South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2006 >> [2006] ZANCHC 26

| Noteup | LawCite

S v Senelo (CA&R /200) [2006] ZANCHC 26 (28 April 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


VERSLAGWAARDIG JA/NEE

SIRKULEER ONDER REGTERS JA/NEE

SIRKULEER ONDER LANDDROSTE JA/NEE

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: CA&R /200

DATUM AANGEHOOR: 15-09-2005

DATUM GELEWER:28-04-2006

In die Appél van:


ABRAHAM SENELO APPELLANT


teen


DIE STAAT RESPONDENT


CORAM: C C WILLIAMS R et MOLWANTWA WnR:

UITSPRAAK

WILLIAMS R:

1. Die appellant is op 23 Maart 2003 in die Streekhof te Barkly-Wes skuldig bevind, nadat hy skuldig gepleit het, op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, roof met verswarende omstandigehde soos omskryf in artikel 1 van Wet 51 van 1977 en ‘n verdere aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Op dieselfde dag is die appellant gevonnis ten opsigte van die onderskeie aanklagte tot 3 jaar, 10 jaar en 5 jaar gevangenisstraf. Die verhoorhof het egter gelas dat die vonnisse sodanig gesamentlik uitgedien moet word dat die appellant effektiewelik 12 jaar gevangenisstraf uitdien.


2. Die appellant kom nou in hoër beroep teen die vonnisse hom opgelê.


3. Namens die appellant, wat regsverteenwoordig was met die verhoor, is ‘n skriftelike skuldigpleit in terme van artikel 112(2) van die Strafproseswet 51 van 1977 ingehandig wat as volg lees:

1. Ek is ‘n volwasse manlike persoon woonagtig te huis 26 Driefontein, Boetsap.

2. Ek lê hierdie verklaring vrywiliglik af sonder dat ek deur iemand daartoe beïnvloed is of enige voordeel behaal is.

3. Ek is die beskuldigde in die saak. Ek verstaan die aanklagtes my ten laste gelê en wens skuldig te pleit soos hierna vermeld.

4. Ek erken dat ek skuldig is aan die misdaad van huisbraak met die opset om te steel en diefstal deurdat ek op 25 Maart 2002 en te die plaas Vierling Koopmansfontein in die distrik in Barkly-Wes en binne die regsgebied van die Streekafdeling Noord-Kaap wederegtelik en opsetlik die woning van Johannes Harmse oop gebreek en binne gegaan met die opset om die goedere daarin te steel en om Johannes Harmse permanent sy eiendomsreg daarop te ontneem.

Ek erken verder dat die vermelde goedere die goedere is soos gelys in die aanhangsel tot die klagstaat waarvan die waarde ongeveer R3409.31 beloop.

Ek het toegang tot die woning verkry deur ‘n draad deur ‘n stukkende venster te steek en sodoende die venster oopgemaak. My bedoeling was om toegang tot die woning te kry met die opset om goedere daarbinne te steel.

5. Ek op 25 Maart 2002 en te die plaas Vierling wederregtelik en opsetlik vir Johannes Harmse met ‘n graaf geslaan het en toe wederregtelik en opsetlik van hom gesteel het 1 koffer met inhoud. Ek erken dat dit die regmatige eiendom van Johannes Harmse was en dat ek hom permanent sy eiendomsreg wou ontneem. Ek erken verder dat terwyl ek in die woning was mnr. Harmse daar opgedaag het. Ek het ‘n graaf by my gehad. Daar het toe ‘n konfrontasie plaasgeving en ek het na die klaer daarmee geslaan en hom inderdaad ook raakgeslaan.

Ek het daarna na buite beweeg met die koffer nogsteeds in my besit. Ek het die bedoeling gehad om die klaer buite aksie te stel ten einde weg te kom met die koffer sowel as ander goedere wat ek reeds na buite gedra het. Ek erken derhalwe dat ek my aan roof met verswarende omstandighede skuldig gemaak het soos omskryf in artikel 1 van die strafproseswet.

6. Dat ek verder soos reeds te die plek vermeld in aanklag 1 die waenhuis van Johannes Harmse oopgebreek en binne gegaan het. Die deure was nie gesluit nie, maar slegs toegestoot. Ek maak oop. Ek het binne gegaan met die opset om daar binne te steel ‘n sekere Mazda 323 1982 sedan voertuig. Ek erken dat die waarde van die voertuig ongeveer R14 000-00 is.

Die sleutel was in die voertuig. Ek het wederegtelik gehandel met die opset om die klaer sy besit en eiendomsreg permanent te ontneem aangesien ek met die voertuig wou wegjaag. Ek het myself die voertuig toegëein en weggejaag daarmee. Ek het egter beheer oor die voertuig verloor en dit gerol.

7. Ek erken verder dat ek nie enige reg of toekenning gehad het om mnr. Harmse sy eiendomsreg te ontneem nie of om hom met ‘n graaf te slaan nie.

  1. Ek besef dat dit wat ek gedoen het verkeerd was ten aansien van al

drie klagtes en dat ek daardeur gestraf kan word.

