South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2004 >> [2004] ZANCHC 16

| Noteup | LawCite

Ga- segonyana Munisipaliteit v Calitz (499/03) [2004] ZANCHC 16 (26 April 2004)

Download original files

PDF format

RTF format



Verslagwaardig: JA / NEE

Sirkuleer Aan Regters: JA / NEE

Sirkuleer Aan Landdroste: JA / NEE


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

IN THE HIGH COURT OF SOUTH AFRICA

(Noord-Kaapse Afdeling / Northern Cape Division)



Saakno: / Case number: 499/03

Datum verhoor: / Date heard: 23/4/2004

Datum gelewer: / Date delivered: 26/4/2004



In die saak tussen:



GA-SEGONYANA MUNISIPALITEIT Applikant

en

CALITZ, JM Respondent



Coram: Lacock R



UITSPRAAK OP AANSOEK VIR VERLOF TOT APPÉL



LACOCK R:


  1. Op 27 Februarie 2004 het ek uitspraak in hierdie aansoek ten gunste van die applikant gegee en ondermeer gelas dat die respondent die koste van geding moet betaal. (Opgemerk sal word dat ek na die partye verwys soos in die hoof geding).


  1. Die respondent doen nou aansoek vir verlof om te appelleer teen die kostebevel aldus verleen op grond van die volgende:


    1. Dat die agbare Hof fouteer het deur nie te bevind dat elke party sy eie kostes sal betaal nie.


  1. Dat die agbare Hof nie genoegsame oorweging gegee het aan die feit dat die aanvanklike oorsaak van hierdie aansoek te wyte is aan die doen en late en optrede van die applikant nie.”


  1. Dit is geykte reg dat verlof tot appél normaalweg verleen behoort te word indien daar ‘n redelike vooruitsig is dat ‘n Hof van Appél tot ‘n ander gevolgtrekking kan kom as waartoe die Verhoorhof gekom het. Derby-Lewis & Another v Chairman, Amnesty Committee of the TRC, 2002 (3) SA 485 (K) te 488 G.


Waar die appél egter gemik is slegs teen die kostebevel verleen deur die Verhoorhof, raak bykomende beginsels en statutêre voorskrifte tersaaklik.


  1. Art 21 A van die Wet op die Hooggeregshof, nr 59 van 1959, (die Wet) en meer bepaald sub artikels (1) en (3) daarvan, lees as volg:

(1) Wanneer die geskilpunte by die verhoor van enige siviele appèl na die Appèlafdeling of enige Provinsiale of Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof van so 'n aard is dat die uitspraak of verlangde bevel geen praktiese uitwerking of gevolg sal hê nie, kan die appèl op hierdie grond alleen van die hand gewys word.


(3) Behalwe in buitengewone omstandighede word die vraag of die uitspraak of bevel geen praktiese uitwerking of gevolg sou hê nie, bepaal sonder verwysing na oorweging van koste.


Sou ‘n Hof van Appél dus op appél bevind dat die uitslag op appél geen praktiese gevolge of uitwerking op die status quo of regsposisie van die partye sal hê nie, kan die appél op grond daarvan alleen van die hand gewys word, dit wil sê sonder verdere oorweging van die meriete van die appél.


Na aanleiding van die voorskrifte van art 21 A (3) van die Wet (hierbo aangehaal) word hierdie vraag bereg sonder oorweging van die vraag na koste, behalwe in buitengewone omstandighede.


  1. Hoewel art 21 A van die Wet nie uitdruklik van toepassing is op aansoeke vir verlof tot appél, of eerder op die oorweging van sodanige aansoeke nie, meen ek dat die voorskrifte van hierdie artikel relevant is tot die vraag naamlik of daar ‘n redelike vooruitsig is om te slaag op appél. Indien ‘n appél van so ‘n aard is dat die uitspraak daarop geen praktiese uitwerking of gevolg sal hê nie, en daar ‘n redelike vooruitsig is dat dit op grond van sodanige oorweging alleen van die hand gewys kan word, volg dit myns insiens net logies dat hierdie oorweging ook relevant behoort te wees by die oorweging van die aansoek vir verlof om te appelleer. Die vraag bly immers of daar ‘n redelike vooruitsig op sukses op appél is of nie.


