South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2009 >> [2009] ZANCHC 37

| Noteup | LawCite

Nortje v S (CA&R 29/09) [2009] ZANCHC 37 (11 September 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

[Noord-Kaap Hoë Hof, Kimberley]



Saakno: CA&R 29/09

Datum verhoor: 2009-09-07

Datum gelewer: 2009-09-11


In die appél van:


WILLEM PETRUS NORTJÉ APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et LACOCK R


UITSPRAAK


MAJIEDT R:

  1. Hierdie is ‘n appél teen vonnis. Die Appellant is op sy aangebode pleit skuldig bevind aan die volgende misdrywe:

    1. Klagte 1: Sameswering om menseroof te pleeg ter oortreding van art 18(2) van Wet 17 van 1956;

    2. Klagte 2: Sameswering om afpersing te pleeg ter oortreding van art 18(2) van Wet 17 van 1956;

    3. Klagte 3: Die gebruik van ‘n voertuig sonder die toestemming van die eienaar daarvan ter oortreding van art 1(1) van Wet 50 van 1956.

  2. Op klagte 1 en 2 is die Appellant op elke klagte afsonderlik tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis en op klagte 3 tot een jaar gevangenisstraf. Die verhoorlanddros het gelas dat die voormelde termyne van gevangenisstraf dermate samelopend uitgedien moet word dat dit ‘n effektiewe termyn van tien jaar gevangenisstraf daarstel.

  3. Verlof om te appelleer is aan die Appellant toegestaan deur die Verhoorhof. Die Appellant was beskuldigde 1 tydens die verhoor en sy mede-beskuldigde, Mnr. Thomas Garsland (“Garsland”), het nie appél aangeteken teen die vonnis nie. Garsland is gevonnis op aanklagte 1 en 2 tot ses jaar gevangenisstraf op elke klagte en op aanklag 3 tot een jaar gevangenisstraf en daar is ‘n sameloping van vonnisse gelas om ‘n effektiewe periode van agt jaar gevangenisstraf daar te stel.

  4. Die appél teen vonnis is primêr daarteen gemik dat die vonnis skokkend onvanpas is. Mnr. Pistorius namens die Appellant het gesubmitteer dat die verhoorlanddros gefouteer het deur nie alternatiewe vonnisopsies te oorweeg nie. Hy het verder betoog dat in die vooropstelling die verhoorlanddros ‘n dogmatiese houding ingeneem het dat langtermyn gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis is.

  5. Namens die Staat het Mnr. Rosenberg tereg daarop gewys dat die verhoorlanddros inderdaad ander vonnisopsies in oorweging geneem het tydens haar volledige vonnisuitspraak. Mnr. Rosenberg het egter toegegee dat ‘n korter termyn van direkte gevangenisstraf eerder gepas sal wees en dat die tien jaar gevangenisstraf wat effektiewelik die Appellant opgelê is, inmenging regverdig op appél. Vir die redes wat volg meen ek dat die voormelde toegewing korrek gemaak is in die omstandighede. Die advokate was dit eens, heeltemal tereg so, dat die vonnis op aanklag 3 heeltemal te swaar is en dat inmenging daarmee geoorloof is. Beide Mnre Pistorius en Rosenberg het aan die hand gedoen dat, by gebrek aan bewys van ‘n dieftige opset by die Appellant, effektiewe direkte gevangenisstraf skokkend onvanpas is. In hierdie uitspraak bestee ek vervolgens hoofsaaklik aandag aan aanklagte 1 en 2, die meer ernstige misdrywe hierin.

  6. n Bondige uiteensetting van die agtergrondfeite hierin is nodig.

    1. Die Appellant en sy eertydse medebeskuldigde, Garsland, het saamgesweer om die vryheid van ene Mnr. Dawid du Plessis en sy minderjarige kinders te ontneem en om daarna vir Mev. Du Plessis af te pers deur middel van dreigemente dat haar eggenoot en minderjarige kinders leed aangedoen sou word indien ‘n bedrag van R100 000,00 nie oorbetaal sou word nie.

    2. Op aanklag 3 het die Appellant en Garsland sonder die toestemming van die eienaar daarvan ‘n Isuzu 2.5 diesel bakkie gebruik ter uitvoering van die voormelde sameswering.

