South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2006 >> [2006] ZANCHC 24

| Noteup | LawCite

Flemming v Khuba and Others (190/02) [2006] ZANCHC 24 (21 April 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja /Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja /Nee

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: 190/02

DATUM AANGEHOOR:21-09-2006

DATUM VAN UITSPRAAK:21-04-2006

In die saak tussen:


HENDRIK STEPHANUS PRETORIUS FLEMMING APPLIKANT/EISER

en


INNOCENT KHUBA EERSTE RESPONDENT/

EERSTE VERWEERDER


MINISTER VAN VEILIGHEID EN SEKURITEIT TWEEDE RESPONDENT/

TWEEDE VERWEERDER


DIE UITVOERENDE DIREKTEUR VAN DIE

ONAFHANKLIKE KLAGTEDIREKTORAAT DERDE RESPONDENT/

DERDE VERWEERDER


CORAM: C.C WILLIAMS R:

U I T S P R A A K

WILLIAMS R:


1. Hierdie saak was vir verhoor op die rol geplaas vir 20 tot 22 September 2005. Die verhoor het egter nie ‘n aanvang geneem nie aangesien die eiser ‘n aansoek om uitstel met gepaardgaande koste gebring het. Die verweerders het nie die aansoek om uitstel opponeer nie, slegs die kostebevel aangevra. Op 21 September 2005, na die betoë deur die advokate aangehoor is het ek die aksie sine die uitgestel en my uitspraak ten opsigte van koste voorbehou. Dit volg nou.


2. Hierdie aksie gaan oor skadevergoeding vir onregmatige en kwaadwillige arrestasie en vervolging. Die saak was aanvanklik ter rolle geplaas vir verhoor skynbaar reeds gedurende 2002/2003, maar is van die rol verwyder hangende die afhandeling van die strafsaak teen die eiser. Na afloop van die strafverhoor, in Oktober 2004, is die huidige verhoordatum bekom en is die saak weer dienooreenkomstig vir verhoor geplaas.


3. Die eiser voer aan dat die rede vir die uitstel uitsluitlik te wyte is aan die verweerders wat nie net laat nie, maar gebrekkig blootgelê het op 19 September 2005, een dag voor die verhoor ‘n aanvang moes neem.


4. Die eiser skets die aanloop tot die uiteindelike blootlegging as volg:


4.1 Reeds op 29 Julie 2002 is die verweerders versoek in terme van Hofreël 35(1) om alle dokumente in hul besit en wat betrekking het op die geskilpunte in die aksie bloot te lê. Geen reaksie is hierop ontvang nie.

4.2 Op 23 November 2004 het die eieser se prokureur ‘n skriftelike versoek aan die verweerders se prokureurs gerig om onverwyld die verweerders se blootleggingsverklarings te liasseer. Weereens was daar geen reaksie.


4.3 Op 20 Mei 2005 is die verweerders weer skriftelik versoek om hul blootleggingsverklarings te liasseer teen laatstens 3 Junie 2005, by gebreke waaraan die gepaste regstappe geneem sou word om blootlegging af te dwing.


4.5 Op 31 Mei 2005 het die verweerders se prokureurs op die brief van 20 Mei 2005 reageer en versoek dat die afsnydatum van 3 Junie verleng word om hulle in staat te stel om ‘n opinie van ‘n advokaat te ontvang.


4.6 Op 6 Julie 2005 het die verweerders se prokureur by wyse van ‘n skrywe aan die eiser se prokureur laat weet dat daar voortgegaan word met die verhoor.


4.7 Die verweerders se blootleggingsverklarings is egter eers na 15:00 op 19 September 2005 gelewer.


5. Die eiser wys daarop in sy aansoekstukke dat die blootleggingsverklarings behalwe dat dit laat is ook gebrekkig is deurdat:

25.1 van die blootleggingsverklarings nie behoorlik beëdig is nie deurdat dit beëdig is deur persoon wat in diens van die derde verweerder is en wat duidelik nie onafhanklik kan wees nie;

25.2 van die blootlegginsverklarings verwys na dokumente wat duidelik met hierdie onderhawige aksie niks te doen het nie; en

25.3 dokumente wat ooglopend in besit moet wees van die verweerders en wat ooglopend hoogs relevant is vir die behoorlike beregting van die geskilpunte hierin, nie blootgelê word nie.”


6. Die eiser beweer voorts dat dit nie moontlik sou wees om sy eise volledig en sinvol voor die Hof te plaas sonder dat daar behoorlik blootlegging deur die verweerders geskied nie en dit slegs billik en regverdig is dat verweerders gelas moet word om die koste teweeggebring deur die aansoek om uitstel te betaal.


