South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2009 >> [2009] ZANCHC 16

| Noteup | LawCite

Naude v BOE Bank Bpk (CA&R 56/2008) [2009] ZANCHC 16 (20 March 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saak No: CA&R 56/2008

Saak Aangehoor: 16/03/2009

Datum gelewer: 20/03/2009

In die saak tussen:


S J Naude Appellant


en

BOE Bank Beperk Respondent


Coram: Williams R et Olivier R

UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die appellant is mnr Steven John Naude en die respondent is BOE Bank Beperk. Die appèl is gerig teen die afwysing van ‘n aansoek van die appellant om die tersydestelling van ‘n vonnis wat op versoek van die respondent teen die appellant verleen is op sterkte van ‘n erkenning van aanspreeklikheid, en ingevolge die bepalings van artikel 57 (2) van die Wet op Landdroshowe, 32 van 1944 (“die Wet”).


AGTERGROND

  1. In wat volg, gee ek kortliks ‘n uiteensetting van sodanige feite as wat gemenesaak was, of nie op die stukke voor ons ernstig in geskil is nie.

  1. Die respondent het aanvanklik in die Landdroshof vir die distrik De Aar ‘n dagvaarding teen die appellant laat uitreik. Die skuldoorsaak daarin was gebaseer op ‘n afbetalingsverkoops-ooreenkoms wat vroeër tussen die partye gesluit is en ingevolge waarvan die appellant ‘n motorvoertuig aangekoop het. Dit is gemenesaak dat die appellant nie die ooreengekome paaiemente betaal het nie en in paragraaf 3.4 van die besonderhede van vordering het die respondent beweer dat die appellant se kontrakbreuk die respondent geregtig gemaak het op kansellasie van die kontrak, die terugeis van die motorvoertuig tesame met skadevergoeding en die verbeuring van alle paaiemente wat reeds betaal is.


  1. Die bewering is verder gemaak, in paragraaf 7 van die besonderhede van vordering, dat die balans wat op daardie stadium ingevolge die ooreenkoms verskuldig was, ‘n bedrag van R11 257.00, plus rente teen 21.25% per jaar vanaf 26 Maart 2001, beloop het.


  1. Die regshulp wat in die dagvaarding gevorder is, was ondermeer kansellasie van die afbetalingsverkoopooreenkoms, ‘n bevel vir die teruggawe van die motorvoertuig en “Skadevergoeding vir die bedrag wat die hof mag bepaal, synde die verskil tussen die uitstaande balans ingevolge die ooreenkoms en die waarde van die goedere”. Daar is nie, in die dagvaarding, betaling van enige bepaalde bedrag gevorder nie.


  1. Toe die dagvaarding tot die appellant se kennis gekom het, het hy die kantore van die respondent se prokureurs besoek en ‘n erkenning van skuld soos bedoel in artikel 57 (1) van die Wet onderteken. Dit is dienstig om op hierdie stadium reeds net die volgende twee opmerkings oor die betrokke dokument te maak:


    1. In paragraaf 1 van die dokument, getiteld “ERKENNING VAN SKULD EN AFBETALING”, het die appellant erken dat hy ‘n bedrag van R11 257.00 aan die respondent verskuldig was “synde die geëisde bedrag gemeld in die aanmaning of dagvaarding wat ek ontvang het”.


    1. In die eerste plek is daar, soos reeds gemeld, geen “geëisde bedrag” in die dagvaarding gemeld nie. Inteendeel, die hele strekking van die besonderhede van eis en van die geëisde regshulp was dat die eerste sprake van ‘n betaalbare bedrag, en ‘n skuld in dié sin, sou wees wanneer die waarde van die betrokke motorvoertuig in verrekening gebring is teen die uitstaande bedrag van R11 257.00. Ek keer later weer na hierdie kwessie, en na die vraag hoe dit gebeur het dat die appellant aanspreeklikheid erken het vir die volle bedrag van die uitstaande balans (sonder inagname van die waarde van die voertuig).


    1. So ‘n erkenning, deur die appellant, dat hy die volle uitstaande balans van R11 257.00 aan die respondent verskuldig was, sou strydig wees met wat die inhoud van die afbetalingsverkoopooreenkoms op die respondent se eie beweringe (in die besonderhede van vordering) was. Daarvolgens sou die respondent nie geregtig gewees het op betaling van die volle uitstaande balans van R11 257.00 nie, maar slegs op sodanige gedeelte daarvan as wat steeds uitstaande sou bly nadat die waarde van die motorvoertuig daarteen in verrekening gebring is.


  1. Dit blyk dat die appellant ‘n hele reeks betalings gemaak het aan die respondent se prokureurs; in totaal ‘n bedrag van R8 121.47. Twee van daardie betalings is gemaak op 27 Augustus 2001 en 19 November 2001, en dus nadat die erkenning van aanspreeklikheid-dokument onderteken is, maar voordat die verstekvonnis waarmee aanstons gehandel sal word, toegestaan is.


  1. Op 11 Januarie 2002 het die landdros, op versoek van die respondent en by verstek, gelas dat die afbetalingsverkoopoor- eenkoms gekanselleer word, dat die motorvoertuig teruggelewer moet word en dat die “VONNIS VIR SKADEVERGOEDING EN KOSTE STAAN OOR VIR BEWYS VAN SKADE”.


