South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2005 >> [2005] ZANCHC 42

| Noteup | LawCite

S v Fransman (CA&R 152/2004) [2005] ZANCHC 42 (19 August 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


VERSLAGWAARDIG JA/NEE

SIRKULEER ONDER REGTERS JA/NEE

SIRKULEER ONDER LANDDROSTE JA/NEE

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: CA&R 152/2004

DATUM: 19-08-2005

In die Appél van:


CLIVE FRANSMAN APPELLANT


teen


DIE STAAT RESPONDENT


CORAM: F D KGOMO RP et C C WILLIAMS R:

UITSPRAAK

WILLIAMS R:


1. Die appellant is op 28 Februarie 2003 in die Streekhof te De Aar skuldig bevind aan aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot verkragting. Op dieselfde dag is hy gevonnis ten opsigte van die aanklagte tot onderskeidelik een (1) jaar en vier (4) jaar gevangenisstraf.


2. Hy kom nou in hoër beroep teen die skuldigbevindings sowel as die vonnisse hom opgelê.


3. Die appellant wat regsverteenwoordig was by die verhoor het onskuldig gepleit op beide aanklagte en namens hom het sy regsverteenwoordiger ‘n alibi verweer geopper wat bloot neerkom op ‘n ontkenning dat hy die misdrywe gepleeg het óf op die onderskeie tonele teenwoordig was.


4. Wat dus in geskil is ten opsigte van beide aanklagte is of die identiteit van die appellant bo redelike twyfel bewys is en ten opsigte van die tweede aanklag, of die staat inderdaad bo redelike twyfel poging tot verkragting bewys het


5. Ten opsigte van die eerste aanklag het die 18 jarige klaagster me. René De Bruin getuig dat sy die betrokke aand met vriende gekuier het in ‘n huis te De Aar. Sy het olik gevoel en het met haar kop op ‘n vriendin, ene Edwina, se skoot gelê.


6. Die appellant wat ook by die huis teenwoordig was en vir wie die klaagster vir die eerste keer die aand gesien het, het vir haar vriendin gesê dat die klaagster op sy skoot moet lê. Die klaagster het dit toe gedoen.


7. Na ‘n ruk het die klaagster naar gevoel en opgestaan om buitekant siek te wees. Die appellant het haar agtervolg en daar buitekant vir haar geslaan, getrap, geskop en deur die bosse gesleep.


8. ’n Persoon met die naam Vanessa Mattewis het die aanranding waargeneem en ‘n polisievoertuig gestop om die aanranding aan te meld. Die klaagster is toe deur die polisie huis toe geneem.


9. Me. Mattewis het ook getuig. Sy ken die appellant goed en bied stawing vir die klaagster se weergawe in alle wesenlike opsigte.


10. Me. Mattewis was ook teenwoordig in die huis waar die klaagster en die appellant was voor die voorval. Haar getuienis oor wat binne die huis gebeur het stem ooreen met dit van die klaagster.


11. Sy getuig voorts dat sy vir Edwina gevra het om saam met haar te gaan kyk wat maak die klaagster en appellant so lank buite nadat hulle die huis verlaat het.


12. Buitekant het sy gesien hoe die appellant die klaagster aanrand en het sy toe ‘n polisievoertuig wat verbygery het gestop.


13. Gedurende kruisondervraging en ontlok deur die appellant se regsverteenwoordiger, verduidelik me. Mattewis dat sy bekommerd geword het toe die klaagster en die appellant so lank buitekant gebly het aangesien die appellant, omtrent ‘n week voor die betrokke geleentheid, vir haar (Mattewis) probeer verkrag het. Sy het nie die voorval aangemeld by die polisie nie. Haar broer het egter met die appellant gaan praat oor sy gedrag.


14. Wat hierdie aanklag betref, is die feit dat die klaagster aangerand was, nie in geskil nie. Die mediese verslag ingehandig bied ook stawing vir die beserings wat die klaagster opgedoen het. Die enigste geskilpunt is die identiteit van die aanvaller.


15. Alhoewel daar moontlik geringe kritiek mag wees ten opsigte van die waarnemingsvermoë van die klaagster wat blykbaar onder die invloed van drank was en die apellant nie voor die spesifieke aand geken het nie, het die aanranding oor ‘n geruime tyd plaasgevind en het sy ‘n behoorlike geleentheid gehad om hom toe waar te neem.


