South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 77
| Noteup
| LawCite
S v Botha (A141/06) [2006] ZANCHC 77 (1 January 2006)
Download original files |
-
Verslagwaardig:
Sirkuleer Aan Regters:
Sirkuleer aan Streeklandroste
Sirkuleer Aan Landdroste:
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Oranje Vrystaatste Provinsiale Afdeling)
Saakno: / Case number: A141/06
Datum verhoor: / Date heard: 27/11/2006
Datum gelewer: / Date delivered: …/…/2006
In die appèl:
BOTHA, LOUIS Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: Majiedt R et Lacock R
UITSPRAAK OP APPÈL
MAJIEDT R et LACOCK R:
Die appellant, ‘n 36 jarige man, is op 25 Januarie 2006 in die Streekhof, Ficksburg, skuldig bevind aan strafbare manslag, en is op 6 April 2006 gevonnis tot 6 jaar gevangenisstraf waarvan 2 jaar gevangenisstraf voorwaardelik opgeskort is vir ‘n periode van 5 jaar. Met verlof van die verhoorhof kom die appellant nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en die vonnis hom opgelê.
Ad skuldigbevinding
Die skuldigbevinding van die appellant spruit voort uit ‘n grusame motorbotsing wat plaasgevind het op 6 Februarie 2004 op die verbindingspad tussen Ficksburg en Fouriesburg tussen ‘n BMW X5 motorvoertuig wat deur die appellant bestuur was, en ‘n Isuzu bakkie waarvan wyle mnr. en mev. Landman die insittendes was. Die Landman egpaar is noodlottig in die botsing beseer en het op die ongelukstoneel gesterf. Die appellant en sy passasier, mnr. MC De Jager, was beseer maar beide het die botsing oorleef.
Die volgende feite bevindinge van die streekhoflanddros was óf gemeensaak óf is nie op appèl – en na ons mening tereg so – voor ons aangeval nie:
Voor die botsing was die appellant en mnr. De Jager op pad in die rigting vanaf Fouriesburg na Ficksburg. Die Landmans was op pad in die teenoorgestelde rigting, dit wil sê vanaf Ficksburg na Fouriesburg.
Die botsing tussen die voormelde BMW en die Isuzu het plaasgevind op ‘n reguit gedeelte van die pad. Die oppervlak van die tersaaklike pad was geteer en dit was droog. Die botsing het helder oordag plaasgevind terwyl die sig goed was.
Ongeveer 67 meter voor die punt van botsing was die BMW in die regterkantse baan van die pad (dit wil sê aan die verkeerde kant van die rybaan vir verkeer vanaf Fouriesburg na Ficksburg). Vanuit hierdie (verkeerde) baan het die BMW geswenk terug na en oor die linkerbaan, het dit aan die linkerkant van die teeroppervlak van die pad die pad verlaat en op die gruisskouer van die pad beweeg, en van waar dit weer na regs beweeg het oor die linkerkantse baan van die pad na die regterkantse baan tot by die punt van botsing.
Die voertuie het met mekaar gebots in die baan van verkeer vir voertuie vanaf Ficksburg na Fouriesburg, dit wil sê in die korrekte baan van die Isuzu en in die verkeerde baan van die BMW.
Die voertuie het mekaar reg van voor getref, maar meer aan die linker voorkant van elkeen.
Mnr. en mev. Landman, die insittendes van die Isuzu, het beide op die toneel van botsing gesterf aan beserings opgedoen tydens die botsing.
Mnr. De Jager, die passasier in die BMW, was saam met die appellant aangekla en verhoor. Die rede hiervoor blyk onder andere uit die volgende tersaaklike bewoording van die bylae tot die klagstaat, nl. “(dat) beskuldigde 2 (De Jager) te alle relevante tye die passasier in die linker voorste passasierskant was en beskuldigde 2 onmiddellik na die botsing blaam vir die ongeluk op homself geneem het.”
Een van die staatsgetuies, mnr. Liebenberg, het dan ook getuig dat, nadat hy op die toneel waar die botsing plaasgevind het, aangekom het, hy die appellant en De Jager aangetref het langs die pad waar beide gelê het nadat hulle uit die BMW verwyder is. De Jager was duidelik in pyn, het voortdurend gevra vir hulp en het soms hard gevloek. Terwyl Liebenberg aldaar met hom gepraat het, het De Jager onder andere gesê, “Sorry boys, dit is my skuld.”
Na sluiting van die Staatsaak, is die sake vir beide beskuldigdes gesluit sonder dat enigeen van hulle getuig het, en sonder dat enige getuienis namens hulle aangebied was. De Jager is onskuldig bevind en ontslaan, maar is die appellant skuldig bevind aan strafbare manslag, deurdat bevind is dat hy “grof nalatig bestuur het wat gelei het tot die veroorsaking van die dood van die oorledenes.”
Adv. Van Zyl SC en wat saam met adv. Van Niekerk namens die appellant voor ons verskyn het, val die skuldigbevinding van die appellant slegs op een grond aan. Hy argumenteer dat die landdros fouteer het deur te bevind dat, omdat die botsing in die ryvlak van die aankomende Isuzu voertuig plaasgevind het en nie toegeskryf kon word aan enige meganiese gebreke of ander eksterne faktore nie, die botsing slegs veroorsaak is deur die wyse waarop die appellant die voertuig bestuur het. In die afwesigheid van enige verduideliking aan die kant van die appellant, is die noodwendige afleiding, aldus die landdros, dat die appellant nalatiglik die botsing veroorsaak het deurdat hy versuim het om sy voertuig behoorlik te beheer.
Mnr. Van Zyl argumenteer dat, weggedink die voormelde getuienis van mnr. Liebenberg, die landdros geregverdig sou wees om op grond van die res ipsa loquitur beginsel die appellant skuldig te bevind. Op grond egter van die opmerking van De Jager naamlik “Sorry boys, dit is my skuld”, was die landdros – aldus mnr. Van Zyl – nie geregverdig om die res ipsa loquitur beginsel toe te pas nie, en moes hy bevind het dat een of ander handeling van De Jager oorsaaklik was tot die plaasvind van die botsing. Hierdie handeling van De Jager, so argumenteer mnr. Van Zyl, kon daarin bestaan het dat De Jager wat kort voor die botsing – aldus die getuienis van die getuies Mnr. en Mev. Van Zyl – agter in die BMW gesit het, na die voorste sitplek (en waar hy na die botsing gevind is) oorgeklim het en in die proses aan die stuurwiel gevat het wat daartoe gelei het dat die appellant die voertuig moes terugswaai en beheer oor die voertuig verloor het.