  1. Daarna het die respondent se prokureurs op die een of ander manier daarin geslaag om by meer as een geleentheid ‘n lasbrief vir eksekusie teen die goedere van die appellant te laat uitreik. Die appellant het, teen die agtergrond van daardie lasbriewe, met die respondent se prokureurs reëlings getref vir die betaling van bedrae aan die prokureurs. Die appellant het dan ook verskeie bedrae ingevolge sodanige reëlings aan die respondent se prokureurs betaal, maar het op sy eie weergawe ook daardie reëlings nie stiptelik nagekom nie.


  1. Op 24 Januarie 2008 het die respondent ingevolge die bepalings van artikel 57 (2) van die Wet aansoek gedoen om vonnis op sterkte van die appellant se voormelde erkenning van aanspreeklikheid, en die onderneming daarin om die vermelde bedrag af te betaal teen R100,00 per maand. Blykens die skriftelike versoek in terme van artikel 57 (2) sou daarby aangeheg wees, onder andere, ‘n afskrif van ‘n aanmaning wat ingevolge artikel 56 van die Wet aan die appellant gestuur sou gewees het en die appellant se skriftelike erkenning van aanspreeklikheid.


    1. Die betrokke aanmaning het nie deel gevorm van die oorkonde wat op appèl voor ons gedien het nie. In die lig van die landdros se bevinding (waarteen daar geen teen-appèl is nie) dat die aanmaning op die betrokke hoflêer gemodifiseer is en wesenlik verskil van die aanmaningskrywe wat in die aansoek om tersydestelling by die opponerende eedsverklaring aangeheg is, is dit vreemd dat dié dokument nie deel van die oorkonde vorm nie. Daar sal dus niks verder daarvan gemaak word by oorweging van hierdie appèl nie en dit is ook nie, in die lig van wat volg, werklik nodig om so te doen vir soverre dit die meriete van die appèl betref nie.


    1. Blykens die sertifikaat in terme van artikel 57 (2) (c) van die Wet, wat die aansoek om dié vonnis vergesel het, sou die appellant op daardie stadium ‘n totale bedrag van R14 386.23 aan die respondent verskuldig gewees het, wat in die betrokke sertifikaat soos volg uiteengesit is:



Kapitaal verskuldig ingevolge erkenning

11,257.00

Rente @ 21.25% pj soos per die Saldosertifikaat hiermee

11,250.70

Min Betaal

8,250.70

SALDO VAN KAPITAAL

14,386.23


    1. Die inhoud van die saldosertifikaat waarna hierin verwys is, het egter totaal verskil van hierdie uiteensetting. Volgens die betrokke saldosertifikaat, wat al op 26 Maart 2001 gedateer sou gewees het, sou die appellant op daardie stadium ‘n totale bedrag van R11 257.00 aan die respondent verskuldig gewees het, “synde kapitaal plus opgelope gekapitaliseerde rente”. Die betrokke sertifikaat reflekteer dus nêrens die bedrag van R11 250.70 as uitstaande rente nie.


    1. Hoe dit ookal sy, op 6 Februarie 2008 het die klerk van die hof ingevolge die bepalings van artikels 57 (2) van die Wet op sterkte van die betrokke erkenning van skuld vonnis ten gunste van die respondent verleen in die bedrag van R14 386.23. Dit dien vermeld te word dat, om die een of ander vreemde rede, die klerk van die hof ‘n heeltemal ander saaknommer toegeken het toe die respondent aansoek gedoen het om die laasgemelde vonnis. Die skriftelike erkenning van skuld (of ‘n afskrif daarvan) is op die nuwe hoflêer geplaas, nadat die saaknommer (921/2001) in die gemelde aksie deurgehaal is en skriftelik vervang is met die nuwe saaknommer, 118/08.


  1. Die appellant het daarna in die Landdroshof aansoek gedoen om die tersydestelling van die jongste vonnis, dit wil sê die vonnis op sterkte van die erkenning van aanspreeklikheid. In die aansoek het die appellant aangevoer dat daar geen bewys was daarvan dat die aanmaning, wat op die nuwe hoflêer geliasseer was, per geregistreerde pos aan hom gestuur is of deur die balju by hom afgelewer is nie en het die appellant ook gesuggereer dat dit inderdaad ‘n vervalsing was. Daar is aangevoer dat die appellant nooit die geleentheid gehad het om daardie aansoek te verdedig nie en dat die skuldoorsaak daarin in elk geval “presies dieselfde is as dié in saak 921/01, wat nog hangende is”.


  1. Die landdros het die aansoek om tersydestelling met koste afgewys. Daar is bevind dat die skuldoorsaak in die twee aangeleenthede, dit wil sê op die twee verskillende hoflêers, nie dieselfde was nie.


  1. Volgens die landdros se uitspraak sou die respondent eers op 12 Desember 2007, ses en ‘n half jaar na die ondertekening van die erkenning van skuld en ongeveer ses jaar nadat die voormelde verstekvonnis verleen is, die respondent se erkenning van aanspreeklikheid (en aanbod om af te betaal) aanvaar het en die respondent per geregistreerde pos daarvan in kennis gestel het. Daar is geen skriftelike aanname van die betrokke aanbod, of bewys daarvan dat dit per geregistreerde skrywe tot die kennis van die appellant gebring is, in die oorkonde wat op appèl voor ons gedien het nie. Daar sal egter, vir doeleindes van die oorweging van hierdie appèl, aanvaar word dat daar wel op daardie stadium voldoen is aan die voorskrifte van subartikels (1)(d) en (2) van artikel 57 van die Wet.