7. Die algemene reël is natuurlik dat die party wat verantwoordelik is daarvoor dat ‘n saak nie op die verhoordatum kan aangaan nie ook verantwoordelik is vir die vespilde koste.


8. Die verweerders gee toe dat blootlegging laat en onvoeldoende was. Die houding ingeneem deur die verweerders is egter dat die koste aspek van die uitstel oorstaan tot aan die einde van die verhoor, op welke stadium die Hof in ‘n posisie sal wees om te bepaal, na aanleiding van watter dokumente gebruik is deur die eiser in die verhoor, daar benadeling was vir die eiser met die laat en onvoldoende blootlegging.


9. Die redes aangevoer deur die verweerders vir hierdie houding is dat daar twyfel behoort te wees of die eiser werklik benadeel is aangesien hy sedert Julie 2002 geen stappe geneem het, behalwe skriftelike versoeke, om blootlegging af te dwing nie. Dat indien die dokumente waarsonder die eiser beweer hy nie sinvol sy aksie kan voortsit nie, wel so belangrik is vir die eiser se saak, hy reeds lank voor die verhoordatum ‘n aansoek in terme van Hofreël 35(7) kon bring om blootlegging te bewerkstellig. In hierdie verband verwys mnr. Botha, wat namens die verweerders verskyn, na Webster v Webster 1992(3) SA 729 (ECD) waar Mullins R in ‘n naastenby sooortgelyke situasie die volgende gesê het te 734 F-H:

In my view this is not a case where I should award plaintiff his costs. Both parties are to blame for the present situation. Defendant was clearly at fault in ignoring the discovery notice, but it was plaintiff's duty in the circumstances to have raised the failure to discover, either by way of a further verbal or written demand, or by way of an application to compel in terms of Rule 35(7).

It is unreasonable for a party to wait until the last moment to stand upon his rights under the Rules. A party should take reasonable steps in the circumstances to avoid a postponement, and should not self-righteously remain silent when he knows the other party is in default, especially where such default has continued over a lengthy period. Gutman NO v Standard General Insurance Co Ltd 1981 (4) SA 114 (C) at 122E-G.

It would in my view be a proper exercise of my discretion on the question of costs if I order that each party pay his or her own costs occasioned by the postponement”.


10. Die benadering gevolg in die Webster saak supra stel na my mening nie ‘n vaste reël daar nie. Elke saak moet na gelang van sy eie besondere feite en omstandighede oorweeg word.


11. Anders as in die Webster saak het die eiser in casu nie net bloot agteroor gesit en gewag tot op die dag van die verhoor om hom op die reëls te beroep nie. Soos reeds hierbo gemeld het die eiser al op twee geleenthede die verweerders versoek om hul blootleggingsverklarings te lewer.


12. Die onus rus op die verweerders om te bewys dat die laat en gebrekkige blootlegging geen nadeel inhou vir die eiser nie. Sien Ferreira v Endley 1966(3) SA 618 (ECD) te 621 E-G waar Eksteen R die volgende sê:

Where there has been late discovery as in the present case there is no onus on the party seeking postponement to satisfy the Court that he will be prejudiced. The onus is on the party making the late discovery to show that there will be no prejudice. (Maeder v Carnes, 1944(1) P.H.F 18), and in considering the question of prejudice it should be borne in mind that “the party on whom the affidavit was served was entitled to a proper opportunity of considering the documents, reading the affidavits, comparing the documents in his possession so as to make a case, if possible, that there were further documents in existence which should have been disclosed, and to deliberate whether the Court should be moved to order a further and better discovery.”

(Maeder v Carnes, supra and Industrial Machinery Supplies (Pty) Ltd v Fourie, 1961 (1) SA 163(0).”


13. In casu is dit nodig om enige afleidings te maak uit die feite ten opsigte van benadeling veroorsaak deur laat blootlegging soos in die Webster saak nie. Die verweerders erken dat sekere dokumente wat nie blootgelê en/of beskikbaar gestel is nie nodig is vir die eiser se saak. In die verweerders se opponerende eedsverklaring erken die prokureur vir die verweerders dat:

14. Dit sou uiteraard vir die eiser en sy regsverteenwoordigers nodig wees om insae te neem in die twee saak dossiere waarna hierna verwys word. . . “


14. Die twee saakdossiere waarna verwys word is Olifantshoek MAS 02/03/01, wat betrekking het op die saak van poging tot moord teen die eiser en Olifantshoek MAS 01/03/01, ‘n saak van openbare geweld wat verband hou met die eiser se arrestasie, aanhouding en vervolging.