Ons is van mening dat daar geen meriete in hierdie argument van mnr. Van Zyl steek nie.
Op geen stadium gedurende die verhoor is enigsins geopenbaar dat die voormelde die verweer van die appellant was nie. Soos mnr. Pretorius namens die Staat aan ons uitgewys het, was die appellant en De Jager deurgaans deur dieselfde stel regsverteenwoordigers verteenwoordig. Indien die voorgaande scenario die verweer van die appellant sou wees, sou verwag gewees het dat die regsverteenwoordigers weens ‘n belange botsing vir die een of die ander beskuldigde sou onttrek. Dit het nie gebeur nie.
As moontlike rede waarom die appellant nie van meet af hierdie weergawe aan sy regsverteenwoordigers openbaar het nie argumenteer mnr. Van Zyl dat hy aan geheueverlies kon gely het na die botsing. Hy grond sy argument daarop dat die appellant onmiddellik na die botsing aan persone op die toneel gesê het dat hy nie weet wat gebeur het nie, bedoelende wat die oorsaak van die botsing was nie. Mnr. Van Zyl betoog terselfdertyd dat, omdat die appellant nie geweet het wat die botsing veroorsaak het nie, is die uitspraak van die Konstitusionele Hof in S v Boesak, 2001(1) SASV 1 (CC) en waar die volgende te 11d tot f gesê is, “An arrested person is entitled to remain silent and may not be compelled to make any confession or admission that could be used in evidence against that person. It arises again at the trial stage when an accused has the right to be presumed innocent, to remain silent, and not to testify during the proceedings. The fact that an accused person is under no obligation to testify does not mean that there are no consequences attaching to a decision to remain silent during the trial. If there is evidence calling for an answer, and an accused person chooses to remain silent in the face of such evidence, a court may well be entitled to conclude that the evidence is sufficient in the absence of an explanation to prove the guilt of the accused”, nie op hierdie saak toepaslik nie. Hierdie argument het niks om die lyf nie. Eerstens het geeneen van die psigiaters of die kriminoloog wat vir vonnisdoeleindes namens die appellant getuig het, getuig of selfs gesuggereer dat die appellant na die botsing aan geheueverlies gely het nie. Tweedens het ook die moeder van die appellant geensins melding gemaak daarvan dat die appellant na die botsing aan geheueverlies gely het nie. Derdens het dit geblyk dat die appellant op die toneel van botsing navraag gedoen het van wat van die blou Isuzu geword het. Dit dui op die afwesigheid van geheueverlies. Vierdens; die laaste verhoordag waarop getuienis in die hof a quo aangebied was, was 19 Oktober 2005. Dr. Weyers, die een kliniese sielkundige, het die appellant gesien op 15 November 2005, dit wil sê 27 dae daarna, en waartydens die appellant die voormelde gebeure aan hom oorgedra het. Afgesien daarvan dat dit minstens verdag voorkom dat die appellant toevallig binne hierdie kort tydsbestek sy geheue sou herwin, sou ek verwag het dat dr. Weyers dit sou vermeld het indien die appellant aan geheueverlies gely het. In elk geval is die appellant eers op 25 Januarie 2006 gevonnis, en is geen poging aangewend om sy saak te heropen en hierdie weergawe voor die hof te plaas nie.
Die voormelde opmerking van De Jager is na ons mening nie noodwendig aanduidend daarvan dat hy verwys het na ‘n handeling wat aanleiding gegee het daartoe dat die appellant beheer oor die BMW verloor het nie. Eerstens is geen nadere ondersoek deur Liebenberg of enige ander getuie gedoen om vas te stel wat De Jager met die opmerking bedoel het nie. Tweedens kon hy net so wel bedoel het dat dit sy skuld was omdat hy voor die botsing verantwoordelik was daarvoor dat die appellant bier gedrink het of dagga gerook het (soos later na skuldigbevinding geblyk het) of dat die appellant weg gekyk het van die pad af of op een of ander wyse konsentrasie verloor het. Derdens: Selfs al sou gesê kan word dat De Jager aan die stuurwiel gevat het, is daar steeds geen getuienis wat die aard en effek van hierdie aanraak van die stuurmeganisme was nie, en waarom die appellant nie daarna die voertuig onder beheer gebring het voor die botsing nie. Hierdie onbeantwoorde vrae laat die Hof steeds alleen met spekulasies, en het dit steeds na ons mening ‘n verduideliking van die appellant geverg. Die volgende aanhaling uit Arthur v Bezuidenhout and Mieny, 1962(2) SA 566 (A) te 574 H en verder is na ons mening in casu ewe toepaslik:
“As appears from the above general statement from Wigmore, and as is reflected in any specific statement of the res ipsa loquitur maxim, once the plaintiff proves the occurrence giving rise to the inference of negligence on the part of the defendant, the latter must adduce evidence to the contrary. He must tell the remainder of the story, or take the risk of judgment being given against him. How far the defendant's evidence need go to displace the inference of negligence arising from proof of the occurrence complained of by the plaintiff depends upon the facts of the particular case.” … “Mere theories or hypothetical suggestions will, of course, not avail the defendant. As it was put by CURLEWIS, J.A., in his dissenting judgment in Hamilton v MacKinnon, supra, and adopted by STRATFORD, C.J., in Naude's case, supra at p. 399, defendant's explanation must be based on fact, not on fancy; 'there must be some substantial foundation in fact for the explanation'. The defendant must, again to cite from the judgment of STRATFORD, C.J., in Naude's case, supra at p. 399, 'produce evidence sufficient to destroy the probability of negligence presumed to be present prior to the testimony adduced by him'.”
Sien ook Stacey v Kent, 1992(4) SA 495 (K).
“Reasonable drivers drive on the correct side of the road, and in the normal course of events, if a driver driving on the incorrect side causes a collision with another driving on his correct side, that fact would be proof of negligence. The errant driver cannot escape responsibility by suggesting fanciful and hypothetical possibilities which the plaintiff has not eliminated.” (te 499 B)
Hierdie beginsel is ook toepaslik in strafregtelike aangeleenthede van hierdie aard (S v Paulsen, 1995(1) SASV 518 (K) te 522 f). Sien ook die uitspraak van Hancke R in S v Maqashalala, 1992(1) SASV 620 (Tk) te 623 b tot g.