AANSOEK OM KONDONASIE


  1. Dit is gemenesaak dat die prokureurs vir die appellant versuim het om die appèl behoorlik voort te sit deur tydig aansoek te doen om ‘n verhoordatum, dat die kennisgewing van die aansoek om ‘n verhoordatum later per faks op die respondent se prokureur in De Aar “beteken” is (en nie “afgelewer” is soos bedoel in die Hofreëls nie) en dat die hoofde van betoog namens die appellant ook laat geliasseer is.


  1. Die verduidelikings wat hiervoor aangebied is, in ‘n aansoek om kondonasie en by monde van die appellant se prokureurs te De Aar en Kimberley, is dat die prokureur te De Aar nie bewus was van die tydsvoorskrifte met betrekking tot die voortsetting van ‘n appèl nie, dat die appélrekord in elk geval eers ontvang is nadat die aansoek om ‘n verhoordatum reeds moes ingedien gewees het en die appèl ook reeds verval het en, laastens, dat die advokaat wat aanvanklik die opdrag gehad het om die betoogshoofde voor te berei, nie binne die voorgeskrewe periode van minstens 15 dae voor die verhoordatum so gedoen het nie, en daar toe inderhaas aan ‘n ander advokaat opdrag gegee moes word om so te doen.


  1. Dit is natuurlik geen verskoning dat ‘n praktisyn op die platteland praktiseer nie. Indien ‘n prokureur, waar hy/sy ookal mag praktiseer, ‘n opdrag aanvaar om namens ‘n litigant stappe te neem om te verseker dat ‘n appèl voortgesit word, word daar sekerlik van sodanige prokureur verwag om te verseker dat hy/sy minstens vertroud is met die duidelike voorskrifte in hierdie verband.


  1. Wat betref die feit dat daar per faksimilee kennis gegee is van die aansoek om die verhoordatum, meen ek werklik dat die beswaar van die kant van die respondent in hierdie verband niks om die lyf het nie. Dit is, in die eerste plek, duidelik dat daar hoegenaamd geen benadeling hierin geleë kan wees nie, aangesien dit nêrens gesuggereer word dat die respondent nie die betrokke kennisgewing ontvang het nie, of benadeel is hierdeur nie. Verder blyk dit in elk geval uit die korrespondensie dat die prokureurs van die respondent reeds lank voordat die betrokke faksimilee ontvang is, per skrywe deur die appellant se prokureurs daarvan ingelig is dat daar met ‘n appèl voortgegaan word.


  1. Wat betref die appélrekord is dit so dat, wanneer gelet word op die bepalings van subreëls 40(a), (5)(a) en (7)(a) van Uniforme Hofreël 50, die vraag sou ontstaan of die appellant se prokureurs enigsins in staat sou gewees het om behoorlik aansoek te doen om ‘n verhoordatum waar hulle nog nie in besit was van die appèloorkonde nie. In die lig daarvan dat daar egter nie, in die eedsverklaring ter ondersteuning van die aansoek om kondonasie, gemeld is wanneer die oorkonde ontvang is nie, gaan ek nie verder op hierdie vraag in nie.


  1. Die feit is egter dat dit baie duidelik blyk, uit die inhoud van die funderende eedsverklaring in die aansoek om kondonasie, en ook uit die inhoud van skrywes wat destyds al deur die appellant se prokureurs aan die prokureurs van die respondent gerig is, dat die versuime uitsluitlik aan die appellant se regsverteenwoordigers toegeskryf kan word en dat die appellant nog te alle tye begerig was om sy appèl voort te sit.


  1. Ek kan dus nie saamstem met die suggestie van mnr Zietsman, die advokaat vir die respondent, dat die appellant weens die versuime geag moet word afstand te gedoen het van sy reg op appèl nie en ek meen dat die beslissing waarop mnr Zietsman in dié verband gesteun het, dié van AC Building Services CC v P B & A Personnel Consultants (Pty) Ltd 1992 (2) SA 55 (T), op die feite duidelik onderskeibaar is van die onderhawige geval.


  1. In die omstandighede, en in die lig van die aard van die onderhawige versuime en die afwesigheid van enige teken van benadeling as gevolg daarvan, meen ek nie dat die versuime van die regsverteenwoordigers in die onderhawige geval die appellant toegereken moet word en dat hy as gevolg daarvan sy reg op appèl behoort te verloor nie.


  1. In hierdie verband sou die appellant se vooruitsigte op sukses natuurlik ook tersaaklik wees en, soos wat sal blyk uit dit wat volg, is ek die mening toegedaan dat hy uitstekende vooruitsigte op sukses met sy appèl sou hê. Ek is dus van oordeel dat kondonasie aan die appellant verleen behoort te word en dat die appèl heringestel behoort te word.


