South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 81
| Noteup
| LawCite
S v Coetzee (CA&R 38\05) [2006] ZANCHC 81 (17 February 2006)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R 38\05
Datum verhoor: 2006\02\16
Datum gelewer: 2006\02\17
In die appél van:
ANDRIES COETZEE APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et TLALETSI R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die appellant het tereg gestaan op ‘n aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Nadat hy skuldig bevind is op grond van sy aangebode pleit van skuldig, is die aangeleentheid verwys na die Streekhof vir vonnisoplegging. In die Streekhof is die appellant ‘n vonnis van 5 jaar gevangenisstraf opgelê. Hy appelleer nou teen sy vonnis. Daar is ook ‘n aansoek vir kondonasie van die appellant se laat indiening van sy appél. Ek is tevrede dat die appellant ‘n aanvaarbare verduideliking verskaf vir sy versuim. Gevolglik moet die meriete van die appél oorweeg word ten einde te bepaal of kondonasie toegestaan moet word.
Die appellant het in sy skuldig pleit erken dat hy goedere ter waarde van ongeveer R4900.00 gesteel het van die klaagster nadat hy by haar huis ingebreek het. Hierdie goedere, wat meestal luukse artikels is soos ‘n selfoon, bandopnemer ens., is toe deur die appellant verkwansel.
Die appellant was 25 jaar oud, ongetroud en het een kind gehad. Hy het op skool tot standerd 6 gevorder en het kontrakwerk by ‘n bou-aannemer gedoen. Ten tyde van vonnisoplegging het die appellant ‘n vonnis van 3 jaar gevangenisstraf uitgedien vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Die appellant het verskeie ander vorige veroordelings gehad, daarvan is 3 oneerlikheidsmisdrywe (ingesluit dié een waarvoor hy besig was om 3 jaar gevangenisstraf uit te dien soos hierbo vermeld). Een daarvan was vir roof in 1999 toe hy 12 maande gevangenisstraf opgelê is.
Daar is op appél voor ons geen mistasting aan die kant van die streeklanddros tydens vonnisoplegging beweer nie; namens die appellant het Mnr. Modupe bloot aan die hand gedoen dat die vonnis skokkend onvanpas is. Die appellant het weliswaar skuldig gepleit, maar dít op sigself is geen klinkklare aanduiding van berou aan sy kant nie – die sterkte van die Staatsaak kon hom net sowel oorreed het om eerder maar skuldig te pleit. Bowendien is die volgende strafverswarende faktore van belang: die appellant se slegte misdaadrekord, veral vir oneerlikheidsmisdrywe asook die feit dat luukse artikels gesteel en van die hand gesit is – daar was beslis nie uit broodgebrek ingebreek en gesteel nie.
‘n Belangrike aspek wat deeglik in ag geneem moet word is dat die appellant ‘n soortgelyke misdryf as die onderhawige gepleeg het in 2001 en toe 3 jaar gevangenisstraf opgelê is. Hy was dié vonnis opgelê op 11 Februarie 2002 en was hy vir een of ander onverklaarbare rede buite die gevangenis toe hy die onderhawige misdryf gepleeg het op 4 April 2002. Die appellant word dus duidelik nie afgeskrik deur direkte gevangenisstraf nie. In die lig hiervan kan na my mening beswaarlik aangevoer word dat ‘n vonnis van 5 jaar gevangenisstraf hierin skokkend onvanpas is.
Alles inaggenome is ek die mening toegedaan dat die opgelegde vonnis nie inmenging regverdig nie.
DIE APPELLANT SE AANSOEK OM KONDONASIE WORD AFGEWYS EN SY SKULDIGBEVINDING EN VONNIS WORD BEKRAGTIG.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
_____________
PL TLALETSI
REGTER
NAMENS APPELLANT : ADV AT MODUPE (REGSHULP)
NAMENS RESPONDENT : ADV CG JANSEN
DATUM VAN VERHOOR : 2006\02\16
DATUM VAN UITSPRAAK : 2006\02\17