South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2004 >> [2004] ZANCHC 104

| Noteup | LawCite

S v Louw (K/S 106/03) [2004] ZANCHC 104 (3 June 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: K/S 106/03

Datum verhoor: 27 / 05 / 2004 Datum Gelewer: 03 / 06 / 2004




In die saak van:


DIE STAAT



teen



ISAK MAGNUM LOUW BESKULDIGDE



UITSPRAAK


GOLIATH WnR:

  1. Die beskuldigde staan tereg op `n aanklag van moord deurdat hy op 3 Augustus 2003 te Groenpunt Kimberley, in die distrik van Kimberley, wederregtelik en opsetlik vir Andries Teboho Masaile, `n volwasse man, gedood het.


  1. Hy het onskuldig gepleit op die klagte hom ten laste gelê. Namens die beskuldigde het sy regsverteenwoordiger, Mr Fletcher, `n verklaring in terme van artikel 115 van die Wet 51 van 1977 ingehandig, gemerk bewysstuk A. Luidens die verklaring erken die beskuldigde die identiteit van die oorledene asook die oorsaak van die dood. Hy erken verder die korrektheid van die feite en bevindings soos vervat in `n nadoodse ondersoek deur Dr Esme Olivier waargeneem op 5 Augustus 2003, gemerk bewysstuk B, asook die bevindinge soos vervat `n bloedalkoholverslag gemerk bewysstuk C. Die nadoodse verslag en bloedalkoholverslag is by ooreenkoms saam met die artikel 115 verklaring ingehandig. Mr Fletcher het namens die beskuldigde toegestem dat die erkennings soos vervat in die artikel 115 verklaring as formele erkennings in terme van artikel 220 genotuleer mag word.


  1. Die beskuldigde erken dat hy die oorledene se dood veroorsaak het, maar voer aan dat hy uit noodweer opgetree het. In die artikel 115 verklaring gee die beskuldigde `n volledige uiteensetting van die voorval wat daartoe gelei het dat hy die oorledene op die betrokke dag gedood het. Hy voer aan dat die oorledene besig was met `n aanval op hom met `n yster en indien hy nie die oorledene geskiet het nie, sou die oorledene hom ernstig aangerand of doodgemaak het.


  1. Namens die Staat het Twelelo Winnie Moemedi en Dokter Esme Olivier getuig. Beide getuies is nie ooggetuies tot die voorval nie. Tswelelo Winnie Moemedi getuig dat sy vir die afgelope 12 jaar in `n saamleefverhouding met die oorledene was. Die beskuldigde was hulle buurman vir ongeveer 3 jaar. Die oorledene was werksaam by Spoornet en het meganiese ingenieurswerk gedoen. Die verhouding tussen hulle en die beskuldigde was aanvanklik goed, maar het egter later versleg. Sy het `n tuisnywerheid begin en die beskuldigde het beswaar begin maak en beweer dat haar kliente hom steur.


  1. Terwyl die verhouding nog goed was het hulle twee hekke gebou tusen hul erwe. Nadat die beskuldigde begin kla het, het hy egter die hek toegemaak met `n draadheining. Die beskuldigde het blykbaar nie meer vir hulle gegroet of in hulle belanggestel nie en sy het die oorledene aangeraai om ook nie die beskuldigde meer te groet nie. Daar het verskeie insidente plaasgevind tussen hulle wat konflik veroorsaak het. Hulle het onder andere geargumenteer oor die kinders wat geraas maak en waar hulle sou speel. Die beskuldigde het hulle daarvan beskuldig dat hulle towenaars is en hy het blykbaar dreigend sy vuurwapen aan hulle ten toon gestel op verskeie geleenthede. Die beskuldigde het ook by geleentheid gedreig dat hy die oorledene gaan skiet.


  1. Op 3 Augustus 2003 het die oorledene hul woning om ongeveer 4:30 verlaat om werk toe te gaan. Die oorledene dra gewoonlik sy kierie saam om die honde langs die pad te verwilder. Hy het die dag vergeet om sy kierie te neem en sy moes hom terugroep en herinner om sy kierie te neem. Nadat die oorledene die woning verlaat het, het sy gesit en televisie kyk en opgemerk dat die beskuldigde op sy fiets verby hul woning ry. Die beskuldigde het in die teenoorgestelde rigting beweeg as wat die oorledene geloop het.


