South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 50
| Noteup
| LawCite
S v Minnies (CA&R 41/2005) [2006] ZANCHC 50 (29 September 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE AFDELING)
KIMBERLEY
SAAK NO.: CA&R 41/2005
DATUM AANGEHOOR: 28-08 -2006
DATUM GELEWER: 29-09-06
In die Appèl van:
RONALD MINNIES APPELLANT
Teen
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: WILLIAMS R et MOKGOHLOA WNR:
UITSPRAAK
WILLIAMS R:
1. Die appellant is op 27 September 2002 in die Streekhof te Kimberley skuldig bevind op ‘n aanklag van moord en op 11 November 2002 gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Hy kom nou in hoër beroep teen die vonnis hom opgelê.
2. Die lotgevalle van die appellant spruit voort uit ‘n insident waar hy, ‘n reservis in die Suid Afrikaanse Polisiediens, met sy kollegas in ‘n polisievoertuig deur ‘n woonbuurt gery het en ‘n groep seuns sien dobbel het in die straat. Hulle besluit om daar stil te hou en hardhandig op te tree met die seuns het ‘n kettingreaksie ontlok. Die onderonsie wat in die straat begin het is deur sekere van die appellant se kollegas voortgesit in ‘n naburige huis terwyl toeskouers tot die drama in die straat begin saamdrom het. Met die polisiebeamptes se vertrek vanaf die toneel is daar klaarblyklik ‘n klip teen hul voertuig gegooi deur een of ander van die toeskouers en het die polisievoertuig onmiddelik teruggedraai, dwars in die straat gaan stilhou en het die appellant sy dienspistool in die skare afgevuur wat die oorledene, ‘n onskuldige toeskouer noodlottig gewond het.
3. Die verhoorhof het met vonnisoplegging bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat ‘n afwyking van die minimum vonnis voorgeskryf onder artikel 51(2)a)i) van Wet 105 van 1997 regverdig nie.
4. In die betoogshoofde namens die appellant geliaseer word die punt geneem dat:
“. . .die Landdros nie genoegsaam ag geslaan het op die persoonlike omstandighede van die appellant nie, asook die algemene voorkoms van die misdaad en die afskrikkingselement oorbeklemtoon het en dat dit tot ‘n skokkende onvanpaste vonnis aanleiding gegee het.”
5. Die persoonlike omstandighede van die appellant kan as volg opgesom word:
5.1 Hy was 26 jaar oud tydens die voorval;
5.2 Hy is ongetroud, maar het twee kinders wat hy onderhou het;
5.3 Hy het standard 9 op skool geslaag en het vir ongeveer 10 jaar diens verrig as polisiereservis waarvan hy ook 7 jaar as klerk in die Polisiediens werk verrig het;
5.4 Hy het twee vorige veroordelings – aanranding gewoon, gepleeg in 1993 en kwaadwillige beskadiging van eiendom gepleeg in 1996.
6. Dit is geykte reg dat ‘n hof van appél nie sonder meer met vonnis inmeng nie slegs indien die verhoorhof ‘n mistasting began het en nie sy diskresie redelikerwys uitgeoefen het nie of waar die vonnis opgelê skokkend onvanpas is. Sien S v Pieters 1987(3) SA 717(AA).
7. Wat die minimum vonnisse aanbetref maak die Hoogste Hof van Appél dit duidelik in S v Malgas 2001(1) SASV 469 (HHA) dat daar nie ligtelik afgewyk moet word van die voorgeskrewe vonnisse nie en tensy daar ware oortuigende redes bestaan vir ‘n mindere vonnis moet die voorgeskrewe vonnis opgelê word.
8. In casu is daar behalwe die appellant se persoonlike omstandighede, wat volledig vervat is in ‘n voorvonnisverslag en deur my opgesom te para 5 hierbo, geen ander inligting voor die verhoorhof geplaas wat insig kon bied in die optrede van die appellant nie. Die appellant het nie getuig gedurende die vonnisverrigtinge nie en is sy getuienis op die meriete van die saak so deurspek met teenstrydighede en duidelike aanpassings dat sy weergawe van ‘n noodweer situasie tereg as leuenagtig verwerp is.
9. Dit is nie die Hof se taak om te bespiegel oor, of antwoorde te probeer vind vir die optrede van ‘n beskuldigde met die oog daarop om hom meer gunstig te behandel nie. Die verhoorlanddros was na my mening heeltemaal korrek toe hy in sy uitspraak op vonnis die stelling maak ten opsigte van die appellant dat “… hy speel glad nie oop kaarte met die Hof nie. Hy sê nie vir die Hof jammer, ek het ‘n probleem gehad nie, ek is onstabiel of wat die geval mag wees nie, en verwag hy nou daaruit moet die Hof gunstige afleidings vir hom maak.” Sien ook in die verband S v Roslee 2006(1) SACR 537(SCA) waar Navsa AR te 545e die volgende sê:
“Although there is no onus on an accused to prove the presence of substantial and compelling circumstances, it must be so that an accused who intends to persuade a court to impose a sentence less that that prescribed should pertinently raise such circumstances for consideration. In a given case it may not be enough for an accused to argue that such circumstances should be inferred from or found in the evidence adduced by the State.”
Op die aanvaarde getuienis voor die hof was die optrede van die appellant, as polisiebeampte wat veronderstel is om ‘n beveiligende en beskermende rol te speel in die gemeenskap, uiters afkeurenswaardig en laakbaar. ‘n Onskuldige persoon is gedood as gevolg van wat blyk niks ander as blote skietlustigheid aan die kant van die appellant te wees nie. Sy gunstige persoonlike omstandighede word na my mening totaal oorskadu deur die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap en het die verhoorhof na my mening tereg bevind dat daar geen dwingende en wesenlike omstandighede hier teenwoordig was om ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe te regverdig nie.
In die omstandighede word die volgende bevel gemaak:
Die appél word van die hand gewys.
________________________
C.C. WILLIAMS
REGTER
Ek stem saam.
_______________________
F E MOKGOHLOA
WAARNEMENDE REGTER
Nms. Appellant: Adv. Segone i.o.v Die Regshulpraad
Nms. Respondent: Adv. Mashalane