  1. Dit mag moontlik ook net gemeld word dat die respondent self ook maar nie in hierdie verband met skoon hande Hof toe gekom het nie, aangesien die respondent se praktyksnota en bronnelys laat geliasseer is en die respondent se hoofde self ook nie binne die voorgeskrewe minimum periode van 10 dae voor die datum van aanhoring van die appèl geliasseer is nie. Dit egter daar gelaat.


  1. Ek meen egter wel, alles inaggenome, dat die respondent se opponering van die aansoek om kondonasie nie onbillik was nie, veral teen die agtergrond daarvan dat die appellant tot enkele dae voor die aanhoor van die appèl gewag het met ‘n aansoek om kondonasie, nadat die appellant se prokureur reeds gedurende Julie 2008 deur die respondent se prokureur gewys is op die versuime rondom die voortsetting van die appèl. Teen hierdie agtergrond, en in die lig daarvan dat dit immers die appellant was wat ‘n tegemoetkoming versoek het onder sodanige omstandighede, meen ek dat dit billik sal wees om die appellant te gelas om die koste van die aansoek om kondonasie te betaal, op ‘n bestrede skaal.


ELEKSIE


  1. Vir die doeleindes van die oorweging van die meriete van die appèl is dit nodig om te let op die bepalings van artikel 57 van die Wet en ek haal gerieflikheidshalwe die gedeeltes daarvan wat tersaaklik is hieronder aan:


57* Erkenning van aanspreeklikheid en onderneming om skuld in paaiemente of andersins te betaal


(1) Indien iemand (in hierdie artikel die verweerder genoem) 'n aanmaning ontvang het of aan hom 'n dagvaarding beteken is waarin betaling van 'n skuld geëis word, kan die verweerder skriftelik-


(a) aanspreeklikheid teenoor die eiser erken vir die bedrag van die skuld en koste wat in die aanmaning of dagvaarding geëis word of vir 'n ander bedrag;


(b) aanbied om die bedrag van die skuld en koste waarvoor hy aanspreeklikheid erken, in paaiemente of andersins te betaal;


………………………………; en


(d) instem dat, in geval hy versuim om sy aanbod na te kom, die eiser geregtig sal wees om sonder kennisgewing aan die verweerder aansoek te doen om vonnis vir die bedrag of die uitstaande saldo van die bedrag van die skuld waarvoor hy aanspreeklikheid erken, met koste, en om 'n hofbevel vir die betaling van die vonnisskuld en koste in paaiemente of andersins ooreenkomstig sy aanbod, en indien die eiser of sy prokureur bedoelde aanbod aanneem, stel hy die verweerder van bedoelde aanname skriftelik per geregistreerde brief in kennis.


(2) Indien die verweerder, nadat hy deur die eiser of sy prokureur skriftelik in kennis gestel is dat sy aanbod aangeneem is, versuim om sy aanbod na te kom, moet die klerk van die hof, op die skriftelike versoek van die eiser of sy prokureur vergesel van-


(a) indien geen dagvaarding uitgereik is nie, 'n afskrif van die aanmaning;

(b) die verweerder se skriftelike erkenning van skuld en aanbod en 'n afskrif van die eiser of sy prokureur se skriftelike aanname van die aanbod;


(c) 'n …… sertifikaat deur sy prokureur ……….., waarin aangetoon word hoe die saldo wat geëis word, bereken word-


  1. vonnis aanteken ten gunste van die eiser vir die bedrag of die uitstaande saldo van die bedrag van die skuld waarvoor die verweerder aanspreeklikheid erken het, met koste; en


  1. die verweerder beveel om die vonnisskuld en koste in bepaalde paaiemente of andersins ooreenkomstig sy aanbod te betaal, en so 'n bevel word geag 'n in artikel 65A (1) genoemde bevel van die hof te wees.


……………………………..


(4) 'n Vonnis wat ten gunste van die eiser kragtens subartikel (2) aangeteken is, het die uitwerking van 'n vonnis by verstek.


  1. Op appèl is onder andere namens die appellant geargumenteer dat, toe die respondent aansoek gedoen het om die verstekvonnis, die respondent in effek die keuse uitgeoefen het om nie die aanbod vervat in die erkenning van aanspreeklikheid te aanvaar nie en om eerder voort te gaan met die regshulp wat in die dagvaarding en besonderhede van vordering gevorder is.


  1. Hierdie argument is vir die eerste keer geopper in die betoogshoofde wat op die respondent se prokureurs afgelewer is op 2 Maart 2009, en dus nog ‘n geruime tyd voor die aanhoor van hierdie appèl op 16 Maart 2009.


  1. Op 2 Maart 2009 is daar betoogshoofde namens die respondent afgelewer. Daarin is die houding ingeneem dat die appèl weens die voormelde versuime aan die kant van die appellant van die rol geskrap behoort te word en is glad nie gehandel met die meriete van die appèl, of met enige van die argumente in die betoogshoofde namens die appellant, nie.


  1. Op 5 Maart 2009, dieselfde dag as waarop die appellant se aansoek om kondonasie afgelewer is maar reeds etlike dae nadat die appellant se betoogshoofde afgelewer is, is daar namens die respondent ‘n praktykskennisgewing en bronnelys afgelewer (wat eintlik saam met die betoogshoofde afgelewer moes gewees het). In die praktykskennisgewing is volhard met die houding dat nie met die meriete van die appèl gehandel word nie, ten spyte daarvan dat die appellant se betoogshoofde toe reeds ‘n dag of wat tevore ontvang is.