    3. Die onderliggende motivering vir die voormelde sameswering tussen die Appellant, Garsland en hul medesamesweerders was dat hulle van voorneme was om ‘n taxi-besigheid te begin en was die ontvoering en afpersing bestem om fondse in te win vir die begin van dié besigheid.

    4. Een van die samesweerders het kort na die sameswering onttrek as gevolg van redes wat nie nou van belang is hier nie. Die Appellant, Garsland en ‘n ander samesweerder het na die klaers se plaas vertrek in die Isuzu voertuig wat die onderwerp vorm van aanklag 3.

    5. Ter uitvoering van die voormelde sameswering het die Appellant homself bewapen met ‘n vuurwapen en is die plaas betree. Aangesien Mnr. Du Plessis nie op die plaas aanwesig was nie, het die Appellant en Garsland toe besluit om die plan te abandoneer. Hulle is egter deur plaaswerkers betrap waar hulle hulself versteek het in ‘n stoorkamer op die plaas. Die Appellant en Garsland het op die vlug geslaan en is die Appellant later gearresteer deur die polisie. Garsland is ook ‘n dag later deur die polisie gearresteer.

  7. Die voormelde agtergrondfeite is uiteengesit in die Appellant se skriftelike pleitverduideliking en is aldus deur die Staat aanvaar, soos wat ook die geval was met Garsland se pleitverduideliking.

  8. In haar uitspraak het die verhoorlanddros verwys na die geykte regsbeginsels ten aansien van vonnis, die oogmerke van vonnisoplegging en sy het breedvoerig verwys na die aangebode getuienis ter strafverswaring en strafversagting. Namens die Staat het die egpaar Du Plessis ter strafverswaring getuig en die Appellant het self getuienis afgelê ter strafversagting en het ook die getuienis aangebied van sy swaer, ene Mnr. Vermeulen.

  9. Uit die aangebode getuienis blyk die volgende wesenlike feite en omstandighede:

    1. Die Appellant was ‘n huisvriend van die klaers en het sy binne-kennis van hul omstandighede gebruik in die loop van die sameswering se beplanning. Hy het naamlik die klaers geïdentifiseer as sagte teikens omdat hulle op ‘n afgeleë plaas woonagtig is en was hy klaarblyklik ook die mening toegedaan dat hulle oor voldoende fondse sou beskik om die beplande losprys te betaal.

    2. Die gebeure het ‘n uiters traumatiese uitwerking gehad op die lewens van die klaers en hul minderjarige kinders. Dit blyk dat daar huwelikspanning tussen die egliede Du Plessis ontwikkel het as gevolg van hierdie voorval. Verder is hierdie minderjarige kinders ernstig getraumatiseer en Mev. Du Plessis self het aansienlike spanning beleef na die voorval. As ‘n direkte gevolg van hierdie insident het Mev. Du Plessis en haar kinders sielkundige berading ondergaan.

  10. In Appellant se guns kan die volgende aangemerk word uit hoofde van sy getuienis ter strafversagting, saamgeneem met dié van sy swaer Mnr. Vermeulen:

    1. Die Appellant is getroud met drie kinders en hy was ten tyde van skuldigbevinding 36 jaar oud;

    2. Hy het berou getoon wat gemanifesteer is deur sy pleit van skuldig en ook die verskoning aangebied tydens sy mondelinge getuienis;

    3. Hy is ‘n eerste oortreder;

    4. Hy en sy vrou het ten tyde van vonnisoplegging ‘n besigheid bedryf waarvan hy finansiële verpligtinge in die vorm van ‘n verbandlening het.

    5. Sy swaer het getuig dat in die algemeen gesproke die Appellant nie misdadige neigings het nie.

    6. Die Appellant se verwagting was om R5000,00 per maand uit sy besigheid te verdien nadat alle terugbetalings gedoen is.

  11. Dit ly geen twyfel nie dat die misdade baie ernstig van aard is. Die morele laakbaarheid van die Appellant se gedrag is veral daarin geleë dat hy baie goeie vriende van hom geteiken het, juis omdat hy hulle geïdentifiseer het as sagte teikens. Verder het hy dit nie ontsien om die minderjarige Du Plessis kinders ook te teiken nie, nieteenstaande die feit dat hyself die vader van jong kinders is.

