South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 75

| Noteup | LawCite

AMSA SA (Edms) Bpk v Frabert BK (1425/08) [2008] ZANCHC 75 (12 December 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


Reportable: Yes / No

Circulate to Judges: Yes / No

Circulate to Magistrates: Yes / No


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saaknommer: 1425/08

Datum verhoor: 2008-12-05

Datum gelewer: 2008-12-12

In die saak van:


AMSA SA (EDMS) BPK APPLIKANT



versus



FRABERT BK RESPONDENT


UITSPRAAK


MAJIEDT R


  1. Hierdie is ‘n bestrede dringende aansoek vir die voorlopige likwidasie van die Respondent. Alhoewel die Applikant aanvanklik sy aansoek geloods het met toepassing van die normale voorgeskrewe tydperke en betekening, het hy die aansoek omskep in ‘n dringende aansoek a.g.v. die veranderde situasie van die Respondent waarna ek aanstons sal verwys. By ‘n vorige geleentheid, en wel op 21 Oktober 2008, was die saak ook voor my op ‘n bestrede, dringende basis en het ek die volgende bevel verleen:

1. Die aansoek word uitgestel na die Bestrede Mosiehofrol op ‘n datum soos deur die Griffier bepaal en toegeken. Die Griffier word versoek om die vroegste moontlike datum op daardie Rol toe te ken.

  1. Koste staan oor vir latere beregting.

  2. Die partye word gemagtig om, indien hulle dit goed sou ag, die stukke aan te vul.

  3. Die Respondent word gelas om voor/op 14 November 2008 die bedrag van R3 856 579.00 oor te betaal in die trustrekening van die Applikant se prokureurs van rekord, hangende die finale afhandeling van hierdie likwidasie aansoek.

  4. Indien die voormelde bedrag nie inbetaal is teen 14 November 2008 nie of indien dit blyk dat die Respondent die Nasionale Kredietreguleerder se verbod teen die bedryf van ‘n mikro-gelduitleenbesigheid oortree, word die Applikant gemagtig om op dieselfde stukke, aangevul waar nodig, die Hof te nader vir ‘n bevel.

  5. Redes vir hierdie bevel sal verskaf word indien skriftelik aangevra binne 14 dae vanaf hierdie bevel.”



  1. Die rede waarom die Applikant hierdie aansoek omskep het in ‘n dringende aansoek is omdat die Applikant bewus geword het dat die Respondent se registrasie as ‘n mikro-uitlener by die Nasionale Kredietreguleerder op 15 Oktober 2008 gekanselleer is. Hierdie is dan ook een van die vernaamste gronde waarop die Applikant steun vir sy aansoek vir die voorlopige likwidasie van die Respondent, aangesien die Applikant die submissie maak dat die substratum van die Respondent se bestaan as ‘n besigheid verval het.

  2. Die partye hiertoe is beide betrokke in die mikro-finansieringsindustrie. Die Applikant het ingevolge skriftelike ooreenkomste ‘n eksklusiewe konsessiereg (in Engels “franchise”) gegee aan die Respondent en daarvolgens is bedryfstelsels, sagteware, bedryfsmetodiek, ‘n geregistreerde handelsmerk en handelsnaam (“Cash Wise”) asook opleiding verskaf. Ingevolge die voormelde vryevergunningsooreenkomste het die partye ooreengekom dat die Respondent as teenprestasie rentedeel betalings van 3.5% van enige bedrag geld wat deur die Respondent op enige gegewe tyd aan sy kliënte uitgeleen word uit sy rente-inkomste aan die Applikant sal oorbetaal. Die Respondent bedryf ingevolge hierdie voormelde ooreenkomste ‘n aantal Cash Wise mikro-uitleen takke, hoofsaaklik in die noordwestelike gedeelte van die Noord-Kaap.