Die verdere argument van mnr. Van Zyl naamlik dat die Staat self die mening toegedaan was dat De Jager skuld het aan die veroorsaking van die botsing op grond van die voormelde formulering van die bylae tot die klagstaat, neem die saak nie verder nie. Die Staat het met die opstel van die klagstaat nie kon weet wat die beskuldigdes sou getuig nie, en het duidelik om versigtigheidsredes De Jager ook aangekla na aanleiding van sy gewraakte opmerking. Indien bevind sou word dat De Jager bydraend nalatig was en dat sy bydraende nalatigheid bygedra het tot die dood van die oorledenes kon hy steeds skuldig bevind gewees het aan strafbare manslag.
Op grond van die voorgaande is ons oortuig daarvan dat die landdros die reg behoorlik toegepas het, en kan die appèl teen skuldigbevinding gevolglik nie slaag nie.
Die bevinding van growwe nalatigheid
Die landdros het, klaarblyklik slegs vir doeleindes van vonnis, die volgende bevinding in sy uitspraak op skuldigbevinding gemaak.
“As gevolg van die bevindings deur hierdie Hof hierbo gemaak bring dit een onweerstaanbare afleiding na vore dat beskuldig no 1 die BMW op so ‘n wyse bestuur het dat hy die beheer oor die voertuig verloor het, waarskynlik as gevolg van’ n buitengewoon hoë spoed terwyl hy ‘n onbekende hoeveelheid alkoholiese drank ingehad het. Hierdie totale optrede kom op minstens growwe, verontagsaming van die regte van ander padverbruikers neer wat kan neerkom op roekeloosheid.”
Aangesien hierdie bevinding alleen relevant is tot die vonnis die appellant opgelê, en aangesien die landdros inderdaad hierdie bevinding as strafverswarend teen die appellant in ag geneem het, is dit nodig om kortliks daarmee te handel.
Hierdie bevinding van die landdros is gegrond op die getuienis van mnr. en mev. Van Zyl wat getuig het dat hulle op pad tussen Fouriesburg en Ficksburg by die beskuldigdes verby gery het waar hulle langs die pad buite die BMW gestaan en bier drink het en dat die BMW daarna teen ‘n hoë snelheid by hulle voertuig verby is; dat twee leë bierbottels na die botsing in die BMW gevind is; dat die botsing tussen die twee voertuie vir die getuie Van der Westhuizen soos ‘n ontploffing geklink het; en dat mnr. Grobbelaar, ‘n meganiese ingenieur, getuig het dat die BMW vinniger as die Isuzu beweeg het ten tye van die botsing.
Soos toegegee deur mnr. Pretorius regverdig die voormelde getuienis geensins die afleiding as die enigste redelike afleiding dat die appellant beheer oor die voertuig verloor het “waarskynlik as gevolg van ‘n buitengewone hoë spoed (en) terwyl hy ‘n onbekende hoeveelheid alkoholiese drank ingehad het” nie.
Selfs al sou aanvaar word dat, soos getuig deur mnr. en mev. Van Zyl, die appellant teen ongeveer 160 kilometer per uur of selfs 180 kilometer per uur by hulle verby is, regverdig dit nie die afleiding dat die spoed van die BMW steeds so hoog was ten tye van die botsing nie. Die appellant kon spoed verminder het. Voorts is daar geen getuienis wat daarop dui dat die appellant beheer oor die BMW verloor het as gevolg van ‘n hoë snelheid nie. Trouens, die getuienis van die Van Zyl’s was juis dat die appellant die BMW goed beheer het teen die spoed waarteen hy gery het.
Mnr. Grobbelaar wat die posisie van die voertuie met impak rekonstrueer het, was nie bereid om te spekuleer oor die spoed van die voertuie tydens die botsing nie.
Mnr. Van der Westhuizen het nie enigeen van die voertuie voor die botsing sien beweeg nie, en het slegs die botsing hoor plaasvind.
Die feit dat die BMW vinniger as die Isuzu beweeg het, regverdig nie ‘n afleiding dat die BMW teen ‘n hoë snelheid beweeg het nie, aangesien niemand weet teen watter spoed die Isuzu beweeg het nie.
Die feit dat die appellant voor die plaasvind van die botsing bier gedrink het, regverdig nie die afleiding dat hy beheer oor sy voertuig verloor het as gevolg van die inname van alkohol nie. Daar is eenvoudig geen getuienis wat aanduidend is daarvan dat daar ’n oorsaaklike verband bestaan tussen die mate van intoksikasie van die appellant en die verloor van beheer oor sy voertuig nie.
Indien aanvaar word dat die appellant sy voertuig goed beheer het kort voor die botsing en dat hy daarna beheer daaroor verloor het, kan dit eweneens toegeskryf word aan ‘n nalatige (in teenstelling met ‘n roekelose of growwe nalatige) oordeelsfout wat begaan is in ‘n onbewaakte oomblik van onoplettendheid of gebrek aan konsentrasie.
Hierdie bevinding van die landdros stel vervolgens ‘n mistasting daar, en was hy nie geregverdig om dit vir doeleindes van vonnis teen die appellant in ag te neem nie.
Ad Vonnis
Die oorweging van ‘n gepaste vonnis is, as ‘n reël, by verre die moeilikste deel van ‘n strafsaak. In die onderhawige geval word hierdie taak soveel verder bemoeilik deur die appellant se unieke persoonlike omstandighede soos voorgehou deur verskeie deskundige getuies na wie se getuienis aanstons verwys sal word, die aard van die misdryf van strafbare manslag self sowel as die omstandighede waaronder dit gepleeg is en die belange van die breë gemeenskap.
