South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2005 >>
[2005] ZANCHC 61
| Noteup
| LawCite
FirstRand Bank Bpk v Fourie (662/05) [2005] ZANCHC 61 (7 October 2005)
Download original files |
-
Verslagwaardig:
Sirkuleer Aan Regters:
Sirkuleer aan Streeklandroste
Sirkuleer Aan Landdroste:
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
JA / NEE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: / Case number: 662/05
Datum verhoor: / Date heard: 30/09/2005
Datum gelewer: / Date delivered: 07/10/2005
In die saak:
FIRSTRAND BANK BPK Applikant
en
FOURIE, DAVID SCHALK Respondent
Coram: Lacock R
UITSPRAAK
LACOCK R:
Die applikant (hierna na verwys as die eiser) het dagvaarding teen die respondent (hierna na verwys as die verweerder) laat uitreik vir:
Payment of the sum of R177 443.70 being the full outstanding balance due, owing and payable by Defendant to Plaintiff in respect of monies lent and advanced by Plaintiff to Defendant at the latters special instance and request, which amount is due and payable and which amount the Defendant despite demand refuses and/or fails to pay.
Interest on the said sum of R177 443.70 at the agreed rate of prime (currently 11%) plus 1.5%, calculated daily and compounded monthly in arrears from 1 April 2005 to date of payment, both days inclusive. The interest debited did not exceed the provisions of the Usuary Act at any time.”
Daarbenewens vorder die eiser ook dat ‘n aantal eiendomme waaroor ‘n verband ten gunste van die eiser geregistreer is, spesiaal uitwinbaar verklaar word.
Die verweerder het verdediging teen die aksie aangeteken, waarna die eiser aansoek gedoen het vir summiere vonnis. Dit is hierdie aansoek wat tans voor my dien.
Die bedrag soos gevorder in die dagvaarding is nie in geskil nie. Slegs die bewering namens die eiser dat die huidige prima rentekoers 11% beloop, is in geskil. Hierdie aspek is egter ontersaaklik daar die eiser rente vorder teen ‘n koers van prima plus 1.5%. Die bewering dat die prima koers tans 11% beloop, is dus oorbodig.
Die verweerder steun op die volgende beweerde bona fide verweer:
Dat, nadat die eiser sy oortrokke fasiliteit opgeroep het en hom aangemaan het om die bedrag aan die eiser verskuldig te betaal teen 1 Junie 2004, hy op 7 Junie 2004 ‘n aanbod aan die eiser gemaak het om die verkuldigde bedrag in maandelikse paaiemente van R4 000.00 elk vanaf 30 September 2004 te betaal;
Dat die eiser stilswyend hierdie aanbod aanvaar het;
Dat, met die aanvaarding van die aanbod novasie van die skuldoorsaak geskied het;
Dat hy sy verpligtinge kragtens die ooreenkoms nagekom het; en
Dat die eiser nie kragtens die oorspronklike skuldoorsaak geregtig is op vonnis nie.
In die alternatief word aangevoer dat die eiser kragtens estoppel belet is om op die oorspronklike eisoorsaak teen die verweerder te ageer weens die skyn verwek deur die eiser dat hy die aanbod ter afbetaling van die eis aanvaar het.
Summiere vonnis prosedure is ‘n drastiese maatreël waarkragtens die deure van die hof vir ‘n verweerder gesluit kan word. Dit sal gevolglik slegs toegestaan word indien dit duidelik blyk dat ‘n eiser ‘n “unanswerable case” teen ‘n verweerder het of indien ‘n verweerder klaarblyklik geen bona fide verweer het nie. Sien Maharaj v Barclays National Bank Ltd 1976(1) SA 418(A) te 423 F tot H; Soil Fumigation Services v Chemfit Technical Products, 2004(6) SA 29(A) te 35 C tot E.
Daarteenoor egter is ‘n eiser met ‘n duidelik onbetwisbare saak geregtig op vonnis soos per Hooggeregshof Reël 32. Sien Standard Bank of S.A. Ltd v Friedman, 1999(2) SA 456(KPA) te 461; Standard Bank of S.A. Ltd v Roestof 2004(2) SA 492 (WPA) te 499.