15. Die eerste verweerder het behalwe pleitstukke in die aksie en korrespondensie tussen die partye se prokureurs blootgelê “Record of Judgment, case number KRC 10/2003” en “Case Docket Olifanthoek CAS 02/03/2001.”


16. Die tweede verweerder het, behalwe korrespondensie en pleitstukke soos hierbo gemeld, blootgelê “Notule van saaknommer RC 276/2000 en Saakdossier Kakamas MAS 77/07/2002.”


17. Die derde verweerder het, behalwe korrespondensie en pleitstukke soos hierbo gemeld, blootgelê “Notule van uitspraak, Saaknommer RC 276/2000 en saak dossier Kakamas MAS 77/07/02”


18. Die saakdossier Kakamas, na verwys in tweede en derde verweerders se blootleggingsverklarings, het niks met hierdie aksie te doen nie. Saakdossier Olifantshoek MAS 02/03/2001 na verwys in eerste verweerder se blootleggingsverklaring, was tot op die stadium van die aanhoor van hierdie aansoek nie beskikbaar gestel aan die eiser nie en saakdossier Olifantshoek MAS 01/03/01 is deur geeneen van die verweerders blootgelê nie.


19. Die enigste verduideliking vir die verweerders se versuim om onder andere die bogenoemde dokumente behoorlik of betyds bloot te lê is dat die eiser as polisiekaptein met 22 jaar ondervinding, wel bewus moes wees van die bestaan van die dossiere ná die ondersoeke wat in verband daarmee gedoen is, dat die eiser se advokaat in die strafsaak, ‘n volledige afskrif van die dossier in die poging tot moord saak aangevra en verkry het – en dat hy dus bewus was van die inhoud en beskikbaarheid daarvan en op ‘n vroeëre stadium blootlegging daarvan moes afdwing.


20. Hierdie houding ingeneem deur die verweerders is na my mening onhoudbaar. Dit verlos geensins die verweerders van hul plig om alle dokumente wat relevant mag wees tot die saak en wat in hul besit of beheer is bloot te lê nie en bied in elk geval geen verskoning vir die gebrekkige blootlegging nie. Sien Ferreira v Endley supra te 621H-622A.


21. Die verweerders het reeds sedert 6 Julie 2005 geweet dat daar voortgegaan sou word met die verhoor en die enigste rede wat aangevoer word waarom daar nie voor 19 September 2005 blootgelê is nie, is dat die verweerders se prokureurs in Pretoria gevestig is wat gevolglik sekere vertragings meegebring het. Na my mening is hierdie geen verskoning nie.


22. Die ander argument sydelings na verwys deur die verweerders dat hulle nie uitsluitlik verantwoordelik is vir die uitstel nie hou ook nie veel water nie. Die feit dat ‘n Reël 37 konferensie nie gehou is nie kan kwalik as ‘n sekerheid vir die uitstel van die verhoor voorgehou word – maar slegs dat dit ‘n vertraging met die aanvang daarvan sou veroorsaak het. Die verweerders se argument dat hulle ook eers die eiser se blootleggingsverklaring ontvang het op 19 September 2005 is van nog minder waarde aangesien dit binne die tydperk bepaal in Hofreël 35(1) gelewer is.


23. Die argumente geopper deur die verweerders in hul opponering van die kostebevel deur die eiser aangevra is na my mening niks meer as ‘n gegryp na strooihalms nie. Die verweerders het ‘n houding van traak my-nie-agtigheid en ‘n totale verontagsaming van die Hofreëls getoon en kan hierdie geval nie gelykgestel word aan die feite in die Webster saak nie.


24. Na my mening is daar geen grondige rede waarom die algemene reël ten opsigte van koste in hierdie geval nie gevolg moet word nie.


Die volgende bevel word gemaak:


Die verweerders word gelas om die verspilde koste teweeggebring deur die uitstel van die aksie te betaal gesamentlik en afsonderlik, indien die een betaal die ander kwytgeskeld te wees, takseerbaar op die skaal soos tussen party en party.







________________________

C.C WILLIAMS

REGTER






Nms. Applikant : Adv. J Van Niekerk

i.o.v. Duncan & Rothman

Nms. Verweerders: Adv. C. H. Botha

i.o.v Robertson & Du Toit Prokureurs