South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2006 >> [2006] ZANCHC 95

| Noteup | LawCite

S v Coetzee (CA&R 88\05) [2006] ZANCHC 95 (19 June 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA&R 88\05

Datum verhoor: 2006-06-07

Datum gelewer: 2006-06-19


In die appél van:


RICARDO MARSHALL COETZEE APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et WILLIAMS R



UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Die appellant kom in hoër beroep teen sy skuldigbevinding op ‘n aanklag van verkragting. ‘n Appél teen die opgelegde vonnis van 5 jaar gevangenisstraf is geabandoneer.

  2. Die appellant, wat regsverteenwoordiging geniet het tydens die verhoor, het onskuldig gepleit en het erken dat hy op die datum vermeld in die klagstaat gemeenskap met die klaagster gehad het, maar het beweer dat dit met haar toestemming geskied het.

  3. Die klaagster was ‘n enkelgetuie op die verkragtingsvoorval self. Op haar weergawe het sy die betrokke aand die appellant ontmoet in ‘n kroeg te Springbok waar die appellant aan haar voorgestel is deur haar vriend Roger Bezuidenhoudt (“Roger”). Op ‘n stadium het sy en Roger met die appellant en andere vertrek in sy voertuig. Daar is op ‘n stadium langs die pad gedrink totdat mense eers in Bergsig (‘n woonbuurt te Springbok) en toe in Okiep afgelaai is. Sy en Roger het op ‘n stadium daarna met mekaar gestry. Roger is toe afgelaai, tesame met sy vriend in Concordia. Die klaagster en die appellant was toe alleen in sy voertuig. Hy het op ‘n stadium die voertuig tot stilstand gebring en teen haar sin met haar gemeenskap gehou. Sy het toe weggehardloop, deur ‘n draad gekruip en het by ‘n naburige plaasopstal aan ene Van Wyk gerapporteer dat sy verkrag is. ‘n Vriend van haar het haar later kom haal en na die polisiestasie geneem. Volgens haar moes sy op die vlug slaan ná die verkragting, omrede die appellant haar daar verjaag het en met ‘n vuurwapen gedreig het as sy aan iemand melding sou maak van die voorval. Volgens haar het sy later geld, ‘n selfoon, ‘n oorbel en ‘n ring van haar vermis.

  4. Mnr. WG van Wyk is die eerste rapport getuie en hy het bevestig dat die klaagster op die aand van die voorval by hom aangedoen het en gerapporteer het dat sy verkrag was. Sy was histeries, het gehuil, haar klere was vol stof en haar broek was geskeur. Iemand het haar later daar kom haal. Sy het ook aan hom meegedeel dat sy die man sou herken wat haar verkrag het en dat sy nie seker is of die man ‘n kondoom gebruik het tydens die verkragting nie. Sy het verder ook melding daarvan gemaak dat die persoon haar geslaan het en dat hy ‘n vuurwapen in sy besit gehad het. Volgens Mnr. Van Wyk het hy glad nie die klaagster vantevore geken nie.

5.1 Die appellant se relaas van die gebeure van die betrokke aand verskil heeltemal van dié soos voorgehou deur die klaagster. Volgens hom het hy en die klaagster in die kroeg waar Roger hulle aan mekaar voorgestel het, sekere intieme aspekte aangaande hul lewens bespreek, onder meer die feit dat albei van hulle babas aan die dood afgestaan het. Op ‘n stadium het die klaagster hom ‘n drukkie gegee (klaarblyklik uit simpatie).

5.2 Toe die twee dames te Bergsig afgelaai is, was die klaagster ook veronderstel om daar af te klim, maar het sy geweier om so te doen en het gesê dat sy na Concordia toe wil gaan. In Okiep is ‘n ander dame afgelaai en hulle het toe Concordia toe gery waar daar ‘n stryery tussen Roger en die klaagster ontstaan het. Na dié stryery het die klaagster toe voor langs die appellant in die voertuig kom sit.

