South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 45
| Noteup
| LawCite
S v Speak (CA&R 48/06) [2006] ZANCHC 45 (15 September 2006)
Download original files |
-
Verslagwaardig:
Sirkuleer Aan Regters:
Sirkuleer aan Streeklandroste
Sirkuleer Aan Landdroste:
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: / Case number: CA&R 48/06
Datum verhoor: / Date heard: 11/09/2006
Datum gelewer: / Date delivered: 15/09/2006
In die appèl:
SPEAK, EMOREEN Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: Majiedt R et Lacock R
UITSPRAAK OP APPÈL
LACOCK R:
Die appellant is op 27 Januarie 2006 in die Streekhof, Kimberley, skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot 5 (vyf) jaar gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik opgeskort is vir ‘n periode van 5 (vyf) jaar. Sy kom nou met verlof van die verhoorhof in hoër beroep teen die vonnis haar opgelê.
Met die aanvang van die verhoor in die Hof a quo het die appellant skuldig gepleit op die aanklag haar ten laste gelê, en is die tersaaklike feite waarop haar pleit van skuldig gegrond is en soos deur die Staat aanvaar, vervat in ‘n verklaring kragtens art. 112(2) van die Strafproseswet, nr. 51 van 1977, wat voor die Hof geplaas is. Die inhoud van hierdie verklaring lees as volg:
“EK, die ondergetekende,
EMOREEN SPEAK,
‘n volwasse vroulike persoon woonagtig te Greenstraat 96, Kimberley, verklaar hiermee as volg:
EK is die beskuldigde in hierdie aangeleentheid.
Ek verklaar hiermee vrywilliglik en sonder dat ek deur enige persoon enige voordeel beloof is as volg:
Ek is nugter en by my volle positiewe en wens skuldig te pleit op die aanklag my ten laste gelê.
Ek erken dat ek gedurende 2004 en te Kimberley in die Streekafdeling, Noord-Kaap, wederregtelik, valslik en met die opset om te bedrieg van Sasko, Kimberley gesteel het die bedrag van R150 475.84 (eenhonderdend en vyftig duisend vierhonderd vyf en sewentig rand en vier en tagtig sent).
Ek wens skuldig te pleit op die klagte van diefstal, algemene tekort ten bedrae van R150 475.84.
Ek erken verder dat ek toerekeningsvatbaar was toe ek die misdryf aangegaan het.
Ek weet dat dit wat ek gedoen het, verkeerd is en dat ek daarvoor gestraf kan word.
Ek het gewerk as ‘n debiteure-klerk by Sasko, te Longstraat, Kimberley. My pos het ondermeer behels dat ek verantwoordelik was vir die hantering van die besigheid se debiteure wat ondermeer behels het die invordering van debiteure en ook die hantering van kontantgelde. Ek het toegang gehad tot kontantgelde aangesien die drywers wat aflewerings gedoen het vir Sasko, aan my die kontantbedrae oorhandig het nadat hulle teruggekom het van hulle afleweringsroetes
Ek het gedurende die begin van 2004 en sonder dat ek enige toestemming daartoe gehad het, begin om van die kontantgeld wat ek ontvang het en hanteer het, vir myself toe te eien en om dit nie te reflekteer in die besigheid se boeke nie.
Ek het foutiewe inskrywings gemaak om die depositos wat ek ontvang het te reflekteer. Die foutiewe transaksies wat ek gedoen het om die boeke te laat balanseer het later op die grootboekrekening te voorskyn gekom en het die nie met die totale wat in die bank moes wees gebalanseer nie.
Ek het oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n jaar ongeveer R150 475.84 vir my self onregmatig toegeëien, welke fondse die eiendom van Sasko, Kimberley was en ek het geen toestemming en of magtiging gehad om my die aldus voormelde bedrae toe te eien nie.
Ek is algehele eerste oortreder.