  1. Op 13 Maart 2009, dit wil sê die laaste hofdag voor die aanhoor van die appèl, is aanvullende hoofde van betoog namens die respondent afgelewer. Daarin is wel gehandel met die verweer van lis alibi pendens en met die beweerde fabrikasie van die aanmaning, maar is toe die houding ingeneem dat die verweer van eleksie en die vraag of ‘n geldige kompromis tot stand gekom het, nooit geopper is in die funderende eedsverklaring in die aansoek om tersydestelling of in die kennisgewing van appèl nie en dat die appellant gevolglik nie geregtig is om sodanige argumente te opper op hierdie stadium nie.


  1. Dit is so dat daar nêrens in die betrokke eedsverklaring gehandel is met enige van hierdie verwere of vrae nie. Dit blyk wel uit die landdros se uitspraak dat daar destyds namens die appellant geargumenteer is dat, waar die respondent nog nie in saaknommer 921/01 die omvang van sy skade bewys het nie, die respondent nie geregtig was om vonnis te neem op sterkte van die erkenning van aanspreeklikheid nie en dat die verweer lis alibi pendens geopper is.


  1. Wat die kennisgewing van appèl betref, is dit gegiet in baie wye terme. Daar is, ondermeer, aangevoer dat die landdros fouteer het deur:


1.2 Te bevind dat die respondent uit hoofde van die gemelde skulderkenning vonnis kon vra vir sy gelede skade.


......


    1. Te bevind dat dit nie onreëlmatig van die respondent was om in saaknommer 921/01 nie die kwantum van die respondent se skade te bewys nie.


    1. Nie te bevind dat die Appellant ‘n bona fide verweer teen die respondent se aksie het nie.”


  1. Wat die verweer van lis alibi pendens betref, was die argument namens die appellant, as ek dit reg verstaan het, dat in saaknommer 921/01 die geskilpunt rakende die omvang van die respondent se skade nog hangende was en dat die erkenning van aanspreeklikheid, in saaknommer 118/08, in wese ook maar geslaan het op die respondent se skade. Op hierdie basis is dan geargumenteer dat die eise in die twee aangeleenthede op dieselfde skuldoorsaak gebaseer was. Ek twyfel of dit korrek kan wees, maar in die lig van wat volg, is dit nie nodig om hieroor ‘n bevinding te maak nie.


  1. Mnr van Tonder, die advokaat vir die appellant, het egter betoog dat die vraag of die respondent nie deur die aansoek om verstekvonnis ‘n keuse uitgeoefen het om nie gebruik te maak van die erkenning van aanspreeklikheid (en aanbod) nie, ‘n voortvloeisel is van die verweer van lis alibi pendens en as’t ware daarby inbegrepe is, en dat hy op dié basis geregtig sou wees om voort te gaan met sy argumente gebaseer op eleksie. Ek moet sê dat ek ongelukkig glad nie dié argument begryp nie. Die vraag of die appellant se aanbod afgewys en of daar om dié rede nooit ‘n kompromis tot stand gekom het nie, is tog totaal verskillend van die vraag of ‘n kompromis wat wel tot stand gekom het, ‘n identiese skuldoorsaak aan dié in saak 921/01 sou wees.


  1. Selfs al sou dit aanvaar word dat die vraag of die aanbod afgewys is nie ingelees kan word by enige van die wye gronde van appèl nie, sou dit steeds in hierdie Hof se diskresie wees om op appèl toe te laat dat ‘n nuwe punt geargumenteer word (sien Bank of Lisbon and South Africa Ltd v The Master and Others 1987 (1) SA 276 (AD) op 290) en ek meen dat hierdie ‘n gepaste geval is om so te doen:


    1. Ek kan nie sien hoe hierdie vraag, indien dit geopper sou gewees het by die aansoek om tersydestelling in die Landdroshof, enigsins die verloop van die gebeure daar sou kon beïnvloed het nie. Soos wat ek die landdros se uitspraak verstaan, het hy van die standpunt uitgegaan dat daar nooit in saaknommer 921/01 vonnis vir die skade versoek of verkry is nie en dat, omdat die erkenning van skuld in effek die omvang van die skade bepaal het en gelikwideer het, die respondent toe geregtig was om op sterkte van die erkenning van aanspreeklikheid die “skade” te vorder. Op die landdros se benadering sou dus nie gesê kon word dat die respondent, met die aansoek om verstekvonnis, ‘n keuse uitgeoefen het om, ook wat die skade betref, eerder saaknommer 921/01 voort te sit as om te steun op die erkenning van aanspreeklikheid nie.


    1. Wat die appèlverrigtinge betref, het ek reeds daarop gewys dat die respondent se regsverteenwoordigers ruim voor die aanhoor van hierdie appèl deur middel van die betoogshoofde namens die appellant kennis moes geneem het daarvan dat hierdie vraag op appèl geargumenteer sou word. Daar is geen rede waarom die respondent nie gereed kon gewees het om die vraag op appèl te argumenteer nie en mnr Zietsman het dan ook nie, by die aanhoor van die appèl, aan die hand gedoen dat hy nie in staat was om die punt te argumenteer nie of ‘n uitstel vir sodanige doeleindes versoek nie. Inteendeel, mnr Zietsman het geargumenteer dat die betalings wat die appellant gemaak het ná ondertekening van die erkenning van aanspreeklikheid en vòòr die verstekvonnis, aanduidend daarvan sou wees dat die betrokke betalings gemaak is ingevolge die erkenning van skuld en, meer belangrik, dat die respondent dit aldus aanvaar het en gevolglik die erkenning van aanspreeklikheid toe reeds op sodanige wyse implisiet of stilswyend aanvaar het.


