South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2006 >> [2006] ZANCHC 17

| Noteup | LawCite

S v Bampton (CA&R: 100/2004) [2006] ZANCHC 17 (10 March 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


VERSLAGWAARDIG JA/NEE

SIRKULEER ONDER REGTERS JA/NEE

SIRKULEER ONDER LANDDROSTE JA/NEE

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: CA&R: 100/2004

DATUM: 10-11-2005

GELEWER:10-03-2006

In die Appél van:


IVAN BAMPTON APPELLANT


teen


DIE STAAT RESPONDENT


CORAM: WILLIAMS R et R OLIVIER R:

UITSPRAAK

WILLIAMS R:


1. Die appellant is op 31 Mei 2001 in die Streekhof te Upington skuldig bevind aan tien aanklagte te wete:

Aanklag 1 - Poging tot moord

Aanklag 2 – Poging tot moord

Aanklag 3 tot 5 – Oortreding van artikel 2 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van ‘n vuurwapen)

Aanklagte 6 tot 10 – Oortreding van artikel 2 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van ammunisie).


2. Aanklagte 1 en 2 is saamgeneem vir doeleindes van vonnis en is die appellant gevonnis tot 7 jaar gevangenisstraf. Aanklagte 3 tot 5 is saamgeneem vir doeleindes van vonnis en is 3 jaar gevangenisstraf opgelê. Aanklagte 6 tot 10 is saamgeneem vir doeleindes van vonnis en is die appellant 3 jaar gevangenisstraf opgelê. Dit is verder gelas dat die vonnis ten opsigte van aanklagte 3 tot 5 en die vonnis ten opsigte van aanklagte 6 tot 10 samelopend uitgedien word. Die appellant is dus effektiewelik gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf.


3. Die appellant was regsverteenwoordig en het op al die aanklagte skuldig gepleit. Hy kom nou egter in hoër beroep teen die skuldigbevindings sowel as die vonnisse hom opgelê. Gepaardgaande hiermee is daar ook ‘n aansoek om kondonasie vir die laat aantekening van appél. Die aansoek om kondonasie sal na aanleiding van die meriete oorweeg word.


4. Die appellant en sy medebeskuldigde, Thomas De Wee, was albei verteenwoordig deur prokureur Kotze wat ‘n gesamentlike skriftelike skuldigpleit in terme van artikel 112(2) van Wet 51 van 1977 (“die Wet”) aan die Verhoorhof voorgelê het en wat as volg lees:

Ons, die ondergetekendes, Thomas De Wee – beskuldigde 1, Ivan Bampton – beskuldigde 2, verklaar:

1. Ons erken dat ons op 11 Maart 2000 en te Upington, distrik Gordonia, Streekafdeling Noord-Kaap, wederregtelik en met die opsetvorm dolus eventualis, gepoog het om vir Polisiebeamptes Christoffel Van Eeden en Piet Green te dood, deur ‘n skoot na elkeen te vuur.

2. Ons pleit derhalwe skuldig aan poging tot moord met die opsetvorm dolus eventualis op aanklagtes 1 + 2 soos aangekla.

3. Ons erken voorts dat ons op dieselfde datum en plek wederregtelik gesamentlik en afsonderlik in besit was van 1x 9 mm Star pistool, 1 x .38 special revolwer en 1 x .45 pistool, sonder dat ons in besit was van geldige lisensies daarvoor en erken dat ons daardeur Artikel 2 van Wet 75 van 1969 oortree het.

4. Ons pleit derhalwe ook skuldig op aanklagtes 3, 4 en 5 soos aangekla.

5. Ons erken voorts dat ons op dieselfde datum en plek wederregtelik in besit was van die volgende ammunisie: 17 x .38 SP Eldorado Starfire patrone, 3 x .99 mm Star pistool patrone, 5 x .38 Special Rewolwer patrone, 2 boksies.45 ACP rondtes 50 x 9 mm rondtes, sonder dat ons in besit was van ‘n lisensie of gelisensieerde wapens waaruit daardie ammunisie afgeskiet kon word.

6. Ons pleit derhalwe ook skuldig aan oortreding van Artikel 36 van Wet 75 van 1969 op aanklagte 6 tot 10.”


5. Behalwe dat daar ten opsigte van aanklagte 6 tot 10 skuldig gepleit word aan ‘n oortreding van artikel 36 van Wet 75 van 1969, in teenstelling met die klagstaat wat verwys na artikel 2 van hierdie Wet, is die bewerings vervat in die artikel 112(2) verklaring ‘n blote herhaling en erkenning van die bewerings in die klagstaat.


