South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2004 >>
[2004] ZANCHC 79
| Noteup
| LawCite
S v Williams (CA & R6/03) [2004] ZANCHC 79 (16 September 2004)
Download original files |
-
Verslagwaardig Ja / Nee
Sirkuleer onder Regters Ja / Nee
Sirkuleer onder Landdroste Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE AFDELING)
CA & R.: 6/03
Datum gelewer:
QUINTON WILLIAMS APPELLANT
TEEN
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: MAJIEDT R et OLIVIER R
KONSEPUITSPRAAK OP APPèL
OLIVIER R:
[1]
Die appellant het in die Landdroshof terreggestaan op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Nadat hy skuldig “op rede” gepleit het, is sy pleit verander na een van onskuldig. Hy is skuldig bevind en tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kom nou in hoër beroep teen beide die skuldigbevinding en vonnis.
[2]
Wat die meriete betref, was die klaer ‘n enkelgetuie. Sy weergawe was kortliks dat, toe hy die betrokke aand op pad terug was vanaf die toilet op dieselfde perseel as waar hy en sy vrou gewoon het, en ook as waar die appellant en sy saamleefmeisie in ‘n sogenaamde “shanty” gewoon het, hy afgekom het op ‘n rusie tussen die appellant en sy meisie. Die appellant het sy meisie met ‘n mes gedreig. Toe die klaer versoek het dat hy nie die meisie moes beseer nie, het sy die huis van die klaer binnegevlug. Die appellant het die klaer daarheen agtervolg en hom daar twee steekhoue in die gesig en in die buik toegedien. Hy is vir 5 dae gehospitaliseer en die meswond in die buik het sy ingewande ook beskadig. Hy het drie oop wonde opgedoen wat met steke geheg moes word.
[3]
Die appellant se weergawe was dat hy die betrokke aand sy meisie moes gaan haal waar sy ‘n film gekyk het. Hy is egter eers na hulle “shanty” om vir haar iets warms te gaan haal. Hy moes hiervoor die slot van die deur van die “shanty” oopsluit. Aan die sleutelhouer was egter ook ‘n mes. Toe hy buk of hurk om die deur oop te sluit, met sy rug na die toilet op die perseel, het hy opgemerk dat iemand van agter hom slaan met ‘n voorwerp, wat hy eers aangevoer het moontlik ‘n golfstok kon gewees het en later gesê het dalk ‘n bofbalkolf was. Hoe dit ookal sy, hy het gekoes, die hou het die “shanty” getref en in dié proses het hy die mes aan die sleutelhouer oopgemaak en na die aanvaller gesteek. Hy kon nie sien wie dit was nie. Die appellant se meisie het ook getuig en sy het, alhoewel sy geen kennis van die aanval self gehad het nie, in breë trekke gestaaf wat hy getuig het.
[4]
Die Landdros het duidelik bevind dat die klaer ‘n geloofwaardige getuie was, maar dat die appellant “nie ‘n baie goeie getuie” (was) nie” en nie “altyd geantwoord (het) wat vir hom gevra word nie”. Die Landdros het die Staat se weergawe aanvaar en dié van die appellant en sy meisie verwerp.
[5]
Dit is geykte reg dat ‘n verhoorhof normaalweg, vanweë die geleentheid om die getuies van aangesig tot aangesig te beoordeel, in ‘n gunstiger posisie verkeer om geloofwaardigheidsbevindinge te maak as ‘n Hof van appèl. Alhoewel ‘n Hof van appèl dus nie ligtelik met die geloofwaardigheidsbevindinge van ‘n verhoorhof sal inmeng nie, is hierdie egter nie ‘n onwrikbare reël nie en sal dit in gepaste omstandighede wel gedoen word.
[6]
Ek meen egter nie dat hierdie so ‘n geval is nie. Na my oordeel was die Landdros se bevindinge in die kol. Alhoewel hy ‘n enkelgetuie was, was die klaer se getuienis vry van weersprekings en onwaarskynlikhede. Dieselfde kan na my mening egter nie gesê word van die appellant se weergawe nie.
[7]
Alhoewel dit gemenesaak was dat die persoon wat deur die appellant gesteek is wel die klaer was, het dit gegaan om wie se weergawe korrek was ten aansien van die omstandighede waaronder dit plaasgevind het en, meer spesifiek, of die appellant in noodweer opgetree het.