In S v Naidoo and others 2003(1) SASV 347 (HHA) te par. 45 (361 H – 362 B) som Marais AR die kompleksiteit van vonnisoplegging by sekere tipe strafbare manslagsake soos die onderhawige treffend as volg op:
“The circumstances in which the crime of culpable homicide may be committed range across a wide spectrum. At one end is the case where a momentary lapse in concentration on the task at hand has a tragic result. Neither the lapse nor the failure to foresee the consequences of it is deliberate. Yet they have resulted in a loss of life. They could just as easily not have had that result. Sentencing fairly and appropriately in such a case is one of the law's most difficult tasks. The culpa may have been slight but the result stirs an understandable call from society at large (and a fortiori from those close to the deceased) for the sentence to visit tangible retribution upon the culprit. Balancing the need for a sentence that, on the one hand, will not appear to rate the loss of a life with all the attendant trauma to those to whom the deceased was near and dear as not too serious against, on the other, the need to calibrate the degree to which the accused's conduct deviated from the standard of care expected of a reasonable person and, if it is found to be slight, also to reflect that adequately in the sentence to be imposed, is inherently difficult. The outcome will often satisfy neither those close to the deceased nor those close to the accused, being too lenient in the eyes of the former and too severe in the eyes of the latter. But that does not absolve a court from its duty to strive as best it can to achieve a proper balance between those objectives.”
(Ons eie beklemtoning)
In dieselfde trant is die dictum van FH Grosskopf AR in S v Naicker 1996(2) SASV 557 (A) te 560 F-H as volg:
“The magistrate was fully justified in considering the tragic consequences of the appellant's negligence and to take it into account for purposes of sentence. See S v Ngcobo 19 62 (2) SA 333 (N) at 337A-B. Miller J however pointed out in that case at 336H that the magnitude of the tragedy resulting from negligence should never be allowed to obscure the true nature of an accused's crime or culpability. The learned Judge then concluded at 336H-337A:
'Whatever the result of the negligent act or omission, the fact remains that what the accused person in such a case is guilty of is negligence - the failure to take reasonable and proper care in given circumstances. His negligence may be slight and yet may have the most calamitous consequences, or it may be gross and yet be almost providentially harmless in the result. I venture to suggest that the basic measure for determining fit punishment for a negligent motorist must be the degree of his culpability or blameworthiness.'”
Ons haal juis ter aanvang van hierdie gedeelte van die uitspraak die bovermelde gewysdes aan, omrede dit pertinent aanwending vind in die onderhawige geval. Daar is naamlik hoegenaamd geen twyfel by ons nie dat die opgelegde vonnis van ses jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is, skokkend onvanpas is. Bowendien en in elk geval het die verhoorlanddros sy bevinding van die appellant se optrede as growwe nalatigheid/roekeloosheid aangewend as straf-verswarende faktor wat die opgelegde vonnis motiveer. Gegewe die bevinding vroeër hierin dat die verhoorlanddros in dié verband gefouteer het, moet hierdie Hof op appél opnuut besin oor ‘n gepaste vonnis.
Namens die appellant is verskeie deskundiges se getuienis aangebied en is hullle deskundige verslae ook ingehandig as bewysstukke by die verhoorhof. Hierdie getuienis en verslae bied ‘n uitstekende blik op die appellant as persoon en bied ook tot ‘n mate insig in sy bepaalde optrede dié betrokke dag.
Die getuienis van Prof. Almero Weyers, ‘n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en kliniese sielkundige, Me. Helma Foster, ‘n kriminoloog aan die UV, Me Jacoba Prinsloo, ‘n maatskaplike werker by Departement Korrektiewe Dienste en Me Alison Potgieter, ‘n kliniese sielkundige, is aangebied as deskundige getuienis ter strafversagting namens die appellant. Sy moeder, Me Van Blommenstein, het ook namens hom getuig.
Wanneer die getuienis van die deskundiges en die appellant se moeder saamgevat word, dan blyk die appellant se volgende persoonlike omstandighede daaruit:
Hy is gebore op 6 Junie 1970 en is tans 36 jaar oud. Hy was ten tyde van vonnisoplegging 35 jaar oud.
Hy is ongetroud sonder enige afhanklikes.
Hy het ‘n N2-kwalifikasie behaal.
Hy is woonagtig by sy moeder op ‘n plaas in die Clocolan-distrik en sy betaal aan hom ‘n salaris van R2000.00 per maand.
Hy het geen vorige veroordelings nie.
Wanneer die deskundige getuienis, wat tot ‘n groot mate oorvleuel aangaande die appellant se sielkundige- en persoonlikheid-samestelling, saamgevat word, dan blyk die volgende:
Alhoewel die appellant oor ‘n gemiddelde intellektuele kapasiteit beskik, is hy wat verbale vermoë aanbetref in die kategorie grensgraad verstandelik gestremd, terwyl sy praktiese vermoë bogemiddeld is. Hy is dus meer prakties as akademies georiënteerd.
Die appellant het ‘n duidelike gebrek aan insig en is maklik vatbaar vir uitbuiting en beïnvloeding deur andere.
Die appellant het ‘n beduidende onvermoë om stres te hanteer, is ‘n onassertiewe persoon met ‘n gebrek aan selfvertroue wat eerder van ander sal verwag om belangrike besluite vir hom te neem en wat nie self verantwoordelikheid kan aanvaar nie. Sy optrede word gekenmerk deur onderdanigheid en nederigheid.
Die appellant se persoonlike samestelling, gebrek aan insig en gebrekkige funksionering maak hom nie geskik vir gevangenisstraf nie.
Gevangesetting sal die appellant aan omstandighede in die gevangenis blootstel waarin hy gemanipuleer sal word en waar verdere uitbuiting van sy naïewe oordeelsvermoë deur medegevangenes sal plaasvind.
Gevangesetting sal verder ook die appellant ontneem van die geleentheid om intensiewe sielkundige terapie te ontvang ten einde sy probleme wat aanleiding gegee het tot die oortreding aan te spreek. Gevangesetting sal ook nie die appellant ‘n geleentheid bied op rehabilitasie nie.
Alhoewel die korrektiewe beampte, Me Prinsloo, nie ‘n bepaalde aanbeveling gemaak het nie vanweë gebrekkige inligting aangaande die misdryf en die omstandighede daarvan, het sy bevind dat die appellant ‘n geskikte kandidaat is vir die oplegging van korrektiewe toesig.
Die appellant het skuldgevoelens en berou aangaande die ongeluk wat herhaaldelik tydens kliniese sielkundige sessies gemanifesteer het, aldus die sielkundige Me Potgieter. Die appellant het ook ‘n begeerte om aan die twee kinders wat wees gelaat is as gevolg van die ongeluk te verduidelik en sy berou oor te dra.
