South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2006 >>
[2006] ZANCHC 100
| Noteup
| LawCite
S v Zono (CA&R 94/2002) [2006] ZANCHC 100 (18 August 2006)
Download original files |
-
Reportable: YES / NO
Circulate to Judges: YES / NO
Circulate to Magistrates: YES / NO
Circulate to Regional Magistrates: YES / NO
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R 94/2002
Saak Aangehoor: 14/08/2006
Datum Gelewer: 18/08/2006
In die saak:
K ZONO APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: Majiedt R et Olivier R
UITSPRAAK OP APPéL
OLIVIER R:
[1]
Die appellant het in die Streekhof tereggestaan op twee aanklagte van moord. Die eerste aanklag was dat hy op of omtrent 25 Desember 1999 vir mnr Christo Boesak vermoor het, terwyl die tweede aanklag was dat hy op 29 November 2000 vir mnr Deslin Nyl vermoor het. Die gebeure wat gelei het tot hierdie aanklagte het plaasgevind binne die regsgebied van die verhoorhof en van hierdie Hof.
[2]
Die appellant is op beide aanklagte skuldig bevind en op elke aanklag gevonnis tot twintig jaar gevangenisstraf. Dit is gelas dat tien jaar van die vonnis op aanklag twee samelopend uitgedien moes word met die vonnis op aanklag een. Appél is aangeteken teen die skuldigbevindings sowel as die vonnisse.
[3]
Die appellant het op beide aanklagte onskuldig gepleit. Wat aanklag een betref, het hy die kwessie van identiteit in geskil geplaas en ontken dat dit hy was wat die oorledene die twee steekwonde toegedien het wat tot sy dood gelei het. In die geval van aanklag twee het die appellant erken dat dit hy was wat die oorledene die noodlottige steekwond toegedien het, maar het hy aangevoer dat hy in noodweer opgetree het.
[4]
Dit is geykte reg dat getuienis rakende identiteit versigtig oorweeg moet word. Getuienis in hierdie verband moet nie slegs geloofwaardig in die normale sin van die woord wees nie, maar moet ook objektief betroubaar wees. Selfs die eerlikste en geloofwaardigste persoon kan menslike foute in waarneming maak (sien S v Sithole and Others 1999 (1) SASV 585 (W), S v Jochems 1991 (1) SASV 208 (A) en S v Nango 1990 (2) SASV 450 (A)).
[5]
Alhoewel ‘n Hof van appél normaalweg nie ligtelik sal inmeng met ‘n verhoorhof se feitebevindinge nie, sal dit wel gedoen word waar sodanige bevindinge duidelik verkeerd was (sien S v Jackson 1998 (1) SASV 470 (HHA) op 473h-i).
[6]
Die Staat het ten aansien van aanklag een die getuienis van drie getuies aangebied, naamlik mnr S M Maroko, me Angelina April en mnr J Bosman. Die streeklanddros het al drie van hulle se getuienis aanvaar. Daar is verder bevind dat, alhoewel Maroko onseker was en homself weerspreek het, hy “in sy eie gemoed absoluut oortuig (was) dat dit die beskuldigde was wat die oorledene die aand gesteek het” en dat sy getuienis in elk geval gestaaf word deur dié van April en Bosman. Verder is klem daarop gelê dat aldrie hierdie getuies die appellant geken het.
[7]
Dat ‘n getuie in sy/haar eie gemoed seker is van ‘n identifikasie, is natuurlik nie deurslaggewend nie. Mense maak foute en getuienis oor identiteit moet dus ook nog altyd objektief betroubaar wees (sien Charzen and another v S [2006] 2 All SA 371 (HHA) op 374a-b). Dat ‘n verdagte aan so ‘n getuie voorheen bekend was, is natuurlik belangrik en dra by tot die betroubaarheid van die identifikasie. Dit moet egter nog steeds saam met alle ander getuienis en faktore oorweeg word.
[8]
Dit was, wat aanklag een betref, gemenesaak dat die oorledene die twee fatale steekwonde opgedoen het in die omgewing van ‘n drinkplek (by die Sunrise winkel) waar hy en die gemelde drie getuies die betrokke nag was. Volgens die appellant was hy ook dié aand op ‘n stadium daar, maar het hy nie die oorledene gesteek nie en was hy inteendeel al weg toe die oorledene in die vroeë oggendure noodlottig verwond is.
[9]
Ek is van oordeel dat die streeklanddros onvoldoende oorweging verleen het aan verskeie wesenlike weersprekings tussen die gemelde drie getuies; meer spesifiek ook weersprekings wat relevant was rakende die identiteit van die aanvaller.
[10]
Wanneer verby die klomp weersprekings in Maroko se eie getuienis gekyk word, kan sy weergawe kortliks opgesom word as dat die appellant die oorledene reg by ‘n straatlig (wat geskyn het) ‘n enkele steekhou toegedien het en toe die toneel verlaat het.