  1. Ongeveer 5 minute nadat die beskuldigde met sy fiets weg is, hoor sy drie skote. Sy hoor toe `n vroulike persoon skreeu vir haar dat dit die oorledene is wat geskiet was. Die persoon het nie tot by haar gekom nie, dus is sy nie seker wie dit was nie. Sy het onmiddelik gehardloop na die toneel. Sy het die beskuldigde op die toneel opgemerk waar hy sy vuurwapen in sy linkersak sit. Beskuldigde het op sy fiets geklim en die toneel verlaat.


  1. Die oorledene het op sy maag gelê met sy gesig op die grond. Sy het om hulp geskreeu en het daar gesit totdat die ambulans opgedaag het. Sy getuig dat haar man `n stil persoon was en geensins aggresiewe neigings openbaar het nie. Hy was ook nie onder die invloed van drank nie, aangesien sy hom nie gesien drink het die dag van die voorval nie.


  1. Dr Esme Olivier getuig dat sy werksaam was as `n distriksgeneesheer in Kimberley vir ongeveer 1 jaar tydens hierdie voorval. Sy het `n nadoodse ondersoek op die liggaam van die oorledene uitgevoer op 5 Augustus 2003, ongeveer twee dae na sy dood. Die oorledene se liggaam het 8 wonde gehad, waarvan 4 ingangswonde en 4 uitgangswonde was. Die oorledene is onder andere geskiet in die arm, bobeen en twee maal in die bors. Die wonde in die bors was die enigste dodelike wonde, aangesien dit bloeding rondom beide longe, veroorsaak het. Die beserings aan beide longe wat gelei het tot asperasie van die longe het dan uiteindelik die dood van die oorledene veroorsaak. Sy getuig verder dat swart merke rondom een van die wonde op die bors aanduidend is dat daar van `n redelike kort afstand van 2 tot 3 meter op die oorledene gevuur is. Sy gee toe dat dit moontlik is dat al die ander wonde ook binne `n radius van 2 meter toegedien kon gewees het.


  1. Die beskuldigde het nie getuig in sy verdediging nie en sy saak is namens hom deur sy regsverteenwoordiger gesluit. Die Staat het versoek dat die Hof moet bevind dat die beskuldigde die perke van noodweer oorskry het en dus wederegtelik opgetree het en hom moet skuldig bevind aan moord. In die alternatief, wat die skuldvorm betref, betoog die Staat dat beskuldigde nie opgetree het soos `n redelike man in sy posisie sou nie en dat hy dus moes voorsien het dat hy die dood van die oorledene kon veroorsaak het deur ses skote in die rigting van die oorledene te vuur. Die Staat versoek dus dat die Hof die beskuldigde aan strafbare manslag skuldig moet bevind in die alternatief.


  1. Die verdediging voer aan dat, indien daar na die omstandighede gekyk word, kon daar niks meer van die beskuldigde verwag gewees het toe hy aangeval word nie. Die oorledene het vorentoe gekom en het voortdurend sy aanval voortgesit, selfs nadat waarskuwingskote gevuur was. Daar was pogings aangewend om die oorledene te stop deur hom in die been te skiet, maar die oorledene het voortgegaan met die aanval op die beskuldigde. Die verdediging voer aan dat enige persoon in die omstandighede waarin die beskuldigde hom bevind het van oordeel sou gewees het dat hy geregtig was om in noodweer op te tree, en dat die beskuldigde nie die nodige mens rea gehad het om die oorledene te dood nie.


  1. Dit is gemenesaak dat daar wel probleme tussen die beskuldigde en die oorledene was. Die hoof staatsgetuie Tswelelo Winnie Moemedi was nie `n ooggetuie nie, maar het die nodige agtergrond aan die Hof voorgelê wat betref die verhouding en probleme tussen die beskuldigde en oorledene. Sy het dan ook getuig oor haar waarnemings op die dag van die voorval toe sy op die oorledene afgekom het. Die Hof is tevrede dat sy `n eerlike en betroubare getuie is en aanvaar haar getuienis soos afgelê. Insoverre sy nie bevredigend getuig het oor alle aspekte nie, aanvaar die Hof dat dit `n baie traumatiese ervaring was en dat daar nie van haar verwag kan word om presies alles te onthou nie.


