South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 104
| Noteup
| LawCite
S v Louw (CA&R 66\06) [2006] ZANCHC 104 (8 September 2006)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R 66\06
Datum verhoor: 04\09\2006
Datum gelewer: 08\09\2006
In die appél van:
KOOS LOUW APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et LACOCK R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die appellant is skuldig bevind in die streekhof op ‘n aanklag van poging tot moord en is gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf, waarvan 2 jaar voorwaardelik opgeskort is vir ‘n tydperk van 5 jaar. Die voormelde skuldigbevinding het gevolg op die appellant se pleit van skuldig.
Dit blyk uit die appellant se skriftelike pleitverduideliking ingevolge die bepalings van artikel 112(2) van die Strafproseswet, 51 van 1977, dat hy wederregtelik en opsetlik ‘n 8-jarige dogter verskeie houe met ‘n dik wingerdloot toegedien het op haar liggaam met die opset om haar te dood. Hy het die dogtertjie só aangerand omdat sy geweier het om wyn te gaan haal by ‘n huis soos wat hy haar versoek het om te doen.
Dat hierdie ‘n uiters ernstige aanranding was (vandaar die aanklag van poging tot moord waarop die appellant skuldig gepleit het) blyk duidelik uit die geneesheer se mediese verslag wat as ‘n bewysstuk by die verhoor ingedien is. Daarvolgens het Dr. Meyer veelvuldige sagteweefsel kneusings oor die klaagster se bolyf aangetref. Sy is dermate aangerand dat sy ‘n fraktuur van die regterarm opgedoen het. Ter afsluiting beskryf Dr. Meyer dit as ‘n “brutale, gewelddadige en onnodige aanranding van ‘n 8-jarige dogtertjie!! Barbaars!”
By oorweging van vonnis het die streeklanddros verkeerdelik onder die indruk verkeer dat die ten laste gelegde misdryf ressorteer onder die bepalings vervat in artikels 51 en 52 van Wet 105 van 1997, saamgelees met Deel III van Bylae 2 daarvan. Die misdryf poging tot moord verskyn nie in dié bepaalde bylae nie. Aanranding met die opset om ernstig te beseer gepleeg op ‘n kind onder die ouderdom van 16 jaar is wel ‘n misdryf wat gelys word onder Deel III. Vir sodanige misdryf wat gelys is onder Deel III is die voorgeskrewe minimumvonnis ingevolge artikel 51(2)(b)(i) vir ‘n eerste oortreder gevangenisstraf vir ‘n tydperk van minstens 10 jaar. Die streeklanddros was die mening toegedaan dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan en het toe afgewyk van wat hy onder die indruk verkeer het die minimumvonnis van 10 jaar gevangenisstraf was. Soos alreeds aangedui hierbo, het hy toe die appellant gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf waarvan 2 jaar voorwaardelik opgeskort is vir ‘n tydperk van 5 jaar.
Dit is by my ‘n ope vraag of die feit dat die misdryf poging tot moord op ‘n kind onder die ouderdom van 16 jaar nie verskyn in Deel III nie enigsins daaraan afbreuk doen dat dit eintlik ‘n ernstiger misdryf is as die een wat wel in Deel III verskyn, te wete aanranding met die opset om ernstig te beseer gepleeg op ‘n kind onder die ouderdom van 16 jaar. Dit is egter nie nodig om daaroor ‘n beslissing te maak nie, gegewe die gevolgtrekking waartoe ek gekom het hierin.
Nadat die appellant skuldig bevind is op sy aangebode pleit van skuldig, het die aanklaer die getuienis van die ondersoekbeampte in die saak, inspekteur Majere, gelei. Inspekteur Majere het getuig dat hy bewus was daarvan dat die appellant wel ‘n misdaadrekord het. Hy het verduidelik dat die appellant se amptelike rekord van vorige veroordelings nog nie bekom kon word nie, omdat dit later geblyk het dat die appellant van twee name gebruik maak, te wete Koos Tieties sowel as Koos Louw. Die appellant het ook verder twee verskillende geboortedatums opgegee. Die gevolg van voormelde was dat die plaaslike kriminele rekordsentrum die misdaadrekord moes bekom van hul nasionale kantoor te Pretoria. ‘n Belangrike deel van die ondersoekbeampte se getuienis is dat hy getuig het dat hy persoonlik kennis daarvan dra dat die appellant al in die verlede tot ‘n gewoontemisdadiger verklaar was, maar kon hy nie die gegewens vanaf die rekenaar trek nie aangesien hulle drukker buite werking was. Die saak is daarna op versoek van die staatsaanklaer uitgestel vanaf 17 November 2004 tot 2 Desember 2004, d.w.s. vir net meer as 2 weke. Die doel van die uitstel was om die Staat die geleentheid te bied om die appellant se SAP 69-rekord te bekom.
