South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2009 >> [2009] ZANCHC 50

| Noteup | LawCite

Roman v S (K/S 48/2000) [2009] ZANCHC 50 (16 October 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(IN DIE NOORD-KAAPSE HOOGGEREGSHOF, KIMBERLEY)


Saak Nr. : K/S 48/2000


In die saak tussen:


JAN ROMAN Appellant


en


DIE STAAT Respondent

_____________________________________________________


CORAM: CILLIé, R et LACOCK, R et OLIVIER, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK: CILLIé, R

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP:

_____________________________________________________


GELEWER OP:

_____________________________________________________


[1] Die appellant het as beskuldigde 2 tesame met 3 ander beskuldigdes in die rondgaande hof te Upington tereggestaan op 2 klagtes, tewete poging tot moord en onsedelike aanranding. Hy is op beide voormelde klagtes skuldig bevind en nadat die klagtes saamgeneem is vir vonnisdoeleindes gevonnis tot 20 jaar gevangenisstraf. Verlof is aan die appellant verleen om teen beide die skuldigbevindings sowel as die opgelegde vonnis te appelleer.


[2] Die klagtes spruit voort uit gebeure wat plaasgevind het op 12 November 1999 in die omgewing van Grootdrink, Groblershoop. Die klaer, ene Gert Titus, is dié dag aangerand en ook gesodomiseer. In die proses is hy sodanig ernstig beseer dat hy volgens die getuienis daarna verstandelik gestrem is en ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan het. Hy het weliswaar tydens die verhoor getuig maar daardie getuienis kon geen werklike bydrae lewer tot die oorweging van die skuld van die beskuldigdes nie.


[3] ‘n Veeltal ander getuies het ook getuienis afgelê. Hul getuienis werp lig op die voorafgaande gebeure maar help nie veel ten aansien van die aanranding self nie. Slegs een getuie genaamd Fifi Elvin Davids (Davids) het volgens sy getuienis die gebeure waargeneem. Die appellant se skuldigbevinding is dan ook deur die verhoorhof grootliks op gesegde Davids se getuienis baseer.


[4] Mnr Fourie, namens die appellant, het op appèl aangevoer dat die verhoorhof Davids se getuienis te hoog aangeslaan het. Luidens die betoog is daar sodanige gebreke in die getuienis van Davids dat dit sy getuienis verwerplik en onaanvaarbaar maak. Hierdie betoog maak dit nodig om in besonderhede met Davids se getuienis te handel.


[5] Tydens sy getuienisaflegging was Davids 18 jaar oud en het hy tot Standard 5 op skool gevorder. Dit is gemeensaak dat hy en die appellant sowel as die appellant se medebeskuldigdes goed met mekaar bekend is. Op die dag van die voorval was hy, volgens hom, vergesel van die voormalige beskuldigde 1 en ene Jonkers op pad na ‘n winkel bekend as Du Raan se winkel waar pensioene uitbetaal word. Hierdie winkel skyn volgens die getuienis ‘n gewilde bymekaarkomplek te wees waar tyd vir allerlei redes deur inwoners van die gebied verwyl word. By die winkel het hulle die klaer en ‘n dame aangetref. Die 5 van hulle drink toe wyn aldaar. Beskuldigde 1 het ‘n 2 liter houer wyn gekoop. Beskuldigde 1 se pa daag toe daar op en beskuldigde 1 versoek toe vir Davids om die wyn in besit te neem omdat beskuldigde 1 nie wou hê sy pa moet sien dat hy drink nie. Beskuldigde 1 is toe met sy pa daar weg. Later is Davids en die klaer en Jonkers te voet weg Grootdrink toe. Op pad draai die klaer om en keer terug na Du Raan se winkel. KIaer keer later weer terug met 2 liter wyn asook brandewyn. Volgens Davids merk hy toe op dat die klaer ‘n bloeiende wond bokant een van sy ore het. Die klaer kon nie verduidelik hoe hy dit opgedoen het nie. Davids steun toe die klaer omdat dié wankelend op sy voete was. In die proses kom daar bloed op sy eie T-hemp. Hulle stap voort tot by ‘n sloot waar hy, die klaer, en Jonkers verder drink. Daarna vertrek hulle Grootdrink toe. Op pad draai klaer om en sê hy gaan eerder Gariep toe. Davids gaan sit toe op ‘n kragtransformator wat hy ‘n “kragboks” noem. Hy sien die klaer oor die bult stap. Beskuldigde 1 daag by hom, Davids, op en neem sy wyn wat vroeër by hom vir bewaring gelaat was. Davids stap toe nader. Hy merk die appellant en die voormalige beskuldigde 3 en 4 op. Beskuldigde 1 volg die klaer en haal hom in. Die appellant en die ander 2 beskuldigdes sluit by hulle aan. Die appellant vat die klaer aan die hand en haal ‘n mes uit. Appellant pootjie die klaer en gooi hom met ‘n klip op die kop terwyl die klaer lê. Toe die klaer probeer opstaan kap appellant hom ‘n tweede hou op die kop met die klip. Appellant en die voormalige beskuldigde 1 trek daarop die klaer se demin langbroek en sportbroek uit. Appellant sny toe met sy mes die klaer se onderbroek se pype aan weerskante los. Daarna sodomiseer appellant en beskuldigdes 3 en 4 die klaer om die beurt. Toe beskuldigde 1 gereed maak om dieselfde te doen sien beskuldigde 4 vir hom wat Davids is waar hy wegkruip en maak die ander daarop attent. Hulle jaag vir Davids en hy hardloop weg na ‘n taxi-staanplek. Daar trek hy die bebloede T-hemp uit en neem dit saam huistoe. Tuis gooi hy die T-hemp in die buite toilet. Hy trek ‘n skoon T-hemp aan en gaan terug winkel toe om sigarette te koop. Daar tref hy beskuldigde 1 aan wat navraag doen oor sy wyn. Hy herinner toe vir beskuldigde 1 dat hy alreeds sy wyn gekry het. Later laat roep Davids se moeder hom en konfronteer hom oor die T-hemp wat sy intussen in die toilet gevind het. Hy vertel haar, volgens hom, wat plaasgevind het. Dit het die getuienis van Davids voltooi.


