South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 102
| Noteup
| LawCite
S v Oor (CA&R 280\03) [2006] ZANCHC 102 (18 August 2006)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R 280\03
Datum verhoor: 2006-08-14
Datum gelewer: 2006-08-18
In die appél van:
JACOB OOR APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et OLIVIER R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die appellant was beskuldigde 2 tydens sy verhoor waartydens hy en drie mede-beskuldigdes tereg gestaan het in die Streekhof op ‘n aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Hulle is alvier skuldig bevind soos aangekla en is termyne van direkte gevangenisstraf opgelê – die appellant se termyn van gevangenis-straf was 8 jaar. Die appellant kom nou met verlof van die verhoorhof in hoër beroep teen sy opgelegde vonnis. Alhoewel verlof om te appelleer teen vonnis ook aan die destydse beskuldigde 4, Connie Beukes, verleen is, is stukke hierin slegs geliasseer deur die appellant. Ek sal egter aan die einde hiervan volledigheidshalwe kortliks verwys na beskuldigde 4 se posisie.
Die appellant en sy makkers is daaraan skuldig bevind dat hulle die klaer se woonhuis oopgebreek, binnegegaan en gestroop het van goedere ter waarde van meer as R13 000.00, waarvan goedere ter waarde van ongeveer R8 000.00 teruggevind is. Die terugvind van hierdie goedere was glad nie deur die toedoen van die appellant en sy makkers nie.
Namens die appellant het Mnr. Cloete tereg toegegee dat die opgelegde vonnis nie op enige van die erkende gronde van inmenging op appél aanvegbaar is nie. Benewens die erns en omvang van die huisbraak en diefstal gepleeg deur die appellant en sy meelopers in die onderhawige geval, het die appellant boonop nog ‘n baie slegte misdaadrekord ook. Die appellant het onder andere ses vorige veroordelings vir presies dieselfde misdryf gepleeg in die huidige saak. Vir die laaste sodanige vorige veroordeling is hy op 19 Mei 1999 gevonnis tot 3 jaar gevangenisstraf en die oortreding was gepleeg op 1 September 1998. Die onderhawige oortreding is gepleeg op 6 September 1998 en die vonnisoplegging is afgehandel op 17 Augustus 1999.
Vanweë ‘n klaarblyklike tydsgebrek het die streeklanddros nie ‘n volledige uitspraak oor vonnis gelewer nie. Die appellant se persoonlike omstandighede soos voorgehou ex parte deur sy prokureur, is nie behandel in die vonnisuitspraak nie. Die streeklanddros het wel egter aangedui dat hy alles wat die appellant se prokureur namens hom gesê het, insluitende sy persoonlike omstandighede, in ag neem by vonnisoplegging. Nieteenstaande hierdie tekortkoming is ek heeltemal tevrede dat die appellant se treurige misdaadrekord enige moontlike strafversagtende omstandig-hede wat daar mag bestaan, oorskadu.
Dit ly geen twyfel nie dat die appellant ‘n gesoute inbreker is. In die onderhawige geval is ‘n groot aantal goedere van aansienlike waarde buitgemaak. Die klaer het aan die einde van die dag goedere ter waarde van ongeveer R5 000.00 nooit terugontvang nie. Daar-benewens is daar natuurlik die ongerief en skending van sy reg op sekuriteit en privaatheid wat in ag geneem moet word. Die streeklanddros het tereg in sy uitspraak gewys op die groeiende woede en ongeduld van die publiek met die vloedgolf inbrake. Die streeklanddros het verder heeltemal tereg die appellant gewaarsku dat hy by ‘n volgende geleentheid dalk tot gewoontemisdadiger verklaar kan word. Ek is dus heeltemal tevrede dat die opgelegde vonnis hoegenaamd nie skokkend onvanpas is nie.
Vir soverre die vierde beskuldigde, Connie Beukes, ook verlof tot appél teen vonnis verleen is, wat hy nie voortgesit het nie, volstaan ek bloot daarmee dat sy posisie nog swakker is as dié van die appellant, omrede hy nie minder as nege vorige oortredings vir oneerlikheids-misdrywe het. Hy is dan ook eweneens gewaarsku van die bepalings ten aansien van die verklaring as gewoontemisdadiger.
Ek reik derhalwe die volgende bevel uit:
Die appellant se appél teen vonnis word afgewys.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
_____________
CJ OLIVIER
REGTER
NAMENS APPELLANT : ADV J CLOETE (REGSHULP)
NAMENS RESPONDENT : ADV C JANSEN
DATUM VAN VERHOOR : 2006-08-14
DATUM VAN UITSPRAAK : 2006-08-18