South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2009 >>
[2009] ZANCHC 71
| Noteup
| LawCite
November and Others v S (CA&R247/04) [2009] ZANCHC 71 (27 November 2009)
Download original files |
VERSLAGWAARDIG JA/NEE
SIRKULEER ONDER REGTERS JA/NEE
SIRKULEER ONDER LANDDROSTE JA/NEE
IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE HOË HOF, KIMBERLEY)
SAAK NO.: CA&R247/04
DATUM AANGEHOOR: 3/11/2009
DATUM GELEWER: 27/11/2009
In die saak tussen:
STEVEN NOVEMBER Eerste Appellant
JONAS MAKOPU Tweede Appellant
CHRISTOPHER BOTHA Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: WILLIAMS R et MJALI WNR:
UITSPRAAK OP APPÉL
WILLIAMS R
1. Die drie appellante is op 13 Maart 2003 in die Streekhof, Kimberley, skuldig bevind aan ‘n oortreding van artikel 18(2)a) van Wet 17 van 1956 (sameswering om te roof). Die eerste en tweede apppellante is ook skudigbevind op ‘n aanklag van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede.
Die eerste en tweede appellante is effektiewelik gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf en die derde appellant tot 5 jaar gevangenisstraf.
2. Die appellante kom nou in hoër beroep teen hul skuldigbevindings.
3. Die aanklagte waarop die appellante skuldig bevind is spruit voort uit ‘n voorval op 24 Junie 2000 waartydens ‘n rooftog uitgevoer is te Kwikspar, Schmidsdrifweg, Kimberley.
4. Ses verdagtes is in verband met die rooftog gearresteer. Die staat het hul saak teen een van die verdagtes, Jonas Nkademeng, aanvanklik beskuldigde 2 in die verhoor, teruggetrek en het hy voorts in terme van artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977 vir die staat getuig.
Die eerste, tweede en derde appellante was onderskeidelik beskuldigdes 6, 3 en 5 in die verhoor. Beskuldigdes 1 en 4 het nie appél aangeteken nie.
5. Die rooftog het vroegoggend plaasgevind net nadat mnr en mev Mostert, die eienaars van die Kwikspar, die winkel oopgesluit het om hul voorbereidingstake vir die nuwe werksdag te verrig. Die egpaar is binne die winkel oorrompel deur ‘n aantal mans wat binne die perseel op hulle gewag het.
6. Mev Mostert is eerste oorval toe sy die kantoor ingaan om die ketel aan te skakel. Een van die rowers het haar gewurg en op haar gesit. Toe mnr Mostert tot haar redding kom is hy deur een van die rowers (beskuldigde 1) geskiet. Gelukkig vir die egpaar het mnr Mostert, na ‘n struweling met die rower dit reggekry om sy eie vuurwapen in die kluis te bekom. Nadat hy begin skiet het het die rowers weggehardloop en het slegs beskuldigde 1 wat gewond is in die skietery, agtergebly.
7. Beskuldigde 1 is deur die Mosterts in die kluis toegesluit terwyl hulle die polisie gebel het. R1040,00 en ‘n goue hangertjie is in die rooftog gesteel. Die goue hangertjie en R420,00 kontant is later op die persoon van beskuldigde 1 gevind.
Behalwe vir beskuldigde 1, kon die klaers nie een van die ander rowers uitken nie.
8. Die staatsaak berus hoofsaaklik op die getuienis van mnr Nkademeng soos gestaaf deur die getuienis van beskuldigde 1. Dit is die aanvaarding deur die verhoorhof van hierdie getuienis wat die basis van die appél vorm.
9. Namens die appellante word aangevoer dat die verhoorhof fouteer het deur nie die getuienis van Nkademeng en beskuldigde 1 met die nodige versigtigheid waarmee deelnemers se getuienis beoordeel moet word, hanteer het nie.
10. Die hoofkritiek teen Nkademeng, behalwe die feit dat hy ‘n deelnemer was, is dat hy ‘n selferkende leuenaar is. Hy het aanvanklik in sy waarkuwingsverklaring ‘n verontskuldigende weergawe voorgehou asook in sy borgaansoek. In sy getuienis in die verhoorhof het hy erken dat die vorige weergawes leuens was. Wat beskuldigde 1 betref is die kritiek dat hy ooglopend ‘n afgewaterde weergawe van sy deelname aangebied het en ook dat sy weergawe in sekere opsigte teenstrydig is met dit van Nkademeng.
11. Nkademeng se getuienis word vervolgens opgesom. Hy getuig dat hy deur die derde appellant , ‘n polisieman, genader is wat hom vertel het van ‘n werk wat beplan word. Daarna het hulle by die eerste appellant, wat voorheen vir die Mosterts in die winkel gewerk het, se huis ontmoet om die rooftog te beplan. Al drie die appellante, sowel as beskuldigde 4 was teenwoordig by hierdie ontmoetings.
