South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2003 >> [2003] ZANCHC 45

| Noteup | LawCite

S v Leeuw and Another (435/03) [2003] ZANCHC 45 (31 October 2003)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Hooggeregshof Hersieningsnr: 435/03

Landdros Saaknr: 616/03

Datum gelewer: 31/10/2003



In die hersieningsaak van:


DIE STAAT


versus


GAWIE LEEUW BESKULDIGDE 1

FRANS LESEGO LEEUW BESKULDIGDE 2


Coram: MAJIEDT R et WILLIAMS R


UITSPRAAK OP HERSIENING



MAJIEDT R:

  1. In hierdie aangeleentheid het Olivier R die volgende navraag gerig aan die landdros:

Het die landdros se ondervraging en die beskuldigdes se antwoorde alle elemente van aanklag 2 gedek? Waar blyk dit dat enige van die beskuldigdes gevangenes” was, soos bedoel in die definisie van hierdie begrip in artikel 1 van die Wet op Korrektiewe Dienste, no. 8 van 1995? Was die aanklagkantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te Kakamas ‘n “gevangenis”, soos bedoel in die gemelde Wet, vir hierdie doeleindes? In hierdie verband kan gelet word op beslissings soos S v Brink 1969(4) SA 17 (NK) en S v Maetsane 1974(3) SA 217 (NK). Daar is nooit vasgestel of die beskuldigdes voorafgaande hulle ontsnapping al aangehou was in ‘n polisiesel, of in enige ander vorm van gevangenis soos bedoel in die definisies in die bogemelde Wet nie. Selfs al was dit wel die geval, moes die beskuldigdes nie aangekla gewees het van ‘n oortreding van artikel 117 van die Wet op Korrektiewe Dienste, no. 111 van 1998, nie en was artikel 48(1) van die eersgemelde Wet nie reeds herroep op die stadium toe die onderhawige aanklag aan die beskuldigdes gestel is nie? Vir die doeleindes van die bepalings van artikel 51(1) van die Strafproseswet, en die vereiste dat ‘n beskuldigde vir die doeleindes van dié oortreding “wettiglik” in hegtenis geneem moes gewees het, ontstaan die vraag of die landdros se ondervraging hierdie aspek behoorlik gedek het, aangesien dit wil voorkom asof nie een van die twee beskuldigdes uitdruklik erken het dat hy “wettiglik” in hegtenis was nie.

  1. Die landdros het as volg op die voormelde navraag geantwoord:

Wat paragraaf 3.2 betref moes die klagstaat gelees het Kakamas SAPD selle aangesien dit die korrekte posisie was. Dit was egter nie in ondervraging opgeklaar nie wat nou ‘n leemte laat. Die Agbare Hersieningsregter is ook korrek dat die wetsartikel verkeerd is aangesien dit ou wet reeds herroep is en van Wet 111/98 gebruik gemaak moes gewees het. Art. 51(1) is nie hier van toepassing nie soos reeds hierbo verduidelik. Die aspek van wettiglik in hegtenis is dus nie hier deurslaggewend nie hoewel Beskuldigde 1 dit in elk geval erken het. Sien bladsy 5 lyn 10. Aangesien ek nie seker is wat die effek van die verouderde artikel is nie laat ek dit in die Agbare Regter se hande. Dit is egter so dat beide die artikels in die ou sowel as die huidige wet in wese dieselfde is.”



  1. Op versoek van Olivier R is ‘n volledige regsmening ten aansien van hierdie voormelde aspek voorgelê deur advokaat C. Nekosie van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings. Hierdie regsmening is weldeurdag en volledig gemotiveerd en is van groot hulp in die aangeleentheid en word adv. Nekosie daarvoor bedank.

  2. Dit is nie nodig om die feite hierin volledig weer te gee nie behalwe vir die volgende:

4.1 Die twee beskuldigdes is in die landdroshof as volg skuldig bevind: Beskuldigde 1: Oortreding van art. 48(1)(a) van Wet 8 van 1959;

Beskuldigde 2: Diefstal en oortreding van art. 48(1)(a) van Wet 8 van 1959

4.2 Die klagstaat ten aansien van die misdryf van oortreding van art. 48(1)(a) van Wet 8 van 1959 is as volg bewoord in die klagstaat:

Deurdat op of omtrent 4-4-03 en te of naby Kakamas in die distrik Gordonia die beskuldigde, ‘n gevangene, wederregtelik en onwettiglik ontvlug het


1. .............

2. uit ‘n pos of plek waar of waarin hy was vir die doel van aanhouding, te wete SAPD Kakamas.

3. .............

4. terwyl hy in bewaring van een plek na ‘n ander oorgebring is, te wete vanaf Kakamas SAPD na Upington gevangenis.”


Die klagstaat lees dieselfde ten opsigte van beide beskuldigdes.

4.3 Toe die klagtes in die Hof deur die aanklaer aan die beskuldigdes gestel is, het hy dit as volg gestel:

Klagte 2 is dat u op die 4de April 2003 te Kakamas wederregtelik en onwettiglik uit ‘n pos of plek waar u vir die doel van aanhouding was, naamlik SAPD hier in Kakamas, of terwyl u in bewaring van een plek na ‘n ander plek oorgebring is, te wete vanaf Kakamas SAPD na Upington gevangenis, dat u ontvlug het.”