16. Die kersie op die koek is natuurlik die getuienis van me. Mattewis, wat die appellant goed geken het en ‘n ooggetuie tot die aanranding was. Me. Mattewis was ‘n goeie getuie wie se weergawe onaangeraak bly staan het gedurende kruisondervraging. Die verhoorlanddros het tereg en op goeie gronde, die suggestie dat sy ‘n motief het om die appellant valslik te inkrimineer verwerp.


17. Die appellant het verkies om nie te getuig nie. Dit is slegs aan die twee getuies gestel dat die appellant ontken dat hy die aanranding gepleeg het. Dat hy selfs nie eers op die toneel was, soos per sy pleitverduideliking nie, óf waar hy hom sou bevind op die stadium, is nie aan die getuies gestel of andersins openbaar nie. In S v Brown en ‘n ander 1996(2) SASV (NK) sê Buys R te 61g “Die uitoefening van die reg om te swyg het sekere gevolge. Een daarvan is dat dit die prima facie getuienis namens die Staat onweerspreek laat. Hierdie onweerspreekte prima facie getuienis kan in gepaste omstandighede afdoende getuienis teen die beskuldigde word”.


18. Die Staat het ‘n sterk prima facie saak bewys wat onweerspreek gelaat is deur die appellant se versuim om te getuig of om getuienis aan te bied. In die omstandighede het dit afdoende getuienis geword.


19. Ek is dus van mening dat die appellant op die eerste aanklag regtens skuldig bevind is.


20. Wat die tweede aanklag betref (poging tot verkragting) is die klaagster, Chantal Van Wyk, ‘n 14 jarige dogter. Haar weergawe kan kortliks as volg opgesom word:


20.1 Op die aand van dié betrokke voorval was sy in die geselskap van drie vriende, Emarencia Sny, Charlton Lakey en Christo Olifant, langs die Veritas Hoërskool te De Aar.

20.2 Emarencia en Charlton het gevry terwyl die klaagster en Christo ‘n entjie weg gestaan het om die paartjie privaatheid te gun.

20.3 ’n Vreemde manspersoon het vir Emarencia en Charlton genader en na hy ‘n gesprek met Emarencia gehad het, het sy die klaagster nader geroep.

20.4 Toe die klaagster nader gaan het sy nie die manspersoon, wie se mus diep oor sy oë getrek was, herken nie en het sy vir Emarencia gevra wie dit is. Emarencia het gesê dat sy nie weet wie dit is nie. Die man het toe aan die klaagster gesê het dat hy haar ken en dat sy hom ‘n vry belowe het.

20.5 Hierna het dinge ernstig begin raak. Die manspersoon het die klaagster aan die hare beetgekry en ‘n oop mes uitgehaal wat hy vir haar vriende gewys het. Christo, Charlton en Emarencia het toe weggehardloop en die klaagster alleen agtergelaat met die persoon.

20.6 Hy het die klaagster met hom getrek en toe hy op ‘n stadium ‘n klip wat hy in sy hand gehad het laat val het die klaagster losgeruk en probeer vlug. Die man het haar egter ingehaal en gepootjie. Daarvandaan het hy haar weer verder met hom geneem terwyl hy haar met die klip op die kop gekap en gegooi het.

20.7 Toe hulle by die hek van die skool kom het hy haar beveel om oor te klim terwyl hy haar nog steeds aan die hare beetgehad het. Gelukkig het sy een van die onderwysers, ‘n mnr. Williams, aan die anderkant van die heining gesien en om hulp geskreeu. Die manspersoon het toe weggehardloop.


21. Emerencia, Christo en Charlton het ook getuig en soos verwag kan word van meerdere ooggetuies, is daar heelwat verskille in hulle weergawes van wat presies gebeur het voordat hulle weggehardloop het.


22. Christo en Charlton getuig dat die appellant sy lyfband afgehaal het op ‘n stadium en die klaagster daarmee geslaan het. Hulle getuig ook dat die appellant vir die klaagster met ‘n mes wou steek en dat die klaagster toe agter Christo weggekruip het. Die klaagster en Emarencia daarteenoor maak geen melding van hierdie gebeure in hulle getuienis nie.


23. Hoe dit ookal sy, soos die verhoorlanddros tereg opmerk in sy uitspraak, is hierdie verskille nie wesenlik van aard nie. Dit maak geen afbreuk aan die feit dat die klaagster wel aangerand is die nag nie. Mnr. Williams, die onderwyser, het getuig dat hy gesien het hoe iemand die klaagster slaan en die mediese verslag wat ingehandig was bied ook stawing daarvoor dat die klaagster aangerand was.


