South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 83
| Noteup
| LawCite
S v Mpandle (CA&R 215/04) [2006] ZANCHC 83 (3 March 2006)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R 215/04
Datum verhoor: 2006\03\02
Datum gelewer: 2006\03\03
In die appél van:
RICHARD MPANDLE APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et LACOCK R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die appellant kom in hoër beroep teen sy vonnis van 10 jaar gevangenisstraf wat hy opgelê is in die Streekhof nadat hy skuldig bevind is aan moord. Daar is ook ‘n aansoek vir die kondonasie van die appellant se laat liassering van sy kennisgewing van appél. Die appellant bied ‘n aanvaarbare verduideliking aan vir dié nalate en is dit gevolglik nodig om die meriete van die appél te oorweeg ten einde te bepaal of kondonasie wel toegestaan behoort te word.
2.1 Die appellant is daaraan skuldig bevind dat hy vir Leon Johannes vermoor het deur hom een keer met ‘n mes in die bors te steek. Die appellant se verweer van noodweer is heeltemal tereg verwerp deur die streeklanddros as vals bo redelike twyfel. Dit ly ook geen twyfel nie dat die skuldigbevinding andersins regtens in orde is.
2.2 Dit blyk uit die getuienis dat daar vermoedelik vroeër die dag ‘n geskil tussen die oorledene en die appellant ontstaan het. Die oorledene was in die teenwoordigheid van sy broer en ‘n aantal dames buite ‘n taverne toe die appellant daar opgedaag het en sondermeer een hou met ‘n mes na die oorledene gesteek het in sy bors as gevolg waarvan die oorledene uiteindelik beswyk het. Geeneen van die drie getuies wat op die toneel was en wat deur die Staat geroep is kon ‘n rede aanvoer waarom die appellant só opgetree het nie. Aldrie die getuies was dit ook eens dat die oorledene nie in besit was van ‘n wapen op die stadium toe die appellant hom die dodelike steekwond toegedien het nie.
2.3 Die Staat is verlof verleen om sy saak te heropen en toe is ‘n verdere getuie, Me. Marie Tier, geroep om te getuig. Sy was nie self teenwoordig tydens die voorval nie, maar het haar in die aangrensende perseel bevind. Sy het naamlik ontken in haar getuienis dat sy ooit ‘n wapen vir die oorledene oorhandig het dié betrokke dag. Sy het verder ontken dat sy en die oorledene ooit ‘n verhouding gehad het en sy het ook getuig dat sy nie kennis dra van ‘n stryery wat vroeër tussen die oorledene en die appellant sou plaasgevind het nie.
Wat die appellant se persoonlike omstandighede aanbetref was dit as volg tydens vonnisoplegging:
3.1 Hy was 17 jaar oud toe die steekvoorval plaasgevind het.
3.2 Hy was ongetroud en het een minderjarige kind van elf maande oud gehad.
3.3 Hy was ‘n skolier in standerd 7 wat hy op daardie stadium herhaal het.
3.4 Tydens die voorval was hy werkloos.
3.5 Hy het ‘n misdaadrekord, maar was ‘n eerste oortreder wat betref ‘n geweldsmisdryf (sy twee vorige veroordelings was naamlik vir diefstal in 1998 waartydens die oplegging van vonnis vir 5 jaar uitgestel is en huisbraak en diefstal in 1999 waarvoor ‘n totaal opgeskorte vonnis van 6 maande gevangenisstraf gekry het).
‘n Verdere relevante faktor was dat die appellant onder die invloed van drank was tydens die voorval.
Die bepalings vervat in artikels 51 en 52 van die Strafregwysigingswet (105 van 1997) ten aansien van ‘n voorgeskrewe minimum vonnis, vind nie toepassing in die onderhawige geval nie, aangesien die appellant onder die ouderdom van 18 jaar was tydens die pleging van die misdryf. Sou ‘n geregshof vir ‘n beskuldigde soos die appellant wat tussen die ouderdom van 16 en 18 jaar was tydens die pleging van die misdryf die voorgeskrewe minimum vonnis oplê, word van só ‘n hof verwag om die redes daarvoor volledig aan te teken op die oorkonde. Die noodwendige slotsom is dat die bedoeling van die wetgewer is dat jeugdiges tussen 16 en 18 jaar meer toegeeflik behandel moet word by straftoemeting as ander oortreders wat reeds ouer as 18 jaar oud is.
