South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2010 >>
[2010] ZANCHC 17
| Noteup
| LawCite
Pela v S (CA & R 21/2010) [2010] ZANCHC 17 (28 May 2010)
Download original files |
-
Rapporteerbaar: Ja / Nee
Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë hof, Kimberley)
Saak No: CA&R 21/2010
Saak Aangehoor: 24/05/2010
Datum gelewer: 28/05/2010
In die saak tussen:
Patrick Pela Appellant
en
Die Staat
Respondent
Coram: Olivier R et Mjali WnR
UITSPRAAK
Olivier R:
Die appellant, mnr Patrick Pela, is in die Streekhof skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en gevonnis tot 15 maande gevangenisstraf. Hy kom nou met verlof van die landdros in hoër beroep teen beide sy skuldigbevinding en vonnis.
Die aanklag was dat die appellant en sy mede-beskuldigde, mnr Gert Van der Linde, die klaer aangerand het deur hom met klippe te gooi met die opset om hom ernstig te beseer.
Beide die appellant en Van der Linde het onskuldig gepleit. Hulle weergawe was dat hulle na die klaer se huis is om bier op skuld te koop en dat, toe hy nie bereid was daartoe nie, hulle daar weg is sonder dat daar enige aanranding plaasgevind het.
Wat gemenesaak was, of minstens nie ernstig in geskil nie, is dat die appellant en Van der Linde vroeër die betrokke dag ook by die klaer se huis was en dat hulle toe die aand weer daar opgedaag het en buite staan en roep het na die klaer, want die hek was gesluit. Die klaer is op ‘n stadium na buite om met hulle te praat en hy is weer in sy huis in om ‘n kierie te gaan haal. Hy is toe weer uit. Daar was ‘n stryery en op ‘n stadium is die polisie geskakel. Dit is daarna wat die appellant en Van der Linde daar weg is.
Namens die vervolging is die getuienis aangebied van die klaer en sy tienjarige dogter.
Dit was die appellant en Van der Linde se weergawe dat die stryery buite gegaan het oor die feit dat die klaer nie vir hulle bier op skuld wou gee nie. Die klaer se weergawe (soos gestaaf deur die dogter) was dat hy dat hy al maande tevore opgehou het om bier te verkoop. Volgens die klaer sou dit die appellant gewees het wat hom konfronteer het omdat hy (die klaer) in ‘n ander saak as getuie betrokke was. Volgens hom wou die appellant nie hê hy moet getuig nie. Ek meen egter dat dit nie deurslaggewend is wat presies aanleiding gegee het tot die onenigheid nie.
Die klaer se getuienis was dat hy toe daar gevloek is en omgedraai het om sy kierie in die huis te gaan haal, en toe deur ‘n klip van agter getref is. Volgens die klaer sou sy dogter op daardie stadium, dit wil sê toe hy die eerste keer uit is en voordat hy die kierie gaan haal het, by hom gewees het en sou sy kon sê wie dit was wat hom toe met ‘n klip gegooi het toe hy oppad was om weer die huis binne te gaan om die kierie te gaan haal.
Die dogter se getuienis was egter dat sy nie by die klaer was op daardie stadium nie. Volgens haar het sy by die een of ander paal gestaan en kon sy glad nie eers hoor waaroor daar tussen die klaer, die appellant en Van der Linde gepraat is nie.
Volgens die dogter sou beide die appellant en Van der Linde (want sy het gepraat van “hulle”) op daardie stadium klippe na die klaer gegooi het, maar het net een van die klippe die klaer getref. Die klaer het natuurlik geen melding gemaak van meerdere klippe wat op daardie stadium gegooi is, of enige klippe wat hom gemis het, nie.
Die verdere probleem is dat dit, op die dogter se getuienis, blyk asof sy nie op daardie stadium eers buite was waar sy sou kon gesien het wie die klippe gooi nie. In haar getuienis in hoof het sy gesê dat sy in die huis in is toe die klaer gevloek word en dat hulle (klaarblyklik verwysende na die appellant en Van der Linde) toe die klaer met klippe gegooi het. Toe sy later gevra is of sy dan steeds buite was op die stadium toe die klaer by die huis uitgekom het met die kierie, was haar antwoord “Ek was in die huis”, wat ook die indruk skep dat sy reeds in die huis was toe die klaer die kierie gaan haal het.
