South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 93
| Noteup
| LawCite
Pretorious v Somchem Eiendoms Beperk (378/04) [2006] ZANCHC 93 (2 June 2006)
Download original files |
verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saaknommer: 378\04
Datum Verhoor: 25\05\2006
Datum Gelewer: 02\06\2006
In die saak van:
GERRIT JOHANNES PRETORIUS EISER
versus
SOMCHEM EIENDOMS BEPERK VERWEERDER
Coram: MAJIEDT R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
In hierdie saak het die eiser dagvaarding uitgereik teen die verweerder vir skade deur die eiser gely nadat hy beseer is tydens die toets van ammunisie toe ‘n lading ammunisie prematuur in ‘n G6-kanon ontsteek het. Dit is die eiser se saak dat die verweerder die vervaardiger van die lading ammunisie is. Die eiser spreek die verweerder aan vir sy skade gely as gevolg van die beserings opgedoen in die voormelde ontploffing uit hoofde daarvan dat die premature ontsteking van die ammunisie en die daaropvolgende ontploffing veroorsaak is deur die uitsluitlike nalatigheid van die verweerder.
Die verweerder het nie net ‘n pleit op die meriete geliasseer nie, maar ook ‘n spesiale pleit geopper. Daarin beweer die verweerder dat hy verkeerd gesiteer is en dat hy eerder gesiteer moes gewees het as: “Somchem, a division of Denel (Pty) Ltd., registration number 1992\001337\07”. Die spesiale pleit handel verder met die bepalings vervat in artikel 35 van Wet 130 van 1993 (“die Wet”) en word beweer dat, aangesien die eiser aan diens beseer is, die verweerder nie aanspreeklik gehou kan word vir vergoeding vir die gelede skade nie. In die pleit op die meriete self, het die verweerder eweneens die bewering ontken dat hy as verweerder reg gesiteer is en het herhaal dat hy gesiteer moes wees soos hierbo vermeld.
Die eiser het repliek afgelewer op hierdie verweerskrif en het daarin slegs gehandel met die gedeelte van die spesiale pleit wat verwys het na die bepalings van artikel 35 van die Wet, soos hierbo na verwys. In die repliek het die eiser glad nie gehandel met die verweerder se bewering dat hy verkeerd gesiteer is nie.
Die geding is derhalwe deurgaans verder gevoer deur die eiser op die basis dat die verweerder korrek gesiteer is.
Op 19 Mei 2006 het die eiser ‘n ‘n kennisgewing van terugtrekking geliasseer waarin hy kennis gee dat hy sy eis terugtrek. Daarna en wel op 22 Mei 2006 het die eiser kennis gegee dat die aangeleentheid geplaas is vir aanhoring op Donderdag 25 Mei 2006 vir die koste-argument soos deur myself bepaal. Ek moet hier vermeld dat die verhoor aanvanklik geplaas was vir drie dae, te wete 23, 24 en 25 Mei 2006. Ek is egter in kennis gestel deur die eiser se prokureur dat die aangeleentheid nie sal voortgaan nie en dat ‘n datum slegs bepaal moes word vir aanhoor van ‘n koste-argument. Ek het toe die datum van Donderdag 25 Mei 2006 vasgestel.
Namens die eiser het Mnr. Gerber aangedui dat die eis teruggetrek is, aangesien die eiser ontdek het dat die verweerder, synde die entiteit Somchem (Edms) Bpk nie meer bestaan nie, aangesien dit gederegistreer is. Mnr. Gerber het verder vir my ingelig dat die eiser dié kennis aangaande die verweerder se deregistrasie bekom het tydens voorbereiding vir die verhoor. Hy het verder aangedui dat as gevolg van dié stand van sake, die eiser noodgedwonge die eis moes terugtrek en hy derhalwe die terugtrekkingskennisgewing geliasseer het op 19 Mei 2006, waarna ek alreeds verwys het hierbo.