Sien in dié verband: S v Nkosi 2002(1) SA 494 (W) te 499 D-J; 500 A-C.
Die streeklanddros het in sy uitspraak op vonnis tereg groot klem gelê op die erns van die misdryf, gegewe die feit dat ‘n mens se lewe geneem is. Hy het ook heeltemal tereg daarop gewys dat die gemeenskap beskerming verdien in aangeleenthede soos hierdie.
Daar was voor die landdros twee voorvonnisverslae geplaas, te wete ‘n proefbeampte verslag sowel as ‘n korrektiewe toesig verslag. In beide van hierdie verslae word direkte gevangenisstraf as enigste vonnisopsie aanbeveel. Daar kan na my mening kwalik fout gevind word met sodanige aanbeveling. Ek is egter die mening toegedaan dat tien jaar gevangenisstraf waarvan geen gedeelte opgeskort word nie, skokkend onvanpas is in die onderhawige omstandighede.
Die appellant is ‘n jeugdige en was ‘n eerste oortreder vir ‘n geweldsmisdryf. Verder moet in ag geneem word dat die appellant die oorledene slegs een steekhou toegedien het. Daarby moet in aanmerking geneem word dat drank tot ‘n mate ‘n rol gespeel het en was die appellant ook nog ‘n skolier gewees toe die misdryf gepleeg is.
In S v Tshisa en ‘n ander 2003(1) SASV 171 (O) het ‘n volbank van die Vrystaatse Provinsiale Afdeling ‘n vonnis van lewenslange gevangenisstraf vir moord wat twee 17 jariges opgelê is, tersyde gestel en vervang met 22 jaar gevangenisstraf. In daardie saak het Van Coller R die volgende gesê te 175 i van die uitspraak:
“In die onderhawige saak was 'n koelbloedige en afstootlike moord gepleeg, maar in die lig van die jeugdige ouderdom van die appellante, die feit dat hulle nog nie in boosheid vasgevang was nie en nog kan ontwikkel tot verantwoordelike volwassenes is ek van mening dat 'n onreg sal geskied indien lewenslange gevangenisstraf opgelê word ten opsigte van die moordklagte. Ek is van mening dat 'n vonnis van 22 jaar gevangenisstraf gepas sal wees.”
Ek is die mening toegedaan dat die appellant hierin beslis daarby sal baat vind as ‘n gedeelte van sy termyn van gevangenisstraf opgeskort word. Die appellant se jeugdige onvolwassenheid gekoppel aan sy skoon rekord vir geweldsmisdrywe en die invloed wat drank tot ‘n mate gespeel het in die pleging van die misdryf moet beslis as strafversagtende faktore in sy guns tel.
In die omstandighede meen ek dat inmenging met die opgelegde vonnis vanpas is hierin.
Die volgende bevel word uitgereik:
10.1 DIE APPELLANT SE AANSOEK VIR KONDONASIE VAN DIE LAAT LIASSERING VAN SY KENNISGEWING VAN APPÉL WORD TOEGESTAAN.
10.2 DIE APPÉL TEEN VONNIS SLAAG.
10.3 DIE VONNIS DIE APPELLANT OPGELÊ WORD TERSYDE GESTEL EN VERVANG MET DIE VOLGENDE: “TIEN (10) JAAR GEVANGENISSTRAF WAARVAN DRIE (3) JAAR OPGESKORT WORD VIR ‘N TYDPERK VAN VYF (5) JAAR OP VOORWAARDE DAT DIE APPELLANT NIE WEER SKULDIG BEVIND WORD AAN ‘N MISDRYF WAARVAN GEWELD ‘N ELEMENT IS, GEPLEEG TYDENS DIE TYDPERK VAN OPSKORTING EN WAARVOOR HY ONOPGESKORTE GEVANGENISSTRAF SONDER DIE KEUSE VAN ‘N BOETE OPGELÊ WORD.”
10.4 DIE VONNIS WORD TERUGGEDATEER TOT 20 AUGUSTUS 2002.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
_____________
HJ LACOCK
REGTER
NAMENS APPELLANT : ADV PJ CLOETE (REGSHULP)
NAMENS RESPONDENT : ADV
DATUM VAN VERHOOR : 2006\03\02
DATUM VAN UITSPRAAK : 2006\03\03