  3. Verder is daar tussen die Applikant se verteenwoordiger en die Respondent se verteenwoordiger (Joubert) ook ‘n leningsooreenkoms aangegaan ingevolge waarvan die Applikant R300 000,00 aan die Respondent geleen het. Die terme van hierdie lening is beliggaam in ‘n skriftelike leningsooreenkoms en was klaarblyklik aan die Respondent voorgeskiet ten einde hom by te staan met die betaling van sekere agterstallige belastings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”). Hierdie leningsooreenkoms is namens die Respondent onderteken op 23 Desember 2005. Daarmee saam het Joubert hom verbind as ‘n onbeperkte borg ten gunste van die Applikant ingevolge hierdie leningsooreenkoms. Ek moet uitwys dat in terme van die onderskeie vryevergunnings-ooreenkomste waarna ek vroeër verwys het, Joubert hom insgelyks verbind het ten gunste van die Applikant as ‘n borg en mede-hoofskuldenaar van die Respondent se verpligtinge teenoor die Applikant. As verdere sekuriteit het die Respondent ook aan die Applikant ingevolge die leningsooreenkoms van 23 Desember 2005 ‘n sessie van sy reg, titel en belang in die mikroleen ondernemings aan die Applikant verskaf. Ek ag dit gerade om hierdie bepaalde klousule in die leningsooreenkoms volledig aan te haal as volg:

Sessie van die lener se reg, titel en belang in die mikroleen ondernemings wat die lener by die Uitlener onder Vryevergunningsooreenkoms bedryf. In die geval van wanbetaling sal die Uitlener geregtig (wees) om besit en beheer te neem van die mikroleen ondernemings ten einde die skulde te verhaal, en sal die Uitlener in so ‘n geval die besighede bedraf ooreenkomstig die bedryfstelsel tans in plek en geregtig wees om risiko analises te doen op al die ondernemings van die Lener ten einde sy (Uitlener) regte en die ondernemings se vooruitgeskatte suksesse te bepaal”.

Die Respondent voer aan dat hierdie gepoogde voorlopige likwidasie deur die Applikant nie bona fide is en bloot ‘n poging is om die Respondent se ondernemings oor te neem vir homself.

  1. Daar is ‘n dispuut op die stukke voor my aangaande die bedrag van verskuldigdheid van die Respondent teenoor die Applikant. Wat egter vas staan is dat die Respondent ‘n aansienlike bedrag geld verskuldig is aan die Applikant. Ek moet nou alreeds uitwys dat, alhoewel die Respondent herhaaldelik die bedrag van verskuldigdheid in geskil plaas, hyself (by monde van die deponent Joubert) nooit self ‘n bedrag van verskuldigdheid voorhou nie. Dit is die Applikant se saak dat hy ‘n gelikwideerde vordering van R3 856 579,00 teen die Respondent het. Die Applikant stel die bedrag as volg saam:

a) R3 250 166,45 as agterstallige rentedeel soos bereken op 30 April 2008;

b) R424 980,83 uitstaande ingevolge die leningsooreenkoms vroeër na verwys en soos bereken soos op 1 Mei 2008;

c) R181 433,39 ten aansien van sekere tjeks wat Respondent aan Applikant gegee het en wat nie gehonoreer is deur die Respondent se bank nie.

  1. Die groot geskilpunt tussen die partye aangaande die bedrag van verskuldigdheid is dat die Respondent beweer dat, teenstrydig met die partye se skriftelike vryevergunningsooreenkomste, die Applikant vir ongeveer ‘n jaar na 2005 ‘n rentedeel van 5% in stede van 3,5% gehef het. Selfs as ‘n mens hierdie weergawe van die Respondent aanvaar, dan bly die Respondent steeds ‘n bedrag van R2 114 374,66 verskuldig aan die Applikant. Só ‘n herberekening maak voorsiening vir diskontering van die rentedeelbetaling van 5% na 3,5%.

