South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 8
| Noteup
| LawCite
S v Prins (CA&R 108/05) [2006] ZANCHC 8 (10 February 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE AFDELING)
KIMBERLEY
SAAK NO.: CA&R 108/05
DATUM AANGEHOOR: 09-02-2006
DATUM GELEWER:10-02-2006
In die Appèl van:
FIELAND PRINS APPELLANT
teen
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: LACOCK R et WILLIAMS R :
UITSPRAAK
WILLIAMS R:
1. Die appellant is op 24 Augustus 2004 in die Streekhof te De Aar skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, gepleeg teenoor ‘n kind onder die ouderdom van 16 jaar na hy aanvanklik van poging tot moord aangekla is. Hy is op dieselfde dag gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf in terme van artikel 51(2)(b)i) van Wet 105 van 1997.
2. Op petisie na hierdie Hof is die appellant verlof verleen om te appelleer teen die vonnis hom opgelê.
3. Die tersaaklike feite van hierdie saak kan as volg opgesom word:
3.1 Die appellant en die klaer het mekaar een laataand op straat raakgeloop. Die appellant het die klaer versoek om hom te vergesel na sy huis om hom te help om sy huislig aan te skakel. Die klaer het ingestem hiertoe aangesien hy agtergekom het dat die appellant onder die invloed van drank was.
3.2 By die appellant se huis aangekom het hy die deur agter hulle toegepen en die klaer met ‘n stok oor die liggaam begin slaan. Hy het die klaer daarvan beskuldig dat hy met ander, by die appellant se huis ingebreek het.
3.3 Die aanranding op die klaer het egter nie hier opgehou nie. Die appellant het hom verder met ‘n stoel voor sy bors geslaan, ‘n sitbankie geneem en vir die klaer op sy voorkop mee geslaan en hom vier keer met ‘n tang op sy kop gesteek. Toe die appellant vir die klaer met ‘n elektriese draad wou vasbind het die klaer hom teëgesit en daarna die geleentheid gekry om te ontsnap toe die appellant ‘n byl buitekant wou gaan haal.
4. Die misdryf waaraan die appellant skuldig bevind is resorteer vir doeleindes van vonnis onder Deel III van Bylae 2 tot Wet 105 van 1997. As eerste oortreder het die appellant dus blootgestaan aan ‘n minimum vonnis van 10 jaar gevangenisstraf tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is wat ‘n minder vonnis regverdig. Die verhoorhof het egter bevind dat daar nie sodanige omstandighede bestaan nie en het derhalwe nie van die voorgeskrewe vonnis afgewyk nie.
5. Beide die regsverteenwoordigers is dit egter eens dat die streeklanddros in hierdie opsig fouteer het deur nie haar diskresie ten opsigte van vonnis behoorlik of redelikerwys uit te oefen nie. Mnr. Cloete wat namens die Staat verskyn wys tereg daarop dat ‘n Hof se diskresie onder artikel 51 van Wet 105 van 1997 beperk word maar nie uitgewis word nie. Sien S v Malgas 2001(1) SASV 469(HHA) te 481h.
6. In die onderhawige saak is dit so dat die appellant se optrede
gemeet aan enige standaarde, verfoeilik was. Om ‘n kind op hierdie wyse aan te rand druis in teen die beginsels van ‘n beskaafde en geordende samelewing. Die howe is dan ook getaak daarmee om die belange van kinders te beskerm. In hierdie opsig is die streeklanddros se benadering soos weerspieël in die uitspraak op vonnis prysenswaardig, waar sy sê “. . . wat die belange van kinders aanbetref is ons grondwet baie duidelik en spesifiek wat hierdie hof aanbetref is ek, is die belange van kinders vir my van uiterste belang dat dit gereflekteer sal word in enige vonnis wat hierdie hof oplê en ook uitsprake gelewer deur hierdie hof. Die hof is die instrument waardeur die samelewing handel.”.
7. Daar moet egter gewaak word daarteen om hierdie bogenoemde oorwegings te oorbeklemtoon ten koste van ander belangrike en relevante faktore wat ook in oorweging gebring moet word met vonnisoplegging. In die woorde van Miller AR in S v Maseko 1982(1) SA 99(A) te 102E-G; “What has to be guarded against when exemplary sentences are imposed is the danger that excessive devotion by a judicial officer to furtherance of the cause of deterrence may so obscure the relevant considerations as to result in very severe punishment of a particular offender which is grossly disproportionate to his deserts.”
8. In my opinie is dit waarteen Miller AR waarsku in die passasie hierbo aangehaal presies wat in casu gebeur het. Weinig gewig is verleen aan die volgende persoonlike omstandighede van die appellant en ander faktore wat hoogs relevant is tot die oorweging van ‘n gepaste vonnis.
8.1 Die appellant is ‘n 32 jarige algehele eerste oortreder. Hy het vaste werk gehad voor sy inhegtenisname en het R825,00 per maand verdien. Hy is dus duidelik bruikbare mensemateriaal.
8.2 Die beserings wat die klaer opgedoen het was klaarblyklik nie baie ernstig van aard nie aangesien hy geen mediese behandeling daarvoor benodig het nie. Daar is ook geen getuienis van enige blywende fisiese of psigiese letsels nie.
8.3 Die klaer was alreeds 15 jaar oud toe die misdryf gepleeg was, dus net onderkant die afsny ouderdom waarop die minimumvonnis betrekking het.
8.4 Die appellant was ten tye van die pleging van die misdryf onder die invloed van drank. Daar is na my mening geen meriete in die Streeklanddros se verwerping van hierdie aspek nie. Die blote feit dat die appellant in sy getuienis ontken het dat hy die spesifieke aand onder die invloed was, kan kwalik enige gewig dra gesien in die lig daarvan dat sy weergawe in elk geval verwerp is.
9. Die bogenoemde faktore stel na my mening wesenlike en dwingende omstandighede daar wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig. Die toegewings gemaak deur die Staat in hierdie verband word gelyk gegee.
10. Hierdie bly egter ‘n ernstige misdryf waaraan die appellant hom skuldig gemaak het en is die enigste gepaste vonnis na my mening direkte gevangenisstraf.
In die omstandigehde word die volgende bevel gemaak:
a) Die appél slaag.
b) Die vonnis in die Streekhof opgelê word ter syde gestel en vervang met die volgende; “5(vyf) jaar gevangenisstraf”
c) Die vonnis word ingevolge artikel 282 van Wet 51 van 1977 terugdateer na 24 Augustus 2004.
_______________________
C C WILLIAMS
REGTER
Ek stem saam
_______________________
H J LACOCK
REGTER
Nms. Appellant: Adv. P.J Cloete in opdrag van die Regshulpraad
Nms. Respondent: Adv. J.J Cloete
Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, Kimberley