South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2005 >> [2005] ZANCHC 110

| Noteup | LawCite

S v Malepo (CA&R 74\04) [2005] ZANCHC 110 (28 October 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: CA&R 74\04

Datum verhoor: 2005-10-27

Datum gelewer: 2005-10-28


In die appél van:


JOHN MALEPO APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et OLIVIER R



UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Die appellant het in die streekhof tereggestaan op ‘n aanklag van poging tot moord. Hy is na ‘n verhoor skuldig bevind soos aangekla en tot 5 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kom nou in hoër beroep slegs teen die opgelegde vonnis. Daar is ook ‘n aansoek vir kondonasie van die nie-nakoming van die voorgeskrewe reëls ten aansien van die laat liassering van die appellant se kennisgewing van appél.

  2. Dit is duidelik uit die stukke voor ons dat die laat liassering van die appellant se kennisgewing van appél nie te wyte was aan sy eie nalatigheid nie, maar dat dit voor die deur gelê kan word van die beamptes van die Departement van Korrektiewe Dienste wat versuim het om tydig die kennisgewing te laat liasseer. Gevolglik wend ek my nou tot die meriete van die appellant se appél teen vonnis.

  3. Die appellant het regsverteenwoordiging geniet tydens die verhoor. Hy het onskuldig gepleit en het ingevolge artikel 115 van die Strafproseswet, 51 van 1977, se bepalings ‘n pleitverduideliking voorgehou. Daarvolgens was hy die aand van die voorval in ‘n winkel te Kingstraat, Pabalello, te Upington. Volgens die appellant het daar ‘n bakleiery tussen hom en sy oom ontstaan a.g.v. geld. Die klaer het op die bakleiery afgekom en het toe sonder enige rede hoegenaamd met die appellant begin baklei. Op ‘n stadium het die klaer volgens die appellant laasgenoemde teen die rug getrap sodat hy neergeval het. Die klaer het toe met ‘n bierbottel na die appellant geslaan, waarna die appellant ‘n mes uitgehaal het en na die klaer gesteek het. Die appellant het verder in sy artikel 115-pleitverduideliking verklaar dat hy nie weet waar en hoeveel kere hy die klaer gesteek het nie. Hy het verder aangedui dat hy tydens die voorval onder die invloed van drank was maar dat hy steeds geweet het wat hy doen. Hy het verder erken dat hy die klaer ernstig seergemaak het en dat sy optrede wederregtelik was. Hy het laastens ook die korrektheid van die inhoud van die J88-mediese verslag erken en het aangedui dat hy berou het oor die voorval.

  4. Tydens die verhoor was die meeste van die aspekte eintlik maar gemeensaak en in ooreenstemming met dit wat die appellant in sy pleitverduideliking aangedui het, soos voormeld, behalwe in die belangrike opsig dat daar op die getuienis geen aanval deur die klaer op die appellant was nie. Dit was duidelik op die aangebode getuienis van Staatsweë dat die appellant inderdaad die aggre ssor was dié betrokke aand. Die appellant het naamlik nie net die klaer nie, maar ook sy oom wederregtelik aangerand in die winkel te Pabalello. Die landdros het dan ook tereg die voormelde feite as bewese bevind.

  5. Volgens die bewese feite voor die verhoorhof, en meer bepaald die mediese verslag, het die klaer ‘n 4 cm oop wond voor sy regteroor opgedoen asook ‘n 6 cm oop wond in die regter bors wat deur die sternum tot by die derde ribbeen deurgedring het. Die laasvermelde steekwond was potensieel lewensgevaarlik en moes daar ‘n onderwaterse dreinering van die bloed rondom die longe gedoen word. Dit het tot gevolg gehad dat die klaer twee dae in die hospitaal moes deurbring. Wat die betrokke wond in die regterbors aanbetref het die geneesheer, Dr. Isaacs, op die vorm aangeteken “serious assault with a sharp object that could have caused the death.”