Die verweerder steun primêr op ‘n skikkingsooreenkoms (novasie). Dit is bekende reg dat die bewyslas op die party wat op so ‘n ooreenkoms steun, rus om die ooreenkoms te bewys. Aangesien novasie noodwendig inhou dat ‘n party afstand doen van bestaande regte, word duidelike bewys van sodanige beweerde novasie geverg. (Woolfons Credit (Pty) Ltd v Holdt, 1977(3) SA 720(N) te 724 F).
In die onderhawige geval steun die verweerder nie op ‘n uitdruklike aanvaarding van die skikkingsaanbod nie, maar op ‘n stilswyende of implisiete aanvaarding daarvan deur die eiser. Wat vervolgens beantwoord moet word is naamlik of die verweerder sodanige feite beweringe in sy opponerende eedsverklaring voorgelê het wat, indien dit in ‘n verhoor bewys sou word, ‘n geldige verweer teen die eiser se eis sou verstalt.
Anders gestel: het die verweerder sodanige feite beweringe voorgelê wat, indien dit bewys sou word, ondubbelsinnige gedrag aan die kant van die eiser aantoon wat onversoenbaar is met enige ander vertolking anders dan dat die eiser die skikkingsvoorstelle aanvaar het. (Standard Bank of S.A. Ltd v Ocean Commodities Inc. 1983(1) SA 276(A) te 292B).
Na my mening skiet die beweringe van die verweerder ver te kort.
Primêr steun die verweerder vir sy bewering dat die eiser sy skikkingsvoorstel aanvaar het, op die bewering dat, nadat hy die voorstel gemaak het, die eiser die maandelikse betalings van R4 000.00 per maand aanvaar het ter korting van sy verpligtinge sonder om aan te dring op betaling van die volle verskuldigde bedrag.
Hierdie gedrag van die eiser is, alleenstaande, nie onversoenbaar met enige ander bedoeling aan die kant van die eiser nie, en dui nie ondubbelsinnig daarop dat die eiser die skikkingsaanbod aanvaar het nie.
Die eiser se gebrek aan verdere optrede teen die verweerder kan ook aanduidend wees van ‘n besluit teen verdere stappe in afwagting van die volhoubaarheid van die afkorting van die oortrokke rekening, of omdat besef is dat verdere stappe nie onmiddelike betaling van die verskuldigde bedrag tot gevolg sou hê nie. Dit is ook versoenbaar met ‘n voorwaardelike aanvaarding van die aanbod, naamlik dat geen verdere stappe gedoen sal word nie op voorwaarde dat die maandelikse betalings stiptelik bygehou word.
In iedere geval is daar onsekerheid aangaande die presiese terme van die skikkingsaanbod.
Die verweerder beweer dat die aanbod was om die skuld oor 60 maande te betaal in paaiemente van R4 000.00 per maand. In die brief van die verweerder gerig aan die eiser en waarin sy aanbod verwoord is, gedateer 7 Junie 2004 word geen melding gemaak van die omvang van die paaiement of die verskuldigde bedrag. Minstens sou verwag word dat voldoende beweringe voorgelê word waaruit afgelei kan word dat ‘n betaling van R4 000.00 per maand oor 60 maande ‘n effektiewe delging van die skuld tot gevolg sou hê. Daarbenewens swyg die verweerder oor die verdere terme van die ooreenkoms soos byvoorbeeld wat die gevolge sou wees indien die verweerder sou versuim om sy verpligtinge na te kom; en teen watter koers rente gehef sou word.
Die eiser se versuim om die oortrokke rekening van die verweerder te omskep in ‘n sogenaamde termynlening is ‘n verdere aanduiding daarvan dat geen finale ooreenkoms, soos die verweerder beweer, tot stand gekom het nie.