6. Die verhoorhof het geen moeite gedoen om enige vrae ter opheldering te vra of om hom te vergewis daarvan dat die appellant en sy medebeskuldigde hulle inderdaad skuldig gemaak het aan die misdrywe waarop hulle skuldig gepleit het nie. Hulle is nooit gevra om die inhoud van die verklarings te bevestig nie en, alhoewel hulle prokureur aangedui het dat hulle versoek sou word om die verklaring in die Hof weer te onderteken ter bevestiging daarvan, is daar geen aanduiding dat dit gebeur het nie. Inteendeel daar is nie eens op die oorkonde enige aanduiding dat hulle self op die aanklagte gepleit het nie.


7. Artikel 112(2) van die Wet bepaal as volg:

112(2) Indien ‘n beskuldigde of sy regsadviseur ‘n skriftelike verklaring deur die beskuldigde, by die hof inhandig waarin die beskuldigde die feite uiteensit wat hy erken en waarop hy skuldig gepleit het, kan die hof, in plaas van ‘n ondervraging ooreenkomstig subartikel (1)(b), die beskuldigde op grond van bedoelde verklaring skuldig bevind en vonnis soos in genoemde subartikel bepaal indien hy oortuig is dat die beskuldigde skuldig is aan die misdryf waaraan hy skuldig gepleit het: Met dien verstande dat die hof na goeddunke enige vraag aan die beskuldigde kan stel ten einde ‘n aangeleentheid op te helder wat in die verklaring geoper is.”


Dit is na my mening duidelik dat die artikel 112(2) verklaring nie slegs erkennings van die bewerings in die klagstaat moet vervat nie, maar ook die feitebasis waarop die skuldigpleit geskoei is. Hoe anders kan ‘n verhoorhof hom vergewis van die korrektheid van die skuldigpleit sonder om vrae ter opheldering te stel?


8. Skuldigbevindings op hierdie basis uitgebring is op sigself ongeoorloof en staan tersyde gestel te word. (Sien S v B 1991(1) SACR 405(N), asook die ongerapporteerde beslissing van hierdie Hof in die saak van Hannes Kock v Die Staat onder saaknommer CA&R 90/04 gelewer op 30 Augustus 2004.)


9. Wat in casu gebeur het gedurende die vonnisverrigtinge is presies die rede waarom hierdie tipe leë skuldigpleite onaanvaarbaar is.


10. Geen getuienis is gelei met die vonnisverrigtinge nie. Die appellant se regsverteenwoordiger het egter ‘n stel feite aan die verhoorhof voorgehou (wat aanvaar is deur die Staat) en wat die gebeure rakende die voorval wat gelei het tot die aanklagte invul. Hiervolgens blyk dit dat die appellant, De Wee en ‘n derde beskuldigde, wat onskuldig gepleit het en wie se verhoor dus geskei is, se motorvoertuig waarin hulle gereis het vanaf die Wes-Kaap in ‘n roetine polisieblokkade gestop is.


11. De Wee, wat die voertuig bestuur het, is gevra vir sy rybewys. Die ander polisiebeampte het op daardie stadium by die passasiersvenster ingeleun, die paneelkissie oopgemaak en ‘n vuurwapen gevind. Toe die appellant en De Wee gevra is of hulle nog vuurwapens het, het De Wee ‘n vuurwapen onder sy sitplek uitgehaal en dit met die loop in die rigting van die poliesbeampte langs hom aangegee. Dit blyk asof die polisiebeamptes onder die indruk was dat De Wee op hulle wou skiet en het hulle toe ook hulle vuurwapens uitgehaal en na die agterkant van die voertuig beweeg. Daar het toe ‘n oor en weer skietery plaasgevind. Die appellant en sy medebeskuldigde kon egter nie sê wie eerste geskiet het nie.


12. Die regsverteenwoordiger betoog as volg:

Beskuldigde 1 & 2 het toe nou weer uit die polisie se optrede afgelei dat die polisie wil op hulle skiet en dit is toe waar daar ‘n heen en weer skietery plaasgevind het. So sê beskuldigde 1 onder andere vir my hy kan nie sê wie eerste geskiet het nie, maar hy sê daar was ook deur hulle geskiet en in die algemene rigting van die polisie met die bedoeling om die polisie af te skrik dat hulle kan wegkom dat die polisie dan nou nie verder op hulle kan skiet nie. . . . . . en altwee van die partye het toe tot ‘n mate dink ek, oorreageer weens die misverstand wat ontstaan het. . . . . . Dit was nou maar amper hier ‘n kwessie van in aanhalingstekens ‘n noodsituasie, wat hulle aanbetref, toe hulle op daardie stadium gehandel het.”


