.
Die aanhou van diere in kamp 9C is nie toegelaat nie en is inderdaad pertinent verbied.
Vir soverre dit redelikerwys voorsienbaar moes gewees het dat diere uit kamp 6 mag ontsnap en dan so op die pad kon beland, het die respondent die nodige maatreëls ingebou vir die huurkontrak met Beukes. Daardie maatreël het gegaan oor die heining van kamp 6, en nie dié van kamp 9C nie, en sou dus nooit (soos wat mnr Heymans geargumenteer het) gesien kon word as die “delegasie” van enige verpligting wat die respondent ten aansien van kamp 9C se heining mag gehad het, nie.17
Mnr Heymans het in sy betoogshoofde aangevoer dat die appellant, indien suksesvol, in die landdroshof geregtig sou gewees het op kostes op ʼn verhoogde skaal, blykbaar op grond daarvan dat die respondent volgens hom aanvanklik valslik die botsing ontken het, toe later die “vergesogde verweer” van ʼn huurkontrak tussen die respondent en Beukes opgewerp het en ook die indruk geskep het dat van die dienste van ʼn advokaat gebruik gemaak sou word.
Mnr Heymans het nooit aan die hand gedoen dat die landdros hierdie gronde ook ten aansien van koste moes oorweeg het indien die appellant se eis afgewys sou word nie.
Ek meen in elk geval dat die “gronde” aangevoer deur mnr Heymans geen meriete het nie. Dit is nooit bewys wat daartoe gelei het dat die botsing aanvanklik in die verweerskrif ontken is nie en in elk geval is daar geen aanduiding dat daardie ontkenning gelei het tot die aanbied van enige onnodige getuienis of die aangaan van onnodige koste nie.
Die huurkontrak is nie opgewerp as ʼn selfstandige verweer nie, maar as deel van die getuienis ter weerlegging van die bewering dat die respondent aanspreeklik was vir die feit dat ʼn perd op die pad beland het. Alhoewel die kontrak laat blootgelê is, is daar eweneens geen aanduiding dat dit die appellant benadeel het nie.
Hoe die indruk dat die ander party van ʼn advokaat se dienste gebruik gaan maak, sou kon lei tot die toestaan van koste op ʼn verhoogde skaal, is duister; en dit nogal bloot omdat die respondent die verweerskrif deur ʼn advokaat laat opstel het.
Na my oordeel is daar dus geen basis waarop die landdros se afwysing van die appellant se eis en die gepaardgaande kostebevel gekritiseer kan word nie. Dit volg dus dat ek van oordeel is dat die appellant geen redelike vooruitsigte sou hê met die voorgenome appèl nie.
Bygevolg kan die aansoek om kondonasie vir die verval van die appèl nie slaag nie. Die koste daarvan, en ook die koste van die appèl, behoort dan daardie uitslag te volg. Die teendeel is dan ook nooit geargumenteer nie.
Bygevolg sou ek die volgende bevele hierin maak:
Die aansoek om kondonasie van die versuim om die appèl tydig voort te sit, en om verlof om die appèl weer in te stel, word met koste afgewys.
Die appèl word van die rol geskrap en die appellant/applikant word gelas om die koste daardeur verspil, te betaal.
______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek stem saam en dit word so gelas.
_____________________________
S A MAJIEDT
WAARNEMENDE REGTER-PRESIDENT
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms Appellant: Adv P J Heymans
In opdrag van: Van der Wall & Vennote
Nms Respondent: Adv S L Erasmus
In opdrag van: Elliott, Maris, Wilmans & Hay
1Subreëls (1) en (4) van Eenvormige Hofreël 50.
2Subreëls (a) en (b) van Eenvormige Hofreël 50 (4)
3Minister van Veiligheid en Sekuriteit v Van Rooyen en Andere, ‘n ongerapporteerde uitspraak in hierdie afdeling op 7 Mei 2010 onder saakno 580/2010, paragrawe [74] tot [79].
4P E Bosman Transport Works Committee v Piet Bosman Transport (Pty) Ltd 1980 (4) SA 794 (A) op 799D-E
5Landdroshofreël 51 (8)(a)
6S v Hadebe and Others 1997 (2) SACR 641 (SCA) op 645e-f
7Oorkonde: bl 41/14-18; bl 8 (para 5)
8 1964 (2) SA 454 (C)
9 1993 (2) SA 54 (C)
10 1999 (3) All SA 57 (C)
11[2008] ZASCA 75; 2008 (5) SA 146 (SCA)
12Oorkonde: bl 172
13Bl 457E-F van die verslag
14Bl 61A-C van die verslag
15Bl 62g-h van die verslag
16Ongerapporteerde beslissing in hierdie Afdeling op 23 April 2010 onder saaknommer 744/2007
17Ibid, bl 11