5.3 In Concordia het die appellant vir Roger en sy vriend afgelaai en toe hy na sy huis toe wou ry het die klaagster hom versoek om haar huis toe te neem. Hy het ingestem en op pad daarheen het hy langs die pad stilgehou waarna hulle omhels het en mekaar gesoen het. Aangesien dit té beknop was in die voertuig het hulle twee uitgeklim en het hulle langsaan die voertuig op die grond vrywillig gemeenskap gehou.

5.4 Die appellant het ontken dat hy die klaagster verkrag het en het ook ontken dat sy hom gebyt het, soos wat sy aangevoer het in haar getuienis. Hy het inteendeel aangevoer dat ‘n polisiebeampte, te wete ene Johan Cloete, hom ondersoek het en niks bytplekke aan sy liggaam kon vind nie.

5.5 Hy het verder getuig dat hy tydens geslagsgemeenskap die kondoom gebruik het wat die klaagster vir hom gegee het. Sy het self die kondoom in die voertuig gaan uithaal, die omhulsel daarvan afgeskeur en dit vir hom gegee. Nadat hulle geslagsgemeenskap gehad het, het hy gaan urineer en toe hy terugkeer na sy voertuig het hy gesien dat sy in sy beursie krap. Hy het haar toe daar weggejaag.

5.6 Hy ontken dat hy enige geld, selfoon of juweliersware van die klaagster gevat het. Hy het verder ook ontken dat hy op enige stadium ‘n vuurwapen op haar gerig het, soos wat sy beweer het.

6.1 Op versoek van die verdediging is Roger Bezuidenhoudt deur die Hof geroep as ‘n getuie volgens die bepalings vervat in artikel 186 van die Strafproseswet, 51 van 1977 (“die Wet”) . Hy het bevestig dat hulle in die kroeg was waar hy die appellant en die klaagster aan mekaar voorgestel het. Hy het verder bevestig dat daar mense in Bergsig afgelaai was. Hy het aangevoer dat hy daarna in ‘n dronkslaap verval het en toe wakker geskrik het toe hulle in Okiep was. Hy is later by die huis afgelaai, toe is die appellant en die klaagster alleen saam in die motorvoertuig. Hy het getuig dat hy niks verder weet nie, behalwe dat die polisie hom daarna gekontak het en verwittig het van die verkragtingsklagte wat die klaagster teen die appellant gelê het. In getuienis in hoof het hy gesê dat hy nie weet waarom die klaagster nie by Bergsig afgeklim het waar sy woonagtig is en waar die ander twee dames afgelaai is nie.

6.2 In kruisondervraging deur die appellant se prokureur is die getuie met sy getuieverklaring gekonfronteer waarin hy vermeld het dat die klaagster te Bergsig nie uit die voertuig wou klim nie. Hy het verder ook in kruisondervraging getuig dat nadat hy (Roger) by die voertuig uitgeklim het by sy huis, die appellant vir die klaagster aangebied het om haar huistoe te neem en die klaagster het nie probleme daarmee gehad nie. Hy het die klaagster se weergawe dat die appellant haar teruggeforseer het in die voertuig in sy teenwoordigheid, ontken. Hy het ook verder ontken dat hy en die klaagster gestry het en het getuig dat hy nie weet waarom sy met hom plekke omgeruil het deur voor langs die appellant in sy voertuig te gaan sit nie.

7.1 Daar is sekere bewysstukke by ooreenkoms tussen die partye by die Hof ingehandig, te wete foto’s van die toneel waar die beweerde verkragting plaasgevind het, ‘n omhulsel van ‘n kondoom sowel as ‘n kondoom self en ‘n skoenafdruk van die appellant op die toneel.

7.2 ‘n J88 mediese verslag is ook by ooreenkoms tussen die partye ingehandig. Daarvolgens was die klaagster se klere geskeur en vol stof. Veelvuldige oppervlakkige krapwonde, moontlik deur ‘n skerp voorwerp veroorsaak, is aangemerk. Daar was ook enkele oppervlakkige skaafmerke op die regterboud en heuparea. Volgens die dokter se aantekeninge op die verslag het die klaagster emosioneel geskok, bewerig en angstig voorgekom. Daar was ‘n skaafwond en oppervlakkige skeur en rooierigheid by haar privaatdele. Die dokter se slotsom was dat penetrasie wel plaasgevind het.