[11]
April en Bosman se weergawes was, eerstens, in skrille kontras hiermee. Volgens beide van hulle was die oorledene nie naby enige straatlig toe hy deur die appellant genader is nie, maar wel by ‘n hek waar die enigste beligting afkomstig was van ‘n lig in die gebou wat dowwerig by die hek sou geskyn het. Volgens beide van hulle sou die appellant nie dadelik die toneel verlaat het ná sy aanval op die oorledene by die hek nie, maar sou hy die oorledene toe eers gejaag het met sy hand omhoog.
[12]
Reeds bloot met hierdie weersprekings in gedagte, is dit moeilik om te begryp hoe die streeklanddros kon bevind het dat April en Bosman die getuienis van Maroko gestaaf het.
[13]
Dit is egter ook sommer net hier waar die ooreenkomste tussen April en Bosman se weergawes eindig; dit ten spyte van die feit dat hulle volgens hulle eie weergawes ‘n paartjie was wat heeltyd bymekaar was ten tyde van hierdie gebeure.
[14]
Volgens April het die appellant eers by haar en Bosman verbybeweeg en iewers heen verdwyn voordat hy na die oorledene is en hom gesteek het. Volgens Bosman egter het die appellant, nadat hy by hulle verbybeweeg het, eers gaan staan op ‘n plek (waar Bosman hom dan tog volgens hom gesien het) voordat die appellant na die oorledene is.
[15]
Volgens April was daar ‘n klomp mense buite die drinkplek en in die omgewing van die oorledene (en van die hek) toe die oorledene aangeval is; dit wil sê bo en behalwe sy en Bosman, die oorledene en die appellant. Volgens Bosman was daar egter niemand anders as hulle nie. Alhoewel hy op ‘n stadium, toe hy gehoor het wat April se weergawe hieroor was, probeer het om sy weergawe te verander deur te sê daar was niemand wat hy geken het nie, het hy later daarby volstaan dat daar eenvoudig niemand anders teenwoordig was nie.
[16]
Volgens April het die appellant die oorledene een hou gesteek en het die appellant toe die oorledene gejaag en hom nog ‘n steekhou toegedien nadat die oorledene geval het. Bosman se getuienis was egter dat, alhoewel die appellant ook volgens hom die oorledene gejaag het met sy hand omhoog, hy nooit gesien het dat die appellant die oorledene op daardie stadium ‘n steekhou toedien nie.
[17]
April se getuienis was dat die appellant, nadat hy die oorledene die tweede steekhou toegedien het, teruggekom het in die rigting van die drinkplek en van haar en Bosman. Bosman het dit ontken en gesê hy sou gesien het as die appellant daarheen teruggekeer het.
[18]
Die streeklanddros het baie gewig geheg aan die feit dat beide April en Bosman getuig het dat die appellant aanvanklik naby hulle verbybeweeg het en hulle hom dus toe goed sou gesien het.
[19]
Hierdie argument verloor uit die oog dat die appellant egter op beide van hulle se weergawes nie toe direk na die oorledene is nie. Op April se weergawe het hy eers uit hulle sig gegaan en heeltemal vanuit ‘n ander posisie na die oorledene beweeg. Op daardie stadium het die aanvaller volgens haar heelwat verder van hulle af beweeg, en dit nog boonop in ‘n area wat sy toegegee het maar donker was.
[20]
Toe Bosman gekonfronteer is met April se getuienis dat die appellant eers iewers heen verdwyn het, was sy insiggewende antwoord: “Ek sal nou nie meer kan so sê nie, want ek het mos nou nie heeltyd voor my gekyk nie. Ek het binne ook gekyk.”
[21]
Bosman het later toegegee dat hy inderwaarheid ook glad nie gesien het wat tussen die oorledene en die appellant gebeur het by die hek nie en dat hy nie kon sê dat die appellant die oorledene daar met ‘n mes gesteek het nie. Hy het toe ook aangevoer dat sy sig eintlik maar swak was. Kortom, dit lyk nie vir my asof daar eintlik veel waarde aan Bosman se getuienis geheg kon gewees het nie.
[22]
Toe April in kruisverhoor gekonfronteer is met haar eie getuienis dat dit donker was by die hek, dat daar ‘n klomp ander mense ook in die omgewing van die hek was en dat die appellant tussen daardie mense sou moes inbeweeg het om by die oorledene te kom, en sy gevra is hoe sy onder daardie omstandighede haar met sekerheid kon uitlaat oor die appellant se bewegings, was haar antwoord: “Omdat ons gesien het hy het vir Chris agterna gesit en toe hy terugkom, toe sien ons hom weer”.
