South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2009 >> [2009] ZANCHC 61

| Noteup | LawCite

FH Swanepoel Plant Hire CC v PMG Mining (Pty) Ltd (342/09) [2009] ZANCHC 61 (26 June 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee

IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

[Noord-Kaap Hoë Hof, Kimberley]



Saaknommer: 342/09

Datum Verhoor: 2009-06-12

Datum Gelewer: 2009-06-26


In die saak van:


FH SWANEPOEL PLANT HIRE CC APPLIKANT



versus



PMG MINING (PTY) LTD RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Die Applikant het aansoek gedoen vir ‘n bevel ingevolge waarvan gelas word dat die Respondent toegang aan die Applikant verleen tot die Respondent se perseel te Bishop Myn en dat die Applikant toegelaat word om 10 000 ton mangaanerts wat hy ontgin het, te verwyder en te verkoop. Verdere regshulp waarna ek tegelegenertyd sal verwys is ook aangevra..

  2. By ooreenkoms tussen die partye is daarna ‘n bevel uitgereik waarvolgens die Respondent verbied is om die 10 000 ton mangaanerts, of enige gedeelte daarvan, vanaf die Respondent se mynperseel te verwyder en/of te verkoop.

  3. Die tweede gedeelte van die Applikant se Kennisgewing van Mosie was verkeerd bewoord en daarom is daar ‘n aansoek gebring om die Kennisgewing van Mosie te wysig om bykomend voorsiening te maak vir die inbetaling van die opbrengs van die voormelde verkoping in die Applikant se prokureur se trustrekening, hangende die instel van ‘n aksie deur die Applikant. Aangesien daar geen opponering teen hierdie aansoek was nie, is die wysiging toegestaan.

  4. n Kondonasie-aansoek deur die Respondent ten aansien van die laat liassering van sy antwoordende eedsverklaring is nie deur die Applikant opponeer nie en is eweneens toegestaan.

  5. Die geskil tussen die partye spruit voort uit ‘n skriftelike ooreenkoms tussen hulle aangegaan met die Applikant as mynkontrakteur en die Respondent as myneienaar. Daarvolgens is die Applikant gekontrakteer om te myn by die Respondent se mynperseel, Bishop Myn, op die Kuruman-Postmasburg pad. ‘n Dispuut het tussen die partye ontstaan, meer bepaald aangaande die kwaliteit van mangaanerts wat deur die Applikant gemyn is. Ek sal later weer daarna verwys.

  6. Ten einde die geskil wat ontstaan het by te lê is daar verskeie vergaderings gehou deur verteenwoordigers van die partye. Ek moet nou alreeds uitwys dat die Respondent ontken dat die persone wat by die vergadering hier ter sake en waarna ek aanstons sal verwys, behoorlik gemagtig en bevoeg was om namens die Respondent sekere besluite te neem, welke die onderwerp vorm van dié aansoek deur die Applikant. Een sodanige vergadering is gehou op 11 Oktober 2008. Verskeie van die Respondent se werknemers was daar teenwoordig, onder andere ook die mynbestuurder. Die notule van hierdie en ander vergaderings is aangeheg tot die stukke as aanhangsels. By die voormelde vergadering van 11 Oktober 2008 is ‘n ooreenkoms, wat as “FHS 1” tot die Applikant se funderende stukke aangeheg is, aangegaan. Dit blyk uit dié betrokke notule dat daar op daardie stadium ongeveer 10 000 ton mangaanerts gemyn was en wat gereed was om verkoop te word. Die Respondent het egter klaarblyklik ‘n wesenlike probleem gehad met die graad van die mangaanerts. Daar is toe deur ene Mnr. Swanepoel jnr namens die Applikant ‘n voorstel gemaak om die reeds ontginde mangaanerts te verkoop aan ‘n beskikbare koper. Daar is volgens die notule ooreengekom dat die Applikant dié 10 000 ton mangaanerts kon verkoop en dat die Respondent 50% van die opbrengs sou betaal aan die Applikant op sy rekening en dat die ander 50% aan die Applikant voorgeskiet sou word as ‘n lening.

  7. Nie net het die Respondent die bevoegdheid van sy werknemers aangeval om dié bepaalde ooreenkoms (“FHS 1”)soos voormeld aan te gaan met die Applikant nie, maar is vraagtekens ook geplaas agter die egtheid van dié ooreenkoms aangesien dit op een van die Applikant se briefhoofde verskyn. Verder is kritiek uitgespreek daarop dat die persoon wat namens die Respondent sou onderteken het op dié ooreenkoms se naam nie daar verskyn nie. Daar verskyn bloot die woorde “Bishop PMG Mine”.

  8. Die regshulp aangevra deur die Applikant kom neer op ‘n tussentydse interdik pendente lite. Die vereistes vir ‘n tussentydse interdik is as volg neergelê deur Corbett R, soos hy toe was, in LF Boshoff Investments (Pty) Ltd v Cape Town Municipality 1969(2) SA 256 (C) te 267 A-F:

(a) that the right which is the subject-matter of the main action and which he seeks to protect by means of interim relief is clear or, if not clear, is prima facie established, though open to some doubt;

(b) that, if the right is only prima facie established, there is a wellgrounded apprehension of irreparable harm to the applicant if the interim relief is not granted and he ultimately succeeds in establishing his right;

(c) that the balance of convenience favours the granting of interim relief; and

(d) that the applicant has no other satisfactory remedy.”

