South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 9
| Noteup
| LawCite
Beets v Munisipale Raad van die Tsantsabane Munisipaliteit (80/05) [2006] ZANCHC 9 (17 February 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE AFDELING)
KIMBERLEY
SAAK NO.: 80/05
DATUM AANGEHOOR: 16-09-2005
DATUM VAN UITSPRAAK: 17-02-2006
In die saak tussen:
HENRY ANDREW BEETS APPLIKANT
en
DIE MUNISIPALE RAAD VAN DIE TSANTSABANE
MUNISIPALITEIT 1STE RESPONDENT
KATRINA KASPER N.O 2DE RESPONDENT
(in haar hoedanigheid as Burgermeester van die TSANTSABANE MUNISIPALITEIT)
J J VAN L SADIE N.O 3DE RESPONDENT
(in sy hoedanigheid as Minisipale Bestuurder van die TSANTSABANE MUNISIPALITEIT
CORAM: C.C WILLIAMS R:
U I T S P R A A K
WILLIAMS R:
1. Die applikant het op 28 Januarie 2005 ‘n aansoek geloods vir die hersiening en tersydestelling van die derde respondent se besluit op 17 Januarie 2005 dat die applikant geskors word, sowel as ‘n kostebevel teen die eerste respondent.
2. Die aansoek, wat geopponeer is deur die respondente, is op die rol geplaas vir argument op 13 Mei 2005. Op daardie dag is die saak egter van die rol verwyder klaarblyklik aangesien die applikant se skorsingstydperk reeds op 16 April 2005 verstryk het en ‘n bevel vir die hersiening en tersydestelling van die besluit om te skors bloot akademies sou wees.
3. Wie egter verantwoordelik is vir die koste van die aansoek wat nie mee voortgegaan is nie, is nog in geskil en dit is vir hierdie rede dat die saak op 16 September 2005 voor my gedien het, slegs vir die beregting van koste.
4. Die applikant is van mening dat die respondente gelas moet word om die koste van die aansoek te betaal en die respondente bestry hierdie aansoek.
5. Die reël wat normaalweg geld in hierdie tipe geval is dat waar ‘n litigant ‘n aksie terugtrek of in effek terugtrek, hy baie goeie redes moet aanvoer waarom die teenkant nie geregtig is op sy koste nie. Sien in die verband Germishuys v Douglas Besproeiingsraad 1973(3) SA 299 (NKA) te 300 D-E waar Van Rhyn R die volgende sê:
“Die eiser of applikant wat sy eis of smeekbedes terugtrek is na my mening in dieselfde posisie as ‘n onsuksesvolle litigant want, per slot van sake is sy eis of aansoek futiel en is die verweerder of respondent geregtig op alle koste wat deur die terugtrekkende eiser of applikant se prosesinstelling meegebring is.”
6. Die applikant se saak is egter dat hy met verwysing na die aansoekstukke suksesvol sou wees met sy aansoek indien daarmee voortgegaan is en dus geregtig is op ‘n kostebevel in sy guns. Die applikant voer verder aan dat:
6.1 die derde respondent oor geen statutêre of ander bevoegdheid beskik het om die applikant te skors nie;
6.2 die skorsing prosedureel onbillik verloop het, en
6.3 die skorsing substansieël onbillik verloop het.
7. Om hierdie redes, word dit aangevoer, is dit nodig om ook die meriete van die aansoek in oorweging te bring by die uitoefeing van my diskresie ten aansien van koste.
8. Daar is met groot detail met die meriete van die saak gehandel deur beide mnr. Daffue vir die applikant en mnr. Botha vir die respondente.
9. Ek vind dit egter nie nodig of dienstig om in veel of enige detail die meriete van die aansoek in hierdie uitspraak te behandel nie. Die benadering in sake waar slegs die koste aspek vir beregting oorgelaat is word deur Price R in Jenkins v South African Boilermakers’, Iron and Steel Workers’ and Shipbuilders’ Society 1946 WLD 15 te bladsye 17 en 18 uiteengesit. Die volgende passasie uit die uitspraak het spesifiek toepassing:
“I cannot imagine a more futile form of procedure than one which would require Courts of law to sit for hours, days, of perhaps even for weeks, trying dead issues to discover who would have won in order to determine questions of costs, where cases have been settled by die main claims being conceded. If the Court were eventually to say, that it awarded costs to a particular party because on the evidence that party would have won on that issue, would the disappointed party then be entitled to appeal in order to upset the decision as to who would have won on the dead issue that has been tried? This must necessarily follow if Mr. Kuper’s application is entitled to succeed. When a case has been disposed of by an offer which concedes the main claim and the costs of the whole case have still to be decided, I think the Court must do its best with the material at its disposal to make a fair allocation of costs, employing such legal principles as are applicable to the situation. This is much to be preferred to laying down a principle which requires courts to investigate dead issues to see who would have won on such. In most such cases the litigants would be required to incur far greater costs than those at stake.
