South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2004 >> [2004] ZANCHC 96

| Noteup | LawCite

S v Bostander (587/04) [2004] ZANCHC 96 (17 December 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Hooggeregshof Hersieningsnr: 587/04

Landdros Saaknr: G49/04

Datum gelewer: 2004-12-17



In die hersieningsaak van:


DIE STAAT


versus


JOHANNES EDDY BOSTANDER BESKULDIGDE


Coram: OLIVIER R


UITSPRAAK OP HERSIENING



OLIVIER R:

  1. Hierdie aangeleentheid is deur die waarnemende senior landdros te Upington voorgelê vir die doeleindes van outomatiese hersiening nadat ‘n waarnemende landdros die beskuldigde daaraan skuldig bevind het dat hy versuim het om onderhoudsgelde ooreenkomstig ‘n hofbevel te betaal en hom gevonnis het tot ‘n boete van R600.00 of twee maande gevangenisstraf, wat in die geheel voorwaardelik opgeskort is vir twee jaar.

  2. Dit is baie duidelik dat die verrigtinge letterlik wemel van die onreëlmatighede en, ook in die lig van wat hieronder volg, ag ek dit nie nodig om in die omstandighede die betrokke verhoorlanddros se redes te probeer bekom nie.

  3. Dit is miskien dienstig om ter aanvang te handel met die kwessie van die gebrekkige oorkonde. Dit blyk dat ‘n baie groot deel van die verrigtinge glad nie getranskribeer is nie, oënskynlik vanweë ‘n fout met die meganiese opname daarvan. Dit lyk nie asof daar tot op dié stadium aan die landdros die geleentheid gegee is om te probeer om die oorkonde, wat hierdie gedeelte van die verrigtinge betref, te probeer rekonstrueer nie, maar in die lig van wat hieronder volg, meen ek ook nie dat dit op hierdie stadium veel nut sou hê nie.

  4. Terwyl dit miskien gesê sou kon word dat die feit dat ‘n sekere deel van die verrigtinge glad nie getranskribeer is nie, te wyte was aan gebrekkige bande of toerusting, is daar ook ander wesenlike probleme rondom die getranskribeerde gedeelte van die verrigtinge, welke probleme skynbaar nie toegeskryf sou kon word aan tegniese probleme nie, maar eerder aan die optrede van die landdros. Die betrokke landdros het onder andere toegelaat dat die klaagster en die tolk voortdurende tegelyk praat oor dieselfde mikrofoon, wat dit totaal onmoontlik gemaak het om daardie gedeelte van die opname te transkribeer. Dit blyk dan ook dat die betrokke landdros (wat soos reeds vermeld, waargeneem het as landdros) nie meer by die betrokke kantoor werksaam is nie.

  5. Afgesien van die voormelde probleme, en van die swak vooruitsigte dat die ontbrekende gedeelte van die oorkonde suksesvol gerekonstrueer sal kan word, is daar in elk geval ook ‘n veeltal ernstige onreëlmatighede in die ontsyferbare gedeelte van die verrigtinge wat na my oordeel opsigself die tersydestelling van die skuldigbevinding en vonnis noodsaak.

  6. So, byvoorbeeld, blyk dit darem minstens duidelik uit die oorkonde dat, nadat die aanklag gestel is, die beskuldigde nooit die geleentheid gebied is om daarop te pleit nie. Ten spyte hiervan het die betrokke landdros dit op die een of ander wyse moontlik gevind om op die klagstaat aan te teken dat die beskuldigde onskuldig gepleit het.

  7. Daarna het die landdros nooit die onverteenwoordigde beskuldigde se regte ingevolge artikel 115 van die Strafproseswet, nommer 51 van 1977, verduidelik nie. In plaas daarvan het die landdros eenvoudig voortgegaan om die beskuldigde te ondervra en is daar in hierdie proses blatant leidende vrae aan hom gestel met betrekking tot of hy wel versuim het om onderhoud te betaal en of hy besef het dat dit verkeerd was; dit alles natuurlik teen die agtergrond daarvan dat daar nooit aan hom verduidelik was dat hy sou kon swyg nie.

  8. Nadat die beskuldigde toe darem tog probeer te kenne gee het dat sy versuim gevolg het op die siekte en afsterwe van sy moeder en nog ‘n familielid en dat hy nie geweet het hoe om die onderhoudsbevel gewysig te kry nie, is hy deur die landdros gekonfronteer met die stelling (nie vraag nie) dat hy “Negligently failed to pay”, waarop hy (miskien nie verbasend nie) toe maar bevestigend geantwoord het.

  9. Daarna het die Staat voortgegaan met die aanbied van getuienis. Die somtotaal van die verduideliking van die beskuldigde se regte met betrekking tot kruisverhoor het soos volg daaruit gesien:

Meneer, you will ..... Procedure is that if you want to call witnesses, you can do so. But you will not cross-examine your own witnesses. And also, you will be given a chance to cross-examine the complainant.”

  1. Dit behoef sekerlik geen betoog nie, en ook geen verwysing na enige van die geykte gesag in hierdie verband nie, dat hierdie verduideliking totaal en al gebrekkig was. Die betrokke landdros het ook nooit die beskuldigde later bygestaan met kruisverhoor nie en het, byvoorbeeld, nooit die beskuldigde daarop attent gemaak dat hy die klaagster moes kruisverhoor rondom sy verweer dat hy tydelik nie in staat was om die onderhoudsbevel na te kom nie.

  2. Dit lyk ook asof die betrokke landdros by meerdere geleenthede die aanklaer aangespreek het as “Boet”, wat natuurlik totaal onvanpas sou gewees het. Hoe dit ookal sy, in die lig van die voorgaande ag ek dit onnodig om verder te handel met aspekte soos hierdie, of die standaard van die Engels gebesig deur óf die tolk óf die betrokke partye, en word die volgende bevel in die omstandighede in hierdie geval gemaak:

Die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.





___________

CJ OLIVIER

REGTER