  6. Die appellant was ten tyde van vonnisoplegging 30 jaar oud, hy het standerd 7 behaal en het vrugte en groente gesmous waaruit hy R150.00 per week verdien het. Hy is die vader van 2 jong kinders en een van die kinders het ten tyde van vonnisoplegging by hom gewoon. Hy was ook ‘n eerste oortreder.

  7. Namens die appellant het Mnr. Van Vuuren betoog dat die vonnis skokkend onvanpas is en dat dit ‘n oorbeklemtoning van die erns van die misdryf en ‘n onderbeklemtoning van die appellant se persoonlike omstandighede daarstel.

  8. Ek is egter die mening toegedaan dat, gegewe die verskeie strafverswarende faktore wat aanwesig is, daar nie gesê kan word dat die vonnis skokkend onvanpas is nie. Hierdie is uiteraard ‘n ernstige misdryf en is die klaer baie ernstig beseer. Soos aangedui, was die besering wat die klaer toegedien is, potensieel lewensgevaarlik. Dit is ook ‘n misdryf hierdie wat vry algemeen voorkom in die regsgebied van die verhoorhof.

  9. Daar is geen goue reël dat ‘n eerste oortreder sonder uitsondering buite die gevangenis gehou moet word nie. Dit is inderdaad so dat daar bepaalde misdrywe is waarvoor selfs eerste oortreders gevangenisstraf opgelê moet word.

Sien in dié verband: S v Levey 1993(2) SASV 498(A) te 500 d-e.

  1. Na my mening is die onderhawige geval een van daardie waar ‘n eerste oortreder direkte gevangenisstraf moet uitdien. Die opgelegde vonnis is weliswaar swaar, maar in die afwesigheid van enige mistastings aan die kant van die verhoorlanddros, meen ek nie dat die opgelegde vonnis inmenging regverdig nie.

In ‘n ongerapporteerde uitspraak in hierdie afdeling, Joel Sentshedi v Staat, CA&R 247/03, gelewer op 08/09/2005 (Williams R, Majiedt R samestemmend) was die appellant ook in die verhoorhof skuldig bevind aan poging tot moord nadat hy skuldig gepleit het en is hy gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf. In daardie saak het die appellant die klaer met ‘n gebreekte bierbottel gesteek sodat daar agt laserasies oor die klaer se bolyf was wat gewissel het tussen 1 cm en 6 cm. Die appellant in daardie saak was 27 jaar oud, ongetroud, met twee kinders en was ook ‘n eerste oortreder. Hy het ook ‘n vaste betrekking as sekuriteitswag beklee. In daardie geval is die vonnis van 5 jaar gevangenisstraf op appél bekragtig.

In S v Msimanga en ‘n ander 2005(1) SASV 377 (O) te 381 g-h (par 9 tot par 10) het Hattingh R hom as volg uitgespreek ten aansien van vonnisse vir geweldsmisdade:

[9] ……..Gewelddadige optrede, van watter aard ook al, kan nie langer geduld word nie, daarom moet swaarder vonnisse opgelê word wat enersyds die boodskap sal uitdra dat gewelddadige gedrag nie langer verdra sal word nie en andersyds, aan die publiek, dat dit die erns van die howe is om veilige lewensomstandighede te herstel en te handhaaf.

[10] Afskrikking is die oorheersende en universeel erkende doel van straf. Omdat geen beskaafde gemeenskap barbaarse wandade sal duld nie, moet afskrikking en vergelding, as oogmerke van straf, veral by geweldsmisdade, voorrang geniet en speel voorkoming en hervorming 'n ondergeskikte rol.”

  1. Vir die voormelde redes dus is ek die mening toegedaan dat daar geen meriete is in die appél nie. Ek reik gevolglik die volgende bevel uit:

Die appellant se aansoek vir kondonasie word afgewys.




_____________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:




____________

CJ OLIVIER

REGTER






NAMENS APPELLANT : MNR D JANSE VAN VUUREN

NAMENS RESPONDENT : ADV T MASHALANE


DATUM VAN VERHOOR : 2005-10-27

DATUM VAN UITSPRAAK : 2005-10-28