South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2004 >> [2004] ZANCHC 48

| Noteup | LawCite

Ngxukama v Smith h/a LS Cash loans (CA & R 4/03) [2004] ZANCHC 48 (20 February 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA & R 4/03

Datum verhoor: 2004-02-16

Datum gelewer: 2004-02-20



In die appél van:


GERTRUIDA NGXUKAMA APPELLANT


versus


LOUISE SMITH h/a LS CASH LOANS RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et LACOCK R



UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Hierdie is ‘n appél teen die weiering van die Landdros te De Aar om kondonasie toe te staan vir die laat indiening van ‘n aansoek om tersydestelling van ‘n verstekvonnis. Die Respondent staan nie die appél teen nie en was nie voor ons verteenwoordig nie.

  2. Die Respondent het as Eiser die Verweerder (Appellant) gedagvaar vir betaling van die bedrag van R7500.00 by wyse van ‘n enkelvoudige dagvaarding uitgereik in die hof a quo. Die eisoorsaak is aangegee as gelde geleen en voorgeskiet deur die Respondent aan die Appellant. By die enkelvoudige dagvaarding was ‘n ooreenkoms tussen die partye aangeheg.

  3. Aangesien daar geen verskyning om te verdedig aangeteken is deur die Appellant nie, het die Respondent aansoek gedoen om vonnis by verstek en is sodanige verstekvonnis toegestaan op 8 Augustus 2002. Dit is belangrik om nou alreeds aan te toon dat daardie vonnis toegestaan is in die bedrag van R16431,83.

  4. Daarna, en wel op 11 November 2002, het die Appellant ‘n aansoek vir tersydestelling van vonnis volgens die bepalings van Landdroshofreël 49 geliasseer. Die Respondent het geen antwoordende eedsverklaring ingedien by daardie verrigtinge nie. Tesame met die aansoek om tersydestelling van vonnis was ook ‘n bevel aangevra dat die tydperk van 20 dae in Reël 49(1) verleng word tot die datum waarop die aansoek gedoen word. Die Landdros het op 6 Desember 2002 die aansoek om kondonasie afgewys.

  5. Dit is belangrik om sekere verdere gebeure en die tersaaklike datums daarvan hierin uiteen te sit bo en behalwe dié wat alreeds hierin vermeld is:

5.1 Die datum waarop die Respondent die ooreenkoms tussen die partye waarna ek verwys het in par. 2 hierbo, onderteken het en wat dan die datum van kontraksluiting daar sal stel, is 5 Maart 1998.

5.2 Die dagvaarding is uitgereik in die Landdroshof op 29 Julie 2002.

5.3 Die dagvaaarding is beteken op 30 Julie 2002 op ene Mnr. Mostert, synde ‘n betaalklerk werksaam by die distrikmunisipaliteit van De Aar, waar die Appellant klaarblyklik ‘n werknemer was.

5.4 Die Appellant het aangevoer dat sy nooit kennis van die dagvaarding gekry het en nie die dagvaarding in die aangeleentheid ontvang het nie.

5.5 Volgens die Appellant het sy die eerste keer kennis gekry van die aksie teen haar toe sy in die loop van September 2002 ‘n kennisgewing ooreenkomstig die bepalings van artikel 65A(1) van die Wet op Landdroshowe, 32 van 1944 ontvang het.

5.6 Op 11 Oktober 2002 het die Appellant die voormelde artikel 65A(1)-verrigtinge bygewoon en het sy volgens haar gepoog om haar verweer in die hof te stel vanweë haar onkunde aangaande die reg. Die voorsittende Landdros het dit onder haar aandag gebring dat sy eers moes aansoek doen vir tersydestelling van die vonnis, alvorens die Landdros kon kennis neem van enige van haar verwere. Daardie verrigtinge is toe uitgestel tot 18 Oktober 2002.

5.7 Volgens die Appellant het sy eers ‘n afspraak bekom met haar prokureur op die voormelde datum (18 Oktober 2002) om agt uur die oggend. Haar prokureur het onderneem om namens haar ‘n verdere uitstel te bekom sodat ‘n aansoek vir tersydestelling van die vonnis opgestel kon word.

