South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2004 >>
[2004] ZANCHC 10
| Noteup
| LawCite
S v Noah (57/2004) [2004] ZANCHC 10 (18 March 2004)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
SAAKNOMMER:57/2004
DATUM GELEWER: 18-03-2004
In die saak van:
DIE STAAT
teen
KELVIN QUINTON NOAH
Coram: Williams R et Olivier R
HERSIENINGSUITSPRAAK
WILLIAMS R:
Die beskuldigde het in die Landdroshof te Barkly-Wes tereggestaan op 1) ‘n aanklag van aanranding, en
’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die beskuldigde was onverteenwoordig en het op beide die aanklagte skuldig gepleit. Ten opsigte van die aanrandingsklag is hy in terme van artikel 112(1)a) van die Strafproseswet 51 van 1977 (“Die Wet”) bevind. Na ondervraging in terme van artikel 112(1)b) van die Wet is hy ook aan die tweede aanklag, dié van aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind.
Die twee aanklagte is vir doeleindes van vonnis saamgeneem en die beskuldigde is gevonnis to 12 (twaalf) maande gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort is vir 3 (drie) jaar op sekere voorwaardes.
Na aanleiding van ‘n navraag gerig aan die landdros het sy toegegee dat gevangenisstraf nie geoorloof is ten opsigte van ‘n artikel 112(1)a) skuldigbevinding nie en dat die verhoorhof fouteer het deur die twee aanklagte saam te neem vir vonnisdoeleindes.
‘n Verdere aspek van die navraag het geslaan op of die beskuldigde nie ‘n verweer geopper het in sy verduideliking verskaf aan die landdros betreffende die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer nie.
Die volgende uittreksels vanuit die oorkonde is van belang:
“VOORSITTENDE BEAMPTE: Met wat het u hom beseer?
BESKULDIGDE: Met ‘n mes.
VOORSITTENDE BEAMPTE: Waar het u hom beseer?
BESKULDIGDE: Op die linkerkant, bo.
. . . . . . . . . .
VOORSITTENDE BEAMPTE: Waaroor, hoekom het u hierdie klaer gesteek?
BESKULDIGDE: Hy het my in die punt vasgedruk, hy het my aan die keel gegryp, en vasgedruk, en geslaan met die hamer.
VOORSITTENDE BEAMPTE: En toe?
BESKULDIGDE: Toe haal ek die mes uit, en toe steek ek hom.
. . . . . . . . . .
VOORSITTENDE BEAMPTE: Toe u hierdie man met die mes steek, het u geweet u doen verkeerd. Het u geweet u kan gestraf word, as u ‘n mens met ‘n mes steek, meneer?
BESKULDIGDE: Nee.”
Die primêre doel van die ondervraging onder artikel 112(1)b) van die Wet is om die beskuldigde te vrywaar van ‘n ongeregverdigde pleit van skuldig. Sien S v Tshumi and Others (1) WPD 128 te 130.
Vanuit die beskuldigde se verduideliking is dit heeltemal duidelik dat hy aandui dat die klaer die aggressor was en kan die verweer van noodweer nie uitgesluit word nie. Tog is daar geen verdere vrae vanaf die landdros ter opheldering van hierdie moontlike verweer nie en is die beskuldigde op sy skuldigpleit soos dit staan skuldig bevind.
Wat hierdie aanklag betref versoek die landdros dat die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel word en die saak ingevolge artikel 312(1) van die Wet na die Landdroshof terugverwys word met die opdrag dat die bepalings van artikel 112(1)b) van die Wet nagekom word.
Artikel 312(1) van die Wet bepaal soos volg:
“312(1 Waar 'n skuldigbevinding en vonnis ingevolge artikel 112, op hersiening of appèl tersyde gestel word op grond daarvan dat 'n bepaling van subartikel (1) (b) of subartikel (2) van daardie artikel nie nagekom is nie, of op grond daarvan dat die bepalings van artikel 113 toegepas moes gewees het, moet die betrokke hof die saak na die hof terugverwys wat die vonnis opgelê het en daardie hof gelas om die betrokke bepaling na te kom of ingevolge artikel 113 te handel, na gelang van die geval.”
Na my mening is hierdie ‘n geval waar die bepalings van artikel 113 van die Wet toegepas moes gewees het en moet die verhoor op hierdie basis verder hanteer word.
In die omstandighede word die volgende bevel gemaak:
1. Die skuldigbevinding ten opsigte van aanklag 1 word bekragtig.
2. a) Die vonnis ten opsigte van aanklag 1 word tersyde
gestel.
b) Die verhoorhof word gelas om vonnis ten opsigte van aanklag 1 opnuut te oorweeg in die lig van die bepalings van artikel 112(1)a) van die Strafproseswet no 51 van 1977.
3. a) Die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van
aanklag 2 word tersyde gestel.
b) Die saak word ingevolge artikel 312(1) van die Strafproseswet no 51 van 1977 na die Landdroshof terugverwys met die opdrag dat artikel 113 van die Strafproseswet toegepas word.
_______________________
C C WILLIAMS
REGTER
Ek stem saam.
______________________
C J OLIVIER
REGTER