Mnr. Gerber het aan die hand gedoen dat die eiser geregtig was om die eis terug te trek in terme van Hofreël 41 se bepalings. Hy het verder verwys na ‘n skrywe van verweerder se Kimberley prokureurs (Towell & Groenewald) gedateer 19 Mei 2006 waarin beweer word dat die terugtrekkings-kennisgewing ongeldig is, aangesien daar nie toestemming van die verweerder bekom is nie of verlof deur die Hof verleen is tot sodanige terugtrekking nie. Daar is verder in dié skrywe aangedui dat die verweerder van voorneme was om voort te gaan met die verhoor soos dit geplaas was op 23 Mei 2006.
Verdere briefwisseling het toe gevolg op die voormelde skrywe van Towell & Groenewald prokureurs waarin die eiser se prokureur versoek het dat toestemming verleen word dat die geding teruggetrek word op die basis dat elke party sy eie koste betaal. Daar is geen antwoord op hierdie skrywe ontvang nie, maar het Denel se regsafdeling wel ‘n skrywe aan die eiser se prokureur gerig waarin Denel aandring dat die eiser hul koste betaal. In dié verband het Mnr. Gerber aangevoer dat Denel se eise ongegrond is, aangesien Denel nie ‘n gedingsparty hiertoe is nie. Ten slotte het Mnr. Gerber toe ingevolge Hofreël 41(1)(a) versoek dat die Hof verlof verleen dat die eiser sy eis terugtrek. Hy het ook daarop gewys dat, indien die verweerder of Denel wil aandring op koste, aangesien die terugtrekkingskennisgewing geen toestemming bevat om koste te betaal nie, die verweerder of Denel ingevolge Hofreël 41(1)(c) se bepalings by die Hof moes aansoek doen by wyse van kennisgewing vir ‘n kostebevel.
Namens die verweerder het Me. Janse van Nuwenhuizen ‘n bundel korrespondensie voor my geplaas wat geheel en al ‘n ander prentjie skets van die verloop van gebeure hierin as dié wat aanvanklik voorgehou is deur Mnr. Gerber. Ek ag dit nie nodig om volledig te handel met die omvattende korrespondensie wat gevoer is tussen Denel se regsafdeling en eiser se prokureur nie. Die slotsom van al dié skrywes wat tussen Denel se regsafdeling en eiser se prokureur verwissel is, is dat reeds sedert 30 September 2004 Denel se regsafdeling inligting vanaf die eiser se prokureur versoek het ten einde die eis na te gaan. Ek is die mening toegedaan dat daar hoegenaamd geen twyfel kan bestaan dat eiser se prokureur deeglik bewus daarvan was dat Denel inderdaad die verantwoordelike regsentiteit was wat regtens aanspreeklik gehou moes word vir enige gelede skade aan eiser se kant nie as gevolg van die voorval wat plaasgevind het.
Me. Janse van Nuwenhuizen het ook vanaf die Balie ‘n sertifikaat van deregistrasie, uitgereik deur die Registrateur van Maatskappye en gedateer 29 Junie 2005, opgehandig. Daarvolgens blyk dit dat die maatskappy Somchem (Edms) Bpk met registrasienommer 1972\001209\07 gederegistreer was ingevolge die bepalings vervat in artikel 73 van die Maatskappyewet, 61 van 1973, onder Staats-kennisgewing nommer 442/99 in Staatskoerant nommer 19855 van 26 Maart 1999. Die voorval waarin die eiser beseer is as gevolg van die ontploffing wat plaasgevind het tydens die toetsing van die ammunisie het plaasgevind op 9 April 2001 te Copperton in hierdie Hof se jurisdiksiegebied. Gevolglik dus het Somchem (Edms) Bpk glad nie meer bestaan op die datum toe die ontploffing plaasgevind het nie.