[8]
Die appellant se weergawe was deurspek met onwaarskynlikhede. Waarom sou die klaer hom oor iets soos huurgeld bekruip en aanval, nogal sonder ‘n woord oor die huurgeld? Hoe sou die appellant, as hy gehurk was en weg van die klaer gekyk het met die eerste hou, daarin kon slaag om, sonder dat daar eers gepoog word om ‘n verdere hou te slaan, sy mes oop te maak, orent te kom en die klaer meerdere steekwonde toe te dien? Die appellant het homself ook weerspreek oor hoeveel steekwonde hy die klaer toegedien het.
[9]
Daar was ook wesenlike weersprekings tussen die appellant en sy meisie, en verdere onwaarskynlikhede het ook uit haar getuienis na vore gekom. Volgens die appellant was hy onder die invloed van drank (die klaer het getuig dat die appellant gelyk het of hy onder die invloed van ‘n dwelm was), maar sy meisie het dit ontken. Uit die meisie se getuienis het dit geblyk dat die appellant haar, toe hy haar gaan haal het ná die voorval, niks hoegenaamd van die voorval vertel het nie. Eers die volgende oggend, toe die klaer se vrou die aanval bekendgemaak het, het die appellant haar sy weergawe vertel. Dit is totaal onwaarskynlik dat die appellant, indien dit gebeur het soos wat hy getuig het, nie dadelik vir sy meisie daarvan sou vertel het nie, maar eerder rustig saam met haar die film sou gaan klaarkyk het en toe doodluiters by dieselfde perseel saam met haar gaan slaap het sonder om ‘n woord daarvan te rep.
[10]
In my gemoed is daar dus geen twyfel dat die skuldigbevinding in orde is nie. Wat die appellant se vonnis betref, was hy 28 jaar oud ten tye van die misdaad. Hy was ongetroud. Hy was ten tye van die gebeure onder die invloed van drank.
[11]
Daar is egter heelwat verswarende faktore. Die appellant het die klaer meerdere steekwonde toegedien toe die klaer juis bloot probeer keer het dat die appellant sy meisie beseer. Die steekwonde was aan die gesig en die buikarea van die klaer en een daarvan het ‘n operasie genoodsaak. Soos reeds gemeld, moes die klaer meerdere hegsteke ontvang en etlike dae in die hospitaal deurbring. Afgesien van ‘n hele aantal onverwante vorige veroordelings, het die appellant ook nie minder nie as vyf direk verwante vorige veroordelings gehad wat gestrek het van solank terug as 1989 tot in 1994. Die onderhawige gebeure het op 2 Mei 2002 plaasgevind. Die verwante vorige veroordelings het twee veroordelings van roof, twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer en een van aanranding ingesluit. Hy het ten aansien van meerdere van hulle gevangenisstraf uitgedien, alhoewel die langste vonnis een van 8 maande gevangenisstraf was. Aan die ander kant moet ‘n mens onthou dat hy toe ook nog heelwat jonger was.
[12]
Van sy ander vorige veroordelings kan egter ook geargumenteer word minstens indirek verwant en tersaaklik tot die onderhawige misdryf te wees. So is hy in 1993 skuldig bevind daaraan dat hy ‘n polisiebeampte met die dood of met geweld teen hom of sy familie gedreig het en in 1994 is hy aan onsedelike aanranding skuldig bevind.
[13]
Alhoewel ‘n mens besef dat sommige van die appellant se vorige veroordelings reeds langer as 10 jaar voor die onderhawige misdryf opgeloop is, en dat die res ook maar relatief oud is, is dit duidelik uit die geheel van van sy rekord en sy optrede dat hy nie respek het vir die gereg, en meer in die besonder vir die liggaamlike integriteit van ‘n ander, nie.
[14]
Ek is van oordeel dat die Landdros alle tersaaklike oorwegings in ag geneem het, dat geen mistastings begaan is nie en dat die vonnis hoegenaamd nie as skokkend onvanpas aangemerk sou kon word nie.
[15]
In die omstandighede moet die appèl na my mening misluk en word die volgende bevel gemaak:
Die appèl word afgewys en die skuldigbevinding en die vonnis word bekragtig.
_______________
C J OLIVIER
REGTER
Ek stem saam:
________________
S A MAJIEDT
REGTER
Namens Appellant : In persoon
Namens Respondent :
Datum van verhoor : 16 September 2004
Datum van uitspraak : 16 September 2004