Ek het opregte berou oor my optrede en versoek ek die Agbare Hof om my vandag te begenadig.
Mnr Van Heerden namens die appellant het eerstens voor ons aangevoer dat die vonnis die appellant opgelê, skokkend swaar en onvanpas was, en tweedens dat die verhoorhof onvoldoende gewig geheg het aan die gunstige persoonlike omstandighede van die appellant en die mate van berou wat sy getoon het vir haar wandade. Voorts doen Mnr Van Heerden aan die hand dat ‘n gepaste vonnis vir die appellant sou wees een van korrektiewe toesig kragtens art. 276(1)(h) van die Strafproseswet van 1977.
Vir die redes wat hieronder volg, stem ek saam met die eerste voormelde submissie van Mnr Van Heerden. Die persoonlike omstandighede van die appellant en soos meer volledig blyk uit haar getuienis ter versagting van vonnis, kan as volg saamgeneem word:
Ten tye van vonnisoplegging was sy 27 jaar oud. Sy sou dus ongeveer 25 jaar oud gewees het ten tye van die pleeg van die tersaaklike wandade gedurende 2004.
Hoewel ongetroud, is die appellant die moeder van ‘n 6 jarige kind wat uitsluitlik van haar afhanklik is.
Sy het matriek voltooi en daarna ‘n rekenaarkursus suksesvol voltooi.
In November 1997 het sy by Sasko, die werkgewer van wie sy gesteel het, begin werk waar sy met verloop van tyd van winkelassistent na ontvangsdame en later na debiteure klerk gevorder het. Nadat sy bedank het by Sasko, is sy Engeland toe en nadat sy teruggekeer het van Engeland, het sy vir ‘n tydperk by De Beers gewerk, maar het sy daardie werk verloor as gevolg van haar skuldigbevinding.
Beide haar ouers leef nog, is beide werksaam en is in staat om steun te verleen met die opvoeding van haar kind.
Die appellant is ‘n algehele eerste oortreder.
Benewens haar voormelde persoonlike omstandighede, is daar omstandighede wat myns insiens aanduidend daarvan is dat die appellant opreg berou getoon het vir haar wandade, en terselfdertyd ook aanduidend is daarvan dat die appellant haar les geleer het, waarskynlik nie ligtelik ‘n soortgelyke misdryf in die toekoms sal pleeg nie, en gevolglik nie ‘n kandidaat vir rehabilitasie oor ‘n lang periode binne gevangenisverband is nie. Daardie faktore is die volgende:
Soos blyk uit haar eie onbetwiste getuienis en dié van Mnr Oosthuizen, ‘n interne rekenmeester van die Pioneer Foods-Groep en waaronder Sasko, het laasgenoemde die appellant geskakel terwyl sy in Engeland was, en navraag by haar gedoen aangaande tekorte wat hy in die boeke van die Kimberley-tak van Sasko waargeneem het vir die tydperk waartydens die appellant die debiteure klerk van die tak was. Nadat Mnr Oosthuizen besonderhede van die vermoedelike ongerymdhede aan haar gestuur het, het die appellant hom gekontak, erken dat sy die geld gesteel het, en het daarna na Suid-Afrika teruggekeer. Hier het sy oor ‘n tydperk van twee dae haar volle samewerking verleen en gehelp met die teboekstawing van die gelde wat sy oor die tersaaklike tydperk gesteel het.
Dit is gemeensaak dat die volle bedrag van R150 475.84 deur die appellant aan Sasko terugbetaal is. Volledigheidshalwe moet ek egter meld dat haar ouers gehelp het met die betaling van die grootste gedeelte van die bedrag.
Die appellant het, nadat sy haar skuld teenoor Mnr Oosthuizen beken het, haar samewerking in die afhandeling van die strafsaak verleen, en het sy dan ook skuldig gepleit soos hierbo vermeld.