Dat die verweerder self nie oortuigend onder die indruk kon verkeer het dat ‘n skikkingsooreenkoms in Junie of September 2004 met die eiser bereik is nie, blyk duidelik uit die skrywe van sy rekenmeester gedateer 6 Junie 2005 (Bylae ‘B’ tot die opponerende eedsverklaring). Daarin word ‘n kort opsomming van die verloop van gebeure gegee sedert 6 Junie 2004, en dan – na aanleiding daarvan dat die verweerder se rekening in Maart 2005 sogenaamd gevries is en betaling van die volle bedrag aangevra is – word weer ‘n skikkingsaanbod aan die eiser gemaak om die rekening af te betaal in maandelikse paaiemente van R4 000.00 vanaf 30 September 2005! Indien die verweerder werklik onder die indruk was dat ‘n novasie plaasgevind het reeds in 2004, sou verwag gewees het dat hy die eiser sou konfronteer met daardie ooreenkoms en aandring daarop dat die eiser daardie ooreenkoms eerbiedig. Die gedrag van die verweerder soos in hierdie skrywe verstalt, dui daarinteen eerder op ‘n erkenning of aanvaarding dat geen novasie of skikking in 2004 bereik is nie. Geen verduideliking vir hierdie gedrag word verskaf nie.
Nietemin, en selfs al sou gesê kon word dat die verweerder voldoende bewerings gemaak het wat, indien dit bewys sou word, tot ‘n bevinding kon lei dat die partye ‘n skikkingsooreenkoms of novasie gesluit het, blyk dit uit die verweerder se eie weergawe dat hy daardie ooreenkoms gerepudieer het deurdat hy versuim het om ‘n paaiement van R4 000.00 in Februarie 2005 te betaal. Voorts blyk dit – eweneens op die weergawe van die verweerder – dat die eiser die repudiasie aanvaar het. Par. 3.5 van die verweerder se opponerende eedsverklaring lees hieraangaande as volg:
“Gedurende Februarie 2005 het ek ‘n kontantvloei probleem ondervind en kon ek nie die maandelikse paaiement betaal nie. Die Bestuurder van Eerste Nasionale Bank Groblershoop het by my navraag gedoen waarom die betaling vir Februarie 2005 nie gedoen is nie. Ek het aan die betrokke Bankbestuurder probeer verduidelik dat die maatskappy aan wie ek my lusern gelewer het uit eie beweging besluit het om betaling van alle boere wat aan die spesifieke maatskappy lewer terug te hou aangesien daardie maatskappy self kontantvloei probleme ondervind het. Hierdie verduideliking was nie vir die Bankbestuurder aanvaarbaar nie en het hy my rekening op 7 Maart 2005 gevries. (My beklemtoning).
Dit het noodwendig die einde van die skikkingsooreenkoms tot gevolg gehad.
Dat die verweerder besef het dat minstens die skikkingsooreenkoms (in soverre hy geglo het daar het een bestaan) vernietig is, blyk duidelik uit die voormelde skrywe van sy rekenmeester en waarin – nadat die repudiasie van die beweerde skikking deur die eiser aanvaar is – gepoog is om de novo ‘n skikking met die eiser te bereik.
Die verweer van estoppel blyk ‘n nagedagte te wees daar die verweerder nie in sy opponerende eedsverklaring daarop gesteun het nie. In iedere geval het hierdie verweer geen vooruitsigte op sukses nie gesien die beïndiging van die beweerde skikkingsooreenkoms.
Uit hoofde van die voorgaande is ek van mening dat die verweerder geen bona fide verweer in sy opponerende eedsverklaring uitgemaak het nie, en dat die eiser geregtig is op summiere vonnis soos versoek.
Bygevolg word summiere vonnis hierin verleen ooreenkomstig paragrawe 1, 2 (soos gewysig), 3 en 4 van die eiser se “Notice of Application for Summary Judgement” gedateer 25 Augustus 2005, met koste.
_______________
HJ Lacock
REGTER
Namens applikantl: Adv CH Botha (i.o.v Duncan & Rothman Prokureurs, Kimberley
Namens respondent: Adv M Coetsee (i.o.v Theunissen Prokureurs, Kimberley)

RTF format