Die appellant het ‘n negatiewe selfbeeld, het ‘n gebrek aan lewensvaardighede en het ook ‘n gebrek aan selfvertroue en koester gevoelens van minderwaardigheid.
Volgens die kliniese sielkundige, Me Potgieter, verg die appellant se toestand intensiewe terapeutiese behandeling oor ‘n lang termyn, naamlik oor ‘n periode van meer as twee jaar.
Uit die bovermelde blyk dit duidelik dat daar hoogs strafversagtende faktore in appellant se persoonlikheids- en sielkundige samestelling te vinde is, aldus die onderskeie deskundiges wat namens die appellant getuig het en wie se getuienis grootliks onweerspreek staan. Daarbenewens blyk dit uit die appellant se moeder se getuienis as volg:
Die appellant het ‘n ouer broer en suster wat getroud is en elders in die land woon (onderskeidelik Secunda en Kaapstad).
Die appellant het ook ‘n jonger suster wat verstandelik vertraag is en wie se verstandelike vermoëns dié van ‘n 8-jarige kind is, nieteenstaande die feit dat sy tans 32 jaar oud is.
Die appellant sowel as sy moeder en jonger suster woon op ‘n plaas waar appellant fisies die boerdery behartig en verantwoordelik is vir die sekuriteit op die plaas en by hulle woning.
Die appellant se verstandelik vertraagde jonger suster sal dit hoegenaamd nie kan hanteer indien die appellant gevangenisstraf moet ondergaan nie.
In die geval dat gevangenisstraf wel die appellant opgelê sou word, sou sy moeder noodgedwonge die plaas moet verkoop, aangesien sy nie alleen daar verder sou kon aangaan nie.
Ons het alreeds vroeër hierin daarop gewys dat die vonnis wat die verhoorlanddros opgelê het skokkend onvanpas is en in elk geval inmenging regverdig op grond van die bevinding dat die verhoorlanddros gefouteer het deur te bevind dat die appellant dié betrokke dag grof nalatig/roekeloos opgetree het. In S v Nyathi 2005(2) SACR 273 (SCA) het Conradie AR die vergrootglas geplaas op vonnisse vir strafbare manslag in ernstige verkeersongeluk sake wat in die laaste dekade beslis is. Na bespreking van die verskeie sake kom die geleerde Appélregter tot die slotsom dat die vonnis in S v De Bruin 1991(2) SACR 158 (W) die swaarste vonnis van gevangesetting is (selfs waar dit deur die Hof van Appél verminder is tot 3 jaar gevangenisstraf in teenstelling met die verhoorhof se 4 jaar gevangenisstraf) wat hy van weet wat opgelê is vir strafbare manslag in die konteks van verkeersongelukke – sien 279 B-C.
In die Nyathi-saak waarop die verhoorlanddros in sy uitspraak en Mnr Pretorius namens die Staat voor ons baie sterk gesteun het, het dit gegaan oor ‘n bestuurder wat op ‘n blinde hoogte oor ‘n dubbele sperstreep in beperkte uitsig ‘n voertuig verbygesteek het en toe in ‘n minibus taxi vasgery het, as gevolg waarvan die minibus omgeslaan het wat daartoe gelei het dat 6 passasiers daarin gesterf het en andere beseer is. In dié verband sê Conradie AR die volgende te 277 A-B:
“Overtaking on a barrier line, and especially on a double barrier line where a motorist should realise that his inability to observe approaching traffic is compounded by the inability of traffic in the opposite direction to see him is probably the most inexcusably dangerous thing a road user can do.”
Die appellant in Nyathi se saak se appèl teen die opgelegde vonnis van 5 jaar gevangenisstraf waarvan 2 jaar voorwaardelik opgeskort is, is van die hand gewys deur die Hoogste Hof van Appèl.
Mnr. Van Zyl het namens die appellant ‘n weldeurdagte en volledige betoog voorgehou waarom die appellant nie direkte gevangenisstraf opgelê moet word nie. Daar is geweldig baie meriete in sy betoog. Dit is ‘n aspek waarmee ons intens geworstel het. Die tergendste aspek van die oorweging van ‘n gepaste vonnis op appèl was vir ons die vraag naamlik of die appellant ‘n vonnis ingevolge artikel 276(1)(h) of 276(1)(i) van die Strafproseswet, 51 van 1977 (‘die Strafproseswet’), opgelê behoort te word. Die verskil tussen dié twee is natuurlik dat in laasvermelde geval die appellant ‘n tydperk (wat gewoonlik een sesde van sy totale termyn van gevangenisstraf beslaan, sien artikel 73(7) van die Wet op Korrektiewe Dienste, 111 van 1998), in die gevangenis sal moet deurbring, alvorens die Kommissaris van Korrektiewe Dienste daaraan oorweging kan skenk om hom uit te plaas op korrektiewe toesig, terwyl hy onder artikel 276(1)(h) onmiddellik korrektiewe toesig begin uitdien. Mnr. Van Zyl het betoog dat die appellant duidelik op die aangebode deskundige getuienis nie ‘n kandidaat vir die gevangenis is nie en dat gevangesetting eerder tot sy nadeel sou strek. Hy het verder aan die hand gedoen dat korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(h) ‘n gepaste vonnis sal wees inaggenome die omstandighede van hierdie geval en gegewe die oogmerke van straf. In dié verband het hy verwys na S v Keulder 1994(1) SASV 91 (A) en S v Naicker, supra, waar só ‘n vonnis opgelê is vir strafbare manslag voortspruitend uit ‘n motorvoertuigongeluk.