  2. Op 12 Junie 2008 is ‘n verdere skriftelike ooreenkoms aangegaan tussen die Applikant en Joubert ingevolge waarvan Joubert sy ledebelang in die Respondent oorgedra het aan De Beer van die Applikant. In daardie ooreenkoms het Joubert namens die Respondent skriftelik erken dat die Respondent BK en ook hyself (Joubert) in sy persoonlike hoedanigheid as borg en mede-hoofskuldenaar aan die Applikant ‘n bedrag van R3 856 579,00 verskuldig is. Ek is dit eens met Applikant se advokaat, Mnr. Ströh SC (wat hierin bygestaan is deur Mnr. N de Wet) dat die voormelde nie net ‘n erkenning van die bedrag van verskuldigdheid is aan die kant van Joubert namens en ten behoewe van die Respondent nie, maar ook ‘n erkenning is van die gelikwideerde aard van die vordering wat die Applikant het.

  3. Joubert het die nodige CK dokumente onderteken ingevolge waarvan hy sy ledebelang in die Respondent sou oordra aan De Beer van die Applikant. Aangesien die registrasienommer van die Respondent op die ondertekende CK dokumente egter verkeerd was, het die Registrateur van Beslote Korporasies geweier om die wysiging van die ledebelang te registreer soos ooreengekom. Joubert het toe eensklaps geweier om die gekorrigeerde CK dokumente te onderteken, omrede hy toe ewe skielik nou die berekening van die verskuldigde bedrag bevraagteken het.

  4. In die antwoordende stukke voor die Hof beweer Joubert nou dat hy onder dwang was om die bepaalde ooreenkoms van 12 Junie 2008 te onderteken. Hy voer naamlik aan dat hy te Centurion by die Applikant se prokureur gedreig is om die dokumente te onderteken, waarna hy toe sekere eiendomsbeskrywings en ander inligting aan die Applikant se prokureur verskaf het. Die ooreenkoms is toe opgestel en dit sowel as die CK dokumente vir die oordrag van die ledebelang is deur Joubert onderteken. Hierdie beweringe van dwang word heftig deur die Applikant ontken in repliek. Intussen het Joubert en die Respondent dagvaarding uitgereik in die Transvaalse Provinsiale Afdeling onder saaknommer 52883/08 teen die Applikant en De Beer waarin hierdie beweringe van dwang herhaal word en waarin gevra word dat die ooreenkoms tussen die partye, gedateer 12 Junie 2008, tersyde gestel word deur daardie Hof.

  5. Die agtergrondfeite wat ek in die paragrawe hierbo uiteengesit het, is grootliks onbetwis, of indien betwis, bevind ek dat sodanige feitegeskille wat opgewerp word deur die Respondent nie bona fide is nie.

Vergelyk: Room Hire Co. (Pty) Ltd v Jeppe Street Mansions (Pty) Ltd 1949 (3) SA 1155 (T) te 1163 – 1165;

Plason-Evans Paints v Van Riebeeck Paints 1984 (3) SA 623 (A) te 634 I.

Ek bereg gevolglik hierdie aansoek op die feitebasis soos hierbo uiteengesit.

  1. Uit hoofde van die voormelde benadering ten aansien van die agtergrondfeite, kan ek nou alreeds tot die bevinding kom dat die Applikant inderdaad ‘n gelikwideerde vordering het teen die Respondent in ‘n bedrag wat hom kwalifiseer as ‘n skuldeiser vir al die tersaaklike bepalings vervat in die Maatskappyewet, 61 van 1973 (“die Maatskappyewet”).