In my view the costs must be decided on broad general lines and not on lines that would necessitate a full hearing on the merits of a case that has already been settled.”
10. Die Jenkins saak hierbo verskil wel van die huidige deurdat die partye in daardie saak geskik het op die meriete en slegs ten opsigte van koste nie bymekaar kon uitkom nie. Die meriete van daardie saak is wel op ‘n beperkte wyse hanteer om ‘n billike kostebevel te bepaal. Die benadering uitgelig die passasie hierbo aangehaal is egter toepaslik.
11. In die Germishuys saak supra, waar die hof te doen gehad het met ‘n soortgelyke saak soos die onderhawige waar die meriete nie geskik is nie, maar die saak in effek teruggetrek is, is al die relevante gesag bespreek insluitende die Jenkins saak, en het die hof tot die beslissing gekom dat daar nie op die meriete ingegaan behoort te word nie. Ek skaar my by hierdie beslissing.
12. Die agtergrond tot hierdie aansoek kan kortliks as volg opgesom word:
12.1 Die applikant, die Hoof: Menslike Hulpbronne, Ondersteuningsdienste en Algemene Finansiële Aangeleenthede van die eerste respondent is na ‘n skorsingsondersoek gehou op 7 Januarie 2005, op 17 Januarie 2005 na aanleiding van ‘n besluit geneem deur die derde respondent, geskors. Die redes vir sy skorsings is in die skorsingsbrief uiteengesit as:
“1. It is reasonably expected that your presence on duty may be prejudicial to the administration of the workplace.
2. It is reasonably expected that fellow workers may be intimidated; and
3. That the breakdown of trust has reached such a low ebb that it can be reasonably expected that you will act contrary to the interests of the Municipality.”
12.2 Op 28 Januarie 2005 loods die applikant die aansoek waarin hy vra dat derde respondent se besluit gedateer 17 Januarie 2005, ingevolge waarvan applikant geskors is, hersien en tersyde gestel word en dat die eerste respondent gelas word om die koste van die aansoek te betaal.
12.3 In die Kennisgewing van Mosie word daar voorsiening gemaak daarvoor dat indien die respondente van voornemens is om die aansoek te bestry hul die applikant se prokureur voor of op 3 Maart 2005 (meer as ‘n maand na betekening), skriftelik daarvan in kennis moet stel. Hierna geld die normale tydsbepalings vir die liasseer van eedsverklarings soos per die Hofreëls, dit wil sê respondente moet binne 15 dae nadat kennisgewing van opponering gegee is hul antwoordende eedsverklarings liasseer en daarna die applikant sy repliserende eedsverklaring indien enige, binne 10 dae na betekening van die antwoordende eedsverklaring. Sou daar by hierdie tydperke gehou gewees het moes die applikant laatstens op 12 April 2005 sy repliserende eedsverklaring liasseer.
12.4 Om die een of ander rede, wat nie duidelik blyk nie, het die respondente hul opponerende eedsverklaring laat geliasseer, eers op 29 April 2005. Die applikant se repliserende eedsverklaring is daarna op 5 Mei 2005 geliasseer en soos reeds genoem was die aansoek op die rol geplaas vir 13 Mei 2005
13. Die Kollektiewe Ooreenkoms wat geld tussen die partye maak voorsiening daarvoor dat:
“13.3 The suspension or utilization in another capacity shall be for a fixed and pre-determined period and at any rate shall not exceed a period of three (3) months. Any suspension effected shall be on full remuneration.”
14. Die skorsingsbrief van 17 Januarie 2005 dui nie die termyn van die applikant se skorsing aan nie. Die applikant se besware teen sy skorsing het egter nooit ingesluit die feit dat daar nie ‘n vasgestelde termyn van skorsing bepaal is nie. Dit kon ook nie so wees nie. Reeds met die skorsingsondersoek op 7 Januarie 2005 het die applikant geweet dat daar datums toegestaan is vir die dissiplinêre verhoor, te wete 7 tot 9 Februarie 2005. Logieserwys sou dit beteken dat die skorsing, wat hangende die dissiplinêre verhoor geskied het, tot ‘n einde sou loop na afhandeling van die dissiplinêre verhoor.