  1. In haar uitspraak het die streeklanddros bevind dat die klaagster se getuienis nie bevredigend in alle opsigte was nie. Die streeklanddros het verder verwys na die vele weersprekinge en ander probleme in haar getuienis, ondermeer die feit dat die klaagster aanvanklik verswyg het dat sy op ‘n stadium die appellant ‘n drukkie gegee het en met hom ‘n intieme gesprek gevoer het, wat aanduidend daarvan was dat sy op ‘n latere stadium nie omgegee het om alleen met die appellant te wees nie. Sy het egter bevind dat daar voldoende stawing is vir die klaagster se getuienis en dat die appellant se weergawe nie redelik moontlik waar is nie. Die streeklanddros was gevolglik tevrede dat die Staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en het die appellant dienooreenkomstig skuldig bevind.

9.1 Die landdros se uitspraak gaan mank aan verskeie mistastings op die feite en op die Reg – dit is aldus toegegee deur Me Van Dyk namens die Staat. Hierdie Hof kan gevolglik die verhoorhof se feitebevindinge ignoreer, selfs waar dit op geloofwaardigheid gebaseer is en kan ons nou self aan die hand van die aangebode getuienis op die oorkonde, bepaal of die Staat bo redelike twyfel die appellant se skuld bewys het.

Sien in dié verband: R v Dhlumayo & another 1948(2) SA 677 (A) te 706 (paras 10, 11 en 13) waar Davis WnAR dit as volg stel:

10. There may be a misdirection on fact by the trial Judge where the reasons are either on their face unsatisfactory or where the record shows them to be such; there may be such a misdirection also where, though the reasons as far as they go are satisfactory, he is shown to have overlooked other facts or probabilities.

11. The appellate court is then at large to disregard his findings on fact, even though based on credibility, in whole or in part according to the nature of the misdirection and the circumstances of the particular case, and so come to its own conclusion on the matter.

12. …………

13. Where the appellate court is constrained to decide the case purely on the record, the question of onus becomes all-important, whether in a civil or criminal case.”

Sien verder ook: S v Gentle 2005(1) SACR 420 (SCA) te 428 h-i.

9.2 Die landdros het ondermeer bevind dat die klaagster se beserings soos aangedui op die J88-mediese verslag, inderdaad haar beweringe staaf ten aansien van die feit dat die skrape op haar binnebene inderdaad veroorsaak is deur vingernaels. Hierdie bevinding is nie korrek nie. Volgens die mediese verslag het die geneesheer inteendeel aangedui dat die veelvuldige oppervlakkige krapmerke aan die klaagster se binnebene “moontlik deur ‘n skerp voorwerp veroorsaak is” en verder dat dit “nie uitgesluit is dat die merke aan haar binnebene deur naels veroorsaak is nie”. Die klaagster het in haar getuies in hoof uitdruklik getuig dat al die beserings aan haar bene veroorsaak is deur ‘n draad waardeur sy geklim het wat haar gekrap het.

9.3 ‘n Verdere mistasting op die feite is te vinde daarin dat die verhoorhof verwys het na die merk wat deur die geneesheer op die klaagster se nek gevind is en hieraangaande het die streeklanddros bevind dat: “The doctor calls it a finger mark and he clearly states that it is not due to sucking”. Hierdie bevinding is eweneens nie korrek nie. Die dokter het in die mediese verslag bloot die volgende aangeteken: “Vingermerk?” en later in die verslag het hy genotuleer “Kneusing lyk nie soos ‘n suigmerk”. Die streeklanddros het (verkeerdelik) tot ‘n groot mate gesteun op hierdie twee aspekte, tesame met ander aspekte, ten einde te bevind dat die Staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.

  1. Daar is in elk geval ernstige probleme rondom die klaagster se geloofwaardigheid op bepaalde wesenlike aspekte in haar getuienis op die oorkonde voor ons:

10.1 In kruisondervraging het die klaagster op ‘n stadium toegegee dat sy die appellant ‘n drukkie gegee het tydens hulle intieme gesprek waarna reeds verwys is, maar net later het sy dit weer ontken.