Me. Janse van Nuwenhuizen het gesubmitteer dat:
a) Die eiser alreeds tydens die liassering van die pleit by wyse van die spesiale pleit sowel as die pleit op die meriete wat geliasseer is op 25 Mei 2004 (presies 2 jaar voor die aanhoor van hierdie argument voor my) deeglik bewus gemaak is daarvan dat die verweerder verkeerd gesiteer is en dat Somchem bloot ‘n divisie is van Denel (Edms) Bpk;
b) Die eiser desnieteenstaande deurgaans volhard het om sy geding te voer teen die verweerder soos wat hy dit (verkeerdelik) gesiteer het in sy dagvaarding;
c) Uit hoofde van die briefwisseling wat voor my geplaas is, eiser se prokureur aanvaar het dat Denel die verantwoordelike regsentiteit is in hierdie geding;
d) Volgens ‘n skrywe van Denel se regsafdeling op 16 Mei 2006 aan die eiser se prokureur aangedui word dat kennis geneem is van die Reël 37 (voorverhoorkonferensie) kennisgewing en dat daar toe inderdaad op 17 Mei 2006 ‘n voorverhoorkonferensie gehou is. Dit is blykbaar by hierdie konferensie waar ‘n deregistrasiesertifikaat ten aansien van Somchem (Edms) Bpk aan die eiser se regsverteenwoordigers oorhandig is en dáárna toe besluit is om die eis terug te trek.
Me. Janse van Nuwenhuizen het derhalwe aan die hand gedoen dat die eiser nie bloot sy eis net kon terugtrek sonder verlof van die Hof of sonder toestemming van die verweerder nie en dat in elk geval die eiser reeds twee jaar gelede kennis gekry het dat die verweerder verkeerd gesiteer is en dat die geding eintlik teen Denel gevoer moes gewees het. Sy het ook na verskeie gewysdes aangaande hierdie aspek verwys, waarmee ek later sal handel.
Dit wil my voorkom dat die pertinente geskilpunte vir beregting hierin die volgende is:
a) Of aan die eiser se versoek dat die Hof aan hom verlof moet verleen om sy eis terug te trek, voldoen moet word; en
b) Die koste van beide die geding self en van die bestrede koste-argument.
Die bepalings van Hofreël 41 is baie duidelik, naamlik dat nadat ‘n saak terrolle geplaas is, ‘n eis teruggetrek kan word slegs met die toestemming van al die partye daartoe of met verlof van die Hof. Indien sodanige toestemming of verlof verleen word, dan moet ‘n eiser ‘n kennisgewing van terugtrekking aflewer en mag hy in sodanige kennisgewing ‘n toestemming om koste te betaal insluit. Só ‘n toestemming om koste te betaal het die effek van ‘n hofbevel vir die betaling van sodanige gedingskoste. Waar geen sodanige toestemming om gedingskoste te betaal ingesluit word in die terugtrekkingkennisgewing nie, het die ander party tot die geding die reg om by ‘n hof kennis te gee dat hy vir ‘n kostebevel teen die eiser sal vra (Reël 41(1)(c)).
Dit is inderdaad so dat die eiser se terugtrekkingskennisgewing nie aan die voorskrifte vervat in Reël 41(1)(a) voldoen nie. Die aksie was alreeds terrolle geplaas en derhalwe moes die eiser óf die verweerder se toestemming bekom óf die Hof se verlof aanvra daarvoor. Mnr. Gerber het betoog dat, aangesien die verweerder glad nie bestaan nie, geen sodanige toestemming bekom kon word nie en het hy toegegee dat die Hof se verlof derhalwe aangevra moes gewees het. Hy het egter daarop gewys dat sodanige verlof inderdaad vanaf die Balie tydens die aanhoor van die koste-argument aangevra is. Toe hy daarop gewys is dat die eiser se prokureur op ‘n stadium, nadat Reël 41 se bepalings aan haar uitgewys is, toestemming vanaf die verweerder versoek het dat die eis teruggetrek kan word op die basis dat elke party sy eie koste betaal, het Mnr. Gerber toegegee dat hierdie skrywe ‘n fout is en derhalwe geïgnoreer moet word.
Dit ly geen twyfel nie dat die gepoogde terugtrekking van die eis soos per kennisgewing geliasseer deur die eiser inderdaad ongeldig is.
Sien in die verband: Protea Assurance Co. Ltd v Gamlase 1971(1) SA 460 (E) te 465 G.
‘n Hof het ‘n diskresie of hy sodanige verlof tot terugtrekking behoort te verleen aldan nie en by die uitoefening van sodanige diskresie sal die kwessie van die moontlike onreg wat gepleeg mag word teenoor alle partye sentraal figureer.
Sien in die verband: Pearson and Hutton NNO v Hitzeroth 1967(3) SA 591 (E) te 593 D, 594 H;
Karoo Meat Exchange Limited v Mtwazi 1967(3) SA 356 (E) te 359 B-G.