[23]
Hiermee het April na my oordeel eintlik maar toegegee dat sy ook nie kon sien wie die die oorledene gesteek het nie, maar dat sy dit aflei uit twee faktore, naamlik dat die appellant die oorledene toe gejaag het en dat die appellant toe teruggekom het ten aanskoue van haar en Bosman. Soos reeds gemeld was die eerste van hierdie twee faktore egter strydig met Maroko se getuienis en die tweede strydig met die getuienis van Bosman.
[24]
Die streeklanddros het oënskynlik ook uit die oog verloor dat Maroko se getuienis dat die appellant die oorledene beslis slegs een steekhou toegedien het, strydig was met die objektiewe feit dat die oorledene nie een nie, maar twee, fatale steekwonde toegedien is. Maroko se getuienis dat die oorledene besig was om weg van die appellant te loop toe hy gesteek is, het gebots met April en Bosman se weergawes dat die oorledene op daardie stadium gestaan het. Die posisie van die wonde was ook nie werklik versoenbaar met ‘n aanval van agter af nie en Bosman kon dit nie verklaar nie.
[25]
Bowendien kan die vraag tereg gevra word waaroor April en Bosman nou eintlik vir Maroko gestaaf het; bo en behalwe natuurlik die blote stelling dat die appellant die aanvaller was. Dit is opvallend dat nie een van hulle byvoorbeeld sy kleredrag, of enige deel daarvan, beskryf het nie. Maroko en Bosman kon ook geen spesifieke eienskappe of gelaatstrekke meld waaraan hulle die appellant sou herken het nie, terwyl April beweer het dat sy hom aan sy gesig, sy “korte” en sy “loop” herken het, sonder om te wys op ‘n bepaalde kenmerk daarvan.
[26]
April moes inderdaad toegee dat sy nie in staat was om die aanvaller se kleredrag te beskryf nie. Hoekom sou sy dit nie kon doen as sy hom duidelik kon waargeneem het nie; en veral as die appellant, soos wat sy onbetwiste getuienis was, ligte klere aangehad het?
[27]
Dit was die appellant se saak (ten aansien van aanklag een) dat hy al teen 21:00 uur die vorige aand by die huis was (terwyl die oorledene, soos reeds gemeld, iewers in die vroeë oggendure van die volgende dag aangeval is) en dat hy die res van die nag saam met sy meisie, me Sara du Preez, geslaap het. Hy het Du Preez as ‘n getuie geroep en sy het hierdie weergawe van hom in wese gestaaf.
[28]
Die streeklanddros se kritiek teen die getuienis van die appellant en Du Preez hieroor was in die eerste plek dat dit “uiters geforseerd” was, omdat dit vreemd was dat hulle die datum en tye nog so goed sou onthou. Alhoewel dit so is dat ‘n lang tyd verloop het tussen die voorval en die verhoor, moet in gedagte gehou word dat die appellant kort ná die voorval deur die polisie gekonfronteer is, wat sekerlik sou bygedra het daartoe dat beide van hulle sou gesorg het dat hulle hierdie tipe detail onthou.
[29]
Dat die appellant op ‘n “intense of onemosionele wyse na die staatsgetuies gestaar” het, neem na my oordeel ook nog nie die aangeleentheid verder nie. Daar moet gewaak word teen die maak van afleidings uit iets soos ‘n beskuldigde se gesigsuitdrukkings (veral sonder dat die beskuldigde die geleentheid gehad het om daarop te reageer - vergelyk S v Mohase 1998 (1) SASV 185 (O)); en in elk geval het die appellant immers die reg gehad om sy beskuldigers in die oë te kyk.
[30]
Die streeklanddros het verder bevind dat Du Preez se toegewing dat sy nie weer wakker geword het nadat die appellant ingekom het en kom slaap het nie, nie die moontlikheid uitgesluit het dat hy in die nag opgestaan het en toe die oorledene kon aangeval het nie. Dit mag sekerlik ‘n moontlikheid wees, maar daar is geen getuienis hoegenaamd op grond waarvan bevind sou kon word dat dit ‘n redelike afleiding of moontlikheid sou wees nie.
[31]
Waarom sou die appellant, indien hy immers huis toe is om te gaan slaap, in die nag opgestaan het om weer verder te gaan kuier? Moontlik was die streeklanddros se bevindinge in hierdie verband gegrond op ‘n ander foutiewe bevinding, naamlik dat dit die appellant se getuienis sou gewees het dat hy vroeër die oorledene wou gekonfronteer het oor ‘n voorval wat tussen die oorledene en ene Tauto Tontana sou plaasgevind het, maar nie daarby uitgekom het nie.
[32]
Dit was inderdaad nie die appellant se getuienis nie. Sy getuienis was juis dat hy die voorval waarin Tontana betrokke sou gewees het nie as sy besigheid beskou het nie en hy het dit baie duidelik gemaak dat hy nooit van plan was om met die oorledene daaroor te praat nie.