4.4 Wanneer die bepalings van die betrokke wetsartikel vermeld in die klagstaat vergelyk word met die klagstaat self en die klagte wat in die hof deur die aanklaer aan die beskuldigdes gestel is, word dit duidelik waarom Olivier R die bepaalde navraag aan die landdros gerig het. Die aanklaer het versuim om die aanklag soos wat dit vervat is in die klagstaat aan die beskuldigdes oor te dra. Daar is naamlik geen melding van die betrokke wetsbepaling nie en word ook nie in die klagte gestel dat die beskuldigdes gevangenes was, soos wat die klagstaat lees nie. In die derde plek het die aanklaer die woord “of” gebruik waar dit nie voorkom in die klagstaat nie. Soos adv. Nekosie tereg aantoon, skep hierdie laaste aspek ‘n mate van onsekerheid oor wat presies die bewerings teen die beskuldigdes behels het. Dit is nie duidelik of die Staat dit hulle ten laste gelê het dat hulle ontsnap het uit ‘n plek waar hulle vir die doel van aanhouding was en of hulle ontsnap het terwyl hulle in bewaring van een plek na ‘n ander plek oorgebring is.

4.5 Die ondervraging van die beskuldigdes deur die landdros is ook in ‘n aantal opsigte gebrekkig. In die eerste plek is die beskuldigdes nie gevra of hulle gevangenes was of die plek waar hulle aangehou was ‘n gevangenis is soos vereis word deur die wetgewing waaronder hulle aangekla was nie. Verder is die aspek van die leemte in die klagstaat wat volgens die landdros moes lees: “Kakamas SAPD-selle” nooit opgeklaar nie en is dit ‘n verdere tekortkoming, nie net in die klagstaat nie, maar ook in die ondervraging van die beskuldigdes deur die landdros.

  1. Soos blyk uit die voorafgaande is die beskuldigdes aangekla onder die bepalings van Wet 8 van 1959. Die betrokke misdryf is egter gepleeg na die inwerkingtreding van art. 117 van Wet 111 van 1998. Gevolglik moes die beskuldigdes derhalwe onder daardie bepaalde wetgewing aangekla gewees het. Die vraag wat nou ontstaan is of die statutêre verwysings in die klagstaat deur hierdie Hof op hersiening gewysig kan word. Daar is ‘n hele aantal presedente in ons regspraak waar statutêre verwysings in klagstate gewysig is, mits daar geen benadeling vir die betrokke beskuldigde was nie.

Sien ondermeer: R v Myende and others 1959(4) SA 135 (N);

R v M 1957(3) SA 283 (N);

S v Molefe 1982(4) SA 424 (B);

S v Shirinda 1986(1) SA 573 (T).

  1. In S v Mahlangu 1997(1) SASV 338 (T) was die betrokke beskuldigde aangekla en skuldig bevind van die gemeenregtelike misdaad van omkopery. Hy moes eintlik aangekla en skuldig bevind gewees het van ‘n oortreding van ‘n statutêre misdryf onder art. 1(1)(a)(i) van die Wet op Korrupsie, no. 94 van 1992. Hierdie betrokke statuut het die gemeenregtelike misdryf van omkopery herroep. Die aangeleentheid is op spesiale hersiening deurgestuur deur die verhoorlanddros met ‘n versoek dat die hersieningsregter sy magte in terme van art. 304(2)(c) van Wet 51 van 1977 uitoefen en die skuldigbevinding van gemeenregtelike omkopery wysig na een van die oortreding van art. 1(1)(a)(i) van Wet 94 van 1992. Op 342 h-i verklaar Stafford R as volg:

Die feite beweer en bewys in die gemeenregtelike omkopery klagstaat sou presies dieselfde gewees het indien die beskuldigde ingevolge Wet 94 van 1992 aangekla was.

Op 343 e-f bevind die Hof

......... dat die mag om te wysig op hersiening en so die belange van die regspleging te bevorder, vasstaan.”

In die Mahlangu-saak is verder bevind (op 343 f-i) dat die beskuldigde nie deur die wysiging van die klagstaat soos voormeld in sy verweer benadeel sou wees nie, aangesien die beweringe presies dieselfde sou wees.

  1. Wanneer die feite in die onderhawige saak vergelyk word met dié in die Mahlangu-saak is ek tevrede dat dit op presies dieselfde basis as in die Mahlangu-aangeleentheid hanteer kan word. Die beskuldigdes het in casu skuldig gepleit en ly dit geen twyfel nie dat hulle hul verweer op presies dieselfde basis sou gevoer het. Daar kan dus geen sprake van benadeling wees vir die beskuldigdes nie.

  2. Ek is derhalwe tevrede dat in die onderhawige saak die statutêre verwysings wel op hersiening gewysig kan word, soos voorgestel deur adv. Nekosie.

Vergelyk ook verder in hierdie verband die ongerapporteerde hersieningsuitspraak van S v Benjamin Howard (gelewer op 02/09/2002, saaknr. B4081/02, hersieningsaaknr. 421/02).

  1. Vervolgens word die volgende bevel uitgereik:

a) Die klagstaat ten aansien van aanklag 2 hierin word gewysig deurdat die woorde “art 48(1)(a) van Wet 8 van 1959” deurgehaal word en vervang word met die volgende: “art 117(a) gelees met art 1 van Wet 111 van 1998”.

b) Paragrawe 1, 2, 3, en 4 van die klagstaat ten aansien van aanklag 2 word deurgehaal en gewysig deur die invoeging van die woorde: “uit bewaking”.

c) Die skuldigbevindings en vonnisse van beide beskuldigdes ten aansien van aanklag 2 word ter syde gestel en die saak word terug verwys na die landdros vir behoorlike ondervraging van die beskuldigdes ten aansien van hierdie betrokke aanklag soos hierin gewysig.





___________

SA MAJIEDT

REGTER


Ek stem saam:




___________

CC WILLIAMS

REGTER