South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2004 >> [2004] ZANCHC 32

| Noteup | LawCite

S v September (CA&R 93/04) [2004] ZANCHC 32 (22 September 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: JA / NEE

Sirkuleer Aan Regters: JA / NEE

Sirkuleer Aan Landdroste: JA / NEE



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

IN THE HIGH COURT OF SOUTH AFRICA

(Noord-Kaapse Afdeling / Northern Cape Division)



Saakno: / Case number: CA&R 93/04

Datum verhoor: / Date heard: 21/09/2004

Datum gelewer: / Date delivered: 22/09/2004



In die saak van:



SEPTEMBER, JEFFREY Appellant

en

DIE STAAT Respondent


Coram: Lacock R et Tlaletsi R



UITSPRAAK OP APPÉL



LACOCK R:



  1. Die appellant is op 26 Maart 1999 in die Streekhof te Victoria Wes skuldig bevind aan moord en gevonnis tot vyftien jaar gevangenisstraf.


Hy doen nou aansoek vir kondonasie vir die laat liasering van sy kennisgewing van appél, en kom terselfdertyd in hoër beroep teen die vonnis hom opgelê.


  1. Die redes deur die appellant aangevoer waarom sy kennisgewing van appél so laat liaseer is, is geheel en al onoortuigend. Nietemin, en aangesien die appellant vanuit die gevangenis sy appél aangeteken het, sou ek waarskynlik kondonasie verleen het indien daar redelike vooruitsigte op sukses in die appél teen vonnis sou wees. Dit is vervolgens nodig om die meriete van die appél te oorweeg.


  1. Die Streekhoflanddros het bevind dat die appellant na middernag en vergesel van ene Willem Bandjies, ‘n 18-jarige seun, gestap het na die woning waar die oorledene, ‘n 15-jarige seun, en nog ‘n kind genaamd MC hulle bevind het. Die appellant wou die oorledene vra om hom te vergesel om ene July weg te neem na die plaas Kalkfontein.


By hierdie woning aangekom, het die appellant aan die deur geklop, en na ‘n lang ruk het MC die deur oopgemaak. Die appellant het toe aan Bandjies gesê, “kyk wat doen ek nou”, en die huis binne gebars. Hy het die oorledene op ‘n bed aangetref waar hy gelê en slaap het, en hom met die vuis geslaan terwyl hy nog gelê en slaap het. Hierop het ‘n wrede aanval op die oorledene gevolg waartydens die appellant hom herhaaldelik geskop en geslaan het, hom vier keer opgetel en kop eerste op die sementvloer van die kombuis neergegooi het, en hom daarna met ‘n luidsprekerkas herhaaldelik teen sy lyf geslaan het. Die oorledene het beswyk as gevolg van hierdie brutale aanranding.


  1. Die appellant kon geen rede aanvoer waarom hy die oorledene aangeval en gedood het nie, behalwe om te beweer dat hy die nag besope was. Hoewel die appellant aanvanklik getuig het dat hy so besope was dat hy feitlik niks van die voorval kan onthou nie, het dit in kruisverhoor geblyk dat hy aansienlik meer van die nag se gebeure kon onthou, en selfs kon onthou dat, toe hy die oorledene in sy bed aantref, hy hom gevra het om saam met hom te ry en toe die oorledene nie antwoord nie, het hy begin om hom aan te rand.


  1. Mnr. Van Heerden namens die appellant betoog dat die vonnis die appellant opgelê skokkend swaar en onvanpas is. Die wese van sy argument is naamlik dat die Landdros onvoldoende gewig geheg het aan die mate van intoksikasie waaronder die appellant ten tye van die voorval verkeer het.


Ek kan nie met heirdie argument van mnr. Van Heerden saamstem nie.



  1. n Hof van appél meng nie geredelik in met ‘n vonnis deur ‘n verhoorhof opgelê nie aangesien straftoemeting primêr val binne die diskresie van die verhoorhof. Sien S v Kibido 1998 (2) SASV 231 (HHA) te 216 g en verder.


  1. Die Landdros het behoorlik oorweging gegee aan die persoonlike omstandighede van die appellant, die aard en erns van die misdryf wat hy gepleeg het, asook die gemeenskapsbelang. Daar kan myns insiens nie gesê word dat hy ‘n mistasting begaan het of homself enigsins wanvoorgelig het nie.


  1. Duidelik het die Landdros inderdaad die feit dat die appellant onder die invloed van sterk drank was, as versagtend in sy guns in aanmerking geneem. Hy sê in hierdie verband die volgende:


Ek sal aanvaar in u guns dat drank ‘n rol gespeel het hier, waarskynlik het dit u inhibisies verminder, waarskynlik soos mnr Kempen betoog het dit veroorsaak dat dit u oordeel aangetas het, klaarblyklik het u ook ‘n persoonlikheids verandering ondergaan.”


  1. Ook het die Landdros die feit dat die appellant ‘n eerste oortreder was, behoorlik as strafversagtend in ag geneem.


  1. Indien die voormelde versagtende omstandighede egter opgeweeg word teen die totaal ongevraagde en ongegronde aanval op hierdie 15-jarige kind, oorskadu die brutale wreedheid van hierdie aanval die versagtende omstandighede dermate dat nie gesê kan word dat die vonnis die appellant opgelê skokkend swaar en onvanpas is nie. Trouens, indien ek as hof van eerste instansie die appellant moes vonnis, sou ek beswaarlik die appellant ‘n ligter vonnis opgelê het as dié opgelê deur die Streekhoflanddros.


Ek is vervolgens van mening dat daar geen voortuitsigte op sukses in die appél is nie, en word die aansoek om kondonasie van die hand gewys.





_______________

HJ Lacock

REGTER




Ek stem saam.





_______________

LP Tlaletsi

REGTER




Namens appellant: Adv IJ Nel

Namens respondent: Adv CG Jansen