9. Ek is jammer daaroor en vra die hof om my te begenadig.”


4. Alhoewel daar slegs teen vonnis geappelleer is het ons dit goedgedink om die regsverteenwoordigers te versoek om ons toe te spreek oor of hier nie ‘n verdubbeling van klagtes bestaan nie. Ons is die advokate dank verskuldig vir die bydrae wat hulle in hierdie verband gelewer het.


5. Met die eerste oogopslag van die betrokke feitestel kom dit voor asof die appellant, alhoewel daar meerdere handelinge betrokke is, slegs een deurlopende opset gehad het en dit is om die klaer se goedere te steel. Die vraag onstaan dan onmiddellik waarom drie aparte aanklagte wat elkeen die element van diefstal bevat.


6. Die appellant meld self in sy skuldigpleit dat toe hy die klaer aangerand het hy die “bedoeling gehad (het) om die klaer buite aksie te stel ten einde weg te kom met die koffer sowel as met die ander goedere wat ek toe alreeds na buite gedra het.”


7. Regstegnies gesproke slaan die diefstal element van die roofklag dus nie net op die koffer nie, maar ook op die gesteelde goedere in aanklag 1. Die suiwerste benadering sou dus wees dat aanklag 1 slegs huisbraak met die opset om te steel is en aanklag 2, roof met verswarende omstandighede ten opsigte van al die goedere reeds buitekant en die koffer.


8. Die benadering gevolg deur die Staat met die opstel van die eerste twee aanklagte hou egter na my mening geen benadeling in vir die appellant nie. Daar is geen duplikasie van aanklagte nie en is dit ook so dat die diefstal ten opsigte van die eerste aanklag per definisie reeds voltooi was toe die aanranding plaasgevind het en daar dus nie fouteer is in dié opsig nie. Om anders te bevind sou moontlik net tot nadeel van die appellant strek.


9. Wat die derde aanklag betref blyk daar geen probleem te wees nie. Die appellant erken dat hy weereens huisbraak gepleeg het deurdat hy die waenhuisdeur oopgemaak het en dat hy toe daar ingegaan het om die betrokke voertuig te steel. Die waenhuis blyk ‘n aparte gebou van die woonhuis te wees en mnr. Fourie wat namens die appellant verskyn gee ook toe dat die skuldigbevinding op hierdie spesifieke aanklag korrek is. Dit is ook duidelik vanaf die getuienis gelei in die vonnisverrigtinge dat die derde aanklag ook in tyd verwyderd is van die eerste twee aanklagte.


10. Ek is dus tevrede dat die skuldigbevindings ten opsigte van die drie aanklagte regtens geskied het.


11. Wat die vonnisse aanbetref, betoog mnr. Fourie dat die vonnis kumulatief gesien skokkend onvanpas is met inagneming van die appellant se persoonlike omstandighede en die feite omringende die misdrywe en dus inmenging op appél regverdig.


12. Dit is wel so dat die appellant se persoonlike omstandighede gunstig is. Hy was 22 jaar oud ten tye van die voorval en het slegs een vorige veroordeling vir die jag van wilde diere, wat tereg nie deur die verhoorhof in aanmerking geneem is nie. Die appellant is ongeletterd en het geen afhanklikes nie. Hy het dan ook skuldig gepleit, wat normaalweg aanduidend is van berou.


13. Aan die ander kant is die feite van die misdrywe, in geheel gesien, van so ‘n verswarende aard dat dit die persoonlike omstandighede van die appellant oorskadu. Hierdie is een van die talle plaasaanvalle wat in hierdie provinsie voorkom en ook blykbaar spesifiek gemik is op ouer mense wat nie veel weerstand kan bied nie. Die klaer is ‘n weerlose bejaarde persoon van 75 jaar oud wat alleen op die plaas gewoon het. Die appellant, ‘n jong man, sien egter tog kans om die klaer tot onderwerping te dwing deur hom met ‘n graaf te slaan. Alhoewel die beserings aan die klaer blykbaar nie ernstig van aard was nie, het die aanranding die effek gehad dat die klaer so vreesbevange was dat hy op versoek van die appellant selfs vir hom koffie gemaak het en brood gegee het om te eet. Sowat van arrogansie laat ‘n mens byna sprakeloos. Hierbenewens is die klaer ook aansienlike finansiële skade berokken. Alhoewel die meeste van die gesteelde goedere teruggekry is, is die voertuig onherstelbaar beskadig. Na my mening was die verhoorhof in hierdie omstandighede uiters tegemoetkomend om te bevind dat daar dwingende en wesenlike omstandighede bestaan ten opsigte van aanklag 2, wat ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe 15 jaar in terme van Wet 105 van 1997 regverdig, sowel as om die vonnisse tot ‘n sekere mate te laat saamloop.


13. Ek is nie van mening dat die effektiewe vonnis deur die verhoorhof opgelê enigsins inmenging regverdig nie en kan die appêl teen die vonnisse dus nie slaag nie.



Die volgende bevel word gemaak:


Die appél word van die hand gewys.





________________________

C C WILLIAMS

REGTER



Ek stem saam.



________________________

B C MOLWANTNWA

WAARNEMENDE REGTER






Nms. Appellant: Adv. Fourie, Regshulpraad

Nms. Respondent: Adv. Jansen

Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, Noord-Kaap