    1. Die vraag of die respondent, deur aansoek te doen om verstekvonnis, in effek die aanbod (wat inbegrepe was by die appellant se erkenning van aanspreeklikheid) afgewys het, is na my oordeel ‘n vraag wat maklik en duidelik op die beskikbare inligting bereg kan word, waarop nie denkbaar ander getuienis voor die landdros geplaas sou gewees het nie en waarop die antwoord, na my mening, duidelik uit die beskikbare inligting blyk.


  1. Die probleme met die landdros se benadering, en met die argument dat die ontvangs van die betrokke betalings aanduidend sou wees van ‘n aanname van die “aanbod”, is die volgende:


    1. Die respondent het nie bloot en alleen aansoek gedoen om ‘n bevel dat die omvang van sy skade oorstaan vir latere beregting nie. Die respondent het, in sy aansoek om verstekvonnis, ook aansoek gedoen om bevele wat die ooreenkoms sou kanselleer en, meer belangrik, wat teruggawe van die motorvoertuig sou gelas, en daar is inderdaad in daardie terme vonnis by verstek toegestaan.


    1. Op die respondent se eie saak sou dit totaal onmoontlik gewees het om, waar reeds gelas is dat die voertuig teruggelewer moes word aan die respondent, steeds vonnis te verkry vir die totale bedrag van die uitstaande kapitaal en rente op daardie stadium. Dit was die respondent se saak, soos gepleit in die besonderhede van vordering, dat die respondent geregtig sou wees op teruggawe van die voertuig, op die verbeuring van reeds betaalde paaiemente en, veral hier van belang, op skadevergoeding wat bepaal sou word deur die waarde van die voertuig in verrekening te bring teen die uitstaande kapitaal en rente. Toe die respondent dus in saaknommer 921/01 die keuse uitgeoefen het om bevele te verkry vir die teruggawe van die voertuig en vir die oorstaan van die geskilpunt rondom die omvang van sy skade, het die respondent, na my oordeel, duidelik die keuse uitgeoefen om die vraag na watter bedrag geld hy van die appellant sou kon verhaal, te laat bereg in saaknommer 921/01.


    1. Die ontvangs van net twee betalings tussen die datums van die ondertekening van die erkenning van aanspreeklikheid en die verlening van verstekvonnis sou ook nooit, na my mening, in die omstandighede gesien kon word as ‘n basis vir die afleiding dat die respondent toe reeds die aanbod aanvaar het nie (vergelyk Paterson Exhibitions CC v Knights Advertising and Marketing CC, 1991 (3) SA 523 (A) en Be Bop A Lula Manufacturing & Printing CC v Kinglex Marketing (Pty) Ltd 2008 (3) SA 327 (SCA)).


      1. Indien dit wel die respondent se bedoeling sou gewees het, sou ‘n mens verwag het dat die respondent, toe die appellant nie stiptelik betaal het ingevolge die kompromis wat deur sodanige aanname sou ontstaan het nie, dadelik sou voortgegaan het met die afdwing van die kompromis, in stede daarvan om die omvang van sy skade te laat oorstaan vir latere bepaling deur ‘n Hof.


      1. In elk geval sou die respondent, in die lig van die bepalings van subartikels (1)(d) en (2) van artikel 57, die betrokke aanbod slegs geldiglik kon aanvaar het deur toe reeds skriftelik so te doen en die appellant reeds op daardie stadium per geregistreerde pos van sodanige aanname in kennis te stel.


      1. Dit het die respondent eers in Desember 2007 gedoen, onmiddellik voordat voortgegaan is met die aansoek om vonnis op sterkte van die erkenning van aanspreeklikheid, en die vraag sou dan ontstaan waarom die respondent, indien hy van oordeel was dat hy alreeds in 2001, en nog voordat verstekvonnis geneem is, die aanbod aanvaar het, later weer ‘n skriftelike aanname van die aanbod aan die appellant sou gekommunikeer het.


  1. Ek is dus van oordeel dat die aanduidings oorweldigend is dat die respondent op geen stadium voordat aansoek gedoen is om verstekvonnis, en inteendeel tot in Desember 2007, die aanbod wat inbegrepe was by die erkenning van aanspreeklikheid aanvaar het nie.


  1. Die aansoek om ‘n bevel, by verstek, dat die bepaling van sy skade oorstaan vir latere beregting, in plaas daarvan om doodeenvoudig op sterkte van die skriftelike aanbod selfs meer te verhaal as die skade waarop die respondent ingevolge die afbetalingsverkoopooreenkoms geregtig sou wees, kan op die waarskynlikhede geen ander afleiding regverdig nie as dat die respondent op daardie stadium nie die aanbod aanvaar het (wat sou behels dat die betrokke bedrag in paaiemente van R100,00 per maand afbetaal sou word) nie, en verkies het om eerder te poog om vir die volle bedrag vonnis te verkry in saak 921/01.