Daar is veel te sê vir die submissie dat die appellant vanweë sy wesenlike persoonlikheidsgebrek en behoefte aan langtermyn intensiewe sielkundige terapie uit die gevangenis gehou moet word. Om egter slegs na die appellant se belange te kyk en ag te slaan op hom as persoon is nie voldoende of vanpas nie. Daar moet uiteraard ook gekyk word na die ander wesenlike komponente van strafoplegging, te wete die belange van die gemeenskap en die erns van die misdryf. Daarby saam meen ons ook dat die belange van die slagoffers ook in ag geneem moet word. In S v Lister 1993(2) SASV 228 (A) te 232 g-i verklaar Nienaber AR as volg:
“I remain unpersuaded by the submission in counsel’s heads of argument that the court should have adopted the opinion of Dr Sidley that a goal sentence would undermine the treatment to which she would have to submit herself. Prison, one knows, is not a congenial place and the conditions may well be less than ideal for psychotherapy. But then, a prison is primarily an institution of punishment, not cure. As the Court a quo was at pains to point out, the approach of a sentencing officer is not the same as that of a psychiatrist. The sentencing officer takes account of all the recognised aims of sentencing including retribution; the psychiatrist is concerned with diagnosis and rehabilitation. To focus on the well-being of the accused at the expense of the other aims of sentencing, such as the interests of the community, is to distort the process and to produce, in all likelihood, a warped sentence.”
Verder is dit van belang om in ag te neem dat, waar gepas, gevangenisstraf wel opgelê kan word en die Departement van Korrektiewe Dienste versoek kan word om, sover doenlik, sielkundige behandeling aan ‘n bepaalde gevangene te verleen. Vergelyk in dié verband byvoorbeeld die bevel opgelê in S v R 1995(2) SASV 590 (A) te 593 f tot g.
Die ander kant van die munt is natuurlik dat dit algemeen bekend is dat gevangenisse heeltemal oorvol is. Artikel 36 van die Wet op Korrektiewe Dienste, 111 van 1998, bepaal wat betref die oogmerk van implementering van vonnis van gevangenisstraf dat:
“… die implementering van ‘n vonnis van gevangenisstraf (het) die oogmerk om die gevonnisde gevangene daartoe in staat te stel om in die toekoms ‘n maatskaplik verantwoordelike en misdaadvrye lewe te lei.”
In die praktyk is die realiteit dat daar kwalik enige rehabilitasiemoontlikhede in ons oorvol gevangenisse bestaan. Hiemstra, Suid-Afrikaanse Strafproses, 6de uitgawe, deur Kriegler en Kruger, huldig die mening te 707 dat:
“’n Hof wat gevangenisstraf oplê nie ‘n fiktiewe, utopiese tipe straf oplê wat slegs in die gedagtes van idealiste bestaan nie. Die inhoud van ‘n vonnis van gevangenisstraf word bepaal deur dit wat in die praktyk met die gevonnisde persoon sal gebeur en niks anders nie.”
In die konteks van oorvol gevangenisse is die voormelde outeurs die mening toegedaan dat die belangrikheid van korrektiewe toesig nie oorbeklemtoon kan word nie. Hulle verwys verder na S v R 1993(1) SASV 209 (A) te 221 j tot 222 a waar gesê is:
“In die besonder moet daar ingesien word dat daar nou gevoelige straf toegemeet kan word sonder gevangesetting, met al die bekende nadele aan laasgenoemde verbonde vir beide die prisonier en die breë gemeenskap. ‘n Vonnis van korrektiewe toesig kan tewens so saamgestel word dat dit vir die veroordeelde meer beswaar as korttermyn gevangenisstraf – …”
Mnr. Van Zyl het dan ook in sy betoogshoofde baie swaar gesteun op hierdie voormelde passasie.
Die volgende belangrike faktor wat ons onder die loep neem by oorweging van ‘n gepaste vonnis is die aard en erns van die misdryf. In S v Naidoo & Others, supra, te par. 45 en 46 (361 h tot 362 e) het Marais AR uitgewys dat strafbare manslag as misdryf oor ‘n wye kader van morele blaamwaardigheid kan strek. Die kardinale vertrekpunt hierin is dat die appellant, anders as wat die verhoorlanddros bevind het, hom bloot skuldig gemaak het daaraan dat hy op ‘n reguit en oop stuk pad helder oordag in sy verkeerde baan gebots het teen die oorledenes se voertuig. Geen growwe nalatigheid of roekeloosheid kan aan die appellant toegedig word nie, vir die redes alreeds vermeld. Die blote bewese feit dat bierbottels en dagga in die appellant se voertuig gevind is en dat hy en sy medebeskuldigde vroeër gesien is waar hulle bier drink, stel geensins bewys daar dat die drank- en/of dwelm inname (indien enige) oorsaaklik verband gehou het met die veroorsaking van die ongeluk nie. Verder is daar geen bewys gelewer dat die appellant ten tyde van die botsing teen ‘n buitengewone hoë spoed gery het nie en, indien wel, of dit die oorsaak van die ongeluk was nie.
Op die bewese feite het die appellant, vir een of ander onverklaarbare rede, beheer oor sy voertuig verloor ongeveer 67 meter voor die botsing. Sy voertuig het, vanuit die verkeerde (regter) baan vir hom, eers na links tot op die gruis op die skouer van die pad en toe weer na regs tot in die verkeerde baan geswaai waar die botsing toe plaasgevind het. Daar is geen feitelike basis en geen regverdiging om te spekuleer oor die rede waarom die appellant beheer oor die voertuig verloor het op die wyse soos voormeld nie.
Die appellant se morele blaamwaardigheid wat die misdryf self betref moet gevolglik op die voormelde bewese feite aangeslaan word. Wat ‘n vonnisoplegger se taak aanbetref stel Johannes Voet: Commentarius ad Pandectas (Gane se vertaling) dit as volg te Vol 7 te 504:
“Thus will it come about that steps are taken against accused persons according to the measure of their wrongdoing.”
(Ons eie beklemtoning).
Die verhoorlanddros het na ons mening grof misgetas deur te bevind, op grond van sy vroeëre bevinding dat appellant grof nalatig en roekeloos opgetree het, dat hierdie geval analoog is aan die feitestel in S v Nyathi, supra. Vir die redes alreeds uiteengesit, is die bewese feite en omstandighede hierin ver verwyderd van dié in Nyathi.
Die derde wesenlike komponent wat ons vervolgens bespreek, is die gemeenskap se belang. Ter aanvang wys ons daarop dat in hierdie konteks:
“…. die gemeenskap na wie se gevoelens gekyk moet word is die ingeligte, redelike, wetsgehoorsame en gebalanseerde lede van die gemeenskap, daardie lede van die gemeenskap wat bereid is om aan alle faktore wat ‘n rol speel by strafoplegging ‘n korrekte en ewewigtige waarde toe te ken”,
per Van der Merwe R in S v De Kock 1997(2) SASV 171 (T) te 198 a-b.