  12. Die misdrywe is gepleeg suiwer uit geldgierigheid, aangesien die Appellant nie ‘n geldnood gehad het nie en, soos hierbo aangedui, die sameswering gevolg het uit ‘n besluit om ‘n nuwe besigheid te begin, waarvoor die nodige fondse op daardie stadium ontbreek het.

  13. Die Appellant het homself met ‘n vuurwapen bewapen, al was daar nou maar net loskruitpatrone (“blanks”) daarin. Hy was ook ongetwyfeld die voorbok in die sameswering. Die verhoorlanddros het dan ook heeltemal tereg ‘n onderskeid getref tussen die Appellant en Garsland wat die vonnis op aanklagte 1 en 2 aanbetref.

  14. Die verhoorlanddros het na my mening die verswarende faktore oorbeklemtoon wat tot gevolg gehad het dat ‘n skokkend onvanpaste vonnis opgelê is. Sy het verder na my mening die erns van die misdryf oorbeklemtoon deur haar verwysing na die bepalings vervat in die Strafregwysigingswet, 105 van 1997 en die feit dat waar die bedrag van afpersing R100 000,00 oorskry, ‘n minimumvonnis voorgeskryf is deur die Wetgewer. Alhoewel die verhoorlanddros deeglik daarvan kennis geneem het dat die misdrywe in die onderhawige geval nie binne die kader van die voormelde minimumvonnisse val nie, is die afleiding onafwendbaar dat dit ‘n beduidende rol gespeel het by vonnisoplegging.

  15. Daar is aansienlike meriete in Mnr. Pistorius se betoog dat die verhoorlanddros klaarblyklik vonnisoplegging benader het op die spekulatiewe grondslag van die moontlike gevolge wat kon intree indien die sameswering sou gerealiseer het. Dít is egter nie waarvoor die Appellant gevonnis moes word nie.

  16. Dit is weliswaar so dat sameswering om ‘n misdryf te pleeg strafbaar is met dieselfde vonnis as vir die voltooide misdryf. Die algemene praktyk toon egter dat by ‘n skuldigbevinding aan sameswering normaalweg ‘n ligter vonnis opgelê word as dié vir ‘n voltooide misdryf. Artikel 18(2) van die Wet op Oproerige Byeenkomste, 17 van 1956 lees as volg:

“…. is aan ‘n misdryf skuldig en die skuldigbevinding strafbaar met die straf waarmee die persoon wat weens die werklike pleging van daardie misdryf skuldig bevind is gestraf kan word.”

Sien in die verband: S v P and J 1963(4) SA 935 (N) te 940 E;
S v Nel 1987(4) SA 950 (W) te 957 C-E.

  1. Mnr. Rosenberg het in sy betoogshoofde aan die hand gedoen dat die verhoorlanddros se verwysing na die bepalings vervat in Wet 105 van 1997, soos hierbo aangedui, ‘n wesenlike mistasting daarstel wat inmenging op appél regverdig. Ek is nie so seker dat dit bepaald as ‘n mistasting aangeteken word nie, juis omrede die verhoorlanddros deeglik daarvan bewus was dat die onderhawige misdrywe nie val binne die kader van daardie bepalings nie. Die gevaar bestaan egter dat ‘n voorsittende beampte, gedagtig aan die minimum voorgeskrewe vonnisse, dermate uiting kan gee aan die voorgeskrewe strawwe dat dit ‘n wesenlike rol speel by vonnisoplegging in ‘n saak waar die minimumvonnisse nie van toepassing is nie. In dié verband is in S v Jimenez 2003(1) SACR 507 (SCA) te par [10], te 512 a-d as volg gemaan deur Lewis WnAR:

While, however, it may be appropriate for a judicial officer to attach significant weight to the existence of prescribed minimum sentences even where he or she is not bound by the provisions of the Act, as is the case here, it is proper to do so only where the offence at issue is one that would be governed by the provisions of the statute if the court had jurisdiction.”

