South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 4
| Noteup
| LawCite
S v Mienies (CA&R163/05) [2006] ZANCHC 4 (1 January 2006)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Hooggeregshof Hersieningsnr: CA&R163/05
Landdros Saaknr: RC120/04
Datum gelewer:
BRIAN GERRIT MIENIES APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et LACOCK R
REDES VIR UITSPRAAK OP APPÉL
MAJIEDT R et LACOCK R:
Die appellant is op 6 April 2005 in die Streekhof, Upington, skuldig bevind aan onsedelike aanranding en gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Op appél teen sy skuldigbevinding en vonnis het hierdie Hof op 2 Maart 2006 ‘n bevel verleen ingevolge waarvan die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel is, en gelas is dat die appellant onmiddellik vrygelaat moes word. Ten tye van die verlening van die voormelde bevel, het ons aangedui dat die redes vir die bevel later sou volg. Hierdie is die redes vir die bevel alreeds verleen:
Die getuienis namens die Staat aangebied en waarop die Streeklanddros die appellant skuldig bevind het, kan as volg saamgevat word.
Die nag van 24 April 2004 was die klaer, Mnr. Mark van Wyk en sy suster, Janine Swartz, alleen by hul woning in Diedericksweg Woonstelle, Upington.
Op ‘n stadium gedurende die nag is Mnr. Van Wyk na buite waar hy water teen ‘n muur afgeslaan het. Terwyl hy aldaar gestaan het, het die appellant hom van agter gegryp, sy penis vasgegryp met sy een hand en dit getrek terwyl hy hom om die nek vasgehou het met die ander arm. Die appellant se broek was toe reeds uitgetrek, en het hy per anum gemeenskap met die klaer gehou sonder die toestemming van laasgenoemde.
Die appellant daarenteen het getuig dat hy en die klaer reeds by ‘n vorige geleentheid seks gehad het nadat die klaer hom daartoe uitgelok het, en het die klaer hom ook met sigarette, koeldrank en R20.00 daarvoor vergoed. Die tersaaklike aand van die voorval was die appellant, die klaer en nog twee van hul vriende, Godfrey en Carlos, saam by ‘n afskeidsgeselligheid. Later die aand was hulle op pad terug na hul wonings. Terwyl die appellant gestap het, is hy in die straat voor die woning van die klaer deur ‘n derde persoon gekonfronteer en is hy ook deur hierdie persoon met ‘n vuurwapen gedreig. Die appellant het homself uit die voete gemaak en oor die muur, wat ook die heining vorm van die woning van die klaer se ouers, gespring. Die klaer was aan die agterkant van hierdie muur, en daar het hy weer ‘n uitnodiging aan die appellant gerig om met hom seks te hê. Die appellant is egter van daar na ‘n vriendin se huis waar hy bier gedrink en vir ‘n rukkie geslaap het. Later die nag het hy hierdie huis verlaat, en op pad na sy woning het hy weer die klaer raakgeloop en het hulle met toestemming van die klaer en nadat die klaer ‘n kondoom gaan haal het, weer seks gehad.
Dit was gemeensaak tussen die Staat en die Verdediging dat Mnr. Van Wyk by meerdere geleenthede vrywillige anale gemeenskap met mans gehad het, en ook dat hy vir ‘n periode ‘n homoseksuele verhouding met ‘n ander man gehad het.
Wat beantwoording verg is naamlik of die Staat die skuld van die appellant bo redelike twyfel bewys het, en of die weergawe van die appellant nie redelik moontlik waar is nie. Na my mening moet die eerste vraag ontkennend beantwoord word, en die tweede bevestigend.
Hoewel die verhoorhof bevind het dat die klaer ‘n bevredigende getuie was, is daar ‘n aantal onversoenbare botsings in sy weergawe en díé van sy suster, Mej. Swartz, ten opsigte van die gebeure na die beweerde aanranding. Mej. Swartz getuig dat nadat die klaer die huis binne gekom het, het hy haar meegedeel dat die appellant ‘n mes teen sy keel gehou het, en hom sodoende gedwing het om met hom seks te hê. Die klaer self het geensins getuig dat hy met ‘n mes aldus gedreig was nie. In die tweede plek getuig Mej. Swartz dat die klaer aanvanklik die polisie geskakel het en eers daarna hul ouers. Dit is direk teenstrydig met die getuienis van die klaer dat hy slegs sy ouers geskakel het.
Die Landdros het groot gewag gemaak van die feit dat die klaer sy ouers geskakel het, en dit onwaarskynlik gevind indien hy vrywillig seks met die appellant sou hê. Indien dit nie was vir die voormelde teenstrydighede in die getuienis van die klaer en sy suster nie, sou die Landdros moontlik geregverdig gewees het om soveel gewig aan hierdie getuienis te heg. Die teenstrydighede in die getuienis van die klaer en sy suster laat egter die vraag ontstaan of daar nie ‘n ander rede is waarom die ouers geskakel is nie, soos byvoorbeeld dat die suster nie gediend was met die klaer se sekskapades en die ouers toe geskakel is nie. Hierdie moontlikheid word deur die volgende versterk: Die suster het daarop aangedring dat die onderbroek van die klaer in ‘n kas gebêre moes word – klaarblyklik om as getuienis aangewend te word dat seks met die klaer gehou is. Daar is egter geen getuienis dat hierdie onderbroek aan die Polisie oorhandig is nie. Dit regverdig ‘n afleiding dat die suster dit bloot as bewys vir haar ouers gebêre het. Voorts het die Staat versuim om die moeder van die klaer vir wie hy geskakel het, as getuie te roep. Sy was by uitstek die persoon wat kon getuig oor die inhoud en rede vir die oproep van die klaer.
Ek vind niks onwaarskynliks in die weergawe van die appellant nie. Die Landdros het ook nie bevind dat die appellant ‘n leuenagtige of onbevredigende getuie was nie. Trouens, dit wil blyk uit die oorkonde dat die appellant volhard het in sy weergawe soos aan die Hof voorgehou, dat hy hom in geen wesenlike opsig weerspreek het nie, en dat sy weergawe – gesien die seksuele gedrag van die klaer – geensins vergesog of selfs onwaarskynlik is nie. Na my mening moes die Landdros die weergawe van die appellant as redelik moontlik waar aanvaar het. Op sy weergawe het hy geen misdryf gepleeg nie.
Uit hoofde van die voorafgaande moes die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel word, en het ons die bevel gemaak soos verleen op 2 Maart 2006.
-
_______________
SA MAJIEDT
REGTER
______________
HJ LACOCK
REGTER