Dit is ook insiggewend om daarop te let dat die voorskrifte van art 21 A (2) en (3) kragtens sub art (4) ook van toepassing is op die oorweging van ’n petisie vir verlof om te appelleer kragtens art 21 (3) van die Wet.


Sien hieraangaande Logistic Technologies (Pty) Ltd v Coetzee & Others 1998 (3) SA 1071 (W) te 1074 F tot 1075 I; en Universal Storage Systems (Pty) Ltd v Crafford & Others 2001 (4) SA 249 (W) te 251 C tot I.


  1. Ek stem met eerbied saam met Cloete R (soos hy toe was) dat die voorskrifte van art 21 A van die Wet daarop gemik is om stukrag te verleen aan die lang bestaande beginsel van die Howe om appelle wat bloot gemik is op kostebevele, te ontmoedig. Logistic Technologies (supra) te 1074 J tot 1075 G); Universal Storage Systems (supra) te 251 H: “In amending the Supreme Court Act to insert s 21 A, the Legislature was giving further effect to the long-standing policy of discouraging appeals against costs orders only.”


  1. Hierdie “long-standing policy” is as volg deur die Hoogste Hof van Appél geformuleer in Cronjé v Pelser, 1967 (2) SA 589 (A) te 592 H tot 593 A:


Hierdie Hof sal nie ingryp in die Hof a quo se beslissing oor koste nie tensy dit geskied het sonder 'n judisiële uitoefening van diskresie. Die toets is, soos Appèlregter GREENBERG in Merber v Merber, 1948 (1) S.A 446 (A.D.) op bl. 453, sê, of die beslissing gebaseer is op gronde waarop 'n redelike mens tot so 'n besluit kon geraak het. Hierdie Hof is nie in staat om te sê dat die beslissing van die Hof a quo nie gebaseer is op gronde waarop 'n redelike mens nie tot dieselfde gevolgtrekking kon geraak het nie, selfs al sou hierdie Hof waarskynlik 'n ander kostebevel gemaak het. Dit wil egter nie sê dat dit die enigste redelike bevel is wat redelikerwys gemaak kan word nie, of dat dit noodwendig in 'n dergelike geval toegepas moet word nie. 'n Beslissing oor koste is 'n kwessie van diskresie in elke besondere geval.”


  1. Soos hierbo vermeld, is die huidige voorgenome appél slegs gemik teen die kostebevel deur myself verleen. Die uitslag van die verlangde appél sal dus geen praktiese uitwerking of gevolg hê op die regsposisie van die partye soos bepaal in die bevel op die meriete in die aansoek verleen nie. Verlof tot appél kan dus slegs verleen word indien aangetoon kan word dat daar ‘n redelike vooruitsig bestaan dat ‘n Hof van Appél kan bevind dat daar buitengewone omstandighede is wat ‘n versteuring van die kostebevel deur myself verleen, regverdig. Die versuim om ‘n judisiële diskresie uit te oefen by die oorweging van ‘n kostebevel, kan waarskynlik as ‘n buitengewone omstandigheid aangemerk word (Cronjé v Pelser (supra aangehaal) ), maar die blote vooruitsig dat ‘n Hof van Appél tot ‘n ander gevolgtrekking kan kom of selfs waarskynlik sal kom, as waartoe ‘n Verhoorhof gekom het in die uitoefening van sy judisiële diskresie (indien dit eenmaal vasstaan dat hy so ‘n diskresie uitgeoefen het) is nie voldoende om te kwalifiseer as buitengewone omstandighede of andersinds vir die verlening van verlof tot appél nie. (Logistic Technologies (supra) te 1075 I tot 1076 B).