Aan die ander kant weer, moet in gedagte gehou word dat dit gewoonweg nie ‘n Hof se funksie is om ‘n persoon wat nie wil voortgaan met ‘n aksie te dwing om so te doen nie óf om sy redes vir die abandonering van sy eis te ondersoek nie;
Sien: Levy v Levy 1991(3) SA 614 (A) te 620 B.
Inaggenome die tersaaklike gesag hierbo aangehaal en die omstandighede van hierdie saak, is ek die mening toegedaan dat dit geen doel sal dien om die eiser verlof te ontsê om sy aksie terug te trek nie. Per slot van sake is dit tog nie ‘n geregshof se taak om ‘n litigant te dwing om teen sy wil ‘n aksie voort te sit nie. Die kwessie van koste staan egter op ‘n ander been. Mnr. Gerber het aan die hand gedoen dat wat die koste in die geding aanbetref, ‘n billike bevel sal wees dat elke party sy eie koste betaal. Hy het verder aan die hand gedoen dat Denel gelas moet word om die koste van die bestrede koste-argument betaal, aangesien hulle, volgens Mnr. Gerber halsstarrig geweier het om toe te gee tot die terugtrekking van die eis. Ek stem nie hiermee saam nie. Die eiser was reeds twee jaar gelede deeglik ingelig uit hoofde van die spesiale pleit en pleit op die meriete dat hy die verweerder verkeerd gesiteer het. Daarna is vir ‘n periode van twee jaar korrespondensie gevoer op die basis dat Denel inderdaad die aangewese regsentiteit is wat aanspreeklik gehou moet word vir enige gelede skade vir die beserings van die eiser. Desnieteenstaande gaan die eiser voort met die voer van sy geding teen die verkeerd gesiteerde verweerder. Dit is nou al geykte gesag dat ‘n divisie van ‘n regsentiteit self geen regsstatus geniet nie en dat sodanige divisie nie locus standi het om gedagvaar te word of om te dagvaar nie.
Sien in die verband: Megaflex (‘n divisie van Sentrachem Bpk) en ‘n ander v White River Motor Trading (Edms) Bpk 1996(1) SA 616 (T);
Absa Bank Ltd v Blignaut and another and four similar cases 1996(4) SA 100 (O);
De Villiers v Nedfin Bank, ‘n division of Nedcor Bank Ltd 1997(2) SA 76 (E).
Mnr. Gerber het ook aangevoer dat Denel ingevolge die Hofreëls kon toetree tot die geding indien hy wou, óf dat hy bloot die dagvaarding kon ignoreer het indien hy van mening was dat hy verkeerd gesiteer is. Beide van hierdie argumente gaan hoegenaamd nie op nie. Daar is geen rede hoegenaamd vir Denel om toe te tree tot die geding nie, aangesien Denel deeglik bewus daarvan was dat hy die aanspreeklike verantwoordelike regsentiteit is, maar dat hy bloot verkeerd gesiteer is. In dié verband het Denel dus heeltemal korrek opgetree deur in ‘n spesiale pleit, sowel as in die pleit op meriete, die eiser daarop te wys dat hy verkeerd gesiteer is. Verder kan ‘n litigant nie ‘n dagvaarding ignoreer bloot omdat hy verkeerd daarin gesiteer is nie.
Sien in dié verband: Mutsi v Santam Versekeringsmaatskappy en ‘n ander 1963(3) SA 11 (O) te 18 G – 19 B.
Gevolglik word die volgende bevel uitgereik:
19.1 Die eiser word verlof verleen om sy eis terug te trek.
19.2 Die eiser word gelas om die gedingskoste te betaal.
19.3 Die eiser word gelas om die koste op ‘n bestrede basis van die verrigtinge van 25 Mei 2006 te betaal.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
ADVOKAAT NAMENS EISER : ADV H GERBER
IN OPDRAG VAN : HUGO MATHEWSON & OOSTHUIZEN
ADVOKAAT NAMENS VERWEERDER : ADV N JANSE VAN NUWENHUIZEN
IN OPDRAG VAN : TOWELL & GROENEWALD