South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2006 >> [2006] ZANCHC 74

| Noteup | LawCite

S v Venter (129/2006) [2006] ZANCHC 74 (21 December 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: 129/2006

DATUM: 21-12-2006

In die Hersieningsuitspraak van:


DIE STAAT


teen


ALISTAIR VENTER


CORAM: WILLIAMS R


U I T S P R A A K


WILLIAMS R:


1. Die beskuldigde is op 6 Februarie 2006 in die landdroshof, Kimberley onder andere skuldig bevind aan ‘n oortreding van artikel 25(1)(a) van Wet 7 van 1985, deurdat hy hom wederregtelik as ‘n lid van die polisiemag voorgedoen het. Die beskuldigde was regsverteenwoordig.


2. Voordat vonnis opgelê is het die landdros besef dat die wetgewing waaronder die beskuldigde aangekla en skuldig bevind is herroep is. Die nuwe wetgewing tans van toepassing is artikel 68(1) van Wet 68 van 1995.


3. Die saak is deur die landdros op spesiale hersiening voorgelê met die versoek om die skuldigbevinding reg te stel deur dit te verander na ‘n skuldigbevinding onder die heersende wetgewing.


4. Die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, Noord-Kaap is in hierdie verband versoek om ‘n regsmening te verskaf. Ek is dank verskuldig aan adv. T. Birch vir haar deeglike en behulpsame regsmening waarmee die Direkteur van Openbare Vervolgings saamstem.


5. Die getuienis aanvaar deur die verhoorhof en waarop die skuldigbevinding berus, is dit van ‘n enkelgetuie, die klaagster, me M. Mabote. Me Babote se getuienis is dat die beskuldigde op twee geleenthede by haar woonhuis aangekom het en hom voorgestel het as ‘n Kaptein in die polisiediens. Hy het navrae gedoen oor haar dogter Rachael wat ‘n verkragtingsaak aanhangig gemaak het. Die landdros het tereg, na my mening die beskuldigde se weergawe dat hy slegs na me Mabote se woonhuis was om namens sy familie (hy is die broer van een van die verdagtes in die verkragtingsaak) verskoning te vra vir sy broer se dade, as onwaarskynlik verwerp.


Die bevinding dat die beskuldigde hom voorgedoen het as ‘n lid van die polisiemag is dus na my mening korrek.


6. Die toets met ‘n wysiging van die aanklag blyk te wees om vas te stel of die wysiging die beskuldigde in sy verdediging sal benadeel. Anders gestel, verskil die voorgenome gewysigde aanklag van die oorspronklike aanklag tot so ‘n mate dat dit ‘n totaal nuwe aanklag daarstel, of sou dit neerkom op dieselfde misdryf wat slegs ‘n naamverandering ondergaan het? Indien die laasgenoemde geld, kan daar geen benadeling wees vir die beskuldigde nie, die bewerings teen hom sal dieselfde bly asook sy verweer.

Sien S v Kruger en Andere 1989(1) SA 785(A) te 796I-J; S v Mahlangu 1997(1) SASV 338(T) te 343 f-i.


7. Artikel 25(1)(a) van Wet 7 van 1958 lees as volg;

25(1)Any person, not being a member of the Force, who –

a) by words, conduct or demeanour pretends that he is a member . . .shall be guilty of an offence and liable on convction to a fine not exceeding fifty pounds or in default of payment imprisonment for a period not exceeding six months.”


Artikel 68(1) van Wet 68 van 1995 lees as volg;

68.Valse voorstelling

(1) Enige persoon wat voorgee dat hy of sy ‘n lid is, is aan ‘n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete of met gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens twee jaar.”


8. Daar kan na my menng geen twyfel wees dat ‘n oortreding van enige van die twee betrokke artikels in wese dieselfde misdryf daarstel nie. Daar kan dus geen benadeling wees vir die beskuldigde indien die Hof sy inherente hersieningsmagte uitoefen en die aanklag in die klagstaat en die gepaardgaande skuldigbevinding wysig nie.


Bygevolg word die volgende bevele gemaak:


a) Die klagstaat word gewysig deur die verwysing na ‘n oortreding van artikel 25(1)(a) van Wet 7 van 1958 te vervang met ‘n oortreding van artikel 68(1) van Wet 68 van 1995.


b) Die skuldigbevinding word ter syde gestel en word vervang met ‘n skuldigbevinding aan ‘n oortreding van artikel 68(1) van Wet 68 van 1995.


c) Die skuldigbevinding soos gewysig in (b) hierbo word bekragtig.


d) Die saak word terug verwys na die landdros vir afhandeling van die vonnisverrigtinge.



______________________

C.C WILLIAMS

REGTER