Haar getuienis in hierdie verband moet ook gelees word saam met haar getuienis in hoof dat sy op daardie stadium vir Van der Linde gesien het waar hy klippe optel en die klaer “wil” gooi.
Die klaer se getuienis was verder dat, toe hy uit is met sy kierie, sy vrou onder andere ook uit is en dat Van der Linde toe klippe na hom gegooi het, tot so ‘n mate dat hy agter sy vrou moes wegkruip. Sy vrou is om die een of ander rede nooit geroep om hieroor te getuig nie, en so ook nie ‘n ouer seun wat skynbaar ook volgens die klaer op daardie stadium buite was nie.
Hoe dit ookal sy, toe die dogter in kruisverhoor gevra is of daar klippe gegooi is ook op daardie stadium, en dus in die teenwoordigheid van die klaer se vrou, het sy dit ontken. Toe sy daarop gewys is dat die klaer se getuienis wel tot dié effek was, was sy egter net die volgende oomblik heel bereid om haarself te weerspreek ten einde die klaer se weergawe te ondersteun.
Insiggewend was die landdros in sy uitspraak dan ook nie bereid om verder te gaan nie as om te bevind dat Van der Linde “verseker – is gesien met die klippe gooi”. Hierdie bevinding was vermoedelik gegrond op die klaer se getuienis oor die gebeure toe hy met sy kierie na buite is, want volgens die klaer het hy op daardie stadium gesien hoe Van der Linde gooi. Die dogter, daarenteen, het nie vir Van der Linde uitgesonder as een wat sy beslis sien gooi het op daardie stadium nie. Die landdros het nie in soveel woorde bevind dat die klaer vroeër, voordat hy die kierie gaan haal het, ten aanskoue van die dogter deur beide die appellant en Van der Linde met klippe gegooi is nie. Dit wil dus voorkom asof die landdros nie bereid was om te bevind dat die dogter op die stadium voor die kierie gehaal is self gesien het hoe enige van die appellant of Van der Linde klippe gooi nie.
Die klaer se getuienis in hoof was tot die effek dat, alhoewel daar beide voor en nadat hy die kierie in die huis gaan haal het, klippe na hom gegooi is, hy net die een keer getref is voordat hy die huis binne is om sy kierie te gaan haal. In kruisverhoor het hy egter vir die eerste keer beweer dat hy ook getref is nadat hy die kierie gaan haal het, wat eweneens onversoenbaar is met die dogter se weergawe.
Die klaer het in sy getuienis vorendag gekom met die bewering dat die appellant op ‘n stadium ‘n panga uitgehaal het en daarmee teen die hek geslaan het. Hiervan het die dogter geen melding gemaak nie. Ek keer later weer terug na die kwessie van die panga.
Die landdros het egter verkeerdelik bevind dat die dogter die klaer se getuienis oor die panga gestaaf het deur te sê dat “sy het ‘n mes gesien”. Dit was nooit die dogter se getuienis nie. Sy het bloot getuig dat “hulle” die klaer met ‘n mes wou steek, en nie dat sy ‘n mes gesien het nie; laat staan nog in die besit van spesifiek die appellant. Dit was ook nie op haar getuienis duidelik of dié gebeure dalk eers plaasgevind het nadat hulle reeds gaan slaap het nie.
Die gevare verbonde aan die getuienis van ‘n jong kind is bekend1 en na my oordeel het die landdros nie voldoende ag daarop geslaan nie.
Die klaer se getuienis oor hoekom hy sy kierie gaan haal het, is ook vreemd. Volgens hom was dit om homself te verdedig. Op sy eie weergawe was die appellant en Van der Linde egter op daardie stadium buite die perseel en kon hulle nie inkom nie. ‘n Kierie sou vanselfsprekend ook nie ‘n baie effektiewe afweermiddel wees teen ‘n stortvloed van klippe nie.