24. Die geskilpunte hier is of die identiteit van die aanvaller bewys is en of die aanranding op die klaagster ‘n poging tot verkragting daarstel.


25. Wat die identiteit van die aanvalller betref is die getuienis dat die klaagster en Charlton hierdie persoon nie voor die voorval geken het nie. Die klaagster se getuienis is dat die manspersoon ‘n mus op sy kop gehad het wat laag oor sy oë getrek was sodat sy net sy gesig vanaf die neus ondertoe kon sien. Sy het by Emarencia gehoor dat die persoon se naam Seun is, die noemnaam van die appellant.


26. Charlton het getuig dat hy dié aand die aanvaller vol in die gesig gekyk het, en gehoor het dat Christo hom Seun noem. Charlton se getuienis ten opsigte van die identiteit van die aanvaller is gedurende kruisondervraging só afgebreek dat die verhoorlanddros dit regtens nie inaggeneem het in die verband nie.


27. Emarencia en Christo het wel die appellant voor hierdie voorval geken. Emarencia se getuienis is dat sy en die appellant al vir jare naby mekaar woon en dat sy hom elke dag sien. Sy het hom die aand herken eers aan sy manier van stap en toe hy nader aan haar kom het sy sy gesig gesien. Die appellant het sy mus eers oor sy gesig afgetrek nadat sy hom herken het en toe die klaagster nader kom, het hy die mus nog verder afgetrek. Sy getuig dat sy vir die klaagster gesê het dat sy nie weet wie dit is nie aangesien die appellant vir haar so voorgesê het.


28. Christo het ook getuig dat hy die appellant al jare lank ken, hulle was immers saam op laerskool en woon in dieselfde gebied. Hy het die appellant aan sy gesig herken toe die appellant hulle nader die aand en het die appellant op sy naam (Seun) aangespreek.


29. Die getuienis van Emarencia en Christo dat hulle die appellant al jare lank ken is glad nie gedurende kruisondervraging aangeval nie en die appellant se versuim om te getuig het met hierdie aanklag soos met die eerste aanklag die effek dat die prima facie getuienis deur die Staat aangebied afdoende getuienis geword het.


30. Ek is dus tevrede dat die Staat die identiteit van die appellant ook met hierdie aanklag bo redelike twyfel bewys het.


31. Wat die opset waarmee die appellant die aand opgetree het betref is die getuienis van die klaagster van so ‘n aard dat daar kwalik tot ‘n ander bevinding gekom kan word as dat hy die aand van plan was om die klaagster te verkrag.


32. Die klaagster se getuienis is dat benewens die feit dat hy aanvanklik vir haar gesê het dat sy hom ‘n vry belowe het, hy terwyl hy haar getrek en met ‘n klip aangerand het, vir haar onder andere gesê het dat sy nie meer ‘n maagd is nie, dat sy en Christo so pas gemeenskap gehad het en hy en die klaagster ook moet gaan en dat hy aan haar borste gevat het.


33. Daar bestaan na my mening geen redelike moontlikheid, na aanleiding van die klaagster se getuienis, dat die appellant enige ander opset gehad het behalwe om die klaagster te verkrag nie. Die appél teen hierdie skuldigbevinding kan dus ook nie slaag nie.


34. Wat die appél teen vonnis aanbetref kon mnr. Venter wat namens die appellant optree geen mistastings aan die kant van die verhoorhof uitwys nie. Al die faktore by vonnisoplegging is deeglik oorweeg en die landdros het sy diskresie ten opsigte van vonnis op behoorlike wyse uitgeoefen.


35. Die mate van geweld wat die appellant gebruik het in albei die aanklagte, en sy volharding daarmee totdat hy gekeer is, is sprekend van ‘n absolute disrespek vir vroue en ‘n barbaarsheid, wat die versagtende omstandighede van sy jeugdigheid (hy was 19 jaar oud ten tye van vonnisoplegging) en die feit dat hy ‘n eerste oortreder is, totaal en al oorskadu.


Die appél teen vonnis kan dus ook nie slaag nie.


Die volgende bevel word gemaak:


- Die appél teen skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van beide aanklag 1 en aanklag 2 word van die hand gewys.




_________________________

C.C. WILLIAMS

REGTER




Ek stem saam.



_______________________

F. D KGOMO

REGTER PRESIDENT




Nms. Appellant: Mnr Venter

Nms. Respondent: Adv. Van Dyk

Datum aangehoor: 07-03-2005