15. Die dissiplinêre verhoor is egter onbepaald uitgestel en was met die aanhoor van hierdie aansoek nog hangende.
16. Dit beteken egter nie dat die skorsingstermyn onbepaald geword het nie. Klousule 13.3 van die Kollektiewe Ooreenkoms sê in geen ondubbelsinnige taal dat ‘n skorsingstermyn nie drie maande mag oorskry nie. By noodwendige implikasie dus, het die applikant se skorsingstermyn verstryk op 16 April 2005 waarna hy geregtig sou wees om vir diens aan te meld.
17. Die applikant is ‘n senior beampte in diens van die eerste respondent en geskool in Arbeidsreg. Hy is reeds 7 jaar daar werksaam waar hy onder andere ook die eerste respondent behulpsaam is met dissiplinêre optrede. Hy erken ook dat hy goed vertroud is met die inhoud van klousule 13.3. Die betoog dat die opskortingstermyn vir ‘n onbepaalde tyd was, slegs omdat die skorsingsbrief nie ‘n tydperk meld nie gaan dus nie op nie. Die feit dat die respondente eers op 26 Mei 2005 vir applikant persoonlik laat weet het dat hy terug kan keer werk toe neem die applikant se saak ook nie verder nie. Indien hy eers kennis wou hê daarvan dat sy opskortingstermyn op 16 April 2005 verstryk, het hy dit reeds met die respondente se antwoordende eedsverklaring ontvang, gedateer 29 April 2005, waarin derde respondent dié feit onder aandag bring.
18. Ten spyte daarvan dat die antwoordende eedsverklaring die posisie uiteensit, het die applikant egter nog volgehou en voortgegaan om ‘n repliserende eedsverklaring te liasseer en boonop betoogshoofde laat voorberei vir die aanhoor van die aansoek op 13 Mei 2005, net om op daardie dag die aansoek van die rol te verwyder.
19. Gedagtig daaraan dat die aanvanklike datum vir die dissiplinêre verhoor reeds vroeg in Februarie 2005 was, is dit verstommend dat die applikant heengegaan het en op 28 Januarie 2005 ‘n aansoek in hierdie vorm uitgereik het. ‘n Bevel verkry in die applikant se guns na afhandeling van die dissiplinêre verhoor, indien dit voort sou gaan gedurende Februarie 2005, sou bloot akademies wees en ‘n vermorsing van tyd en geld.
20. Selfs indien die applikant voor die liassering van die aansoek geweet het dat die dissiplinêre verhoor uitgestel is (die aansoekstukke swyg hieroor), moes hy ook besef het met die tydperke vir liassering van stukke soos in die Kennisgewing van Mosie uiteengesit, dat die aansoek nie aangehoor sou word voor die verstryking van die maksimum drie maande skorsingsperiode nie.
21. Die applikant is deurentyd regsverteenwoordig deur praktisyns wat gereeld in hierdie Afdeling verskyn en die praktykreëls behoort te ken. Mnr. Daffue wat namens die applikant optreë se betoog dat die applikant nie verantwoordelik gehou kan word vir oorvol hofrolle nie, gaan nie op nie. Soos reeds hierin gemeld, op die beste vir die applikant, indien daar binne die tydbeperkings van die Kennisgewing van Mosie gebly is, sou die applikant se repliserende eedsverklaring eers op 12 April 2005 geliasseer moes wees. Dit sou slegs vier dae gelaat het vir die liassering van betoogshoofde en die aanhoor van die aansoek voordat die skorsingstydperk op 16 April 2005 verstryk het. ‘n Onmoontlke taak.
22. Die situasie soos hy hier afgespeel het was voorsienbaar en kon vermy word deur die aansoek op ‘n dringende basis te bring.
23. Die applikant het gekies om ‘n hofprosedure te volg wat van die staanspoor af duidelik was hom nie enige sinvolle regshulp sou kon bied nie. Ek sien geen rede waarom die respondente dit moet ontgeld nie.
Bygevolg word dit gelas dat die applikant die koste van die aansoek betaal.
________________________
C.C WILLIAMS
REGTER
Nms. Applikante : Adv. J P Daffue
i.o.v. Engelsman, Magabane Ingelyf
Nms. Respondent: Adv. C H Botha
i.o.v Mjila & Vennote
Datum van verhoor: 16/092005
Datum van uitspraak: 17/02/2005