13. Op hierdie stadium moes die Verhoorhof besef het dat die appellant en sy medebeskuldigde ‘n moontlike verweer van noodweer het tot die eerste twee aanklagte en moes hy ‘n pleitverandering in terme van artikel 113 van die Wet oorweeg. In hierdie opsig het die verhoorhof egter ook versuim en kan die skuldigbevindings op aanklagte 1 en 2 om hierdie rede ook nie staan nie. Sien Attorney-General Transvaal v Botha 1993(2) SACR 587(A) en S v Naidoo 1989(2) SA 114 (A).


14. Alhoewel aanklagte 3 tot 10 nie getref word deur die probleme hierbo bespreek nie, is dit egter ook nie sonder haakplek nie. Benewens die feit dat die appellant en sy medebeskuldigde wat aanklagte 6 tot 10 betref, skuldig bevind is aan ‘n oortreding van artikel 2 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van vuurwapens) terwyl die besonderhede vervat in die klagstaat duidelik op ‘n oortreding van art 36 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van ammunisie) dui (en dit ook so skuldig gepleit is deur die verdediging), is daar die verdere kwessie oor of die afsonderlike aanklagte nie op ‘n verdubbeling van klagtes neerkom nie.


15. Aanklagte 3 tot 5 behels die onwettige besit van die vuurwapens. Hierdie vuurwapens, volgens die betoog van die regsverteenwoordiger van die appellant en sy medebeskuldigde, is op dieselfde geleentheid binne die voertuig met die twee persone gevind. Ten opsigte van hierdie klagtes is daar ‘n deurlopende handeling met slegs een opset. Dieselfde geld vir die onwettige besit van die ammunisie wat betref aanklagte 6 tot 10. Alhoewel dit die aanklaer vrystaan om soveel klagtes te stel aan ‘n beskuldigde soos wat hy kan, is dit aan die einde van die dag die voorsittende beampte se plig om, waar daar so blatant ‘n splitsing van aanklagte is, die aanklagte te konsolideer om sodoende benadeling van die beskuldigde te voorkom. Sien S v Diederciks, 1984(3) SA 114 (K) te 818 A en S v Mkize 1987(4) SA 930(N) te 434C-D. Alhoewel hierdie sake te doen het met die besit van dwelmiddels is die beginsel toepaslik tot die onderhawige saak.


16. Die vraag nou is wat word van die skuldigbevindings ten opsigte van aanklagte 3 tot 10. Mnr. Barnard wat namens die Staat optree en korrek toegegee het, op die basis soos voormeld, dat geeneen van die skuldigbevindings kan staan nie, stel voor dat die skuldigbevindings en vonnisse op al die aanklagte ter syde gestel word en terugverwys word na die Streekhof vir verhoor de novo. Ek meen dat hierdie voorstel meriete het, selfs ten opsigte van aanklagte 3 tot 10, waar ons wel die skuldigbevindings en vonnisse kan heroorweeg. Dit sal na my mening onwenslik wees om die saak broksgewys te bereg in ‘n geval soos hierdie waar al die aanklagte voort spruit uit basies een voorval.


17. Mnr. Barnard het ons ook ingelig dat die voorsittende beampte wat die verhoor waargeneem het intussen bedank het, wat dus beteken dat die saak voor ‘n ander landdros verhoor moet word.

18. Beskuldigde 1 in die verhoor, Thomas De Wee, het nie appél aangeteken nie. Ons is egter van mening dat dit net reg is dat in die uitoefening van ons inherente hersieningsbevoegheid die bevel hierin op hom ook van toepassing gemaak word.


In die omstandighede word die volgende bevele gemaak:

a) Die aansoek om kondonasie slaag

b) Die appél slaag.

c) Die skuldigbevindings en vonnisse ten opsigte van al die aanklagte (1 tot 10) word tersyde gestel.

d) Die saak word terugverwys na die Streekhof te Upington vir verhoor de novo deur ‘n ander landdros.

e) Bevele c) en d) supra is van toepassing ook op Mnr. Thomas De Wee, beskuldigde 1 in die verhoor.






_______________________

C C WILLIAMS

REGTER



Ek stem saam.



_______________________

C J OLIVIER

REGTER




Nms. Appellant: Adv. B. Segone

i.o.v Regshulpraad

Nms. Respondent: Adv. T. Barnard

Direkteur van Openbare Vervolgings.

Datum aangehoor: 10-11-2005

Datum van uitspraak: 10-03-2006