5.8 Die Appellant het, onder die indruk dat die saak vir twee weke uitgestel sou word, weer met haar prokureur gekonsulteer op 28 Oktober 2002, by welke geleentheid sy meegedeel is dat ‘n lasbrief alreeds vir haar gemagtig is op 25 Oktober 2002, toe sy in die hof moes verskyn het.

5.9 Wat die meriete betref beweer die Appellant dat die bedrag op die leningsooreenkoms nie die ooreenkoms tussen haar en die Respondent korrek weergee nie, aangesien sy slegs ‘n bedrag van R1500.00 van die Respondent (wat klaarblyklik opereer as ‘n geldskieter) geleen het gedurende Maart 1998. Sy voer verder ook aan dat sy hierdie bedrag ten volle terugbetaal het. Volgens die Appellant het sy ‘n onvoltooide aansoekvorm en leningsooreenkoms onderteken.

  1. Wanneer ‘n persoon ‘n aansoek bring vir die tersydestelling van ‘n vonnis buite die 20-dae tydperk soos neergelê in Landdroshofreël 49(1), moet ‘n verlenging daarvan aangevra word ingevolge die bepalings van Reël 60(5), voordat ‘n hof ‘n aansoek vir tersydestelling kan oorweeg;

Sien in dié verband: Vleissentraal v Dittmar 1980(1) SA 817 (O) te 921 F; Phillips t/a Southern Cross Optical v SA Visioncare (Pty) Ltd 2002 (2) SA 1007(C) te 1011 B.

  1. Reël 60(5) beklee ‘n Landdros met ‘n diskresie om te bepaal of die verduideliking wat aangevoer is aangaande die nie-nakoming van ‘n voorgeskrewe tydsbepaling voldoende is;

Sien in dié verband: Evander Caterers (Pty) Ltd v Potgieter 1970(3) SA 312 (T) te 316 G-H; Phillips t/a Southern Cross v SA Visioncare (Pty) Ltd supra te 1011 C-D.

  1. n Applikant vir kondonasie moet dus voldoende gronde aanvoer en sodanige gronde kan ondermeer daargestel word deur ‘n bevredigende verduideliking vir die vertraging. Indien die verduideliking vir die vertraging onvoldoende of onbevredigend is, mag ander oorweginge ter sprake kom, byvoorbeeld of die aansoek bona fide is in die sin daarvan dat die Applikant duidelik begerig is om die hoofsaak op die meriete te opponeer en waarlik glo dat hy/sy ‘n goeie verweer tot die aksie het. Waar ‘n party in die oordeel van ‘n Hof roekeloos omgegaan het ten aansien van sy/haar verpligtinge ingevolge die bepaalde Hofreëls, sal ‘n Hof beswaarlik tot die bystand van sodanige party kom;

Sien in dié verband: Evander Caterers (Pty) Ltd v Potgieter supra te 317. Vergelyk ook Thornhill v Gerhardt 1979(2) SA 1092 (T) te 1096-7.

  1. n Belangrike vertrekpunt in hierdie aangeleentheid is die feit dat die Respondent dit goedgevind het in die hof a quo om nie ‘n opponerende eedsverklaring in te lewer nie. In sulke omstandighede staan ‘n Applikant vir kondonasie (en ook vir tersydestelling van ‘n vonnis) se beweringe derhalwe onbetwis en is ‘n Hof genoodsaak om vir doeleindes van oorweging van die bepaalde aansoek ‘n Applikant se bewerings te aanvaar as korrek;

Sien in dié verband: United Methodist Church of South Africa v Sokufundumala 1989(4) SA 1055 (O) te 1059 A.