  2. Ek wend my vervolgens na die Respondent se verweer van dwang ten aansien van die ooreenkoms gesluit op 12 Junie 2008 tussen die partye. Na my mening is hierdie verweer vergesog, hoogs onwaarskynlik en kan dit met veiligheid verwerp word vir doeleindes van hierdie aansoek. Ek sê so omrede die volgende aspekte in die weergawe voorgehou deur Joubert in sy antwoordende eedsverklaring namens die Respondent die wenkbroue laat lig:

a) Volgens Joubert was die doel van sy reis vanaf Upington na Centurion om die netelige aspekte rondom die agterstallige rentedeel betalings te bespreek met die Applikant;

b) Hy reis af na Centurion, welwetende dat die Applikant se prokureur teenwoordig gaan wees by die vergadering, maar word hyself nie vergesel deur sy eie prokureur nie;

c) Hy verskaf aan die Applikant se prokureur sekere eiendomsbeskrywings vir invoeging in die ooreenkoms wat op skrif gestel word later;

d) Joubert verlaat die vergadering en keer na ‘n uur terug waartydens hy die skriftelike ooreenkoms onderteken;

e) Op ‘n latere stadium plaas Joubert se prokureur slegs die berekening van die verskuldigde bedrag in geskil, maar opper op geen stadium in daaropvolgende korrespondensie enige bewerings van dwang waaronder Joubert na bewering die ooreenkoms sou onderteken het nie;

f) Joubert werp vir die eerste keer die verweer van dwang op in sy antwoordende eedsverklaring in hierdie verrigtinge.

  1. Bowendien en in elk geval, selfs al word Joubert se weergawe soos dit tans daar uitsien in sy eedsverklaring en ook in die dagvaarding uitgereik in die Transvaalse Provinsiale Afdeling, aanvaar vir doeleindes van hierdie uitspraak, is ek die mening toegedaan dat daar geen eisoorsaak openbaar word nie soos tereg deur Mnr. Ströh namens die Applikant aangevoer, omrede:

a) Die Applikant daarvolgens nie die Respondent met wederregtelike optrede gedreig het nie;

b) Die beweerde dwang nie redelik is nie; en

c) Die Respondent het nie by die sluiting van die kontrak daarteen beswaar gemaak nie.

In hierdie verband het Nugent AR die posisie as volg bespreek in Medscheme Holdings (Pty) Ltd and another v Bhamjee 2005 (5) SA 339 (SCA) te 346 A – D (part [18])

[18] English and American law both recognise that economic pressure may, in appropriate cases, constitute duress that allows for the avoidance of a contract. As pointed out by Van den Heever AJ in Van den Berg & Kie Rekenkundige Beamptes v Boomprops 1028 BK 1999 (1) SA 780 (T), that principle has yet to be authoritatively accepted in our law. While there would seem to be no principled reason why the threat of economic ruin should not, in appropriate cases, be recognised as duress, such cases are likely to be rare. (The point is underlined by the dearth of English cases in which economic duress was found to have existed.) For it is not unlawful, in general, to cause economic harm, or even to cause economic ruin, to another, nor can it generally be unconscionable to do so in a competitive economy. In commercial bargaining the exercise of free will (if that can ever exist in any pure form of the term) is always fettered to some degree by the expectation of gain or the fear of loss. I agree with Van den Heever AJ (in Van den Berg & Kie Rekenkundige Beamptes at 795E - 796A) that hard bargaining is not the equivalent of duress, and that is so even where the bargain is the product of an imbalance in bargaining power. Something more - which is absent in this case - would need to exist for economic bargaining to be illegitimate or unconscionable and thus to constitute duress.”

In Wessels, The Law of Contract, te paragraaf 1167 sit hy die voorvereistes vir die verweer van dwang by kontraksluiting as volg uiteen:

In order to set aside a contract of violence or fear, our law requires the following elements:

1. Actual violence or reasonable fear;

2. The fear must by caused by the threat of some considerable evil to the party or his family;

3. It must be a threat of an imminent or inevitable evil;

4. The threat or intimidation must be contra bonos mores;

5. The moral pressure used must have caused damage”

Sien verder ook: Christie: The Law of Contract in South Africa, 5de uitgawe te 302;

Kerr: The Principles of the Law of Contract, 6de uitgawe te 318 – 319.

