South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2007 >> [2007] ZANCHC 40

| Noteup | LawCite

S v Stander (CA&R 4/2007) [2007] ZANCHC 40 (8 June 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


Reportable: YES/NO

Circulate to Judges: YES/NO

Circulate to Magistrates: YES/NO

Circulate to Regional Magistrates: YES/NO


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: CA&R 4/2007

DATUM: 08-06-2007

In die Appèl van:


HENDRIK STANDER APPELLANT


teen


DIE STAAT RESPONDENT


CORAM: LACOCK R et WILLIAMS R:

UITSPRAAK


WILLIAMS R:


1. Die appellant is op 28 Oktober 1999 in die Landdroshof te Windsorton skuldig bevind op ‘n aanklag van diefstal. As gevolg van die appellant se lang lys vorige veroordelings het die landdros die aangeleentheid in terme van artikel 116(1)(b) van Wet 51 van 1977 (“die Wet”) na die Streekhof verwys vir vonnis. Hy is daar gevonnis op 10 Augustus 2000 tot ‘n gewoontemisdadiger in terme van artikel 286(1) van die Wet.


2. Aansoek om verlof om te appelleer teen sy skuldigbevinding en vonnis is in die Streekhof van die hand gewys. Op petisie na hierdie Hof is die appellant egter verlof verleen om te appelleer teen beide die skuldigbevinding en opgelegde vonnis.


3. Die hoofgrond van appél teen die skuldigbevinding blyk te wees dat die landdros fouteer het deur te bevind, nieteenstaande weersprekings in die getuienis van die staatsgetuies, dat die
Staat se saak bo redelike twyfel bewys is.


4. Slegs twee getuies is deur die Staat geroep – Mnr. Isak Dassie, die klaer en Mnr. Steward Bezuidenhout.

Die klaer se getuienis is dat hy die betrokke dag by die Diggers Shop te Windsorton was toe die appellant en Bezuidenhout hom genader het. Bezuidenhout het by hom geld gevra. Terwyl die klaer by die toonbank gestaan het om kleingeld te maak, het die appellant sy beursie, bevattende R600, 00, uit sy hand gegryp en tesame met Bezuidenhout weggehardloop. Die geld is nie teruggekry nie.


5. Bezuidenhout, ‘n getuie wat in terme van artikel 204 van die Wet gewaarsku is, se getuienis is dat die klaer alreeds vir hom R10, 00 gegee het, dat hy ‘n bier daarmee gekoop het en eers toe hy uit die winkel gekom het het hy gesien dat die klaer en die appellant buite die winkel ‘n onderonsie het. Die appellant het ‘n beurs in sy hand gehad terwyl die klaer hom aan die arm beetgehad het. Die appellant het losgeruk en weggehardloop. Hy ontken dat hy saam met die appellant weggehardloop het.


6. Dit is duidelik uit die bogemelde dat daar wel weersprekings in die getuienis van die staatsgetuies is. Daar moet egter gewaak word daarteen om getuienis broksgewys te beoordeel en te veel klem te lê op weersprekings. Die getuienis moet in geheel beoordeel word om te bepaal of sulke weersprekings wesenlik is. Sien S v Bruiners en ‘n Ander 1998(2) SASV 432 (SOKPA) te 439c-g; S v Chabalala 2003(1) SACR 134 (SCA) te 139i-140b; S v Hadebe 1998(1) 422 (SCA) te 426 c-h.


7. Die appellant het ook getuig in die verhoor. Sy getuienis het uiteindelik daarop neergekom dat hy wel die klaer se beurs gegryp het en geld daaruit gehaal het. Alhoewel dit sy weergawe is dat hy slegs R150,00 geneem het. wat volgens hom, verskuldig was aan hom nà hy en die klaer ‘n diamante transaksie aangegaan het, is sy erkenning in die verband ‘n belangrike betroubaarheidswaarborg wanneer die getuienis in die geheel oorweeg word.


8. Na my mening is die toegewing deur Mnr. Rasenthunsa, wat namens die appellant optree, dat die skuldigbevinding in orde is, regtens gemaak.

9. Wat die appél teen die vonnis betref maak mnr. Rasenthunsa ‘n soortgelyke wyse toegewing.


10. Die appellant was 31 jaar oud ten tyde van vonnisoplegging. Op daardie stadium het hy reeds 16 vorige veroordelings gehad vir oneerlikheidsmisdrywe. Hy is gedurende 1989 by ‘n vorige vonnisoplegging gewaarsku daarteen dat hy as gewoontemisdadiger verklaar kan word. Na hierdie waarskuwing het hy egter nog 6 verdere oneerlikheidsmisdrywe gepleeg.


11. Daar kan in hierdie omstandighede, na my mening, geen sprake daarvan wees dat die streeklanddros nie sy diskresie ten opsigte van vonnis behoorlik uitgeoefen het nie óf dat die vonnis onvanpas swaar is nie. Die appellant is duidelik ‘n persoon wat uit gewoonte misdrywe pleeg en nie afgeskrik word deur waarskuwings of die normale vonnisse nie. Na my mening kan die appél teen vonnis ook nie slaag nie.


In die omstandighede word die volgende bevel gemaak:


Die appél teen beide die skuldigbevinding en vonnis opgelê word van die hand gewys.







________________________

C.C. WILLIAMS

REGTER



Ek stem saam.



_______________________

H J LACOCK

REGTER





Nms. Appellant: Adv. Rasanthunsa

Nms. Respondent: Adv. Cloete

Datum aangehoor: 28-05-2007