  1. Ek is van oordeel dat, alhoewel die Appellant in verskeie opsigte ongetwyfeld agtelosig was, die volgende beweringe deur haar onbetwis gestaan het in die aansoek voor die Landdros:

a) Dat die Appellant nie die dagvaarding ontvang het van die persoon op wie dit beteken is nie (haar kollega, Mnr. Mostert);

b) Dat sy eers kennis gekry het van die aksie teen haar toe sy opgeroep is vir die artikel 65A(1)-verrigtinge gedurende September 2002;

c) Dat sy bona fide begerig was om die hoofaksie teen te staan, soos wat onder andere blyk uit die feit dat sy voor die Landdros haar verweer probeer voorhou het en sy toe aangeraai is om aansoek te doen vir die tersydestelling van die vonnis;

d) Dat vanweë ‘n misverstand tussen haar en haar prokureur sy nie betyds met laasgenoemde kon konsulteer ten einde die aansoek vir tersydestelling tydig te liasseer by die Landdroshof nie.

  1. Inaggenome die voorafgaande meen ek dat daar nie gesê kan word dat die Appellant se verduideliking oor haar versuim om betyds die aansoek vir tersydestelling van die verstekvonnis te liasseer nie, soos voorgeskryf in Reël 49(1), toegeskryf kan word aan ‘n roekelose versuim nie. Selfs al word so ver gegaan om te sê dat haar verduideliking vir hierdie nalate nie genoegsaam is nie, meen ek dat dit oorvloediglik duidelik is op die stukke dat sy ten minste twee goeie verwere het op die meriete in die hoofsaak, wat natuurlik ‘n belangrike verdere oorweging sal wees. Aangesien hierdie aspek van belang is wanneer dit kom by die aansoek vir tersydestelling van die verstekvonnis, meen ek dat dit in groter detail bespreking verg.

  2. Soos ek hierbo aangedui het is vonnis toegestaan in die bedrag van R16431.83. Hierdie is nie die bedrag wat gevorder is in die dagvaarding nie. Die bepalings van Landdroshofreël 12(1)(a)(i) is baie duidelik dat verstekvonnis versoek kan word teen ‘n verweerder wat versuim het om verskyning aan te teken slegs vir ‘n bedrag wat nie die bedrag oorskry wat in die dagvaarding gevorder is nie. Hier is weliswaar kennis gegee van die wysiging van die vonnis, maar sodanige kennis is eers gegee op 11 Desember 2002, met ander woorde nadat die aansoek om tersydestelling van vonnis alreeds geliaseer is en nadat die Landdros die betrokke aansoek op 6 Desember 2002 afgewys het. Op die stadium dus toe die Landdros die aansoek vir kondonasie en die aansoek vir die tersydestelling van die verstekvonnis aangehoor het, was die posisie bloot eenvoudig dat daar vonnis geneem is vir ‘n bedrag wat die bedrag gevorder in die dagvaarding ver oorskry, d.w.s. teenstrydig met Reël 12(1)(a)(i) se uitdruklike bepalings. In sy ex tempore-uitspraak op 6 Desember 2002 handel die Landdros met hierdie bepaalde aspek as volg:

Ook met verwysing na die bedrag van R16431,83 wil ek my ook nie verder uitlaat nie. Die vonnis is toegestaan vir R7500,00 plus rente plus koste. Of die berekening reg gedoen is, al dan nie, gaan ek my nie oor uitlaat nie. Ek wil amper sê dat die meriete my nie soseer gaan beweeg om die Applikant tegemoet te kom waar daar ‘n mate van twyfel bestaan nie.” (My eie beklemtoning).

Die Landdros het hier misgetas in twee belangrike en wesenlike opsigte:

a) Eerstens is hy wanvoorgelig op die feite waar hy sê dat vonnis toegestaan is vir R7500,00 – dit is inderdaad toegestaan in die bedrag van R16431,83.

b) Verder tas hy ook heeltemal mis waar hy sê dat hy glad nie die meriete van die aangeleentheid gaan oorweeg nie. Soos aangehaal uit die gesag hierbo is dit ‘n aspek wat wesenlik noodsaaklik word waar ‘n applikant vir kondonasie se verduideliking vir sy/haar versuim mank gaan aan oortuiging.