  1. Een aspek van haar getuienis wat wel kommer wek, is die feit dat sy genoem het dat daar wel ooggetuies was wat die voorval waargeneem het, maar dat hulle weier om betrokke te raak. Selfs die vrou wat haar geroep het om haar in te lig van die skietvoorval het onbekend en naamloos gebly. Indien dit wel die geval is, is dit uiters onrusbarend dat hierdie saak afgehandel is sonder dat enige van die persone oorreed kon word om te getuig.


  1. Die beskuldigde beweer dat hy `n afweershandeling op die oorledene, wat blykbaar met `n aanval besig was op hom, wou uitvoer en in die proses vir die oorledene geskiet het. Die vereistes waaraan `n afweershandeling moet voldoen, is as volg uiteengesit in Strafreg, Snyman, Vierde Uitgawe op bladsy 106 – 111:


  1. dit moet teen die aanvaller gerig wees;


  1. die afweershandeling moet noodsaaklik wees;


  1. daar moet `n redelike verhouding tussen die aanval en die afweershandeling wees;


  1. die aangevallene moet bewus wees dat hy in noodweer optree.



  1. In die afwesigheid van enige direkte getuienis is daar voor die Hof slegs die beskuldigde se pleitverduideliking van noodweer en omstandigheidsgetuienis. Die oorledene was bewapen met `n vaalkleurige reguit stok, ongeveer 90 cm lank en 64 mm in omvang. Daar is `n knop aan die einde van die stok ongeveer 75 mm in omvang. Die stok is redelik swaar en stewig en is gemaak uit `n tipe plastiek. Die Staat gee toe dat die stok op die oog af lyk soos `n stuk yster, veral vanweë die vaal kleur.


  1. Volgens die beskuldigde wou die oorledene hom aanval met die stok en wou hy nie ophou nadat waarskuwingskote geskiet is nie. Die beskuldigde het een skoot in die oorledene se been geskiet, maar die oorledene het voortgegaan en het steeds dreigend nader gekom. Die beskuldigde het toe verdere skote afgevuur om die oorledene te stuit. Die beskuldigde beweer dat hy onder die indruk was dat sy lewe in gevaar was of dat hy ernstig beseer sou word indien hy nie die oorledene geskiet het nie.


  1. Die beskuldigde voer dus aan dat die oorledene die aggressor was. Die bloedalkoholverslag wat ingehandig is, toon dat die oorledene wel 0,06 gram per 100 milliliter alkohol in sy bloed gehad het tydens die nadoodse ondersoek. Dr Olivier het getuig dat, nadat die dood intree, is daar geen liggaamsprosesse nie en die alkoholinhoud ten tyde van die ondersoek toon aan dat alkohol ten minste vier tot ses ure voor die voorval ingeneem was. Alhoewel die staatsgetuie Tswelelo Winnie Moemedi dit ontken, blyk dit volgens die mediese getuienis dat die oorledene wel op die dag van die voorval alkohol gedrink het.

  2. Die Staat voer aan dat die beskuldigde bloot met sy fiets kon gevlug het en waarskuwingskote afgevuur het en sodoende die dood van die oorledene kon verhoed het. Daar is egter geen verpligting op `n aangevallene om te vlug nie. Deur te vlug moes die beskuldigde sy rug op die aanvaller keer en homself dus blootstel aan `n voortsetting van die wederregtelike aanval op hom. (Sien: S v Mothoana 1992 (2) SASV 383 (O) en R v Zikalala 1953 (2) SA 588 (A) ). Die aangevallene kan homself in noodweer teen die aanvaller verset selfs deur die aanvaller te dood, selfs al is dit nie sy lewe wat deur die aanval bedreig word nie, maar `n geringer belang, soos sy liggaamlike integriteit. (Sien: Strafreg, supra op bladsy 107)


  1. Verder hoef daar nie `n eweredige verhouding tussen die aard van die beskermde en die aard van die aangetaste belang te wees nie. In S v Van Wyk 1967(1) SA 488 (A) het die Appèlhof bevind dat `n aangevallene mag `n persoon in noodweer dood, nie net wanneer sy lewe in gevaar gestel word nie, maar ook om te voorkom dat hy ernstige beserings toegedien word, mits daar geen ander wyse is om die bedreiging op sy liggaamlike integriteit af te weer nie.