  1. Samevattend dus, wat betref die verweer van dwang, bevind ek dat dit op die waarskynlikhede verwerp kan word en dat die ooreenkoms gesluit tussen die partye op 12 Junie 2008 wel geldig is en dus aanvaar word vir doeleindes van hierdie uitspraak.

  2. Mnr. Ströh het aan die hand gedoen dat die Applikant ‘n saak uitgemaak het vir die voorlopige likwidasie van die Applikant en het selfs aan die hand gedoen dat die Hof nou met al die feite tot sy beskikking, kan oorweeg om ‘n finale bevel uit te reik. Dit is sy submissie dat die Respondent op twee gronde gelikwideer kan word, naamlik dat hy nie sy skuld kan betaal nie soos vereis in art 354(1)(c) van die Maatskappyewet en verder dat sy bestaansreg (substratum) daarmee heen is en dat dit gevolglik reg en billik is dat hy op hierdie basis gelikwideer word. Namens die Respondent het Mnr. van Rensburg moedig probeer aantoon dat die Respondent nie kommersieel insolvent is nie en dat dit nie reg en billik sal wees dat die Respondent nou in likwidasie, selfs voorlopig, geplaas word nie. Hy het daarna verwys dat die Respondent, alhoewel sy bestaansreg as mikro-uitlener weliswaar verval het, nog steeds besigheid kan bedryf en dat die uitreiking van ‘n likwidasiebevel op hierdie stadium die Respondent se invorderings van uitstaande lenings vanaf sy kliënte erg in die wiele sal ry. Daar is op die stukke ‘n groot feitegeskil geskep tussen Joubert en De Beer aangaande laasgenoemde en sy kollega Heyneke se besoeke aan die verskillende takke van die Respondent na die aanhoor van die saak op 21 Oktober 2008. Dit is na my mening nie nodig om hierdie feitegeskille te behandel of daaroor te beslis nie. Die feit van die saak is dat, selfs op Respondent se eie weergawe, hy:

a) Ingevolge die Nasionale Krediet Reguleerder se beslissing van 15 Oktober 2008 nou nie meer kan besigheid doen as ‘n mikro-uitlener nie, aangesien sy registrasie ingetrek is; en

b) Dit onomwonde vasstaan dat die Respondent sekere van die Cash Wise besighede vervreem het, sonder die Applikant se medewete en toestemming. Dit is na my mening nie nodig om te bepaal of die Respondent wel ‘n teenwaarde ontvang het vir die vervreemding van die besighede aan derde partye nie. Wat wel bewese is, is dat daardeur die Applikant se beheer as konsessiereggewer ingevolge die eklusiewe konsessie (vryevergunnings) ooreenkomste waarna ek vroeër verwys het, heeltemal ondermyn word en dat die klandisiewaarde van die besighede op die tersaaklike plekke besig is om heeltemal vernietig te word. Dit veroorsaak, na my mening, dat daar ‘n verdere basis is vir die dringendheid van hierdie aansoek, soos wat die Applikant tereg voorgehou het, d.w.s. bo en behalwe die verval van die Respondent se substratum, meegebring deur die intrekking van sy registrasie.

  1. Ek is dit eens met Mnr. Ströh, namens die Applikant, dat die afleiding geregverdig is dat die Respondent nie sy skulde kan betaal nie soos vereis in art 354(1)(c) van die Maatskappyewet uit hoofde van die volgende feite, kumulatief in ag geneem:

a) Die gedishonoreerde tjeks wat die Respondent aan die Applikant gelewer het;

b) Die uitstaande lening waarop slegs twee betalings van R2 000,00 elk gemaak is;

c) Die uitstaande rentedeel (hierdie is weliswaar in geskil maar op Respondent se eie weergawe is hy ‘n aansienlike bedrag verskuldig in hierdie verband aan die Applikant);

d) Die bedrae geld wat die Respondent verskuldig is aan SAID;

e) Die weiering van Joubert om sy ledebelang oor te teken aan De Beer soos ooreengekom op 12 Junie 2008; en

f) Die versuim en onvermoë van die Respondent om te voldoen aan die Hofbevel wat ek uitgereik het op 21 Oktober 2008 en waarna ek later hierin sal verwys.