Met die voorgaande in gedagte kom ‘n vonnis van 5 (vyf) jaar gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik opgeskort is, vir ‘n eerste oortreder my buitensporig swaar en onvanpas voor. Hierdie vonnis verskil sodanig van ‘n vonnis wat ek, indien ek die appellant in die eerste instansie moes vonnis, sou opgelê het, dat dit myns insiens inmenging deur hierdie Hof noodsaak. Die vonnis die appellant opgelê moet dus ter syde gestel word.
Vervolgens is die vraag wat is ‘n gepaste vonnis wat die appellant opgelê behoort te word.
Teenoor die voormelde versagtende omstandighede van die appellant is daar die volgende verswarende omstandighede wat noodwendig in ag geneem moet word:
Die wandade wat die appellant gepleeg het, is deeglik beplan. Wat sy gedoen het was om van die kontantgeld wat aan haar oorhandig is deur afleweringspersoneel, en veral op Saterdae, vir haar haarself toe te eien. Op een of ander wyse het sy dan die tekorte op die bankdepositos sodanig verdoesel dat selfs ‘n vorige rekenmeester van Sasko dit nie opgetel het nie.
Die gelde is oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n jaar gesteel. Die appellant het dus nie ‘n eenmalige diefstal gepleeg nie, en het dus ook ruim geleentheid gehad om te besin oor haar dieftige handelinge en dit te staak. Dit het sy oor ‘n tydperk van ‘n jaar versuim om te doen.
Daar is niks wat daarop dui dat die appellant in die tydperk waartydens die gelde gesteel is, in finansiële nood verkeer het nie. Sy het ‘n vaste betrekking met ‘n relatief goeie salaris verdien. In haar eie woorde het sy hierdie gelde vir persoonlike skuld (die bedrag of bedrae is onbekend), alledaagse gebruik, plesier en vir “mooi goed” aangewend.
Boonop het sy ook nog met haar kind by haar ouers gewoon. Ek meen dat Mnr Bagananeng korrek is in sy submissie dat die appellant uit gierigheid gesteel het.
Die bedrag wat die appellant oor die tydperk gesteel het, is beslis nie gering nie. Dit het in totaal meer as R150 000.00 beloop.
Ten tye van die pleeg van hierdie wandade was die appellant in ‘n vertrouensposisie in die diens van die slagoffer, Sasko. Aan haar was die verantwoordelikheid toevertrou om gelde vanaf kliënte in ontvangs te neem en toe te sien dat dit in die bankrekening van haar werkgewer beland. Van hierdie vertrouensposisie het sy misbruik gemaak ten koste van haar werkgewer en wat ook verantwoordelik was daarvoor dat sy ‘n vaste betrekking gehad het en ‘n maandelikse inkomste verdien het.
Benewens die voorgaande kan hierdie Hof ook nie sy oë sluit vir die tendens wat in hierdie Provinsie ondervind word naamlik dat vroue, en meer bepaald jong vroue, hulself toenemend skuldig maak aan hierdie tipe sogenaamde witboordjie misdade waar feitlik sonder uitsondering geld van hul werkgewers gesteel word nie. Dit is bekend dat dit nie maklik is om hierdie tipe diefstal aan die kaak te stel nie, daar die vindingrykheid waarmee dit verdoesel word, toenemend meer geslepe raak. In hierdie verband het hierdie Hof, anders as wat Mnr Van Heerden betoog het, ‘n openbare verpligting teenoor die publiek om te poog om hulle teen hierdie tipe misdade te beskerm. Die publiek bestaan nie slegs uit die man in die straat nie, maar ook uit die sakesektor waaronder banke, besighede, die verskillende vertakkinge van die owerhede, ensovoorts. Daarbenewens word ook die gewone man minstens indirek nadelig geraak deur hierdie tipe misdrywe gepleeg teenoor onder andere die sakesektor. Dit sal ‘n kwade dag wees en ‘n ernstige versuim aan die kant van die howe indien vonnisse wat aan sogenaamde witbroodjie misdadigers opgelê word, gesien sou word as dat die kool die sous werd is.