10.2 Sy bied geen aanvaarbare verduideliking vir waarom sy nie te Bergsig, waar sy woonagtig was, uitgeklim het nie. Sy het naamlik aangevoer dat sy bang was dat die derde dame, wat in Okiep woonagtig was, iets sou oorkom as dié dame op haar eie saam met Roger, die appellant en ‘n ander manspersoon wat ook in die voertuig was, sou ry. Tog het sy self later alleen in die voertuig met die drie mans agtergebly nadat die betrokke dame afgelaai is. Toe was sy skielik nie meer bang nie, maar het beweer dat, aangesien Roger teenwoordig was, sy niks sou oorkom nie.

10.3 Verder het die klaagster haar ook weerspreek oor die rede waarom sy saam is vanaf Okiep na Concordia.

10.4 ‘n Uiters kommerwekkende aspek is die feit dat die klaagster vroeër in haar getuienis in hoof die indruk probeer skep het dat sy kwalik die aand enige gesprek met die appellant gevoer het. Later, in kruisondervraging, het dit egter geblyk dat sy en die appellant nie net lank met mekaar gesels het nie, maar dat hulle ook boonop intieme, private en vertroulike aspekte van mekaar se lewens bespreek het en sy hom op ‘n stadium omhels het.

10.5 ‘n Verdere kommerwekkende aspek wat op die waarskynlikhede net eenvoudig nie waar kan wees nie, is die klaagster se beskrwying van hoe die appellant haar ontklee het, te wete dat hy bo-op haar gesit het en toe so met sy hand agter sy rug haar broek en damesbroekie uitgetrek het en ook sy eie klere, sonder dat hy afgeklim het van haar.

10.6 Sy het beweer dat sy die appellant twee keer gebyt het, naamlik op sy arm en in sy gesig. Toe sy met ‘n botsende weergawe daaraangaande vervat in haar getuieverklaring gekonfronteer is, het sy haar getuienis probeer aanpas.

11. Dié getuienis van die klaagster dat sy die appellant gebyt het, is nooit eers deur die Staat probeer bevestig nie, deur die polisieman wat by name genoem is tydens kruisondervraging, ene Johan Cloete, se getuienis aan te bied nie. In dié verband het die landdros wesenlik misgetas op die Reg deur die klaagster se getuienis in dié verband te aanvaar en die appellant se weergawe daaraangaande te verwerp omrede “The investigating officer who inspected you did not come here to say, you did not have any marks that day.” Hierdie voormelde aanhaling impliseer dat daar ‘n bewyslas op die appellant gerus het. Hierdie is natuurlik heeltemal verkeerd en moes die versuim om die voormelde polisieman se getuienis aan te bied (of om ‘n rede te probeer aanvoer waarom sodanige getuienis nie beskikbaar was nie, indien dit die geval was) suiwer aan die Staat toegedig gewees het.

Sien in dié verband:

S v Teixeira 1980(3) SA 755 (A) te 764 A-C;
S v Ngxumza & another 2001(1) SACR 408 (TkD) te 412 e-f.


  1. Die appellant, aan die ander kant, het bevredigende getuienis afgelê en kan daar inderdaad geen wesenlike weersprekinge of onwaarskynlikhede uit sy getuienis op die rekord aangemerk word nie. Sy relaas van gebeure is inteendeel veel meer waarskynlik as dié voorgehou deur die klaagster.

  2. n Verdere probleem wat ek het met die klaagster se getuienis is die groot toevalligheid dat sy dié aand ‘n kondoom in haar besit sou hê en dit aan die appellant aanbied voor hy haar “verkrag”. Sy het naamlik verduidelik dat sy dié kondoom in haar besit gehad het, omrede sy dit vroeër die aand by ‘n ander vriend van haar afgeneem het en sy van voorneme was om dit weg te gooi. Sy het dit egter in haar handsak vergeet.