[33]
Opsommenderwys, en wat aanklag een betref, meen ek dat daar tog ‘n redelike twyfel moes bestaan het oor die appellant se skuld.
[34]
Wat aanklag twee betref, is ek egter van mening dat daar geen basis hoegenaamd bestaan waarop daar met die streeklanddros se geloofwaardigheids- en feitebevindinge fout gevind kan word nie. Daar was, ten spyte van die feit dat daar wel kritiek kon wees teen veral sekere van die staatsgetuies se getuienis, meer as genoeg stawing wat alle wesenlike aspekte betref en die appellant se weergawe, daarenteen, was deurspek met onwaarskynlikhede en duidelik nie redelik moontlik waar nie.
[35]
Daar steek duidelik ook geen waarheid in die appellant se bewering, in sy kennisgewing van appél, dat hy ná die afsterwe van sy aanvanklike regsverteenwoordiger nie die geleentheid gegun is om iemand anders aan te stel nie. Inteendeel, die streeklanddros het uit sy pad gegaan om die appellant se regte hieraangaande aan hom te verduidelik op daardie stadium en, inderdaad, om hom te probeer oortuig om tog maar weer regsverteenwoordiging te bekom.
[36]
Dit bring my dan by die vonnis op aanklag twee. Die streeklanddros het bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was wat ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf geregverdig het nie en het, inteendeel, gebruik gemaak van die verhoogde jurisdiksie wat die Strafregwysigingswet, 105 van 1997, aan hom verleen het en die appellant op hierdie aanklag (soos ook op aanklag een) gevonnis tot twintig jaar gevangenisstraf.
[37]
Dit is geykte reg dat vonnis hoofsaaklik ‘n saak vir die diskresie van die verhoorhof is en dat ‘n Hof van appél slegs op beperkte gronde daarmee sal inmeng. Na my oordeel bestaan daar nie gronde waarop ingemeng behoort te word met die streeklanddros se bevinding dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede was wat ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe vonnis regverdig het nie.
[38]
Waarmee ek egter wel ‘n probleem het, is die bykomende vyf jaar gevangenisstraf. Die streeklanddros het in hierdie verband eerstens opgemerk dat die appellant se vrylating ‘n risiko vir die gemeenskap sou inhou. Ek meen dat daar nie werklik gronde is vir sò ‘n bevinding nie; veral nie as die skuldigbevinding op aanklag een sou wegval nie. Alhoewel die appellant al etlike vorige veroordelings het, was nie een van hulle vir ‘n misdaad wat geweld teenoor die persoon van ‘n ander behels het nie. Die blote feit dat die appellant dié misdaad gepleeg het kort nadat hy op borg vrygelaat is op aanklag 1, sou nie opsigself so ‘n afleiding regverdig nie.
[39]
Die streeklanddros het verder opgemerk dat die doodslag van die oorledene nie voorafgegaan is deur enige stryery of provokasie nie. Dit was egter nie heeltemal korrek nie, want daar was wel eers ‘n stryery tussen die appellant en die oorledene. Die feit dat dit wil voorkom asof die appellant die oorsaak daarvan was, is wel van belang, maar dit beteken nie dat die plaasvind van die argument geïgnoreer kan word nie.
[40]
Verder was daar tog getuienis, ook van staatsweë, dat die appellant ten tye van die gebeure onder die invloed van drank was. Nie alleen het hy en andere juis vanaf ‘n drinkplek gekom toe die voorval plaasgevind het nie (hy ook nog met ‘n bottel brandewyn by hom), maar dit was ook die getuienis van die getuie me Jasmin Jooste.
[41]
Laastens was dit so dat die appellant ten tye van vonnisoplegging alreeds ongeveer twee jaar verhoorafwagtend in die gevangenis deurgebring het.
[42]
Ek is dus van oordeel dat die voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf die gepaste vonnis op aanklag twee sou gewees het (op die basis dat die skuldigbevinding op aanklag een wegval) en dat ‘n effektiewe vonnis van twintig jaar gevangenisstraf onder die omstandighede inderdaad ‘n onreg teenoor die appellant sou wees.
[43]
Bygevolg word die volgende bevele hierin verleen:
1. Die skuldigbevinding en vonnis op aanklag een word tersyde gestel.
2. Die skuldigbevinding op aanklag twee word bekragtig maar die vonnis op hierdie aanklag word tersyde gestel en vervang met een van vyftien jaar gevangenisstraf, wat teruggedateer word na 14 Maart 2002.
_______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek stem saam en dit word so gelas.
_______________________
S A MAJIEDT
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms Appellant: Adv P J Cloete
In opdrag van: Regshulpraad, KIMBERLEY
Nms Respondent: Adv C G Jansen
Namens: Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY