South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 69
| Noteup
| LawCite
S v Visserr (CA&R 95/2005) [2006] ZANCHC 69 (15 December 2006)
Download original files |
VERSLAGWAARDIG JA/NEE
SIRKULEER ONDER REGTERS JA/NEE
SIRKULEER ONDER LANDDROSTE JA/NEE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE AFDELING)
KIMBERLEY
SAAK NO.: CA&R 95/2005
DATUM AANGHOOR:11-12-2006
DATUM GELEWER:15-12-2006
In die Appél van:
THOMAS RICHARD VISSER APPELLANT
teen
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: LACOCK R et WILLIAMS R:
UITSPRAAK
WILLIAMS R:
1. Die appellant is op 7 Julie 2004 in die distrikshof, Kakamas skuldig bevind aan aanranding en is op 19 Oktober 2004 gevonnis tot betaling van ‘n boete van R4000,00, alternatiewelik 4 (vier) maande gevangenisstraf. Bykomend daartoe is hy verdere gevangenisstraf vir ‘n periode van 6 (ses) maande opgelê wat in geheel voorwaardelik opgeskort is.
2. Verlof is aan die appellant verleen op 24 November 2004 om appèl aan te teken teen die skuldigbevinding en vonnis opgelê.
3. Die oorkonde van die verrigtinge in die distrikshof is egter totaal gebrekkig. Dit blyk asof die derde band van die opname van die verrigtinge foutief is, met die gevolg dat die getikte oorkonde eindig op ‘n punt waar die staatsaanklaer nog besig is om die appellant te kruisvra. Die res van die verrigtinge wat insluit die landdros se uitspraak en die vonnisverrigtinge is glad nie getranskribeer nie.
4. Die appèl was aanvanklik voor ons geplaas vir skriftelike beredenering gedurende Maart 2006. Op daardie stadium was daar ‘n beëdigde verklaring van die prokureur wat die appellant in die distrikhof verteenwoordig het, mnr HC le Roux geliasseer in die volgende terme:
4.1 Dat hy verskeie pogings aangewend het om ‘n gerekonstrueerde oorkonde te bewerkstellig.
4.2 Die landdros wat die verrigtinge in die distrikhof waargeneem het, mnr Phillips kon hom nie behulpsaam wees deur of redes vir sy uitspraak te gee of deur te help met die rekonstruksie van die oorkonde nie.
4.3 Die Staatsaanklaer, mnr Engelbrecht, het oor geen notas van die verrigtinge beskik nie en kon dus ook nie behulpsaam wees met die rekonstruksie van die oorkonde nie.
4.4 Mnr le Roux het egter nog beskik oor die notas wat hy self gedurende die verrigtinge geneem het. Die notas, in baie kriptiese vorm en wat nie insluit die redes vir die landdros se uitspraak of die vonnisverrigtinge nie, is gerieflikheidshalwe oorgetik en aangeheg tot die eedsverklaring.
5. Beide adv. Barnard namens die Staat en adv. Van Niekerke SC namens die appellant was van mening dat dit nie sinvol sou wees om te poog om die appèl te bereg sonder dat die oorkonde behoorlik gerekonstrueer is nie. Gevolglik het hulle by ooreenkoms versoek dat verdere pogings aangewend word om die oorkonde te rekonstrueer en het versoek dat hierdie hof ‘n bevel verleen in ooreenstemming met die bevel wat voorkom in S v Joubert 1991(1) SA 119(AA).
6. Die volgende bevel is na aanleiding van bogemelde verleen op 17 Maart 2006.
“1. Die saak word verwys na die Klerk van die Landdroshof, Kakamas, met die opdrag om die beste sekondêre getuienis met betrekking tot die inhoud van die rekord van hierdie saak, te versamel met insluiting van eedsverklarings van:
a) ’n beampte wat kan verklaar dat die rekord van verrigtinge of gedeeltes daarvan misplaas is of verlore geraak het;
b) getuies of andere wat teenwoordig was tydens die verhoor en wat kennis het van wat plaasgevind het tydens die verhoor en wat gesê is tydens die verhoor, ten einde aan te toon wat die inhoud was van die getuienis wat aangebied is en wat die verdere verrigtinge is wat tydens die verhoor plaasgevind het.