  1. Die partye is ad idem dat met die intrekking van die registrasie van die Respondent as ‘n kredietverskaffer is die Respondent se hoofdoel en bestaansreg as besigheid daarmee heen. Hierdie intrekking van die registrasie van die Respondent as kredietverskaffer, soos gelas deur die Nasionale Kredietreguleerder op 15 Oktober 2008, het klaarblyklik gevolg nadat die Respondent, ten spyte van vorige waarskuwings, sekere onwettige praktyke gevolg het in die loop van sy besigheid as ‘n mikro-uitlener. ‘n Bevel van intrekking van registrasie is by verstek verleen nadat die Respondent, ten spyte van behoorlike kennisgewing, versuim het om verskyning aan te teken of om die aangeleentheid te opponeer. Dit is geykte reg dat dit reg en billik sal wees om ‘n maatskappy te likwideer as sy substratum verdwyn het; daarmee word bedoel dat die realisering van die maatskapy se oogmerk/e soos bepaal met verwysing na die maatskappy se akte van oprigting objektief onmoontlik geword het. Dieselfde geld natuurlik vir ‘n beslote korporasie.

In Alpha Bank Bpk en andere v Registrateur van Banke en andere 1996 (1) SA 330 (A) te 344 C-D het Olivier AR hierdie konsep as volg gestel:

Afgesien van alle ander faktore, is dit ook nooit betwis dat Alpha Bank se substratum as bank verval het nie. Dit sal nooit weer as bank kan handeldryf nie. Dit alleen is 'n goeie rede vir die verlening van 'n finale likwidasiebevel.”

Sien in die algemeen verder ook: Meskin: Henochsberg on the Companies Act Vol 1 te 704 – 705.

  1. In die onderhawige geval is ek tevrede dat dit reg en billik sal wees om die Respondent onder likwidasie te plaas, omrede die Respondent nie sy skulde kan betaal nie en ook omdat sy substratum verval het. ‘n Likwidateur sal die sake van die Respondent volledig kan ondersoek, sal die bates van die Respondent, veral die uitstaande vorderings teen leners, kan verhaal en sal ook die nodige stappe kan doen om krediteure se skulde eweredig en volgens voorkeur van eise te delg. Daar is groot gewag gemaak deur Mnr. Van Rensburg dat die Respondent uniek geplaas is om die uitstaande vorderings teen sy leners in te vorder. Na my mening is hierdie submissie heeltemal oordrewe. Daar is geen rede om te vermoed dat ‘n likwidateur, behoorlik bygestaan deur kundiges, nie so goed of selfs beter hierdie invorderings sal kan behartig nie.

[19.1] Dit is nodig om kortliks te verwys na die bevel van 21 Oktober 2008 wat volledig by die inleidende gedeelte van hierdie uitspraak aangehaal is. Ek het daardie bevel uitgereik, omrede ek die mening toegedaan was dat die aansoek op daardie stadium nie so dringend was dat dit dadelik afgehandel moes word nie. Verder is die bevel, veral wat betref par. 4 daarvan, gemaak ooreenkomstig ‘n onderneming wat onder eed in dier voege gemaak is deur Joubert namens die Respondent in sy eerste antwoordende eedsverklaring. Daar is op daardie stadium aangevoer namens die Respondent dat hy in staat is om so ‘n inbetaling te maak aan sy eie prokureur sonder erkenning van aanspreeklikheid. Ek was die mening toegedaan dat só ‘n bevel dienstig is, met die geringe wysiging dat die inbetaling nie by die Respondent se prokureur nie, maar by die Applikant se prokureur, gemaak moes word. Ek het dan ook ruim geleentheid gebied aan die Respondent om dié inbetaling te kan maak. Dit is gemene saak dat op datum hiervan glad niks inbetaal is ooreenkomstig die bevel nie. Daar is namens die Respondent aangevoer dat die tyd wat verskaf is te kort was. Die versuim om enige bedrag in te betaal, terwyl die Respondent onder eed aanvoer dat ‘n bruto bedrag van nagenoeg R1.8 miljoen en ‘n netto bedrag van ongeveer R1 miljoen wel ingevorder is, slaan na my mening op ‘n gebrek aan bona fides aan die kant van die Respondent.