  1. Die aanbod wat by die erkenning van aanspreeklikheid inbegrepe was, was vir presies die bedrag wat die respondent in sy besonderhede van vordering beweer het nog enkele maande tevore die volle uitstaande balans op die afbetalingsverkoopoor-eenkoms te gewees het. Die verhaling van skade in ‘n bedrag gelykstaande aan die verskil tussen die uitstaande balans en die waarde van die voertuig sou eintlik maar net neergekom het op ‘n ander manier om uiteindelik maar ook die uitstaande balans te bekom.


  1. n Wesenlike stap in die laasgemelde metode sou dan die terugneem van die voertuig gewees het. Dit was die eerste stap in die verhaling van die uitstaande balans by wyse van skadevergoeding, in teenstelling met die verhaling van die uitstaande balans by wyse van die aanvaarding en afdwinging van die erkenning van aanspreeklikheid (en inbegrepe aanbod), en die neem van dié stap (toe aansoek gedoen is om ‘n vonnis by verstek vir die teruggawe van die voertuig) regverdig na my oordeel op die waarskynlikhede slegs een afleiding, en dit is dat die respondent op daardie stadium nog nie die aanbod aanvaar het nie en dit in effek op die oomblik van die aansoek om verstekvonnis, afgewys het.


  1. Selfs al sou daar dus ook in Desember 2007 ‘n skriftelike “aanname” van die aanbod onderteken en versend gewees het, sou daar nie op daardie stadium meer ‘n aanbod gewees het om te aanvaar nie (sien The Law of Contract in South Africa, Christie, 5de uitgawe, bl 49 en The Principles of the Law of Contract, Kerr, 6de uitgawe, bl 75), want dit sou reeds verval het toe die aanbod geweier is deur aansoek te doen om ‘n bevel wat totaal onversoenbaar sou wees met ‘n bedoeling om die aanbod te aanvaar en om ‘n ooreenkoms tot stand te laat kom ingevolge waarvan die appellant toegelaat sou word om die voertuig te behou en om ooreenkomstig sy aanbod die uitstaande balans op die afbetalingsverkoopooreenkoms te vereffen by wyse van maandelikse paaiemente.


  1. In die lig hiervan meen ek gevolglik dat die vonnis onder saaknommer 118/08 tersydegestel moes gewees het, op die basis dat dit ab origine nietig was weens die feit dat dit gebaseer was op ‘n ooreenkoms wat nooit tot stand gekom het nie.


ALGEMEEN


  1. Daar is na my oordeel ook ander kommerwekkende aspekte rondom die wyse waarop die klerk van die hof hier genader is en vonnis hier verleen is op sterkte van die erkenning van aanspreeklikheid, maar waaroor dit in die lig van die voorgaande nie nodig is om finaal te beslis nie.


    1. Die appellant se bewering, in sy aansoek om tersydestelling, dat hy deur die prokureur vir die respondent “beweeg” is om die erkenning van skuld te onderteken, is in die opponerende eedsverklaring erken.


    1. Dit was, soos reeds gemeld, die respondent se eie saak dat die skadevergoeding waarop die respondent geregtig sou wees, ‘n bedrag gelykstaande aan die verskil tussen die uitstaande balans en die waarde van die voertuig sou beloop.


    1. Die basis van die gesprek tussen die respondent se prokureur en die appellant moes dus noodwendig gewees het dat die appellant sy voertuig sou kon behou indien hy die vorm sou onderteken waarin hy sou toestem tot vonnis vir die volle uitstaande kapitaal en rente (as hy nie stiptelik sou betaal soos uiteengesit in die betrokke aanbod en vorm nie).


    1. Selfs al sou aanvaar word dat die appellant toe nie stiptelik betaal het ooreenkomstig sy aanbod nie (indien vir die oomblik buite rekening gelaat word dat die aanbod toe nog nie geldiglik aanvaar was op die voorgeskrewe wyse nie), en dat die respondent geregtig was om voort te gaan met sy aksie en met die regshulp oorspronklik gevorder (sien paragraaf 7 van die erkenning van aanspreeklikheid), sou die respondent sekerlik darem nooit geregtig kon wees op die behoud van alle reeds-betaalde paaiemente, die volle uitstaande balans van die kapitaal en rente (asof die afbetalingsverkoop-ooreenkoms dus nagekom is) en dan nog ook ‘n bevel vir die teruggawe van die voertuig nie.


    1. Dit is presies die eindresultaat van wat hier gebeur het. Alhoewel daar nie getuienis is dat dit doelbewus so gemanipuleer is nie, is die afleiding onafwendbaar dat die opening van ‘n tweede lêer en die afwesigheid van die bevel met die verstekvonnis daarin, ‘n bydrae hiertoe moes gelewer het. Die klerk van die hof het uiteindelik waarskynlik nie geweet van die bestaande verstekvonnis nie.


    1. Mnr Zietsman het geen antwoord gehad op ‘n vraag of hy, indien hy in die posisie was van die klerk van die hof in hierdie geval, maar wel bewus was van die bestaande verstekvonnis en van die ander lêer, vonnis sou verleen het op die onderhawige erkenning van aanspreeklikheid alleen (en sonder insae in die ander lêer) nie.