Ons is deur beide advokate verwys na vonnisse wat in die verlede deur howe vir soortgelyke oortredings aan beskuldigdes opgelê is. Daardie vonnisse wissel van direkte gevangenisstraf wat gedeeltelik of in die geheel opgeskort was na boetes met gevangenisstraf as alternatief asook vonnisse van korrektiewe toesig. Ek is nie voornemens om daardie sake in hierdie uitspraak te behandel nie omdat die omstandighede van die sake so uiteenlopend is en ook grootliks verskil van die omstandighede in hierdie saak.
Na my mening sal die mees gepaste vorm van straf vir die appellant een wees soos vervat in art. 276(1)(i) van die Strafproseswet van 1977. Sodanige vonnis sal gebalanseerd gestalte verleen aan alle faktore tersaaklik by vonnisoplegging naamlik die erns van die misdryf, die openbare belang, die persoonlike omstandighede van die appellant, en die gevolge wat die misdryf vir die slagoffer teweeggebring het. Daarbenewens sal die oogmerke wat ‘n vonnis oplegger met sy vonnis behoort na te streef eweneens daarin weerspieël word naamlik die mate waartoe die appellant rehabilitasie benodig, ‘n element van vergelding, dat andere daardeur afgeskrik sal word om soortgelyke misdrywe te pleeg, en laastens om te voorkom dat die appellant self haar weer tot ‘n misdryf van hierdie aard wend. S v Rabie, 1975(4) SA 855 (AA) te 861 en verder.
Die misdryf waaraan die appellant skuldig bevind is, is ‘n ernstige misdryf. Dit op sigself verg dat die erns daarvan in die vonnis vergestalt behoort te word. Terselfdertyd verg die erns daarvan dat daadwerklike en ernstige oorweging gegee word aan die element van afskrikking waarna hierbo verwys is. Ook die toename in hierdie tipe misdryf onder veral vroue verg dat aan hierdie element van afskrikking voldoende oorweging verleen word. Sien S v Flanagan 1995(1) SASV 13 (A).
Daar ek van oordeel is dat die oogmerke van rehabilitasie en voorkoming van ‘n herhaling van die misdaad ‘n geringer rol in casu speel, is ‘n vonnis waardeur die appellant vir ’n lang tyd uit die gemeenskap verwyder word, nie geregverdig nie. Sien S v Seegers, 1970(2) SA 506 (AA) te 511 G; en S v Popo, 1978(1) SA 476 (AA) te 481 F.
‘n Vonnis kragtens art 276(1)(i) van die Strafproseswet van 1977 is beslis nie ‘n geringe vonnis nie. Benewens ‘n minimum tydperk van gevangenisstraf sal die appellant daarna onder streng voorwaardes as’t ware tuis gevangenisstraf uitdien vir ‘n baie lang tydperk. Minstens sal sy dan in staat gestel word om weer ‘n nuttige bestaan te voer, haar kind te versorg en om buite die gevangenis te rehabiliteer en haar boete te doen.
Na my mening is ‘n vonnis van 3 (drie) jaar kragtens die voorskrifte van art 276(1)(i) die mees gepaste vonnis wat die appellant opgelê behoort te word.
Bygevolg sou ek die volgende bevele hierin verleen:
Die skuldigbevinding word bekragtig.
Die vonnis die appellant opgelê word ter syde gestel en vervang met die volgende:
“Gevangenisstraf vir ‘n periode van 3 (drie) jaar kragtens die voorskrifte van art 276(1)(i) van die Strafproseswet, nr 51 van 1977”.
_______________
HJ Lacock
REGTER
Ek stem saam en dit word so gelas.
_______________
SA Majiedt
REGTER
Namens appellant: Adv CF Van Heerden
Namens respondent: Adv MGW Bagananeng (Kantoor van die DOV, Kimberley)