Ek is van mening dat hierdie wanopvatting van die Landdros een van die faktore is wat daartoe aanleiding gegee het dat hy die Appellant se aansoek vir kondonasie afgewys het. Ek moet dit vermeld dat die Landdros dieselfde fout begaan het in sy verdere redes waar hy aanvoer dat vonnis nie vir die bedrag van R16431,83 toegestaan is nie. Dat die Landdros so ‘n fout begaan het word verder onderskryf deur die daaropvolgende optrede van die Respondent wat toe, soos ek vermeld het, op 11 Desember 2002 aansoek gedoen het vir die wysiging van die vonnis.

  1. Die volgende aspek wat deur die Appellant te berde gebring word as moontlike verweer op die meriete van die hoofsaak is die kwessie van verjaring. Ek het alreeds hierbo aangedui dat die kontrak tussen die partye volgens die leningsooreenkoms tot stand gekom het op 5 Maart 1998. Die dagvaarding is uitgereik op 29 Julie 2002 en beteken op die Appellant se kollega, Mnr. Mostert, op 30 Julie 2002. Op die voorafgaande feite is dit duidelik dat hierdie eis verjaar het op 4 Maart 2001. Die Landdros het, soos ek aangedui het, in sy ex tempore-uitspraak bevind dat hy nie die meriete gaan aanspreek nie. Verder sê hy ten aansien van hierdie bepaalde verweer die volgende:

Verjaring kan die hof in terme van die Wet op Verjaring nie self kennis neem nie. Dit moet ‘n verweer wees wat geopper word. Dit mag op die oog af op verjaring neerkom, ek wil my nie veel daaroor uitlaat nie.”(My beklemtoning)/

Weer eens het die Landdros hier misgetas ten aansien van die gedeelte wat ek hier beklemtoon het. Dit is inderdaad so dat verjaring wel spesifiek as ‘n verweer geopper moet word, maar dit moet deeglik in ag gehou word dat die Appellant nog nie ‘n geleentheid gehad het om te pleit nie. Hierdie veweer is pertinent te berde gebring in haar aansoek om kondonasie en om tersydestelling van die verstekvonnis. Artikel 17(1) van die Verjaringswet, 68 van 1969, bepaal inderdaad dat ‘n Hof nie uit eie beweging kennis kan neem van verjaring nie. Dit moet in die pleitstukke geopper word deur ‘n party tot ‘n geding wat hom/haar daarop beroep, maar verjaring kan wel in enige stadium van die verrigtinge geopper word (art 17(2) van die voormelde wet);

Sien: De Jager en andere v Absa Bank Beperk 2001(3) SA 537 (HHA) te 543 C-D.

Ek is dus die mening toegedaan dat hierdie verweer, wat natuurlik ‘n absolute verweer teen die Respondent se eis daarstel, behoorlik geopper is deur die Appellant in haar aansoekstukke. Die Landdros moes dus wel deeglik daarvan kennis neem, en het hy gruwelik versuim om so te doen.

  1. Ek is derhalwe tevrede dat die Landdros gefouteer het met sy afwysing van die aansoek om kondonasie. Dit bring my vervolgens by die vraag of daar ‘n behoorlike saak uitgemaak was op die stukke voor die Landdros dat die verstekvonnis tersyde gestel moes word. Landdroshofreël 49(2) skep ‘n vermoede dat ‘n Applikant vir tersydestelling kennis gehad het dat ‘n verstekvonnis teen hom/haar geneem is tien dae na die datum waarop sodanige vonnis verleen is. Hierdie vermoede kan weerlê word as die Applikant die teendeel daarvan bewys. In ‘n aansoek om tersydestelling van ‘n verstekvonnis moet daar ‘n eedsverklaring geliasseer word waarin die rede(s) vir die party in verstek se versuim uiteengesit word en moet dit gronde bevat van so ‘n party se verweer tot die eis [Landdroshofreël 49(3)].