By die hervatting van die verrigtinge op 2 Desember 2004, het die Staat op rekord geplaas dat die appellant se rekord van vorige veroordelings nog steeds nie bekom is nie en het die Staatsaanklaer weer vir inspekteur Majere geroep om te getuig. Laasgenoemde het getuig dat hy persoonlik die plaaslike kriminele rekordsentrum te Upington besoek het en dat dit geblyk het dat die SAP 69 nog nie ontvang is nie. Die hoofkantoor te Pretoria is gekontak en dit het geblyk dat as gevolg van probleme met die stelsel daar die misdaadrekord se gegewens nog nie bekom kon word nie. Die appellant se prokureur het beswaar gemaak teen ‘n verdere uitstel van die saak en die streeklanddros het toe op die basis dat die Staat alreeds genoeg tyd gegun was, verdere uitstel geweier. Die vonnisverrigtinge is toe gevolglik afgehandel op die basis dat die appellant as ‘n eerste oortreder beskou is.
Dit is weliswaar korrek dat die appellant alreeds gearresteer is op 2 Mei 2004 en dat tot 2 Desember 2004 (d.w.s. ‘n periode van 7 maande) die rekord van vorige veroordelings nie bekom kon word nie. Wat vir my besonder onrusbarend is, is die feit dat inspekteur Majere onder eed getuig het dat hy persoonlik kennis daarvan dra dat die appellant ‘n lang misdaadrekord het en dat hy al vantevore by geleentheid as gewoontemisdadiger verklaar is. Ek is die mening toegedaan dat die streeklanddros gefouteer het deur nie die Staat ‘n finale geleentheid te bied om opnuut pogings aan te wend om die rekord van vorige veroordelings te bekom nie. ‘n Beskuldigde se grondwetlike reg op ‘n spoedige verhoor behoort per slot van sake tog gebalanseer te word met die belange van die regspleging, naamlik dat ‘n beskuldigde se volledige misdaadrekord, veral waar dit ‘n lang misdaadrekord is, voor die vonnisoplegger geplaas word ten einde oor ‘n behoorlike vonnis te kan besin. Dit ly geen twyfel nie dat, indien die appellant wel ‘n lang misdaadrekord het, soos wat inspekteur Majere getuig het, die streeklanddros hom anders sou behandel het by vonnisoplegging. ‘n Aansienlik swaarder vonnis sou dan na my mening nie uitgesluit kan word as ‘n moontlikheid nie.
Ek is die mening toegedaan dat reg en geregtigheid vereis dat hierdie aangeleentheid terugverwys moet word na die streekhof voor dieselfde streeklanddros, sodat die Staat ruim geleentheid gegun kan word om die appellant se SAP 69-rekord te bekom en voor die streeklanddros te plaas sodat daar opnuut oor vonnis besin kan word. In die omstandighede dus sal die opgelegde vonnis tersyde gestel moet word.
Ek reik die volgende bevel uit:
a) Die vonnis die appellant opgelê van 10 jaar gevangenis-straf waarvan 2 jaar voorwaardelik opgeskort is vir ‘n tydperk van 5 jaar word tersyde gestel.
b) Die aangeleentheid word terugverwys na die streekhof voor dieselfde streeklanddros om opnuut oor vonnis te besin nadat die Staat ‘n redelike geleentheid gebied is om die appellant se SAP 69-rekord te bekom.
c) Die appellant sal, hangende die verrigtinge soos voormeld, in hegtenis bly.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
_____________
HJ LACOCK
REGTER
VERSKYNING NAMENS APPELLANT :
VERSKYNING NAMENS RESPONDENT :