Vervolgens ontstaan die vraag: tot welke mate moet die gevoelens van die oorledenes se naasbestaandes in ag geneem word?
In R v Karg 1961(1) SA 231 (A) is op appél aangevoer dat die verhoorregter ontersaaklike oorweginge in ag geneem het. Op appél bevind Schreiner AR as volg te 235 H – 236 A:
“The circumstances, or more properly, considerations, that were claimed to have been irregularly taken into account are to be found in passages in which SNYMAN, A.J., said (i) that the Courts should impose such sentences as will not tempt aggrieved persons to seek private vengeance, and (ii) that a sentence should be imposed that would do justice not only to the community but also to the parents of the child who had been killed. I do not agree with the submission that these considerations are irrelevant.”
Die Staat het die getuienis van Me Du Plessis, wat die oorlede Mnr Landman se suster is, gelei. Ongelukkig is sy nie direk gevra wat die naasbestaandes se verwagting ten aansien van vonnis is nie. Só ’n aanduiding sou nie noodwendig deurslaggewend wees nie, maar sou wel hoogs tersaaklik gewees het.
Me Du Plessis se getuienis het wel aangedui dat die twee seuns wat wees gelaat is, ‘n aansienlike terugslag in die algemeen en spesifiek in hul skolastiese vordering beleef het as gevolg van hul ouers se doodslag. Verder het dit ook geblyk uit haar getuienis dat die familie maar sukkel om om te sien na die twee agtergeblewe kinders – hul bejaarde paterne grootmoeder sien met groot gesukkel om na hulle welstand.
Dat ‘n beskuldigde se persoonlike omstandighede nooit oorbeklemtoon mag word ten koste van die gemeenskap se belange nie, staan as ‘n algemene reël vas in ons reg; sien ondermeer:
S v Botha 1998(2) SACR 206 (SCA) te 211 G tot 212 D.
S v Salzwedel & Others 1999(2) SACR 586 (SCA) te 595 D tot E.
Dit volg nie dat ‘n “swaarder” eerder as ‘n “ligter” vonnis altyd die gemeenskap se belange sal dien nie – die feit van die saak is dat daardie belange slegs gedien word deur ‘n effektiewe vonnis, wat ewenwel die “ligter” vonnis mag wees in gepaste omstandighede; Sien: Du Toit: Straf in Suid-Afrika te 80;
Hiemstra, supra te 685.
Per slot van sake is dit die gemeenskap se belange en nie sy wense nie, wat gedien moet word:
S v Makwanyane & another, 1995(3) SA 391 (CC) te par. [88] & [89], 431 C tot G.
Namens die appellant het Mnr. van Zyl aan die hand gedoen dat die verhoorlanddros gefouteer het deur die appellant te verkwalik dat hy nie uit sy eie mond sy berou aan die verhoorhof openbaar het nie, maar wel via die deskundige getuies en sy moeder. In dié verband het Mnr. Van Zyl aangevoer dat hiermee uit die oog verloor is dat daar getuienis voorgelê is aan die verhoorhof “dat appellant verstandelik vertraag is”.
In S v Seegers 1970(2) SA 506 (A) te 511 H het Rumpff AR oor berou dit as volg gestel:
“Remorse, as an indication that the offence will not be committed again, is obviously an important consideration, in suitable cases, when the deterrent effect of a sentence on the accused is adjudged. But, in order to be a valid consideration, the penitence must be sincere and the accused must take the Court fully into his confidence. Unless that happens the genuineness of contrition alleged to exist cannot be determined.”
Sien ook: S v M 1998(1) SACR 162(W) te 164 j tot 165 a;
S v Gerber 1998(2) SASV 441 (NK) te 449 g tot h.
Ons benadering hierin is dat ons geredelik aanvaar dat die appellant wel aan andere te kenne gegee het dat hy berou het oor sy nalatige optrede, maar dat hierdie uitdrukking van berou minder oorredingskrag het, gegewe die feit dat die appellant nie self die verhoorhof in sy vertroue geneem het en oop kaarte gespeel het nie.
‘n Laaste oorweging wat ons nou van naderby beskou is die oogmerke van straftoemeting en meer bepaald vergelding aan die een kant teenoor hervorming en voorkoming aan die ander kant. In S v Khumalo & Others 1984(3) SA 327 (A) te 330 D tot I word, met verwysing na R v Swanepoel 1945 AD 444 te 445, verklaar dat voorkoming die oorheersende strafoogmerk is en dat die ander strafoogmerke aksessoor is. Dit staan verder vas dat vergelding hedendaags ‘n minder belangrike rol speel; sien:
R v Karg, supra te 236 A-B;
S v Nkambule 1993(1) SASV 136 (A) te 147 c-e;
S v Makwanyane & another, supra te 445 I; 446 D.
Vergelding as strafoogmerk moet egter nie buite rekening gelaat word nie:
“But the element of retribution, historically important, is by no means absent from the modern approach. It is not wrong that the natural indignation of interested persons and of the community at large should receive some recognition in the sentences that Courts impose, and it is not irrelevant to bear in mind that if sentences for serious crimes are too lenient, the administration of justice may fall into disrepute and injured persons may incline to take the law into their own hands.”
Karg, supra te 236 A-B.
Samevattend dus moet ons nou op appèl opnuut besin oor ‘n gepaste vonnis vir ‘n 36-jarige eerste oortreder met bewese sielkundige- en persoonlikheidsgebreke wat nalatiglik die dood van twee mense veroorsaak het deur op ‘n reguit stuk pad in baie gunstige bestuursomstandighede beheer oor sy voertuig te verloor en wat toe aan sy verkeerde kant van die pad in die oorledenes se voertuig vasgery het.
Ons moet só ‘n gepaste vonnis oorweeg deur ewewigtig die erkende faktore in ag te neem met ‘n klem op voorkoming en hervorming as strafoogmerke, gedagtig daaraan dat die vergeldende oogmerk van vonnis ‘n minder belangrike rol speel.