    1. Waarom dit enigsins nodig was om ‘n tweede lêer te open, is vir my ‘n raaisel. Die erkenning van aanspreeklikheid (en die inbegrepe aanbod) was tog bloot ‘n stap in die aksie wat die onderwerp van saak 921/01 gevorm het.


    1. Ek kan glad nie begryp waarom die prokureur van die respondent, indien hy eerlik van mening was dat die respondent teen die agtergrond van die bestaande verstekvonnis vir die teruggawe van die voertuig (en die bevel vir die oorstaan van die respondent se skade), steeds geregtig sou wees op ‘n vonnis op die basis van die erkenning van aanspreeklikheid, en wel vir die volle uitstaande balans van die kapitaal en die rente, nie bloot die lêer in saak 921/01 voor die klerk van die hof geplaas het vir die doeleindes van die latere aansoek om vonnis nie.


    1. Die vereiste aanmaning, dagvaarding en erkenning van aanspreeklikheid was immers stukke in daardie lêer. Die skriftelike aanname (en bewys van die geregistreerde versending daarvan) en die sertifikaat oor die uitstaande balans op daardie aanbod, moes mos logieserwys op dieselfde lêer geplaas gewees het.


    1. In plaas daarvan is die erkenning van aanspreeklikheid van die lêer in saak 921/01 verwyder, die saaknommer daarop deurgehaal en verander na 118/2008 en is dit op die nuwe lêer geplaas, tesame met slegs die verdere dokumentasie wat nodig sou wees om aansoek te doen om ‘n vonnis op sterkte van die erkenning van aanspreeklikheid.


    1. Omdat so ‘n erkenning van aanspreeklikheid aangegaan kan word waar daar nog slegs ‘n aanmaning was, sou die klerk van die hof so onder die indruk gebring kon gewees het dat daar nog geen dagvaarding was nie en sou die klerk van die hof nie maklik rede gehad het om te vermoed dat daar ook alreeds ‘n verstekvonnis teen die respondent was wat gebaseer was op presies dieselfde skuldoorsaak as die een wat onderliggend was aan, en wat aanleiding gegee het tot, die erkenning van aanspreeklikheid nie.


    1. Ek herhaal egter dat hier nie getuienis is om te bevind dat enige van die respondent se prokureur of die klerk van die hof opsetlik so ‘n toedrag van sake gemanipuleer het nie.


    1. Die klerk van die hof het verder duidelik nie opgelet dat die saldosertifikaat waarna verwys is in die sertifikaat in terme van artikel 57(2)(c) van die Wet, en wat volgens die laasgemelde sertifikaat sou aantoon dat die uitstaande rente reeds ‘n bedrag van R11 250,70 beloop het, nie alleen glad nie gemeld het dat dié bedrag aan rente verskuldig was nie (en inteendeel gesertifiseer het dat die uitstaande balans aan beide kapitaal en rente R11 257,00 beloop het), maar ook reeds op 26 Maart 2001 gedateer was.


    1. In die lig van Nedbank Ltd v Morsead Securities (Pty) Ltd 1978 (3) SA 633 (W) verleen ek nie verdere oorweging aan die vraag of die betrokke bedrag aan rente die in duplum-reël sou oorskry nie, en dit was ook nie die appellant se saak nie.


KOSTE


  1. Ek meen dus opsommenderwys dat die appèl behoort te slaag. Daar is geen rede waarom die koste van die appèl nie die uitslag daarvan behoort te volg nie.


  1. Wat betref die koste van die aansoek om tersydestelling, meen ek dat die respondent gelas moet word om dit te betaal. Die appellant het geen deel gehad daarin dat daar op dié ooglopend onreëlmatige wyse nog ‘n vonnis teen hom verleen is nie.


  1. Die optrede van die respondent se prokureurs ter verkryging van die latere vonnis, moet gesien word teen die agtergrond daarvan dat dieselfde prokureurs ook vroeër die lasbriewe laat uitreik het terwyl daar nog geen vonnis bestaan het wat die appellant verplig het tot die betaling van geld nie (sien artikel 66(1)(a) van die Wet). Met daardie lasbriewe is beslag gelê op die appellant se eiendom en hulle het gelei tot verdere betalings deur die appellant, en daar is doodeenvoudig geen verduideliking vir daardie optrede nie.

BEVELE


  1. Bygevolg sou ek die volgende bevele hierin maak:

  1. Kondonasie word aan die appellant verleen ooreenkomstig bedes 1 tot 3 van die appellant se aansoek om kondonasie gedateer 5 Maart 2009, die appèl word heringestel en die appellant word gelas om die koste van die aansoek om kondonasie te betaal op ‘n bestrede skaal.


  1. Die appèl slaag en die landdros se weiering van die aansoek om tersydestelling en die gepaardgaande kostebevel word tersyde gestel en vervang met die volgende bevele:


1. Die vonnis onder saaknommer 118/08 verleen, word tersyde gestel.


2. Die eiser word gelas om die koste van die aansoek om tersydestelling te betaal.”











________________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING



Ek stem saam:





________________________

C C WILLIAMS

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING




Nms Appellant: Adv A G van Tonder

In opdrag van: L Coetzee Prokureur


Nms Respondent: Adv P J J Zietsman

In opdrag van: Duncan & Rothman