  3. Roger Bezuidenhoudt, wat bevriend was met die klaagster en deur die Hof geroep is as ‘n getuie soos alreeds vermeld, het verder die klaagster weerspreek op sekere kardinale aspekte, ondermeer die feit dat die appellant inderdaad aangebied het om haar huistoe te neem en sy nie daarteen teëgestribbel het nie, soos wat sy in haar getuienis beweer het. ‘n Verdere aspek is die rede waarom sy met hom (Roger) plekke verwissel het in die appellant se voertuig deur voor langs die appellant te gaan sit in die passassiersitplek – volgens haar het dit gevolg op die stryery tussen haar en Roger, terwyl laasgenoemde ontken het dat hulle dié aand gestry het.

  4. Die vraag mag natuurlik ontstaan waarom die klaagster toe op die vlug geslaan het, deur ‘n draad geklim het (wat krapmerke aan haar binnebene veroorsaak het) en toe by Mnr. Van Wyk gaan aanmeld het dat sy verkrag is. Ek is dit eens met Mnr. Snellenburg wat namens die appellant voor ons verskyn het, dat die rede daarvoor kan wees dat die appellant inderdaad die klaagster verjaag het nadat hy haar betrap het dat sy in sy beursie vroetel. Die klaagster moes toe noodwendig ‘n rede uitdink waarom sy dáárdie tyd van die nag in ‘n gehawende toestand, met geskeurde, stowwerige klere opdaag by Mnr. Van Wyk se huis. Dit wil my ook voorkom asof die klaagster maar bra bangerig was dié aand vir haar ouers, omrede dit my wil voorkom dat sy nie hul toestemming gehad het om só laat uithuisig te wees nie.

  5. Dit is van belang om in gedagte te hou dat die sogenaamde “eerste rapport” getuienis in verkragtingsake as bewysmateriaal toegelaat word, nie as stawing dat ‘n klaagster wel verkrag is nie, maar as steun vir haar geloofwaardigheid. Getuienis aangaande die eerste rapport wat die klaagster gemaak het is nie getuienis van die afwesigheid van toestemming nie en net so is die gebrek aan “eerste rapport getuienis” nie aanduidend van die bestaan van toestemming om gemeenskap te hou nie. ‘n Klaagster in ‘n verkragtingsaak se getuienis is inderdaad getuienis dat sy nie toestemming tot geslagsgemeenskap gegee het nie, maar die “eerste rapport” (of klagte) self ondersteun bloot die klaagster se geloofwaardigheid in dié verband. Sien die breedvoerige bespreking deur Cloete AR in S v Hammond 2004(2) SACR 303 (SCA) te 307 i – 310 e.
    In die onderhawige saak dus bied Mnr. Van Wyk se getuienis bloot steun vir die klaagster se konsekwentheid (en geloofwaardigheid), dog kan dit egter nie dien as stawing daarvoor dat sy wel verkrag is nie.

  6. Daar kan seker gesê word dat daar ‘n mate van suspisie bestaan dat daar iets onbehoorliks tussen die klaagster en die appellant plaasgevind het dié betrokke aand. Dit is egter nie naastenby genoeg om die appellant se skuld bo redelike twyfel te bewys nie. Ek is inteendeel die mening toegedaan dat daar in hierdie saak oorvloediglik twyfel bestaan aangaande die appellant se skuld op die relaas van gebeure soos voorgehou deur die klaagster, ‘n enkelgetuie. Die klaagster se getuienis was net eenvoudig nie bevredigend in alle wesenlike opsigte ten einde ‘n skuldigbevinding uit te kan bring soos uiteengesit in artikel 208 van die Wet nie. Daar bestaan glad geen aanvaarbare stawing vir haar bewering dat sy verkrag is nie en blyk dit inteendeel na my oordeel op die waarskynlikhede dat sy met toestemming gemeenskap met die appellant dié aand gehad het.

  7. Bygevolg word die appellant die voordeel van die twyfel hierin gebied.

18.1 Die appél word gehandhaaf.

18.1 Die appellant se skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.


_____________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:



____________

CC WILLIAMS

REGTER



NAMENS APPELLANT : ADV. N SNELLENBURG

IN OPDRAG VAN : VAN DE WALL & VENNOTE


NAMENS RESPONDENT : ADV E VAN DYK