[19.2] Die Respondent het nou redes aangevra vir die bevel wat ek gemaak het en soos in par 6 in die vooruitskouing gestel is. Sodanige redes is laat aangevra en is daar nou ‘n substantiewe kondonasie aansoek wat klaarblyklik in die Mosiehof ter rolle geplaas sal word. Ek aanvaar, en Mnr. van Rensburg het aldus bevestig, dat hierdie aanvra van redes ten doel het om aansoek te doen vir verlof om te appelleer teen die bevel van 21 Oktober 2008. Daar is by my geen twyfel nie dat die bevel soos verwoord en hierbo uiteengesit, glad nie ‘n finale bevel is nie en duidelik op ‘n tussentydse basis gemaak is, inteendeel die bevel self lees so in par 4 waar dit verwys na: “….hangende die finale afhandeling van die likwidasie aansoek.” Gevolglik is so ‘n bevel nie appelleerbaar nie. Dit maak in elk geval nie saak of die Respondent daarteen mag appelleer nie, want dit is ‘n sydelingse aspek. Al vraag wat nou beslis moet word is of daar genoegsame gronde uitgemaak is vir ‘n likwidasiebevel teen die Respondent.

  1. Inaggenome die feite en omstandighede hierin soos dit op die stukke verskyn en op grond van die regsbasis soos hierinvantevore uiteengesit, is ek die mening toegedaan dat die Applikant daarin geslaag het om voldoende gronde aan te toon vir die likwidasie van die Respondent. Ek ag dit nodig om, ex abundante cautela op hierdie stadium bloot ‘n voorlopige bevel uit te reik.

  2. Die volgende bevel word hierin uitgereik:

A. DIE KENNISGEWING VAN MOSIE IN HIERDIE SAAK, GELIASSEER OP 8 OKTOBER 2008, WORD GEWYSIG INGEVOLGE REËL 28(10) DEUR DIE VERVANGING DAARVAN MET DIE GEWYSIGDE KENNISGEWING VAN MOSIE GEDATEER 17 OKTOBER 2008.

B. DIE RESPONDENT WORD IN DIE HANDE VAN DIE MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF ONDER VOORLOPIGE LIKWIDASIE GEPLAAS.

C. ‘N BEVEL NISI WORD UITGEREIK WAARVOLGENS DIE RESPONDENT ASOOK ANDER BELANGHEBBENDE PARTYE AANGESÊ WORD OM OP/VOOR DIE 16DE DAG VAN JANUARIE 2009 OM 10H00 VOOR HIERDIE HOF REDES AAN TE VOER WAAROM DIE RESPONDENT NIE FINAAL GELIKWIDEER SAL WORD NIE.

D. HIERDIE BEVEL MOET ONVERWYLD OP DIE RESPONDENT BETEKEN WORD BY SY GEREGISTREERDE ADRES EN OOK EEN MAAL IN DIE STAATSKOERANT SOWEL AS DIE VOLKSBLAD GEPULISEER WORD.

E. DIE KOSTE VAN HIERDIE AANSOEK SAL KOSTE IN DIE LIKWIDASIE WEES.



____________

SA MAJIEDT

REGTER


Namens Applikant: Adv JH Ströh SC bygestaan deur Adv HN de Wet
in opdrag van Van de Wall & Vennote, Kimberley


Namens Respondent: Adv FV van Rensburg
in opdrag van Elliot Maris Wilmans & Hay, Kimberley