Sien verder ook:

Eriksen Motors Welkom Ltd v Protea Motors Warrenton 1973(3) SA 685 (A) te 691.

Ek bespreek vervolgens nou hierdie voorvereistes seriatim met verwysing na die beweringe in die stukke voor my.

  1. Wat betref die prima facie reg steun die Applikant, soos aangedui hierbo, op ‘n geskrewe ooreenkoms ingevolge waarvan ‘n ooreenkoms bereik is tussen die partye dat die Applikant 10 000 ton mangaanerts mag verkoop. Die Respondent se ontkenning van die bevoegdheid en magtiging van die persone om sodanige besluit namens die Respondent te neem by die betrokke vergadering en om die ooreenkoms (“FHS 1”) te onderteken namens die Respondent gaan eenvoudig net nie op nie. Uit die notule van dié bepaalde vergadering, sowel as die notules van ander vergaderings, blyk dit duidelik dat sommige van hierdie werknemers by al die vergaderings teenwoordig was en dat daar ‘n indringende soeke was deur beide partye om ‘n oplossing vir die kroniese probleme wat daar toe ontstaan het te vind. Ek is tevrede dat die Applikant ten minste ‘n prima facie reg gevestig het wat weliswaar oop is vir ‘n mate van twyfel. Die toets is op hierdie stadium egter nie of die Applikant op ‘n oorwig van waarskynlikhede sodanige reg bewys het nie.

  2. Die volgende aspek wat behandel word is die vereiste van ‘n gegronde vrees van onherstelbare skade. Uit die stukke is dit duidelik dat die Respondent ernstige probleme ondervind om die Applikant te betaal vir sy dienste as mynkontrakteur. Die situasie is só kritiek dat een van die Respondent se eie werknemers, ene “Nooientjie”, volgens die notules herhaalde kere daarop gewys het tydens sodanige vergaderings dat Applikant erg benadeel word deurdat hy behoorlik presteer ingevolge die partye se ooreenkoms, maar dat die Respondent nie sy deel van die kontrak nakom nie. Uiteraard kon die Applikant nie ‘n eedsverklaring van dié bepaalde werknemer en andere bekom nie en is die Respondent uitgenooi om sodanige eedsverklarings voor die Hof te plaas. Hiervoor het die Respondent se advokaat, Me. Botha, die Applikant gekritiseer in haar betoogshoofde. Sodanige kritiek gaan nie op nie, want die betrokke potensiële verklaarders is uiteraard in die Respondent se diens en kan daar beswaarlik van hulle verwag word om as’t ware die hand wat hulle voed te byt deur namens die Applikant in hierdie onderhawige geding eedsverklarings te maak. Ek is daarvan oortuig dat op die stukke voor my die Applikant wel ‘n gegronde vrees het dat hy onherstelbare skade berokken sal word.

  3. Wat betref die balans van gerief is ek die mening toegedaan dat die balans van gerief ongetwyfeld die Applikant bevoordeel. Al wat die Applikant verlang is dat die mangaanerts verkoop word deur hom en dat die opbrengs daarvan by sy prokureur se trustrekening inbetaal word, hangende die beslegting van die geskil in die hoofaksie tussen hom en die Respondent. Daar kan na my mening geen benadeling vir die Respondent wees nie, want sou hy suksesvol wees in die hoofaksie, sou hy geregtig wees op die opbrengs in die prokureur se trustrekening. Aan die ander kant weer, indien die aangevraagde regshulp nie toegestaan word nie, is dit vir die Respondent moontlik om die mangaanerts te vervreem en sou die Applikant geen inligting of getuienis kon voorhou wat daarvan geword het en wat die opbrengs daarvan is nie. Gevolglik is ek tevrede dat die Applikant ook hierdie vereiste bewys het.

  4. Daar is na my mening geen ander bevredigende remedie, anders as hierdie tussentydse interdik hangende die instel van die hoofgeding, beskikbaar aan die Applikant nie.

  5. Dit is tot ‘n mate nodig om die meriete in die voorgenome hoofaksie te oorweeg wanneer oorweging daaraan geskenk moet word of aan die Applikant wel ‘n tussentydse interdik toegestaan moet word. Hierdie aspek is as volg geformuleer in die saak van Webster v Mitchell 1948(1) SA 1186 te 1189 deur Clayden R:

The proper manner of approach I consider is to take the facts as set out by die applicant, together with any facts set out by the respondent which the applicant cannot dispute, and to consider whether, having regard to the inherent probabilities, the applicant could on those facts obtain final relief at a trial. The facts set up in contradiction by the respondent should then be considered. If serious doubt is thrown on the case of the applicant he could not succeed ..”