  1. Die Staat het ook geargumenteer dat die Hof die verskil in die tipe wapens moet in ag neem, aangesien `n vuurwapen baie gevaarliker is as `n stuk yster. In Ntsomi v Minister of Law and Order 1990 (1) SA 512 (K) op 529 C-D is beslis dat daar nie `n eweredige verhouding tussen die wapens van die aanvaller en verdediger hoef te wees nie. `n Persoon wat aangeval word, het die reg om hom op enige wyse te verdedig en in `n noodweersituasie kan nie voorgeskryf word oor watter wapen geskik is aldan nie. Volgens die beskuldigde het hy geen ander wyse gehad om homself te beskerm nie. Die Hof kan dus nie op hierdie basis bevind dat die beskuldigde homself nie in `n noodweersituasie bevind het nie.


  1. Die Hof moet dus bepaal of daar `n redelike moonlikheid bestaan dat die beskuldigde se optrede redelik was onder die omstandighede wat daar geheers het, en of hy redelikerwys geglo het dat hy in gevaar was. Wanneer `n beskuldigde noodweer pleit, rus die bewyslas op die Staat om bo redelike twyfel te bewys dat die beskuldigde wederregtelik gehandel het en besef het dat die perke van noodweer oorskry word, en dat die moontlikheid van dood voorsien is. (Sien: S v Teixeira 1980 (3) SA 755 (A)).


  1. Die beskuldigde het `n verontskuldigende verklaring in terme van artikel 115 van Wet 51 van 1977 gemaak, en verkies om nie te getuig nie. Die effek van hierdie verklaring is uiteengesit in S v Mothlaping 1988 (3) SA 757 (NC). In hierdie saak het `n volbank van hierdie afdeling die volgende gesê op 762B-E:


g (b) Die pleitverduideliking kan nie as bewysmateriaal ten gunste van die beskuldigde aangewend word nie.


    1. Die pleitverduideliking word dwarsdeur die saak ten gunste van die beskuldigde aangewend in die sin dat die verdediging wat hy daarin openbaar deur die Staat bo alle redelike twyfel ongegrond bewys moet word. Indien aan die einde van die saak daar 'n twyfel bestaan of die beskuldigde se verweer van noodweer (of `n alibi of welke verdediging hy ookal opwerp) nie redelikerwys 'n werklikheid is nie, moet die beskuldigde die voordeel van die twyfel ontvang, want dan het die Staat nie sy saak bo alle redelike twyfel bewys nie. “ (Sien ook: S v Cloete 1994 SASV 420 (A)).


  1. Daar is geen weerleggende getuienis voor die Hof wat daarop dui dat die oorledene nie die beskuldigde aangeval het nie. Die oorledene was gewapen met die yster en blykbaar ook onder die invloed van alkohol. Daar is waarskuwingskote gevuur op die oorledene wat blykbaar geen doel gedien het nie. Daarna is die oorledene in die been geskiet, soos gestaaf deur die mediese getuienis. Die oorledene was egter vasbeslote om voort te gaan met sy aanval op die beskuldigde.


  1. In die afwesigheid van enige ander getuienis deur die Staat kan die Hof nie bevind dat die afweershandeling verrig deur die beskuldigde nie redelik was in die lig van die omstandighede wat daar geheers het nie. (Sien: S v Mothlaping supra en S v Trainor 2003 (1) SACR 35 SCA) Daar is geen bewyslas op die beskuldigde nie. Die Hof is dus tevrede dat die Staat nie bo redelike twyfel bewys het dat die beskuldigde wederregtelik opgetree het nie of dat hy die perke van noodweer oorskry het nie. Die beskuldigde se verweer van noodweer slaag en hy word gevolglik onskuldig bevind en ontslaan.



________________

P L GOLIATH

WAARNEMENDE REGTER

ADVOKAAT NAMENS STAAT: ADV. L. VAN DYK

NAMENS BESKULDIGDE: MR. FLETCHER

DATUM VAN VERHOOR: 27/05/2004

DATUM VAN UITSPRAAK: 03/06/2004