2. Die Klerk van die Hof word gelas om sodanige saamgestelde rekord en eedsverklarings aan die appellant en sy regsverteenwoordigers voor te lê, en om hul instemming te verkry, indien moontlik, dat die rekord korrek her-saamgestel is.
3. Die appellant word gelas om, indien moontlik, ‘n eedsverklaring af te lê waarin hy verklaar dat die hersaamgestelde rekord korrek is.
4. Die Klerk van die Hof word eweneens gelas dat indien dit nie moontlik is om sodanige rekord her saam te stel nie, hy volledige redes daarvan in ‘n eedsverklaring sal vervat en aan hierdie Hof sal voorlê.
7. Na aanleiding van bogemelde bevel is ‘n eedsverklaring van die Klerk van die Hof, mnr ME Cloete geliasseer waarin hy sy eie pogings om die getikte oorkonde aan te vul uiteensit. Die kruks van sy eedsverklaring lê in die volgende paragrawe daarvan:
“3.3 Beide mnr Phillips en mnr Engelbrecht was nie in staat om aan my notas te voorsien of enige ander dokumentasie aan my te voorsien waaruit ek die notule kon aanvul nie. Voorts was nie een van die here bereid om uit eie beweging kommentaar te lewer ten opsigte van die korrektheid van die notas van mnr HC le Roux (waarna ek hieronder verwys) nie. Mnre Engelbrecht en Phillips was ook nie bereid om enige aanvullings tot die notule van die verrigtinge te maak nie.
3.4 Mnr HC le Roux het my verwys na sy eedsverklaring en die notas deur hom getranskribeer, wat betrekking het op die verrigtinge en aangedui dat hy nie enige ander inligting beskik waarmee ek die notule van die verrigtinge kan aanvul, uitbrei of volledig saamstel nie.
3.5 Ek kon geen sekondêre getuienis met betrekking tot die inhoud van die rekord van die saak in die Landdroshof opspoor nie.”
8. Dit is dus duidelik dat die oorkonde nie aangevul kon word nie en dat enige verdere pogings ook futiel sal wees.
9. Die vraag wat nou beantwoord moet word is of ons die appèl op die stukke wat wel voor ons is kan bereg. In S v Zondi 2003(2) SASV 227 (WLD) meld die Hof in hierdie verband die volgende te 242h-i.
“an appeal does not necessarily require consideration of a complete 'record' of the entire proceedings in the court a quo, but merely such part thereof as may be required to enable the appellate tribunal to properly consider the particular grounds of appeal in the context of the trial proceedings.
The adequacy of an appeal record therefore depends on the basis and grounds of the particular appeal”.
10. In casu het die appellant die verweer van noodweer geopper. Ek meen adv. Barnard is korrek wanneer hy voorhou dat in ‘n geval soos die onderhawige, waar die Staat steun op die getuienis van ‘n enkelgetuie, dit belangrik is vir die billike beregting van die appel dat ‘n volledige oorkonde van die kruisondervraging van die appellant voor ons dien. Die beregting van die appèl word verder vertroebel deurdat die uitspraak van die verhoorhof nie voor ons is nie en die landdros nie in staat is om redes vir die skuldigbevinding te verskaf nie.
11. Ons is van mening, en die advokate word in hierdie verband gelyk gegee, dat ons nie in enige billikheid of regverdigheid teenoor die appellant die appèl kan bereg op die oorkonde soos dit tans voor ons dien nie. Die appellant is in hierdie omstandighede geregtig daarop dat die skuldigbevinding en die vonnis opgelê tersyde gestel word.
Bygevolg word die volgende bevel gemaak.
Die skuldgbevinding en vonnis opgelê word ter syde gestel.
________________________
C C WILLIAMS
REGTER
Ek stem saam.
________________________
H J LACOCK
REGTER
Nms. Appellant: Adv. JG Van Niekerk SC
i.o.v Duncan & Rothman
Nms. Respondent: Adv. Cloete
Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, Noord-Kaap