12. Die eerste appellant het die uitleg van die winkel geken sowel as die gewoontes van die Mosterts. Hy het aan hulle verduidelik dat hulle by ‘n venster kan ingaan wat nie diefwering gehad het nie en ook waar hulle binne die winkel sou wag vir die Mosterts om oop te sluit, watter tyd van die maand die mees winsgewend sou wees om die winkel te roof ens.
Die derde appellant wat die swaer is van die eerste appellant, sou die vuurwapens verskaf – sy eie dienswapen sowel as ander vuurwapens.
13. Op die betrokke nag het Nkademeng vir beskuldigde 4 wakker gemaak waarna hulle met ‘n wit “Chev Rekord” voertuig wat beskuldigde 4 bestuur het, vir die eerste appellant en toe vir die tweede appellant opgetel het. Hulle is daarna na die derde appellant, maar kon hom nie in die hande kry nie. Daar is toe besluit om na beskuldigde 1 se woning te gaan. Nkademeng het vir beskuldigde 1 wakker geklop en vertel van ‘n werk wat hulle vir hom het te Hartswater. Beskuldige 1 het hulle toe met sy vuurwapen vergesel. Volgens Nkademeng was ‘n persoon met die naam “Lang Newu” ook saam, maar hy was dronk en het nie aan die rooftog deelgeneem nie.
14. By die winkel aangekom het die eerste appellant hulle gewys by watter venster om in te gaan en het hy hulle ook gewys waar hulle moet wag totdat die Mosterts die oggend die winkel oopsluit.
15. Nkademeng se getuienis is voorts dat mev Mostert eerste by die kantoor op die boonste verdieping ingekom het. Die tweede appellant het haar oorrompel, haar gewurg en op haar gaan sit. Mev Mostert het geskreeu waarna mnr Mostert die kantoor ingekom het en met die tweede appellant gestoei het. Een van óf beskuldige 1 óf beskuldigde 4 het skote afgevuur na mnr Mostert. Mnr Mostert het daarna sy eie vuurwapen geneem en ‘n skoot na beskuldigde 1 geskiet. Hulle het toe almal weggehardloop en vir beskuldigde 1 agtergelaat.
16. Beskuldigde 1 se weergawe van die gebeure voordat die Mosterts in die winkel aangeval is, stem in breë trekke ooreen met die van Nkademeng. Hy getuig ook dat Nkademeng hom in die vroeë oggendure wakker gemaak het en dat hy daar weg is met Nkademeng en die eerste en tweede appellante in ‘n wit motorvoertuig wat bestuur is deur beskuldigde 4. Die derde appellant was nie by nie. Sy getuienis is ook dat hy eers toe hulle by die winkel kom vertel is van die beplande roof. Hy ontken egter dat daar nog ‘n persoon, die Lang Newu waarna Nkademeng verwys het, teenwoordig was.
17. Die enigste wesenlike verskille in beskuldigde 1 se weergawe en dit van Nkademeng is wat sy eie deelname in die rooftog betref. So is sy getuienis byvoorbeeld dat Nkademeng hom oorreed het om saam met die ander manne te ry met ‘n storie dat hulle hom sou neem na ‘n persoon wat dagga verkoop. Dit is dan ook sy verduideliking vir die geld wat die polisie op hom gevind het. Hy ontken dan ook dat hy die oggend ‘n vuurwapen saamgeneem het of enigsins hanteer het. Sy verduideliking van hoe hy die skietwond opgedoen het is dat hy in ‘n toilet op die perseel weggekruip het en toe ‘n skoot gehoor het. Toe hy ondersoek gaan instel het hy per ongeluk in ‘n koeël “vasgeloop” waarna hy aangerand is deur die Mostert egpaar.
18. Die appellante het ook in die verhoor getuig. Hul getuienis is bloot dat hulle niks te doen gehad het met die beplanning van die rooftog of die roof self nie en dat eerste en tweede appellant op die betrokke stadium by hul huise was en die derde appellant aan diens was. Hulle onderskeie vroue het ook getuig en hul alibis bevestig.
19. Die vraag is nou of die verhoorhof korrek was om die weergawes van die appellante te verwerp en Nkademeng se getuienis te aanvaar.
20. Daar is drie hoofredes waarom ‘n deelnemer se getuienis met versigtigheid behandel moet word: eerstens omdat hy uit die aard van die saak self ‘n krimineel is; tweedens omdat hy die hoop mag koester dat hy n verminderde vonnis sal kry indien hy teen die beskuldigdes getuig, of soos in die huidige geval met Nkademeng ‘n vrywaring van vervolging kan bewerkstelling; en derdens dat die deelnemer, as gevolg van sy besondere kennis van die betrokke misdryf sy leuens so kan inklee dat dit die skyn van waarheid kan verwek.