[6] Dit is duidelik uit die mediese getuienis dat die klaer wel ernstig op sy kop met ‘n stomp voorwerp beseer is. Die mediese getuienis bevestig ook dat tydens ondersoek daar tekens was dat die klaer gesodomiseer was. Die klaer se kledingstukke wat op die toneel gevind is het as bewysstukke voor die hof a quo gedien. Daaruit blyk dat die onderbroek se pype inderdaad aan weerskante losgesny was.


[7] Dit is doenlik om op hierdie stadium te meld dat die appellant self ook getuienis in sy eie verdediging afgelê het. Volgens hom was hy die middag van die voorval vanaf 14h00 by die huis. Na hy geëet het is hy na ‘n neef van hom in ‘n plakkerskamp. Op pad terug teen 16h00 hou sy ouers met ‘n voertuig by hom stil. Hulle herinner hom aan ‘n verpligting wat hy het om die aand musiek te maak by ‘n singaand te Wegdraai. Hy ry toe saam met hulle verder in die voertuig. Hulle ry by ‘n tante van hom aan en toe is hulle huistoe. Daar het hulle geëet, nuus gekyk en teen 20h00 is hy weer plakkerskamp toe. Laatnag keer hy terug huistoe. Hy ontken dat hy die dag ooit by Du Raan se winkel of hoegnaamd in die geselskap van een van die medebeskuldigdes was. Ongeveer ‘n week later toe hy arresteer is het die polisiebeampte beslag gelê op die klere wat hy sou aangehad het maar ‘n verkeerde broek gevat. Die vergissing het egter geen verdere belang in hierdie saak nie.


[8] Appellant se moeder het namens hom getuig. Haar getuienis staaf in die breë dié van die appellant. Ten minste is dit duidelik uit haar getuienis dat die appellant nie deel kon wees van die groep persone wat die middag die klaer aangerand het nie.


[9] Dit moet veral uit die mediese getuienis, aanvaar word dat die klaer die dag aangerand en gesodomiseer is. Die enigste vraag is of die staat bo redelike twyfel bewys het dat die appellant betrokke was hierby. Inaggenome dat Davids detail oor wat hy sou waargeneem het verskaf wat klop met die mediese getuienis is daar ruimte vir slegs een van twee moontlike scenarios: Óf Davids het van ‘n afstand waargeneem dit wat hy getuig het óf hy was self as een van die aanranders op die toneel ten einde te kon waarneem dit wat hy verhaal het.


[10] Mnr Fourie, het namens die appellant betoog dat daar sterk aanduidings is dat laasgenoemde die posisie is. Ek handel vervolgens met sy geopperde kritiek teen Davids.


10.1 Dit is onseker uit Davids se eie getuienis vanaf watter afstand en pek hy die gebeure wat hy vertel waargeneem het. In sy polisie verklaring meld hy dat hy 40 meter weg was. (Vergelyk bewysstuk B, volume 7, bladsy 568). In hoofgetuienis sê hy dat hy so 1.5 meter van hulle af was. (Vergelyk volume 1, bladsy 21, reël 13.) Later wys hy ‘n afstand van 18 meter uit. (Vergelyk volume 1, bladsy 22, reël 10.) Nog later sê hy hy was “’n bietjie ver van hulle af”, volume 1, bladsy 23, reël 3. In kruisverhoor verduidelik hy dat hy eintlik bo-oor ‘n “koppetjie” geloer het terwyl hy op sy hande gedruk en sy kop laat sak het. (Vergelyk volume 1, bladsy 57, reël 20.) Volgens die foto-plan, bewysstuk “A”, volume 7, bladsy 564, is die gebied redelik bebos. Davids weerspreek homself oor wanneer hy van die “kragboks” sou afgeklim het. Mnr Fourie betoog dat dit alles nie ruimte laat daarvoor dat Davids al die gebeure kon waarneem waaroor hy getuig tensy hy deel van die groep persone op die toneel was nie.