  2. Dit staan vas in ons reg dat, alvorens ‘n verstekvonnis tersyde gestel sal word, ‘n party wat aansoek doen vir die vir tersydestelling daarvan die volgende moet doen:

a) ‘n Redelike verduideliking vir die verstek moet verskaf word;

b) ‘n Bona fide-verweer moet openbaar word;

c) Die aansoek om tersydestelling van die vonnis moet bona fide wees.

Sien in dié verband: Phillips t/a Southern Cross v SA Visioncare (Pty) Ltd supra te 1012 H; Wright v Westelike Provinsie Kelders Beperk 2001(4) SA 1165 (K).

Na die 1997-wysiging van Landdroshofreël 49(1) is ‘n voorsittende beampte met ‘n wyer mate van diskresie beklee om ‘n vonnis tersyde te stel by verskaffing van voldoende gronde of goeie redes.
Sien in dié verband:
Buckle v Kotzé 2000(1) SA 453(W) te 457 D; Phillips t/a Southern Cross v SA Visioncare (Pty) Ltd supra te 2012 J – 1013 G; Wright v Westelike Provinsie Kelders Beperk supra te 1181 F-H.

  1. Uit wat ek alreeds hierbo vermeld het aangaande die meriete van die Appellant se aansoek om kondonasie voor ‘n Landdros, is dit myns insiens duidelik dat die Appellant onteenseglik bona fide was in haar aansoek vir die tersydestelling van die vonnis. Sy het immers by die eerste beste geleentheid, d.w.s. tydens die Reël 65A(1)-verrigtinge gepoog om uit onkunde haar verwere voor die Landdros te plaas. Dit is tog aanduidend van ‘n duidelike begeerte om die Respondent se eis in die hoofsaak te bestry. Na my mening vereis die belange van geregtigheid verder dat die Appellant ‘n behoorlike geleentheid gegun moet word om haar verwere soos hierinvantevore uiteengesit behoorlik voor die Landdroshof te plaas. Per slot van sake behoort die Appellant se redes vir haar versuim nie in isolasie oorweeg te word nie, maar eerder aan die hand van die verweer of verwere wat sy voorgehou het sowel as al die omringende omstandighede wat met die aangeleentheid gepaard gaan – op sodanige wyse kan daar behoorlik oorweging geskenk word aan haar bona fides. Sien in dié verband: Buckle v Kotzé supra te 458 E-H. Sien verder ook: De Wits Auto Body Repairs (Pty) Ltd v Fedgen Insurance Co. Ltd 1994(4) SA 705 (E) te 711 D.

  2. Vir die voorafgaande redes is ek tevrede dat die Appellant se aansoek om tersydestelling van vonnis behoorlike gronde daarstel soos bedoel in Landdroshofreël 49(1).

  3. By gevolg word die appél gehandhaaf. Die Landdros se bevel dat die Appellant se aansoek vir die verlenging van die tydperk neergelê in Reël 49(1) vir die liassering van ‘n aansoek om tersydestelling van die verstekvonnis word ter syde gestel en met die volgende vervang:

a) die tydperk van 20 dae vervat in Reël 49(1) word verleng tot die datum waarop die Applikante/Verweerderes haar aansoek om tersydestelling van die verstekvonnis liaseer en afgelewer het.

b) Die vonnis wat by verstek teen die Applikante/Verweerderes toegestaan is op 8 Augustus 2002, word ter syde gestel en die Applikante/Verweerderes word verlof verleen om die aksie in die hoofgeding te verdedig.

c) Koste van die aansoek sal koste in die hoofgeding wees.”

Die Respondent word gelas om die koste van hierdie appél op ‘n onbestrede basis te betaal.



___________

SA MAJIEDT

REGTER


Ek stem saam:



_____________

HJ LACOCK

REGTER


NAMENS APPELLANT : Adv. Snellenburg

NAMENS RESPONDENT : Geen verskyning.

DATUM VAN VERHOOR : 2004-02-16

DATUM VAN UITSPRAAK : 2004-02-20