21. In R v Ncanana 1948(4) SA 399(A) verklaar Streicher AR die posisie as volg te 405 en 406 daarvan:
“The cautious Court or jury will often properly acquit in the absence of other evidence connecting the accused with the crime, but no rule of law or practice requires it to do so. What is required is that the trier of fact should warn himself . . .of the special danger of convicting on the evidence of an accomplice . . . The risk that he may be convicted wrongly . . . will be reduced, and in the most satisfactory way, if there is corroboration implicating the accused. But it will also be reduced if the accused shows himself to be a lying witness or if he does not give evidence to contradict or explain that of the accomplice. And it will also be reduced, even in the absence of these features, if the trier of fact understands the peculiar danger inherent in accomplice evidence and appreciates that acceptance of the accomplice and rejection of the accused is, in such circumstances, only permissible where the merits of the former as a witness and the demerits of the latter are beyond question.”
22. Dit is myns insiens duidelik dat die verhoorhof bedag was op die gevare verbonde aan die getuienis van Nkademeng en het hy benewens die feit dat hy bevind het dat Nkademang ‘n goeie getuie was, wat by sy weergawe gehou het, ook ander betroubaarheidswaarborge vir die aanvaarding van sy getuienis gesoek.
23. Nkademeng het ‘n gedetailleerde weergawe aan die verhoorhof voorgehou waarvan die waarkynlikhede nie gering geskat moet word nie.
24. Hy identifiseer vir die eerste appellant as die persoon wat die beplanning hanteer het en dit kan nie as toevallig beskou word dat die eerste appellant op ‘n stadium by die winkel gewerk het en dus die uitleg daarvan en gewoontes van die eienaars geken het nie. Die getuienis is dat die eerste appellant en Nkademeng mekaar nie vooraf geken het nie.
25. Wat betref die tweede appellant, het Nkademeng hom ook nie vooraf geken nie, maar die getuienis dui daarop dat die eerste en tweede appellante op ‘n stadium saamgewerk het by ‘n hotel, dat hulle naby mekaar woon en dat die tweede appellant by die eerste appellant gekuier het.
26. Die derde appellant is vêrlangs familie van Nkademeng en ook die swaer van die eerste appellant. Vanweë sy werk as polisieman was hy in ‘n posisie om vuurwapens te verskaf. Toe hy die spesifieke nag nie opgespoor kon word nie is beskuldigde 1, ‘n daggahandelaar wat ‘n vuurwapen besit, ingetrek.
27. Beskuldigde 4 is ‘n man wat voertuie herstel. Hy het dan ook die vervoer verskaf.
28. Die legkaaart pas perfek. Die kanse is uiters skraal dat Nkademeng hierdie manne, sommige wat hy geken het, anders nie, so goed kon verbind, nie net met mekaar nie maar ook ten opsigte van hulle rolle, indien hulle nie betrokke was nie.
29. Op Nkademeng se weergawe alleen is die waarskynlikhede hoog gestapel teen die appellante. Dit eindig egter nie hier nie. Beskuldige 1 bied stawing vir die getuienis van Nkademeng wat die betrokkenheid van die eerste twee appellante betref. Daar kan na my mening ook nie sprake wees van ‘n sameswering tussen Nkademeng en Beskuldigde 1 om die appellante te impliseer nie, die weersprekings in hulle getuienis is aanduidend daarvan.
30. Wanneer die getuienis in totaliteit oorweeg word is die risiko van ‘n verkeerdelike skuldigbevinding ten opsigte van die eerste en tweede appellante myns insiens bevredigend verminder.
31. Na my mening het die staat sy saak teen die eerste en tweede appellante bo redelike twyfel bewys en kan hul appélle dus nie slaag nie.
32. Wat die derde appellant betref is die posisie ietwat anders. Alhoewel die getuienis van Nkademeng, wat sy betrokkenheid in die beplanning van die rooftog betref, die geheelbeeld van die prentjie in perspektief plaas is daar geen stawing daarvoor of ander getuienis wat hom betrek by die voorval nie.
33. Die suspisie dat die derde appellant betrokke was by die beplanning van die rooftog is amper oorweldigend. Dit is egter nie die maatstaf waaraan strafsake beoordeel word nie. In die
afwesigheid van enige ander getuienis, is dit veiliger en gepas dat die derde appellant die voordeel van die twyfel gegun word.
In die omstandighede word die volgende bevele gemaak;
a) Die appél ten opsigte van die eerste en tweede appellant word van die hand gewys.
b) Derde appellant se appél slaag. Die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van die derde appellant word ter syde gestel.
____________________
C.C WILLIAMS
REGTER
Ek stem saam.
_____________________
G.N.Z MJALI
WAARNEMENDE REGTER
Nms. Appellante: Mnr Titus
Desmond Appie Ing
Nms. Respondent: Adv Hollander
Kantoor van die Direkteur van openbare Vervolgings