10.2 Davids se gedrag na die voorval is volgens Mnr Fourie erg vreemd en inderdaad agterdogwekkend. Op sy eie weergawe versteek hy die bebloede T-hemp in die puttoilet. Sy verduideliking waarom hy dit doen is nie heeltemal verstaanbaar nie. (Vergelyk volume 1, bladsy 31, reël 20.) Daarna gaan hy doodluiters terug winkel toe om sigarette te koop. Hy vertel niemand van wat hy waargeneem het nie. Hy kom selfs beskuldigde 1 teë maar is nie bang vir hom soos vroeër nie. Hy word ‘n week later eers arresteer maar sonder om intussen die polisie in te lig van die vreeslike gebeure wat hy waargeneem het.


10.3 Davids word weerspreek deur die getuie Jackie Jonkers aangaande die beweerde vroeëre besering wat die klaer sou opgedoen het. Volgens Davids het hy, klaer en Jonkers gesit en drink nadat klaer reeds beseer was. (Vergelyk volume 1, bladsy 17, reël 20.) Jonkers bevestig in sy getuienis dat hulle sit en drink het maar ontken dat die klaer toe enigsins beseer was. (Vergelyk volume 3, bladsy 225 en 229.) Dit werp ernstige twyfel oor Davids se verduideliking hoe die klaer se bloed op sy T-hemp gekom het.


10.4 Volgens Davids vertel die polisie hom toe hy arresteer word, dat beskuldigdes 2 en 4 vir hulle gesê het dat hy, Davids, kennis dra van alles en dat hulle by hom moet kom hoor wat gebeur het. (Vergelyk volume 1, bladsy 80, reël 12 en verder.) Aanvarende dat dit die waarheid is, is dit moeilik te begrype waarom die ander beskuldigdes die polisie juis na hom sou stuur as hy volgens die ander beskuldigdes ‘n blote onskuldige toeskouer en dan ook getuie van hulle wandaad was.


[11] Die appellant se saak is ook nie sonder gebreke nie. Me Jansen namens die staat het tereg daarop gewys dat daar aanduidings is dat appellant se moeder persone sou genader het met voorstelle dat hulle getuienis moet plooi om appellant uit die gebeure te hou. Appellant en sy moeder weerspreek mekaar ook oor sy kennis daarvan al dan nie. Daar is ook daarop gewys dat die appellant nagelaat het om persone wat sy alibi kon staaf as getuies te roep. Gewag is verder gemaak daarvan dat sekere aspekte van die appellant se saak nie aan die staatsgetuies gestel was nie. Ek het oorweging gegee aan al bogemelde aspekte en neem dit in ag.


[12] Alles inaggenome meen ek egter dat daar ernstige twyfel bestaan of die appellant se skuld bo redelike twyfel bewese is. Mnr Fourie moet gelyk gegee word dat die getuie Davids se getuienis ernstige gebreke openbaar. Hy is soos reeds gemeld ‘n enkelgetuie aangaande die gebeure self. Daarby is die appellant se alibi-getuienis soos gestaaf deur sy moeder nie van sodanige aard dat dit sondermeer as nie redelik moontlik waar nie verwerp kan word. My gevolgtrekking is dat die verhoorhof in twyfel moes verkeer het of die appellant se skuld alles inaggenome bo redelike twyfel bewese is.


[13] Indien Davids se getuienis onoortuigend is ten aansien van die appellant geld dieselfde natuurlik vir die appellant se voormalige medebeskuldigdes. Hulle is nie soos die appellant aan poging tot moord skuldig bevind nie maar slegs aan onsedelike aanranding. Daarvoor is hulle gevangenisstraf opgelê. Die waarskynlikhede is dat by datum hiervan dit alreeds uitgedien is. Mnr Fourie het egter onderneem om ten aansien van die voormalige beskuldigdes 1, 3 en 4 oorleg te pleeg met die regshulpraad (wat destyds behulpsaam was met hul verdediging) en die nodige te doen.


Bygevolg slaag die appèl en word die appellant se skuldigbevindings en die opgelegde vonnis tersyde gestel.


_____________

C. B. CILLIé, R


Ek stem saam.






_____________

H.J. LACOCK, R


Ek stem saam.




____________

C.J. OLIVIER, R


/EM


Namens Appellant: Adv. T. Fourie i.o.v. die Appellant

Namens Respondent: Adv. C.G. Jansen i.o.v. DOV