In S v Maritz 1996(1) SASV 405 (A) te 417 j tot 418 a het Van den Heever AR obiter verklaar dat:
“In die gewone loop sou 'n jong eerste oortreder wat skuldig bevind word aan strafbare manslag spruitende uit die nalatige, selfs grof nalatige bestuur van 'n voertuig, nie direkte gevangenisstraf opgelê word nie. Deur middel van onder andere opgeskorte gevangenisstraf en korrektiewe toesig kan positiewe verpligtings aan so 'n veroordeelde opgelê word waaruit hy kan leer en die samelewing kan baat.”
Vergelyk ook R v Swanepoel, supra te 448 per Davis WnAR:
“Inferentially, the case shows that, in the absence of recklessness or some other high degree of negligence, an unsuspended sentence of imprisonment, without the option of a fine, should not be imposed on a first offender.”
Ons het met groot erns besin oor die vraag naamlik of ‘n vonnis onder artikel 276(1)(h) of (i) hierin gepas sal wees. Daar was dan ook aanvanklik ‘n verskil tussen ons ten aansien van ons prima facie siening oor vonnis – een van ons het aanvanklik die houding ingeneem dat ‘n vonnis van gevangesetting vir ‘n bepaalde tydperk onder artikel 276(1)(i) gepas sal wees. Na sorgvuldige oorweging is ons dit nou eens dat só ‘n vonnis eerder vergeldend as voorkomend en hervormend sal wees en dat dit die erns van die misdryf sou oorbeklemtoon ten koste van die appellant se unieke versagtende persoonlike omstandighede. Só ‘n vonnis sou ook nie as effektiewe vonnis die belange (in teenstelling met die wense) van die gemeenskap dien nie. ‘n Vonnis van korrektiewe gevangenisstraf onder artikel 276(1)(h) tot die maksimum tydperk voorgeskryf onder artikel 276A(1)(b) van die Strafproseswet, gekoppel aan ‘n vonnis van ‘n tydperk van gevangenisstraf, opgeskort op toepaslike voorwaardes, beskou ons as ‘n meer effektiewe en gepaste vonnis as gevangesetting onder artikel 276(1)(i).
Daar bestaan ‘n algemene wanpersepsie, veral onder gewone lede van die publiek, dat korrektiewe toesig ‘n “ligte” vonnis is. Dit is allermins so – vergelyk in die algemeen:
S v R, supra te 221 i-j;
S v E 1992(2) SACR 625 (A) te 633 a.
In die onderhawige geval kan ‘n korrektiewe toesig vonnis só saamgestel word dat dit ‘n beduidende inperkende effek op die appellant se bewegings- en ander vryhede kan hê, terwyl daar terselfdertyd indringend professionele aandag bestee kan word aan sy voorgestelde voortgesette sielkundige behandeling.
‘n Volledige korrektiewe verslag moet bekom word alvorens só ‘n vonnis onder artikel 276(1)(h) opgelê kan word (sien die bepalings vervat in artikel 276A(1)(a)). In só ‘n verslag sal die bepaalde voorwaardes en bepalings van korrektiewe toesig volledig vervat word. Dit is derhalwe aangewese om die aangeleentheid terug te verwys na die verhoorhof vir die ontvangs van só ’n verslag, die aanhoor van sodanige getuienis en vir die oplegging van vonnis aan die hand daarvan. Ons is die mening toegedaan dat ten minste voortgesette sielkundige terapie deel moet vorm van ‘n vonnis van korrektiewe toesig.
Ter afsluiting beklemtoon ons dat ons slotsom ten aansien van vonnis hierin baie deeglik verstaan moet word in die konteks van die bepaalde unieke omstandighede van hierdie saak.
Inaggenome:
die gebrek aan getuienis aangaande die faktor/e wat daartoe aanleiding gegee het dat die appellant beheer oor sy voertuig verloor het, en
die gebrek aan getuienis aangaande die appellant se graad van beskonkenheid (indien enige) en/of sy bloedalkoholvlak en die kousale verband daarvan met die ongeluk, en
die appellant se unieke persoonlike omstandighede, is ons die mening toegedaan dat direkte gevangenisstraf, selfs onder artikel 276(1)(i), nie die oogmerke van straftoemeting sal verwesenlik nie.
Die verhoorlanddros het bykomend ook gelas dat die appellant se bestuurderslisensie ingevolge artikel 34(1) van Wet 93 van 1996 vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort word en verder dat hy ingevolge artikel 103 van Wet 60 van 2000 onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit.
Daar kan glad nie met die eerste voormelde bevel gekibbel word nie, tewens dit is tereg glad nie aangeval op appél nie.
Die tweede voormelde bevel staan egter op ‘n ander been. Ons is die mening toegedaan dat dié bevel tersyde gestel moet word, omrede:
dit grootliks geskoei was op die verhoorlanddros se bevinding op die meriete van growwe nalatigheid of roekeloosheid aan die appellant se kant, welke bevinding ons nou op appèl mee verskil het, en
die bekommernis wat by die vonnisstadium geregverdigd bestaan het by die verhoorhof dat die appellant selfmoordneigings openbaar en sielkundig onstabiel is, blyk nou, met die voordeel van ‘n terugblik, misplaas te gewees het.
Na ons mening bestaan daar geen goeie rede om só ‘n bevel uit te reik nie, gedagtig verder daaraan dat die appellant die taak het om die plaas, sy moeder en suster te beveilig.
Ons reik die volgende bevel uit:
Die appèl teen skuldigbevinding word afgewys;
Dit appèl teen vonnis slaag. Die vonnis die appellant opgelê word tersyde gestel.
Die saak word na die verhoorhof terugverwys om ter voldoening aan die bepalings vervat in artikel 276A(1)(a) van die Strafproseswet, ‘n verslag van die proefbeampte of korrektiewe beampte in ontvangs te neem en relevante getuienis indien enige, aan te hoor, en om daarna opnuut vonnis op te lê aan die hand van wat in hierdie uitspraak uiteengesit is.
Die verhoorhof se bevel dat die appellant se bestuurderslisensie ingevolge die bepalings vervat in artikel 34(1) van Wet 93 van 1996 vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort word, word bekragtig.
Die verhoorhof se bevel dat die appellant ingevolge die bepalings vervat in artikel 103 van Wet 60 van 2000 onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit, word tersyde gestel.
_______________
SA Majiedt
REGTER
Ek stem saam.
_______________
HJ Lacock
REGTER
Verskyning namens die appellant: Adve F van Zyl SC en J van Niekerk
Verskyning namens die respondent: Adv DJ Pretorius