Hiermee saam moet die weergawe van die appellant en Van der Linde gesien word. Beide van hulle het getuig, en die getuienis van me C Makaline is ook namens hulle aangebied. Dit was hulle aldrie se getuienis dat die stryery ontstaan het toe die klaer geweier het om bier op skuld te verkoop en dat daar geen klippe gegooi is nie.
Die landdros het die appellant se getuienis dat hy Van der Linde weggetrek het toe die polisie ontbied is, gekritiseer as onwaarskynlik in die lig daarvan dat beide van hulle uiteindelik gearresteer is. Ek dink dit neem die saak geensins verder nie en vir soverre hiermee gesuggereer is dat die klaer vir die polisie dieselfde vertel het, sou dit natuurlik ontoelaatbaar wees2.
Die landdros het dit ook onwaarskynlik gevind dat die klaer ‘n kierie sou gaan haal het as die appellant en Van der Linde niks gedoen het nie. Dit was nooit die appellant se saak dat daar niks gebeur het voordat die klaer die kierie gaan haal het nie. Sy getuienis was dat daar wel ‘n stryery tussen Van der Linde en die klaer was, dat hulle op mekaar geskel het en dat Van der Linde ook gedrink was. Inteendeel, volgens hom moes hy Van der Linde daar wegtrek.
Moontlike teenstrydighede oor wie van die klaer se seun of sy dogter op watter stadium eerste uit die huis was, is na my oordeel nie wesenlik nie. Ek meen ook dat dit nie van veel belang is dat daar nie aan die staatsgetuies gestel is dat me Makaline ook oor die voorval sou kon getuig nie. Dit was nie deel van die appellant en Van der Linde se verweer nie, maar bloot getuienis van wie ook die gebeure waargeneem het en namens die appellant en Van der Linde sou kon getuig.
Ek meen dat die appellant se weergawe redelik moontlik waar is en dat die appèl teen sy skuldigbevinding dus behoort te slaag.
Dit maak dit onnodig om in besonderhede te handel met die landdros se bevinding dat die getuienis oor die panga die aanklag “aangevul” het3, dat die panga vrees ingeboesem het by die klaer en dat beide die appellant en Van der Linde dus skuldig was nie alleen aan die gooi van klippe nie, maar ook aan die rol van die panga.
Daar was geen getuienis dat die kappery teen die hek met die panga, selfs al sou aanvaar word dat dit wel bo redelike twyfel bewys is, by die klaer vrees ingeboesem het nie. Inteendeel, die klaer se getuienis was dat ‘n dronk persoon, duidelik verwysende na die appellant en Van der Linde, niks aan hom sou kon gedoen het nie.
Daar was op die beste vir die vervolging dan in elk geval ook geen getuienis dat Van der Linde iets met die panga te doen gehad het nie.
Dit is ook onduidelik op watter basis daar bevind is dat die appellant die opset gehad het om ernstig te beseer. Sou vrees inboeseming met ‘n panga voldoende vir so ‘n bevinding gewees het4? Daar was geen getuienis van beserings veroorsaak deur die klip/pe nie, of oor die grootte van die klip/pe wat die klaer getref het nie.
In die lig van die slotsom waartoe reeds gekom is, is dit onnodig om oor die vonnis te besin.
Bygevolg word die volgende bevel hierin gemaak:
Die appèl slaag en die appellant se skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.
____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
PROVINSIALE AFDELING
Ek stem saam.
____________________
G N Z MJALI
WAARNEMENDE REGTER
NOORD-KAAPSE
PROVINSIALE AFDELING
Nms Appellant: Adv J Schreuder
In opdrag van: Engelsman Magabane. Ing, Kimberley
Nms Respondent: Adv M G W Baganeneng
Namens: Direkteur van Openbare Vervolgings, Kimberley
1 S v R 1977 (1) SA 9 (TPA) 12C en 15H
2 Law of Evidence, Schmidt & Rademeyer, uitgawe 7, 14-3
3 vermoedelik verwysende na artikel 88 van die Strafproseswet, 51 van 1977
4 S v Pasfield 1974 (2) PH H 92 (AD)