  1. Mnr. Pistorius het ons verwys na ‘n lang lys van sake waarin die nuwe benadering tot vonnisoplegging, te wete herstellende geregtigheid (“restorative justice”) aanwending gevind het. Herstellende geregtigheid vind egter slegs toepassing waar daar pro-aktief besin moet word oor vonnis anders as direkte gevangenisstraf, wat hier heeltemal onvanpas sou wees. Dit behoef geen betoog nie dat die misdrywe vervat in aanklagte 1 en 2 van sodanige ernstige aard is dat slegs direkte gevangenisstraf ‘n gepaste vonnis sou wees. Dit is derhalwe nie nodig om enigsins hierdie aspek verder te oorweeg nie.

  2. Daar is geen direkte gesag aan ons voorgehou ten aansien van vergelykbare vonnisuitsprake ten aansien van aanklagte 1 en 2 nie. Die advokate het ons wel verwys na gesag waar dit gegaan het oor vonnisse wat opgelê is vir menseroof of vir afpersing. Elke saak moet uiteraard op sy eie meriete beoordeel word en elke vonnis moet geïndividualiseer word. Inaggenome die voormelde strafverswarende en strafversagtende omstandighede is ek die mening toegedaan dat effektiewe gevangenisstraf van ‘n termyn van vier jaar vir die Appellant en van drie jaar vir sy eertydse medebeskuldigde, Garsland, vanpas sou wees. Ons het ‘n memorandum gerig aan die advokate voor die appél aangehoor is waarin ons aangedui het dat, indien ons van mening is dat die appél teen vonnis gehandhaaf behoort te word wat betref die Appellant, ons dan van voorneme was om uit hoofde van ons inherente hersieningsbevoegdheid ook in te meng met die vonnis van Garsland, wat nie voor ons op appél is nie.

  3. Die volgende bevel word uitgereik:

    1. Die appél teen vonnis slaag. Die vonnis opgelê deur die landdros word tersyde gestel en vervang met die volgende:

Die Appellant word gevonnis as volg:

a) Op aanklag 1 tot vier jaar gevangenisstraf;

b) Op aanklag 2 tot vier jaar gevangenisstraf;

c) Op aanklag 3 tot ses maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van drie jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan diefstal van ‘n motorvoertuig of ‘n oortreding van art 1(1) van Wet 50 van 1956, gebruik van ‘n motorvoertuig sonder die toestemming van die eienaar daarvan nie, wat gepleeg is gedurende die tydperk van opskorting nie.

Dit word verder gelas ingevolge die bepalings vervat in artikel 280 van die Strafproseswet, 51 van 1977 dat die vonnis opgelê op aanklag twee sal saamloop met dié op aanklag een sodat die effektiewe termyn van gevangenisstraf vier jaar is.”

    1. Die vonnis opgelê aan Mnr. Thomas Garsland word tersyde gestel en vervang met die volgende:

a) Op aanklag 1 tot drie jaar gevangenisstraf;

b) Op aanklag 2 tot drie jaar gevangenisstraf;

c) Op aanklag 3 tot ses maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van drie jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan diefstal van ‘n motorvoertuig of ‘n oortreding van art 1(1) van Wet 50 van 1956, gebruik van ‘n motorvoertuig sonder die toestemming van die eienaar daarvan nie, wat gepleeg is gedurende die tydperk van opskorting nie.

Dit word verder gelas ingevolge die bepalings vervat in artikel 280 van die Strafproseswet, 51 van 1977 dat die vonnis opgelê op aanklag twee sal saamloop met dié op aanklag een sodat die effektiewe termyn van gevangenisstraf drie jaar is.”

    1. Die vonnisse word teruggedateer tot 10 Junie 2008.

    2. Die Griffier word gelas om die inhoud van hierdie bevel en die uitspraak te versend na die gevangenis waar Mnr. Thomas Garsland tans aangehou word vir sy kennisname.



___________________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:


____________________

HJ LACOCK

REGTER




NAMENS APPELLANT : ADV PISTORIUS

IN OPDRAG VAN : ENGELSMAN MAGABANE PROKUREURS


NAMENS RESPONDENT : ADV ROSENBERG

IN OPDRAG VAN : DOV