  1. Mnr Coetzee, namens die respondent, voer eerstens aan dat ek fouteer het deur onvoldoende gewig te heg aan die feit dat die aansoek in die eerste instansie genoodsaak en van stapel gestuur was as gevolg van die nalate van die applikant om die respondent korrek te adviseer aangaande die gebruiksreg van sy eiendom. Hierdie is dieselfde argument waarop mnr Coetzee in argument by die aanhoor van die aansoek gesteun het.


Ek het in paragrawe 13.1 tot 13.5 van my uitspraak volledig met hierdie argument gehandel. Mnr Coetzee het nie enige nuwe argumente hieraangaande geopper wat nie reeds geopper en deur myself oorweeg is nie.


  1. Soos reeds in my uitspraak vermeld, is dit so dat die applikant se eie nalatige optrede daartoe gelei het dat die respondent sy eiendom vir ‘n ongemagtigde gebruik aangewend het. Daarteenoor egter het die applikant, nadat hy sy fout agter gekom het, ruim geleentheid aan die respondent gebied om die ongemagtigde gebuik van sy eiendom as ‘n bottelstoor te staak. Die respondent het egter geweier om hieraan gehoor te gee. Dit was hierdie weiering van die respondent om die ongemagtigde gebruik van sy eiendom te staak wat die applikant met geen ander keuse gelaat het anders dan om die Hof te nader vir die nodige regshulp nie. Die respondent het ook nie bloot berus in die gevolg van die aansoek nie, maar het die aansoek aktief opponeer.


  1. Mnr Coetzee voer verder aan dat die respondent nie met ‘n kostebevel belas moes gewees het nie omdat die applikant – nadat besluit is om die perseel van die respondent te hersoneer sodat hy ‘n drankwinkel daarop kan bedryf – versuim het om die respondent in kennis te stel dat daar na die Provinsiale Regering appél aangeteken is teen hierdie besluit van die applikant. Indien die respondent in kennis gestel was – aldus die argument – kon hy die nodige vertoë gerig het aan die Provinsiale Owerheid en kon die appél moontlik afgewys gewees het, en sou daar geen aansoek gevolg het nie. Ek meen dat die antwoord van mnr De Bruin hierop afdoende is: Dit was nooit die saak van die respondent dat die aansoek op grond van die voorgaande oorbodig was nie. Die respondent het hom deurgaans daarop beroep dat hy ingevolge die soneringskema geregtig was op die gebruik van sy perseel vir die bedryf van ‘n drankwinkel.


Afgesien van die voorgaande is dit ook so dat die applikant se prokureur die respondent skriftelik in kennis gestel het van die appél teen die hersonering en dat die appél geslaag het. Indien die respondent daardie besluit van die Provinsiale Owerheid verder wou neem, het hy ruim geleentheid daarvoor gehad. Hy het egter verkies om nie enigiets aangaande daardie verrigtinge te doen nie, en het volhard in sy standpunt naamlik dat hy geregtig is op die bedryf van ‘n drankwinkel op sy perseel. Dit is hierdie benadering van die respondent wat die applikant genoodsaak het om die aansoek te loods.

    1. In die omstandighede is ek oortuig daarvan dat daar geen vooruitsigte is dat ‘n ander Hof tot ‘n ander gevolgtrekking kan kom as waartoe ek gekom het nie. Selfs al sou gesê kon word dat daar so ‘n vooruitsig is, is geen buitengewone omstandighede aan my voorgehou wat die verlening van verlof tot appél teen my kostebevel regverdig nie.


  1. Bygevolg maak ek die volgende bevel:



DIE AANSOEK VIR VERLOF OM APPÉL AAN TE TEKEN TEEN DIE KOSTEBEVEL HIERIN VERLEEN, WORD VAN DIE HAND GEWYS MET KOSTE.






_______________

HJ Lacock

REGTER




Namens applikant: Adv JP de Bruin SC (iov Elliot Maris & Wilmans)

Namens Respondent: Adv WJ Coetzee (iov Engelsman, Benade & Van Der Walt