  1. Die Respondent het gepoog om twyfel op die Applikant se saak te werp deur twee aspekte te berde te bring, naamlik die aspek waarna ek alreeds verwys het, te wete die gebrek aan bevoegdheid van die persoon wat die ooreenkoms waarop die Applikant hierin steun te onderteken namens die Respondent. ‘n Tweede aspek wat geopper is is die kwessie van die dispuut wat daar bestaan tussen die partye aangaande die kontraktuele bepalings en die nakoming daarvan aldan nie deur die Applikant. Daar is namens die Respondent deur Me Botha die submissie gemaak dat op die Applikant se eie weergawe die Applikant nie die graad van mangaanerts kan bepaal nie en dat daar derhalwe ‘n dispuut daaraangaande bestaan. Tóg blyk dit duidelik uit die partye se hoofooreenkoms, te wete die mynkontrak en wel klousule 6.4 daarvan, saamgelees met par. 1 en 2.1 van Aanhangsel A daartoe, dat die graad (kwaliteit) van die mangaanerts die myneienaar (Respondent) se kontraktuele verantwoordelikheid is. In klousule 6.4 word uitdruklik ooreengekom tussen die partye dat die Applikant sal verseker dat ‘n minimum van 10 000 ton per maand van finale produk (ystererts/ mangaanerts) ontgin sal word. Klousule 1 sit uiteen die vereiste produkspesifikasies en dit word uitdruklik onderverdeel as volg:

1. REQUIRED PRODUCT SPECIFICATIONS

SIZE (CONTRACTOR)

1.1 40 – 8- mm

1.2 8 – 40 mm

1.3 – 8 – waste fines

GRADE (PMG)

1.4 +42% Grade A

1.5 + 37 – 42% Grade B

1.6 + 32 – 37% Grade C”

Daar word derhalwe voorsiening gemaak dat wat die grootte van die produk aanbetref, dit die kontrakteur (Applikant) se verantwoordelikheid sal wees en dat daar ‘n minimum maandelikse produksie van 10 000 ton moet wees. Verder word dit uitdruklik ooreengekom dat wat die gehalte van die erts aanbetref, dit die Respondent se verantwoordelikheid sal wees. Gevolglik op die ooreenkoms alleen is ek die mening toegedaan dat die Applikant redelike vooruitsigte op sukses het in die voorgenome hoofgeding en behoort die tussentydse interdik in sy guns toegestaan te word.

  1. Ek ag dit nodig om laastens kortliks daarop te wys dat Mnr. Coetzee namens die Applikant korrek is in sy submissie dat die Respondent se ontkennings aangaande die bevoegdheid van die persone wat die besluite geneem het by die vergadering en van die persoon wat die ooreenkoms ten aansien van die verkoop van die 10 000 ton mangaanerts namens die Respondent onderteken het, slegs blote ontkennings is. Daar word geen verdere feite verskaf of redes aangevoer waarom sodanige bevoegdheid in geskil geplaas word nie. Met nalees van die baie volledige notules kom mens onafwendbaar tot die gevolgtrekking dat dié bepaalde werknemers van die Respondent behoorlik wel bevoegd was om sekere besluite te neem ten einde die probleme te ondervang wat daar ondervind is.

  2. n Tweede aspek wat tot ‘n mate van belang is, is dat Mnr. Coetzee eweneens korrek is in sy submissie dat die Respondent daarop steun dat hy die kontrak gekanselleer het, maar dat dit nêrens blyk uit sy stukke dat die ooreengekome prosedure ten aansien van kansellasie van die kontrak, soos neergelê in ondermeer klousules 7.1 en 7.2 daarvan, gevolg is nie. Dit wil dus voorkom asof dit bloot ‘n eensydige, onprosedurele kansellasie van die kontrak was deur die Respondent. Hoe dit ookal sy, hierdie is aspekte wat by die hoofaksie uitgepluis sal moet word, maar is ek op dié stadium tevrede dat daar voldoen is aan die voorvereistes vir ‘n tussentydse interdik pendente lite.

  3. Ek reik gevolglik die volgende bevel uit ooreenkomstig die regshulp aangevra deur die Applikant in sy gewysigde Kennisgewing van Mosie:



17.1 Die Respondent word gelas om toegang aan die Applikant te verleen tot die Respondent se perseel te Bishop Myn en om die Applikant toe te laat om 10 000 (tienduisend) ton mangaanerts, welke erts deur die Applikant ontgin is, te verwyder en te verkoop.

17.2 Dit word gelas dat die inkomste verkry uit die voormelde verkoping van die 10 000 ton mangaanerts in die trustrekening van prokureurs Mnre Jordaan & Mans, Kuruman, inbetaal sal word en op ‘n rentedraende rekening gedeponeer sal word hangende die afhandeling van ‘n aksie ingestel te word deur die Applikant, welke aksie ingestel moet word binne 30 (dertig) dae vanaf datum van hierdie bevel.

17.3 Die Respondent word gelas om die koste van die aansoek te betaal.





____________

SA MAJIEDT

REGTER




NAMENS APPLIKANT : ADV WJ COETZEE

IN OPDRAG VAN : ENGELSMAN MAGABANE ING


NAMENS RESPONDENT : ADV E BOTHA

IN OPDRAG VAN : HAARHOFFS